Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Hartaanval. Show all posts
Showing posts with label Hartaanval. Show all posts

14.2.22

Hoe om hoë bloeddruk te behandel of te verhoed met oefening

Een uit elke vier hartaanvalle word deur hoë bloeddruk veroorsaak. Daar word beraam dat ongeveer 60% van die wêreld se bevolking teen 2025 aan hipertensie sal ly. Alhoewel dit algemeen aanvaar word dat oefening bloeddruk verlaag, het aanbevelings tot dusvêr gefokus op die hoeveelheid oefening per week, sonder om 'n individu se aanvanklike bloeddrukvlak in ag te neem.

Daar is nou riglyne vir gedetailleerde leiding oor hoe om bloeddruk te verlaag by mense met hipertensie, hoë-normale bloeddruk en normale bloeddruk. Dit is gepubliseer in die European Journal of Preventive Cardiology, ’n publikasie van die European Society of Cardiology.

Deur die verlaging van bloeddruk kan ons die risiko van 'n hartaanval, beroerte en dood weens kardiovaskulêre siekte verminder.

Vir mense met hipertensie (bloeddruk van ten minste 140/90 mmHg), is aërobiese oefening die doeltreffendste metode. Dit sluit aktiwiteite in soos stap, hardloop, fietsry of swem. Vir mense met hipertensie beteken ordentlike aërobiese oefening dieselfde, of selfs effens meer, as om 'n enkele antihipertensiewe medikasie te neem.

In diegene met hoë-normale bloeddruk (130-139/85-89 mmHg), is dinamiese weerstandsoefening die eerste prioriteit. Dit verwys na kragoefeninge wat tipies ten minste ses groot spiergroepe betrek en spiersametrekking en beweging tot gevolg het - byvoorbeeld die optel van gewigte, hurke en opstote.

Mense met normale bloeddruk (minder as 130/84 mmHg) baat die meeste by isometriese weerstandsoefening. Dit behels statiese sametrekking van die spiere.

Die navorsers het opgemerk dat fisiese aktiwiteit gereeld gedoen moet word om die voordele te handhaaf. Die effek van die meeste oefeninge duur vir ongeveer 24 uur, soortgelyk aan medikasie, so dit is die beste om elke dag so aktief moontlik te wees.

31.1.22

Musiek is medisyne

Om na musiek te luister kan lekker wees, maar dit is ook goed vir jou hart. Pasiënte wat kort ná ’n hartaanval episodes van borspyn opgedoen het, bekend as vroeë post-infarksie angina, het aansienlik laer vlakke van angs en pyn gehad as hulle 30 minute per dag na musiek geluister het, volgens ’n nuwe studie deur die American College of Cardiology
.

12.1.22

Te veel alkohol kan hartweefsel beskadig

Gereelde swaar alkoholverbruik kan die hartweefsel beskadig. Dit is die bevinding van navorsing gepubliseer in die Journal of the American Heart Association.

Die navorsers het bevind dat mense wat baie drink, hoër as normale vlakke van inflammasie in hul liggame skep wat gekoppel is aan ’n wye verskeidenheid gesondheidsprobleme, insluitend kardiovaskulêre siektes.

20.12.21

Na ’n hartaanval – beweeg

Mans wat na afloop van ’n hartaanval vir minstens 30 minute per dag stap, leef langer as diegene wat minder fisies aktief is na ’n hartaanval. Dit is die gevolgtrekking van navorsing deur die American Heart Association.

Mans wat ’n baie hoë vlak van fisiese aktiwiteit handhaaf voor en na ’n hartaanval leef nog langer as hulle daarby hou.

Die navorsers het inligting oor die fisieke aktiwiteit van meer as 1 500 mans ontleed, beide voor en nadat hulle ’n hartaanval ervaar het (gemiddeld op ouderdom 65). Die mans was almal deelnemers aan ’n langtermyn studie van Harvard Health Professionals.

11.1.21

Lae koolhidrate dieet gekoppel aan probleme met hartritme

Lae koolhidraat-diëte is baie gewild, maar dit kan probleme vir jou hart veroorsaak. Diegene wat min van hul daaglikse kalorieë uit grane, vrugte en styselagtige groente kry, is aansienlik meer geneig om atriale fibrillasie te ontwikkel, die mees algemene hartritme-stoornis.

Tydens atriale fibrillasie klop die hart klop nie soos dit moet nie. Dit kan lei tot hartkloppings, duiseligheid en moegheid. Mense met atriale fibrillasie het vyf keer meer kans om beroerte te kry as mense sonder die toestand. Dit kan ook tot hartversaking lei.

Die beperking van koolhidrate het die afgelope jare ’n gewilde strategie vir gewigsverlies geword. Daar verskeie koolhidraat-diëte, insluitend die ketogeniese, paleo- en Atkins-dieet, met ’n klem op proteïene, terwyl die inname van suikers, graan, peulgewasse, vrugte en styselagtige groente beperk word.

Verskeie meganismes kan verklaar waarom die beperking van koolhidrate tot atriale fibrillasie kan lei. Die een is dat mense wat ’n lae koolhidraat-dieet eet, geneig is om minder groente, vrugte en grane te eet - voedsel wat daarvoor bekend is dat dit inflammasie verminder. Sonder hierdie voedsel kan mense meer ontsteking ervaar, wat verband hou met atriale fibrillasie. Nog ’n moontlike verklaring is dat die eet van meer proteïene en vet in plaas van koolhidraat-ryke voedsel tot oksidatiewe spanning kan lei, wat ook met atriale fibrillasie verband hou. Oor die algemeen hou dit verband met ’n verhoogde risiko vir ander vorme van kardiovaskulêre siektes.

Die studie wat bogenoemde bevind het is voorgelê by die American College of Cardiology. Die hoof outeur van die studie was Dr. Xiaodong Zhuang (MD, Ph.D.) kardioloof verbonde aan die hospitaal geaffilieer aan die Sun Yat-Sen Universiteit in Guangzhou, China.

16.3.20

Diëte met ’n hoë proteïen-inhoud verhoog die risiko van hartversaking by middeljarige mans

Die eet van groot hoeveelhede proteïen deur middeljarige mans gaan gepaard gegaan met ’n verhoogde risiko vir hartversaking volgens nuwe navorsing van die Universiteit van Oos-Finland.

Die navorsers het wel bevind dat die verband nie bestaan tussen die eet van proteïene van vis en eiers en hartversaking nie.

Ondanks die gewildheid van diëte met ’n hoë proteïeninhoud, is daar weinig navorsing oor hoe sulke diëte kan bydra tot hartsiektes.

Die studie is gepubliseer in die joernaal Circulation: Heart Failure.

16.12.19

‘n Eier per dag laat die hartsiektes wag

Mense wat een eier per dag eet se risiko om kardiovaskulêre siektes op te doen is aansienlik laer in vergelyking met diegene wie geen eiers eet nie.

Kardiovaskulêre siektes is die grootste oorsaak van sterftes en gestremdhede wêreldwyd, meestal as gevolg van iskemiese hartsiektes en beroerte.

Eiers is 'n prominente bron van cholesterol in die dieet, maar dit bevat ook proteïen van hoë gehalte, baie vitamiene en komponente soos fosfolipiede en karotenoïede.

Vorige studies wat gekyk het na die assosiasies tussen die eet van eiers en die invloed op die gesondheid, was teenstrydig, en die meeste van hulle het onbeduidende assosiasies tussen eierverbruik en koronêre hartsiektes of beroerte gevind.

Daarom het 'n span navorsers van China en die Verenigde Koninkryk beoog om die assosiasies tussen eierverbruik en hartprobleme te ondersoek.

Hulle het data uit die China Kadoorie Biobank-studie gebruik, 'n voortslepende studie van ongeveer 'n halfmiljoen volwassenes tussen 30 en 79 jaar.

Vir die nuwe studie het die navorsers gefokus op 416 213 deelnemers wat vry was van voorafgaande kanker, kardiovaskulêre siektes en diabetes.

Analise van die resultate het getoon dat in vergelyking met mense wat nie eiers eet nie, daaglikse eierverbruik geassosieer word met 'n laer risiko vir kardiovaskulêre probleme in die algemeen.

Die bevindings van die studie is gepubliseer in die vaktydskrif Heart.

20.5.19

Drie koppies koffie dalk goed vir die hart

Indien jy sukkel met sogenaamde hartkloppings, dan is dit moontlik dat jou dokter jou al aangeraai het om minder koffie te drink. Nuwe navorsing toon egter dat dit kan dalk goed wees vir jou om ’n beperkte hoeveelheid koffie en tee per dag te drink.

Op die punt moet mens byvoeg, luister ALTYD na jou dokter se raad. Hy of sy het (hopelik) ’n goeie fisiologiese profiel van jou en weet dinge van jou wat inligtingsbronne nie het nie.

In mediese kringe word na hartkloppings verwys as aritmie*. ’n Aritmie veroorsaak dat die hart te vinnig, stadig of oneweredig klop. Sommige arritmieë is skadeloos en sommige sal jy nie eens opmerk nie, maar ander kan die risiko vir ’n skielike hartstilstand verhoog. Atriale fibrillasie, ’n baie algemene vorm, veroorsaak dat die hart vinnig klop, en as dit onbehandel gelaat word, kan dit beroertes veroorsaak. Arritmieë* kan ook in ons are voorkom.

Een koppie koffie bevat 95 mg kafeïen, wat die sentrale senuweestelsel stimuleer. Hierdie kafeïen blokkeer adenosien, ’n chemiese verbinding wat help om atriale fibrillasie te veroorsaak. Die nuwe navorsing toon dat die toename van kafeïen beslis die werking van adenosien verminder en die risiko vir atriale fibrillasie met tussen 6 en 13% verminder.

Die studie het ook bevind dat 9 of meer koppies per dag ander probleme meegebring het in amper 2% van pasiënte met hartprobleme, wie aan die studie deelgeneem het. Wat by laasgenoemde aansluit in ’n mate, is dat die navorsers van die American College of Cardiology aanbeveel dat energiedrankies vermy moet word as gevolg van die hoeveelheid gekonsentreerde kafeïen wat dit bevat.

So hoeveel is veilig? Volgens die navorsers is 300 mg ’n veilige aanbeveling vir die bevolking as geheel. Onthou ook om altyd jou dokter hieroor te raadpleeg, omdat jou mediese profiel mag verskil.

Hierdie studie sluit in ’n mate aan by navorsing waaroor ons 5 jaar gelede berig het: Koppie koffie dalk goed vir jou bloedvate

Die studie is gepubliseer in die Journal of the American College of Cardiology.

* Die spelling van arritmie met een of twee r’e is beide aanvaarbaar in Afrikaans.

23.5.18

Sofapokkels kan hartprobleme vermy deur te begin oefen

Vir middeljarige sofapokkels (couch potatoes) is daar altyd die risiko van hartversaking as gevolg van jare staties wees voor die televisie. Daar is egter nou hoop met navorsing wat toon dat twee jaar van gereelde aërobiese oefening hierdie risiko kan verminder, of selfs die skade kan herstel.

Aërobiese oefening is volgehoue aktiwiteite soos stap, swem, hardloop en soortgelyke aktiwiteite wat die hart en ander spiere versterk en die liggaam help om suurstof meer effektief te gebruik.

Statiese gedrag, soos om lang tydperke te sit, verhoog die risiko dat die hartspier krimp en verstyf op ’n middeljarige ouderdom, wat die risiko van hartversaking aansienlik verhoog. Vorige studies het getoon dat elite-atlete, wat 'n leeftyd lank met 'n hoë intensiteit oefening geoefen het, se hart en bloedvate aansienlik minder verouder het.

Deur twee tot drie keer ’n week te oefen doen nie veel om jou hart te beskerm nie. Vier tot vyf keer ’n week is egter baie effektief, volgens die studie. Dit is dus belangrik dat so ’n oefenprogram deel van jou daaglikse roetine word. So ’n program moet ten minste een lang sessie insluit (minimum een uur) en ten minste een hoë-intensiteit aërobiese sessie.

Dit is belangrik om voor jou laat middeljare te begin, as die hart nog goeie plastisiteit het, wat dit in staat stel om makliker te verander.

Die studie is gepubliseer in die joernaal Circulation.

(Hier artikel is bygedra deur Quintus van Rensburg, ’n ASA-gesertifiseerde afrigter in Bellville. -> bellvilleac.co.za)

20.12.17

Kalium is belangrik vir rooibloedselle en jou hart

Rooibloedselle, soos baie ander menslike selle, het ’n 24 uur biologiese ritme.

Anders as ander selle met DNA en gene om die ritme te reguleer, gebruik rooibloedselle kalium. Bedags vermeerder die kalium in die selle en snags verminder dit.

Hierdie nuwe ontdekking van navorsers aan die Universiteite van Surrey en Cambridge gaan ons dalk help om hartaanvalle beter te verstaan. Meeste hartaanvalle gebeur in die oggend. Die regulering van kalium sal help om dit beter te verstaan en te help voorkom. Die universiteite gaan verdere navorsing in die verband aanpak.

Die navorsing is gepubliseer in ’n onlangse uitgawe van die joernaal Nature Communications.

20.11.17

Omega-3 is goed vir jou hart

Navorsing wat meer as 71 000 mense betrek het toon dat omega-3 vetsure jou kanse op ’n dodelike hartaanval aansienlik verminder. Sowat 42% van mense wêreldwyd met harsiektes sterf jaarliks as gevolg van ’n hartaanval.

Selfs diegene met cholesterol-probleme se risiko op ’n hartaanval word aansienlik verminder – met 17%.

Deelnemers aan die studie het 1 g omega-3 vetsure per dag gekry. Die navorsers vermoed dat die effek van dié vetsure is selfs beter as dit van vis verkry word.

Die navorsing is twee maande gelede gepubliseer in die Journal of Clinical Lipidology.

16.11.16

Bewusteloosheid

Jou bewegings, die funksies van jou liggaam en jou bewussynsvlak word deur jou senustelsel beheer.

Wanneer jy bewusteloos, of gedeeltelik bewusteloos, is dit ’n aanduiding dat jou brein nie normaal werk nie. Dit is potensieel gevaarlik vir jou.

Daar is verskeie oorsake van bewusteloosheid. Die algemeenste is: kopbeserings, floute, hartaanval, beroerte, asfiksie, epilepsie, skok, vergiftiging en diabetes.

17.10.16

Hartversaking

Hartversaking is ’n uiters ernstige toestand waar die hart skielik ophou klop. Die oorsaak is waarskynlik dan ’n omvattende koronêre verstopping.

Simptome en tekens
Die ongeval word bewusteloos.
Geen pols kan in die nek gevoel word nie.
Asemhaling en hartklop hou op.
Vel word bleek.

’n Mens moet dadelik die persoon probeer bybring met kunsmatige asemhaling en die persoon moet so gou moontlik by ’n hospitaal kom.

5.10.16

Behandeling van koronêre verstopping

1. Indien die persoon by sy / haar bewussyn is, ondersteun die persoon versigtig in ’n halfsittende posisie agter die kop en skouers en met die knieë effens gebuig.

2. Maak stywe klere rondom die nek, borskas en middel los.

3. Indien die persoon bewusteloos is, maar normaal asemhaal, plaas die persoon in die herstelposisie.

4. Indien die asemhaling en hartklop ophou, begin onmiddellik met resussitasie.

5. Behandel vir skok.

6. Toets die asemhalingstempo en bewussynsvlak elke 10 minute.

7. Die persoon moet sodra moontlik by ’n hospitaal kom.



28.9.16

’n Koronêre verstopping

’n Koronêre verstopping is een van die mees algemene oorsake van ’n hartaanval.

Simptome en tekens
• ’n Skielike, beklemmende pyn in die middel van die borskas – nie te verwar met slegte spysvertering nie. Hierdie pyn versprei na die arms, keel, kakebeen of rug.
• ’n Skielike lighoofdigheid wat veroorsaak dat die persoon val of gaan sit of teen iets moet leun vir ondersteuning.
• Die vel kan bleek wees en die lippe en ander ekstremiteite kan blou word.
• Die persoon kan erg sweet.
• Die persoon kan kortasem wees.
• Daar is dalk ’n vinnige pols aanvanklik wat al swakker word en ook ongereeld kan word.
• Die persoon kan bewusteloos raak.
• Die asemhaling en hartklop kan ophou.
• Wees ook bedag op simptome en tekens van skok

21.9.16

Hartaanval

'n Hartaanval vind plaas wanneer die bloedtoevoer na 'n deel van die hart drasties verminder of afgesny word. Dit staan bekend as 'n miokardiale infarksie - die hartspier is die miokardium.

Die slagoffer kan wel herstel indien onbeskadigde hartspiere genoeg bloed kan pomp om die res van die hart en die liggaam aan die gang te hou.

Die mees algemene oorsake van ’n hartaanval is ’n koronêre verstopping of hartversaking.

10.8.16

Probleme met die bloedsomloop

Bloed word deur die hart in die liggaam gesirkuleer deur bloedvate na die weefsels en selle, voordat dit via die hart na die longe terugkeer waar dit weer geoksigeneer word.

Daar is etlike faktore wat die sirkulasie kan raak: die volume en gehalte van bloed in die sisteem, die druk waaronder dit deur gesirkuleer word, en die toestand van die hart en vate waardeur die bloed vloei.

Die gemiddelde volwassene het 6 liter bloed wat deur sy / haar liggaam sirkuleer. Die samestelling van die bloed is van groot belang vir die gesondheid van die weefsels.

Normale bloed bestaan uit ’n deursigtige geel vloeistof wat as plasma bekend staan en waarin rooiselle, witselle en bloedplaatjies gesuspendeer is. Die gekleurde pigment in die rooiselle (hemoglobien) voer suurstof na die weefsels. Die witselle oorweldig en verwyder alle skadelike liggame in die weefsels, soos kieme en dooie selle, en die plaatjies help die bloed om te stol.

Die druk waaronder bloed vloei, word bepaal deur die krag wat nodig is om seker te maak dat al die bloed die weefsels bereik. Indien dit te laag is, byvoorbeeld weens ernstige bloedverlies, ontvang die noodsaaklike organe ’n verminderde toevoer bloed en kan nie behoorlik funksioneer nie en skok kan so ontwikkel.

Bloed sal aanhou om in die liggaam te vloei en sal slegs stol indien dit uit beskadigde bloedvate ontsnap.

In een vorm van ’n bloedsomloopkwaal, trombose, kan klontvorming egter in ’n bloedvat voorkom – dit kan die betrokke vat blokkeer en so die noodsaaklike toevoer van geoksigeneerde bloed afsluit. Klonte kan bly vassteek waar hulle gevorm word, of kan deur die liggaam gevoer word totdat hulle ’n belangrike slagaar afsluit.

Verharde slagare is nog ’n oorsaak van ’n bloedsomloopkwaal. Langdurige hoë bloeddruk (wat meer algemeen voorkom namate die persoon ouer word) kan veroorsaak dat slagare bars, wat tot inwendige bloeding lei. Die algemeenste voorbeeld hiervan is serebrale bloeding (’n vorm van beroerte) en dit gebeur wanneer ’n serebrale slagaar wat bloed na die brein voer, bars en bloed in die breinweefsel inlek. Swak bloedsomloop, wat moontlik deur die aftakelingsproses van ouderdom vererger word, kan bydra tot trombose.

Nog ’n faktor is die aanwesigheid van vernoude bloedvate wat ook ’n "vetagtige" aanpaksel aan die wande kan hê. Klonte wat opwaarts tot in die breinslagare gevoer word, kan ’n beroerte (serebrale trombose) tot gevolg hê; klonte in die longe kan die normale bloedvloei en derhalwe die oksigeneerproses versteur (pulmonêre embolisme); klonte wat in die koronêre slagare van die hart self vorm, kan hartversaking veroorsaak (koronêre trombose).

Die hartspier trek saam en verslap net soos ander spiere en het sy eie afsonderlike bloedtoevoer, die koronêre slagare. Dit moet egter ononderbroke werk ten einde al die ander organe van die liggaam te voed-selfs as sy eie suurstoftoevoer verminder is.

Die koronêre slagare kan net soos ander slagare vernou wanneer die persoon ouer word, met die gevolglike vermindering van die hoeveelheid bloed wat deur hulle na die hart kan vloei. Hoe meer van die hartspiere deur hierdie tekort aan bloed geraak word, hoe minder doeltreffend word die hart, die klop sal swak en/of ongereeld raak, en uiteindelik kan dit heeltemal ophou (hartversaking).

16.5.16

Vars vrugte goed vir die hart

’n 7-jaar-studie van meer as ’n halfmiljoen Chinese volwassenes het bevestig: mense wat gereeld vars vrugte eet se kanse op ’n hartaanval of beroerte is laer as diegene wat selde vars vrugte eet.

Vrugte is ’n goeie bron van kalium, dieetvesel, antioksidante, en verskeie ander potensieel aktiewe verbindings, en bevat min sout of vet en relatief min kalorieë. Daar is bevind dat net 100 g vars vrugte per dag jou kanse op hartprobleme met ’n derde verminder.

Die studie is gepubliseer in die bekende New England Journal of Medicine.

18.1.16

Suiker ’n probleem vir hart

Wetenskaplikes aan die Universiteit van Leicester het onlangs bevind dat die vlak van suiker in jou bloed die sametrekking van jou are beïnvloed. Dit kan gevaar inhou vir jou bloeddruk en jou hart.

Hulle het aangetoon dat hoe meer suiker daar in jou bloed is, hoe erger trek jou are saam. Jou are trek saam en ontspan om jou bloeddruk te beheer. Hoe meer hulle saamtrek hoe hoër is jou bloeddruk.

’n Hartaanval vind plaas as ’n koronêre aar na die hart verstop is. Te veel suiker in jou bloed kan so ’n verstopping vererger.

11.8.14

Hoë bloeddruk ’n groot probleem in Suid-Afrika

Suid-Afrika het die hoogste voorkoms van hoë bloeddruk in die wêreld by persone ouer as 50 jaar.

’n Nuwe studie het bevind dat sowat 78% van Suid-Afrikaners in hierdie ouderdomskategorie aan hoë bloeddruk ly. Minder as 10% van hulle probeer die probleem beheer. Slegs 38% van die persone wat getoets is was bewus daarvan dat hulle hoë bloeddruk het. Die probleem in Suid-Afrika word toegeskryf aan die feit dat mense oorgewig is en min oefening doen.

Hoë bloeddruk verhoog jou kanse op ’n hartaanval of ander hartsiektes.

Die studie is gepubliseer in die International Journal of Epidemiology, volume 43, nommer 1 van Februarie 2014.