Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids


23.1.14

Mediese woordeboek en gids: F

Afrikaans - English Medical Dictionary / Afrikaanse mediese woordelys en gids vir die gesondheidswetenskappe - Slaan 'n siekte / aandoening / kwaal / gesondheidskwessie na en klik op die skakel vir meer inligting.

°F (°F) <sien Fahrenheit>

F (F) <sien fluoor> (chemiese simbool)

fagosiet (phagocyte, scavenger cell) (eetsel, opruimsel) ’n Sel wat in staat is om soliede partikels op te neem.

Fahrenheit (Fahrenheit, °F) <sien ook Celsius> (°F) ’n Temperatuurskaal waar vriespunt op 32°F en kookpunt op 212°F gelees word.

falanks (phalanx) <mv. falanges> Een van die beentjies van die vinger of die toon.

Fallopiese buis (Fallopian tube) <sien Fallopius-buis>

Fallopiusbuis (Fallopian tube, oviduct, tuba uterina, uterine tube) (eierleier, Fallopiese buis, ovidukt, tuba uterina, uteriene buis) 'n Buis wat die eiersel vanaf die ovarium na die uterus vervoer deur middel van silium- en peristaltiese bewegings.

familie (family) <sien ook takson> ’n Groep bestaande uit ’n aantal verwante genera wat gebruik word in die klassifikasie van organismes - soortgelyke families word in dieselfde orde verdeel en die ordes in ’n klas.

farinks (pharynx) <sien ook laringofarinks; nasofarinks; orofarinks> (keelholte) Die boonste verwyde gedeelte van die spysverteringskanaal, tussen die mondholte en die esofagus.

faringitis (pharyngitis) Ontsteking van die farinks.

farmakologie (pharmacology) Die wetenskap wat handel oor alle aspekte van geneesmiddels.

farmakopee (pharmacopoeia) (farmakopeia) ’n Boek wat besonderhede i.v.m. die vervaardiging van medisyne bevat.

farmaseuties (pharmaceutical) M.b.t. farmasie.

farmasie (pharmacy) Bereiding van medisyne volgens voorskrif; bereiding en samestelling van geneesmiddels.

fassia (fascia) <sien ook bondel; fasciculus> (bindweefselvlies) Fibreuse, membraanagtige bedekking of skede wat liggaamsdele ondersteun, bind of bedek.

fassiaal (fascial) (bondelvormig) Wat betrekking het op bondels vesels (fassia).

fekaal (faecal, fecal, stercorous) Wat betrekking het op feses.

fekaalagtig (faeculent, feculent) Lyk soos feses.

fekalieë (faeces) Menslike uitwerpsels.

fekalies (faecal) <fekaal>

femoraal (femoral) M.b.t. die femur.

femur (femur) (dybeen) Die boonste been in die onderste ledemaat.

fermentasie (fermentation) (gisting) ’n Soort anaërobiese respirasie waar organiese stowwe (gewoonlik koolhidrate) afgebreek word d.m.v. mikro-organismes of ensieme.

ferri- (ferri-, ferric) <sien ook ferro-> Dui verband aan met die aanwesigheid van ’n "driewaardige yster" (Fe+++) in ’n chemiese verbinding.

ferro- (ferro-, ferrous) <sien ook ferri-> Dui verband aan met die aanwesigheid van ’n "tweewaardige yster" (Fe++) in ’n chemiese verbinding.

fertiel <cf steriel> (fertile) (vrugbaar) Werklike vermoë van 'n organisme om nageslag voort te bring.

fetaal (foetal) M.b.t. die fetus.

fetus (foetus) <sien ook embrio> ’n Ongebore organisme in die uterus; ’n menslike embrio na agt weke van intra-uteriene ontwikkeling.

fibreus (fibrous) (veselagtig) Bevat of bestaan uit vesels.

fibrien (fibrin) Die onoplosbare veselagtige proteïen wat uit fibrinogeen gevorm word wanneer bloed stol.

fibrilleer (fibrillate) Wanneer ’n spier, veral die hartspier, saamtrek.

fibrinogeen (fibrinogen, plasminogen) (plasminogeen) ’n Oplosbare plasmaproteïen wat noodsaaklik is vir bloedstolling - word deur trombien, in die teenwoordigheid van kalsiumione, na fibrien omgeskakel.

fibromialgie (fibromyalgia) ‘n Toestand wat gekenmerk word deur moegheid en pyn in spiere en gewrigte.

fibroom (fibroma) ’n Goedaardige gewas wat uit bindweefsel bestaan.

fibrositis (fibrosis) <sien spierrumatiek>

fibula (fibula) <sien ook tibia> (kuitbeen) Die buitenste en dunste van die twee bene tussen die knie en die enkelgewrig.

fietels (Skotse fietels, lekkerjeuk, lekkerkrap, help-my-krap) ’n Chroniese veluitslag waarby groot dele van die vel opgehewe en rooi is met oop sere.

filament (filament) Dun, draadagtige struktuur.

fisiater (natuurarts) ’n Dokter wat bekwaam is in natuurgenesing.

fisiatrie Geneeskundige behandeling sonder medisyne.

fisiek (physique) (liggaamsbou) Die natuurlike gesteldheid van die liggaam.

fisiek (physical) (fisies, liggaamlik) Wat die natuurlike liggaam betref; m.b.t. die struktuur, organisasie of ontwikkeling van die liggaam.

fisies (physical) <sien fisiek adj.>

fisies (physical) M.b.t. fisika.

fisies (physical) (natuurkundig) Wat op die natuur of natuurwette betrekking het.

fisika (physics) Vertakking van die wetenskap wat handel oor natuurwetenskap, t.w. meganika, hitte, elektrisiteit, lig, geluid en die dinamika wat dit beheer.

fisikus (physicist) Deskundige op die gebied van fisika.

fisiologie (physiology) <sien ook anatomie> Studie van die werking van selle, weefsels en organe van lewende organismes.

fisioloog (physiologist) Deskundige op die gebied van fisiologie.

fisioterapie (physiotherapist) ’n Persoon wat fisioterapie beoefen.

fisioterapie (physiotherapy) Gebruik van fisiese metodes, bv. hitte, elektrisiteit, en beweging in die behandeling van siektes.

fistel (fistula) (pypsweer) Die abnormale kanaal tussen twee oppervlaktes wat deur verswering of siekte meegebring word.

flatus (flatulence) <sien flatulensie>

flatulensie (flatulence) (winderigheid) Buitensporige hoeveelhede gas in die verteringskanaal.

flebitus Aarontsteking.

flebotomie (phlebotomy) (aarlaat, aarlating, aderlaat, bloedlating, venaesectio) Die oopmaak van 'n aar om die bloed uit te laat.

flebotrombose Verstopping van die bloedvate.

flegma Slym veroorsaak deur ontsteking in die bloed.

fleksie (flexion) <sien ook buigbaar/cf ekstensie> (buiging) ’n Buiging by ’n gewrig wat veroorsaak dat die hoek tussen die twee bene kleiner word.

fleksor (flexor) <cf ekstensor> (flexor, buigspier) ’n Spier wat ’n liggaamsdeel of ledemaat buig, bv. die biseps.

flokkulasie (flocculation) (koagulasie) ’n Reaksie waar die (normaalweg) onsigbare stowwe in ’n oplossing ’n sigbare donsige neerslag (klein vlokkies) vorm.

flokkulering (flocculation) ’n Reaksie waar die (normaalweg) onsigbare stowwe in ’n oplossing ’n sigbare donsige neerslag (klein vlokkies) vorm.

flokkuleer (flocculate) Ondergaan; uitvlok; konguleer.

fluktuasie (fluctuation) (skommeling) Die golwende heen en weer beweging van vog in ’n liggaamsholte.

fluktuasie (fluctuation) (skommeling, wisseling) Die wisseling van ’n eienskap met tyd, bv. temperatuurskommeling.

fluoor (fluorine, F) (F) ’n Gasagtige chemiese element van die halogeengroep.

fluorideer (fluoridating) Fluoried byvoeg of met fluoried behandel.

fluoried (fluoride) ’n Eenvoudige verbinding van fluoor met ’n ander element. Dit help tandbederf voorkom.

fobie (phoby) ’n Sieklike vrees vir iets.

fobofobie ’n Sieklike vrees vir die ontstaan van angs.

fokale lengte (focal length, focal distance) (brandpuntafstand) Die afstand (op die hoofas van die lens) tussen die optiese middelpunt en die hoofbrandpunt.

fokus (focus) <sien brandpunt 1ste inskrywing>

fokus (focus) Die plek waar ’n siekte hoofsaaklik geleë is.

fokus (focus) (brandpunt, fokuspunt) Die middel- of sentrale punt.

foliensuur (folic acid) Die suur van die vitamien B-kompleks. Dit word verkry uit dierelewer of uit blare. Dit kan ook sinteties berei word.

folinesuur (folic acid) Die suur van die vitamien B-kompleks. Dit word verkry uit dierelewer of uit blare. Dit kan ook sinteties berei word.

follikel (follicle) ’n Klein sakkie; ’n klein afskeidingsholte wat selle of sekresie bevat.

follikel (follicle) ’n Eenvoudige buisklier.

foniatrie (phoniatrics) Die geneeskundige behandeling van spraakgebreke en stemaandoenings.

fonies (phonic) <sien ook akoesties> M.b.t. spraakklanke; wat op die aard van klank betrekking het.

fontanel (fontanel) Ruimte tussen die skedelbene van babas wat met ’n sagte bindweefsellaag bedek is.

formaldehied (formaldehyde) Gas wat vir ontsmettingsdoeleindes gebruik word.

formalien (formalin) 40%-oplossing van formaldehiedgas in water; vloeistof wat algemeen as ’n fikseermiddel in anatomie en histologie gebruik word.

fosfaat (phosphate) Sout van fosforsuur.

fosfor (phosphorus, P) (P) Ontvlambare, giftige chemiese stof - niemetaal.

fosforessensie (phosphorescence) Liggewende eienskap van fosfor en ander stowwe.

fosforessensie (phosphorescence) Eienskap van dinge wat in die donker ’n blougroen gloed gee.

fosforesserend (phosphorescent, glowing, luminous) (gloeiend, liggewend) Met die eienskap van fosforessensie.

fosforsuur (phosphoric acid) Kleurlose, reuklose, stroopagtige vloeistof wat met water of alkohol gemeng kan word.

fotofobie (photophobia) Onverdraagsaamheid teenoor lig.

fotofobies (photophobic) Wat aan fotofobie ly.

foton (photon) ’n Hoeveelheid ligenergie (kwantum lig) analoog aan ’n elektron.

fotosintese (photosynthesis) Chemiese sintese van koolhidrate vanaf koolstofdioksied en water deurdat sonlig op die chlorofil van groen plante inwerk.

fraktuur (fracture) (breuk) 'n Breuk in 'n been, kraakbeen of soliede orgaan soos die milt.

fruktose (fructose) <sien ook ketose 2e inskrywing> (vrugtesuiker) 'n Eenvoudige suiker met die formule C6H12O6 wat in 'n ketoring gerangskik is.

ftisis (phthysis) Vroeëre benaming vir tering, veral longtering, in besonder myntering.

fundamenteel (fundamental) <sien basaal 1ste inskrywing>

fundamenteel (fundamental) Essensieel, of van die grootste belang.

fundamenteel (fundamental, elementary) (elementêr) M.b.t. die grondbeginsels.

fungus (fungi) <mv fungi/sien ook skimmel> (swam) Parasitiese plant sonder chlorofil.

fyt (jam) ’n Pynlike verswering in die voorste lit van ’n vinger.

No comments :

Post a Comment