Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Bloedsomloop. Show all posts
Showing posts with label Bloedsomloop. Show all posts

4.4.24

Lae bloeddruk / Hipotensie

Hipotensie is lae bloeddruk. Indien jou bloeddruk te laag daal kan jy flou word. Dit word nie deur almal beskou as 'n siektetoestand, eerder 'n tydelike probleem.

Simptome sluit in sweterigheid, duiseligheid, swakheid en bewussynsverlies.

Sien Noodhulp vir die behandeling van bewussynsverlies.

Om lae bloeddruk teen te werk moet jy sterk en rou wortelsap drink. Eet oesters, soutvis, avokado, piesang en amandels.

Kruie wat jy kan gebruik sluit in roosmaryn, duisendblad, laventel, voëlent en vinkel.

3.4.23

Kruie vir kwale: Lae bloeddruk

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n hand vol vars bergtee blare. Laat dit trek vir 5 minute. Drink dit dadelik. Gebruik dit vir lae bloeddruk.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids



(foto: Pavel Danilyuk)

20.12.22

Raadop oor bloedklont

Raad Op van Plettenbergbaai skryf: "Wat help vir bloedklonte? Het dit gekry na my kuisersnee. My baba is al amper twee en dit is nou nog nie beter nie."

Antwoord: 'n Bloedklont is 'n stuk gestolde bloed wat 'n bloedvat verstop. Daar is verskeie opsies om te oorweeg wanneer jy 'n bloedklont wil behandel of laat verwyder. Jou liggaam kan self met tyd die bloedklont vernietig, maar soms is dit nodig om dit te laat doen weens potensiële skade. Die finale besluit moet geneem word saam met 'n dokter wat goed vertroud is met jou mediese geskiedenis.

Medikasie is een opsie. Normaalweg word medikasie gebruik wat jou bloed verdun. Dit verhoed dat die bloedklont groter raak of losbreek en in een van jou organe beland. Laasgenoemde kan jou dood veroorsaak.

In meer ernstige gevalle word 'n kateter in die aar gedruk en medikasie word direk aan die bloedklont toegedien. Hierdie tipe medikasie breek gewoonlik die klont dadelik op.

Daar is ook 'n klein metaalfilter wat geplaas kan word in die aar wat na jou hart toe gaan. Die filter vang alle bloedklonte, maar laat bloed normaal deur. Dit word na 'n tyd verwyder. Die filter word ingesit by 'n aar in jou been, nek of arm.

In baie ernstige gevalle sal 'n operasie nodig wees om 'n bloedklont te verwyder.

4.10.21

Dieet ryk aan bloubessies bied baie voordele

Verskeie studies opgeneem in Journals of Gerontology, Series A: Biological Sciences and Medical Sciences toon dat ’n dieet ryk aan bloubessies verskeie voordele inhou.

Daar is reeds verskeie kere bevind dat bloubessies meer antioksidante bevat as ander gewilde vrugte. Boonop het dit anti-inflammatoriese eienskappe.

Een van die onlangse studies het bevind dat ’n koppie bloubessies per dag die bloedsomloop kan verbeter en dat dit sistoliese bloeddruk verminder.

’n Ander studie het bevind dat dit kan help om die geheue van ouer mense te verbeter en selfs van nut kan wees vir kinders met kognitiewe probleme.

27.7.20

Bloedoortapping en bloedgroepe

Wanneer bloed deur ’n wond of tydens chirurgie verloor is word dit met ’n bloedoortapping aangevul. Die bloed word oorgetap deur ’n naald in ’n aar die ontvanger te steek.

Bloed word deur skenkers ontvang en in ’n steriele bloedbank gehou tot dit benodig word. Persone ouer as 16 jaar mag bloed skenk. Voor dit geberg word, word die bloed geklassifiseer as een van die volgende bloedgroepe: A, B, AB of O. Indien jy die verkeerde tipe bloed ontvang kan jy sterf.

Mense met die bloedtipe O kan bloed aan enige bloedgroep skenk. Mense met die bloedtipe AB kan bloed van enige bloedgroep ontvang.

So mag jou bloedgroep skenk:

O mag aan O skenk.
A of O mag aan A skenk.
B of O mag aan B skenk.
A, B, AB of O mag aan AB skenk.

6.8.18

Trappe goed vir bloeddruk en beenspiere

Jy het nou nie meer ’n verskoning dat jy nie tyd het vir oefening nie. Die jongste navorsing toon dat trappe klim goed is vir jou bloeddruk en boonop jou beenspiere versterk.

Dit is veral goed vir postmenopousale vroue wat sukkel met ’n tekort aan estrogeen. Hierdie vroue is veral vatbaar vaskulêre en spierprobleme. Hierdie tipe oefening is ook ’n effektiewe ingryping vir die vermindering van ouderdomsverwante verlies aan spiermassa. ’n Bykomende voordeel is natuurlik vetverlies en die verminderde risiko van osteoporose.

Die navorsing is gepubliseer in die joernaal Menopause.

4.6.18

Suiwer vrugtesap nie sleg vir bloedsuikervlakke

Suiwer vrugtesap het nie ’n beduidende effek op bloedglukose of insulienweerstandigheid nie.

Dit is die bevindings van onlangse navorsing gepubliseer in die Journal of Nutritional Science. Die bevindings is in ooreenstemming met vorige navorsing wat aandui dat 100% vrugtesap nie verband hou met ’n verhoogde risiko van die ontwikkeling van tipe 2-diabetes nie, en ondersteun groeiende bewyse dat 100% vrugtesap geen beduidende effek op glukemiese beheer het nie.

20.12.17

Kalium is belangrik vir rooibloedselle en jou hart

Rooibloedselle, soos baie ander menslike selle, het ’n 24 uur biologiese ritme.

Anders as ander selle met DNA en gene om die ritme te reguleer, gebruik rooibloedselle kalium. Bedags vermeerder die kalium in die selle en snags verminder dit.

Hierdie nuwe ontdekking van navorsers aan die Universiteite van Surrey en Cambridge gaan ons dalk help om hartaanvalle beter te verstaan. Meeste hartaanvalle gebeur in die oggend. Die regulering van kalium sal help om dit beter te verstaan en te help voorkom. Die universiteite gaan verdere navorsing in die verband aanpak.

Die navorsing is gepubliseer in ’n onlangse uitgawe van die joernaal Nature Communications.

17.8.16

Die pols

Die pols is ’n drukgolf wat deur die slagare gaan en wat die pompwerking van die hart aandui. Dit kan gevoel word op enige plek waar ’n slagaar naby die liggaamsoppervlak is en teen ’n been gedruk word.

Die nuttigste pols, die nekslagaarpols, kan net onder die hoek van die kakebeen in die holte tussen die stemkas en die aanliggende spier gevoel word.

Tensy hartversaking vermoed word, word die pols egter gewoonlik by die polsgewrig aan die duim- en palmkant geneem net bokant die plooi waar die slagaar langs die binnekant van die voorarmbeen loop. Plaas jou vingers in die holte net bo die onderpunt van die been en druk die vingerpunte liggies op die slagaar - moenie jou duim gebruik nie omdat dit self ’n pols het.

Om die pols te neem, gebruik ’n horlosie met ’n sekondewyser en tel die getal polsslae in een minuut.

Die drie dinge wat gekontroleer en aangeteken moet word, is die tempo, sterkte en ritme. Let op of dit vinnig of stadig, sterk of swak, gereeld of ongereeld is. Die gemiddelde polstempo van ’n volwassene is 72 slae per minuut, maar dit kan tussen 60 en 80 wissel. Dit neem toe gedurende spanning, oefening, sommige siektes, terwyl alkohol ingeneem word, of weens ’n besering. Die polstempo by bejaardes en sommige atlete kan stadiger wees (tussen 50 en 60 slae per minuut), en dit is vinniger by jong babas (ongeveer 120 slae per minuut).

’n Normale pols is gereeld en sterk. Enige abnormaliteit soos ’n swak of bonsende pols kan op ’n abnormale toestand dui. 'n Vinnige, swak pols in ’n skynbaar onbeseerde persoon kan byvoorbeeld daarop dui dat daar verskuilde inwendige verlies van bloed of vloeistof is en dat die hart baie vinniger moet werk om ’n kleiner volume bloed te sirkuleer.

10.8.16

Probleme met die bloedsomloop

Bloed word deur die hart in die liggaam gesirkuleer deur bloedvate na die weefsels en selle, voordat dit via die hart na die longe terugkeer waar dit weer geoksigeneer word.

Daar is etlike faktore wat die sirkulasie kan raak: die volume en gehalte van bloed in die sisteem, die druk waaronder dit deur gesirkuleer word, en die toestand van die hart en vate waardeur die bloed vloei.

Die gemiddelde volwassene het 6 liter bloed wat deur sy / haar liggaam sirkuleer. Die samestelling van die bloed is van groot belang vir die gesondheid van die weefsels.

Normale bloed bestaan uit ’n deursigtige geel vloeistof wat as plasma bekend staan en waarin rooiselle, witselle en bloedplaatjies gesuspendeer is. Die gekleurde pigment in die rooiselle (hemoglobien) voer suurstof na die weefsels. Die witselle oorweldig en verwyder alle skadelike liggame in die weefsels, soos kieme en dooie selle, en die plaatjies help die bloed om te stol.

Die druk waaronder bloed vloei, word bepaal deur die krag wat nodig is om seker te maak dat al die bloed die weefsels bereik. Indien dit te laag is, byvoorbeeld weens ernstige bloedverlies, ontvang die noodsaaklike organe ’n verminderde toevoer bloed en kan nie behoorlik funksioneer nie en skok kan so ontwikkel.

Bloed sal aanhou om in die liggaam te vloei en sal slegs stol indien dit uit beskadigde bloedvate ontsnap.

In een vorm van ’n bloedsomloopkwaal, trombose, kan klontvorming egter in ’n bloedvat voorkom – dit kan die betrokke vat blokkeer en so die noodsaaklike toevoer van geoksigeneerde bloed afsluit. Klonte kan bly vassteek waar hulle gevorm word, of kan deur die liggaam gevoer word totdat hulle ’n belangrike slagaar afsluit.

Verharde slagare is nog ’n oorsaak van ’n bloedsomloopkwaal. Langdurige hoë bloeddruk (wat meer algemeen voorkom namate die persoon ouer word) kan veroorsaak dat slagare bars, wat tot inwendige bloeding lei. Die algemeenste voorbeeld hiervan is serebrale bloeding (’n vorm van beroerte) en dit gebeur wanneer ’n serebrale slagaar wat bloed na die brein voer, bars en bloed in die breinweefsel inlek. Swak bloedsomloop, wat moontlik deur die aftakelingsproses van ouderdom vererger word, kan bydra tot trombose.

Nog ’n faktor is die aanwesigheid van vernoude bloedvate wat ook ’n "vetagtige" aanpaksel aan die wande kan hê. Klonte wat opwaarts tot in die breinslagare gevoer word, kan ’n beroerte (serebrale trombose) tot gevolg hê; klonte in die longe kan die normale bloedvloei en derhalwe die oksigeneerproses versteur (pulmonêre embolisme); klonte wat in die koronêre slagare van die hart self vorm, kan hartversaking veroorsaak (koronêre trombose).

Die hartspier trek saam en verslap net soos ander spiere en het sy eie afsonderlike bloedtoevoer, die koronêre slagare. Dit moet egter ononderbroke werk ten einde al die ander organe van die liggaam te voed-selfs as sy eie suurstoftoevoer verminder is.

Die koronêre slagare kan net soos ander slagare vernou wanneer die persoon ouer word, met die gevolglike vermindering van die hoeveelheid bloed wat deur hulle na die hart kan vloei. Hoe meer van die hartspiere deur hierdie tekort aan bloed geraak word, hoe minder doeltreffend word die hart, die klop sal swak en/of ongereeld raak, en uiteindelik kan dit heeltemal ophou (hartversaking).

30.5.16

Belangrike mediese tellings

• Bloedtelling: Tussen 150 tot 400
• Normale bloeddruk - 120/80
• Normale bloedsuiker - 3.3 tot 5.9 mmol/l
• Normale cholesterol: 5 mmol/L of laer

9.5.16

Lae-koolhidraat, hoë-vet dieet gevaarlik en lei tot gewigstoename

Onlangse navorsing het aan die lig gebring dat ’n lae-koolhidraat, hoë-vet dieet in som min as 8 weke gesondheidskomplikasies kan hê en ’n vinnige gewigstoename tot gevolg kan hê.

Die bevindinge het gelei daartoe dat navorsers aan die Universiteit van Melbourne in Australië ’n waarskuwing uitreik oor sogenaamde kitsdiëte, byvoorbeeld banting en die paleo-dieet, waarvoor daar min of geen wetenskaplike bewyse is nie. Volgens die span is hierdie tipe diëte veral nie geskik vir mense wat oorgewig is en nie veel oefening kry nie.

Die ongelukkige situasie wat tans bestaan is dat die publiek stories in die massamedia glo, veral deur bekende persoonlikhede wat diëte verkoop wat nie gerugsteun word deur ordentlike navorsing nie. En vir mense met pre-diabetes of diabetes, kan die lae-koolhidraat, hoë-vet dieet veral riskant wees.

Die belangrike deel van die wetenskaplikes se waarskuwing is dat jy altyd professionele advies moet inwin om gewig te beheer en altyd streef na ’n dieet gerugsteun deur kliniese bewyse.

Die wetenskaplikes het gesien hoe muise op die diëte se glukose onverdraagsaamheid vererger het, en hul insulienvlakke gestyg het in 8 weke op die dieet. Die muise se gewig het uiteindelik met 15% van hul liggaamsgewig toegeneem en hul vet het verdubbel. In perspektief gestel, vir 'n 100 kilogram persoon, is dit die ekwivalent van ’n 15 kilogram toename in gewig in 2 maande. Hierdie vlak van gewigstoename sal jou bloeddruk laat verhoog, en verhoog jou risiko van angs en depressie. Dit kan ook been-probleme en artritis veroorsaak. Vir iemand wat reeds oorgewig is, sal hierdie diëte net bloedsuikervlakke en insulienvlakke uiteindelik verhoog. Dit kan jou daadwerklik meer vatbaar maak vir diabetes.



(foto Universiteit van Melbourne)

18.1.16

Suiker ’n probleem vir hart

Wetenskaplikes aan die Universiteit van Leicester het onlangs bevind dat die vlak van suiker in jou bloed die sametrekking van jou are beïnvloed. Dit kan gevaar inhou vir jou bloeddruk en jou hart.

Hulle het aangetoon dat hoe meer suiker daar in jou bloed is, hoe erger trek jou are saam. Jou are trek saam en ontspan om jou bloeddruk te beheer. Hoe meer hulle saamtrek hoe hoër is jou bloeddruk.

’n Hartaanval vind plaas as ’n koronêre aar na die hart verstop is. Te veel suiker in jou bloed kan so ’n verstopping vererger.

12.1.15

Aspiriene mag dalk help met bloedklonte

Aspiriene is dalk ’n goeie alternatiewe behandeling om te oorweeg om herhalende bloedklonte te voorkom.

Twee studies wat oor die tydperk van twee jaar onderneem is, het bevind dat die gebruik van aspiriene die kanse op herhalende bloedklonte met tot 42% verminder.

Dit is goeie nuus vir persone wat sukkel met diep binneaarse trombose, waar bloedklonte in are wat diep in die bene lê ontstaan, opbreek en in die longe beland waar dit are verstop.

Indien jy al ’n bloedklont gehad het, is jou kanse tot 10% om weer ’n klont in dieselfde jaar te ontwikkel. Daarna vermeerder jou kanse met sowat 5% per jaar.

Pasiënte word sterk aanbeveel om die gebruik van aspiriene eers met hul dokter te bespreek.

Die bevindings van die studies is gepubliseer in die joernaal Circulation.

11.8.14

Hoë bloeddruk ’n groot probleem in Suid-Afrika

Suid-Afrika het die hoogste voorkoms van hoë bloeddruk in die wêreld by persone ouer as 50 jaar.

’n Nuwe studie het bevind dat sowat 78% van Suid-Afrikaners in hierdie ouderdomskategorie aan hoë bloeddruk ly. Minder as 10% van hulle probeer die probleem beheer. Slegs 38% van die persone wat getoets is was bewus daarvan dat hulle hoë bloeddruk het. Die probleem in Suid-Afrika word toegeskryf aan die feit dat mense oorgewig is en min oefening doen.

Hoë bloeddruk verhoog jou kanse op ’n hartaanval of ander hartsiektes.

Die studie is gepubliseer in die International Journal of Epidemiology, volume 43, nommer 1 van Februarie 2014.

9.6.14

Koppie koffie dalk goed vir jou bloedvate

Die kafeïen in 'n koppie koffie kan jou klein bloedvate dalk help om beter te werk, volgens navorsing wat deur die American Heart Association bekendgemaak is.

Die studie het aangetoon dat die drink van 'n koppie koffie die bloedvloei in 'n vinger aansienlik verbeter. Bloedvloei in die vinger is 'n aanduiding van hoe goed die binneste voering van die liggaam se kleiner bloedvate werk.

Kafeïenvrye koffie is ook gebruik. Gewone koffie se effek was 30% beter as die kafeïenvrye koffie. Die studie het wel getoon dat gewone koffie mense se bloeddruk effens verhoog. Beide soorte koffie het geen beduidende invloed op die hartklop gehad nie.

Die studie suggereer dat koffie help om bloedvate oop te maak en inflammasie verminder.



(foto Julius Schorzman)

31.8.09

Bloedsomloop

Die bloedsomloop is die kringloop van bloed deur die are en hart. Dit verwarm die liggaam, voorsien die weefsel van suurstof en voedingstowwe en dit verwyder afvalstowwe.