Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

9.7.25

Wintershande en -voete / Pernio

Wintershande en -voete (pernio) is die brandende, jeukende geswel van hande en / of voete as gevolg van blootstelling aan koue.

Die koue veroorsaak dat die bloedtoevoer ingekort word.

Oefening help om die bloedsomloop te verbeter.

Boereraat:
Spyker balsem, waarvan die hoofbestanddeel terpentynolie is, kan gebruik word vir wintershande en-voete.

♦♦♦

’n Mengsel wat jy kan voorberei vir wintershande, -voete, gebarste hakskene, en selfs vir ekseem:
1 kg room met ’n waterbasis
50 mℓ gliserien,
1 klein potjie wit Vaseline (reukloos)
100g Johnson's babapoeier.

Meng alles saam en smeer mildelik aan die aangetaste dele.

♦♦♦

Meng helfte kerswas en helfte paraffien en smeer soggens en saans aan. Dit help ook vir gebarste voete in warm weer.

♦♦♦

Hou jou voete in warm water waarin paraffien is.

♦♦♦

Vryf geweerolie aan jou voete.

♦♦♦

Sit in die son en vryf paraffien aan jou voete.

♦♦♦

Smeer terpentyn aan wintervoete.

♦♦♦

Maak 1 eetlepel kalk aan met 1 bottel kookwater. Laat staan vir 24 uur voor dit afgegooi word. Gooi ´n eetlepel kalkwater oor elke bord kos wat jy eet.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids



Soekgids aanwysers: winters voete, wintersvoete

7.7.25

Kruie vir kwale: Blaasinfeksie

Hierdie gevestigde en bekende preparaat het bekendheid verwerf vir die behandeling van minder ernstige blaasprobleme. Die gewone dosis is een tot twee teelepels vol in ‘n glasie water drie maal daagliks.

♦♦♦

Sitroengras kan as 'n ligte diuretikum optree, wat urienproduksie verhoog. Dit kan help om gifstowwe uit die niere te spoel en die risiko van urienweginfeksies te verminder.

♦♦♦

Balsem-sulfuris is ‘n baie ou middel wat gebruik word vir blaasaandoenings. Neem 10 – 20 druppels twee of drie keer per dag op ’n bietjie suiker.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n hand vol vars bergtee blare. Laat dit trek vir 5 minute. Drink dit dadelik. Gebruik dit vir pyne wat gepaard gaan met blaasinfeksie.

♦♦♦

Boegoeblare is goeie behandeling vir minder ernstige blaaskwale. Berei boegoetee voor deur 'n handvol blare by 500 ml kookwater te voeg. Laat dit vir 15 minute trek. Drink 200 ml tot 400 ml op 'n keer, 3 keer per dag. Boegoe-essens kan ook gebruik word. Meng 5 ml to 10 ml essens met 200 ml water. Drink dit drie keer per dag.

♦♦♦

Bosboegoe kan ook gebruik word. Voeg ’n paar bosboegoe-spruite by ’n bottel brandewyn. Laat staan vir ’n week en skud daagliks. ’n Eetlepel hiervan twee maal per dag.

♦♦♦

Bosbessiesap maak die uriene suur, wat die groei van bakterieë teenwerk en kan help om urienbaaninfeksies te voorkom.

♦♦♦

Tap vir jou genoeg louwarm water in die bad om in te sit. Voeg 5 druppels laventelolie by en sit in die water vir 15 minute.

♦♦♦

Drink ’n koppie kruisementtee as jy pyn op jou blaas het.

♦♦♦

Brandnetel is ´n wonderlike ding. Sy sap laat die sure in die bloed neerslaan. Die niere kan dan van die gemors ontslae raak. As daar te veel gemors gelyktydig by die niere aankom dan word die waterwerke verstop met al die modder. Burnet het reeds baie jare gelede vasgestel dat 5 druppels elke 2 uur net die ding is. Hoe om jou druppels te maak:
Pluk jong sappige groen brandnetel. Kap fyn en sit dit in ´n bottel. Bedek met alkohol, 26-30%.
(bydrae: Peter M von Maltitz)

♦♦♦

Meng 2 eetlepels kaneel en 1 teelepel heuning in 'n glas louwarm water en drink dit.

♦♦♦

Neem 10 – 30 druppels balsemkopiva daagliks, gedrup op suiker of saam met melk.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

3.7.25

Kruie vir kwale: Slym

Die blaarsap van die bontaalwyn word soms met warm water of kruietee gemeng en gedrink. Dit help om slym skoon te maak.

♦♦♦

Sny ’n wit ui in dun skyfies en strooi bruinsuiker daaroor. Laat die staan sodat dit ’n stroop kan trek. Gee dan 5 mℓ van die stroop elke uur. Dit sal help teen die slym.

♦♦♦

LET WEL: Wynruit moet slegs onder toesig van ’n dokter of ander kundige persoon gebruik word. Dit het giftige eienskappe en sommige mense se velle is uiters sensitief daarvoor.
Vir slym op die bors by kinders kook jy ’n hand vol wynruit saam met ’n hand vol boegoe in 2.25 liter water. Laat dit kook tot die water met die helfte verminder het.
Gooi dit deur ’n sif en behou die vloeistof. Gooi dit terug in die kastrol.
Gooi 500 g suiker by en kook stadig terwyl jy aanhoudend roer, tot die suiker opgelos is.
Gee die kind 5 mℓ van hierdie stroop 4 maal per dag.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

1.7.25

Kruie vir kwale: Rugpyn

Boegoeblare blyk baie goed te wees vir die behandeling van minder ernstige rugpyn.
Berei boegoetee voor deur 'n handvol blare by 500 ml kookwater te voeg. Laat dit vir 15 minute trek. Drink 200 ml tot 400 ml op 'n keer, 3 keer per dag. Boegoe-essens kan ook gebruik word. Meng 5 ml to 10 ml essens met 200 ml water. Drink dit drie keer per dag.

♦♦♦

Balsem-sulfuris is ‘n baie ou middel wat gebruik word vir lendepyn.

♦♦♦

Neem 2 tot 4 kankerbossie-blare en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Volgens die Khoi kan jy hierdie flou tee kan jy drink vir rugpyn.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n kwart koppie vars sewejaartjie-blare. Laat dit trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n siffie en drink vir rugpyn.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n hand vol vars bergtee blare. Laat dit trek vir 5 minute. Drink dit dadelik. Gebruik dit vir rugpyn.

♦♦♦

Was die aangetaste dele van jou lyf met bosboegoe-blare en die fyngedrukte bolle van wildeknoffel.

♦♦♦

Neem 10 – 30 druppels balsemkopiva daagliks, gedrup op suiker of saam met melk.

♦♦♦

Die Tswana-mense hang die bolle van die blouberglelie op om uit te droog. Hulle moet 5 maande lank hang. Die bolle word dan verpoeier en gesmeer aan die rug en polse om dit te help herstel.
Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

30.6.25

Kruie vir kwale: Griep

Die blare van die bontaalwyn word rou gekou of fyngemaak om die jel of sap te onttrek. Hierdie jel kan oraal ingeneem word om die algemene ongemak wat met griep geassosieer word, te verlig.

♦♦♦

Makkalmoes word tradisioneel deur die Zoeloe mense gebruik om griep te behandel. Die risome word normaalweg gekook en gebruik.

♦♦♦

Daar is navorsing wat bevind het dat die blare van Hotnotskooigoed (Helichrysum melanacme) suksesvol gebruik kan word vir sekere griepvirusse.
Een voorstel is dat jy ’n aftreksel maak deur die blare 3 tot 5 dae lank in alkohol te week en dan te filtreer. Jy moet omtrent ’n kg plantmateriaal gebruik vir 5 liter water.
Om aftreksel te gebruik, vul 'n druppelaar of klein spuit met die vloeistof en drup dit in die mond, net onder die tong. Hou die tinktuur vir 'n paar sekondes in die mond voordat jy dit sluk. Spoel die mond dan deeglik uit met water om van die bitter smaak ontslae te raak. Die presiese dosis wat 'n persoon moet neem, hang af van hul ouderdom, maar dit is die beste om nie meer as 2 klein vol druppelaars te neem nie. Moenie tinkture aan kinders gee nie. (Lall, N., Hussein, A.A., Meyer, J.J.M., 2006. Antiviral and antituberculosis activity of Helichrysum melanacme constituents. Fitoterapia 77, 230–232.)

♦♦♦

Daar is reeds meer as een studie wat bevind het dat rooibos kan help om sekere griepvirusse te beveg.

(Rahmasaria R., Haruyamaa T., Charyasriwonga S., Nishidaa T., Kobayashia N. Antiviral activity of Aspalathus linearis against human influenza virus. Nat. Prod. Commun. 2017;12(4):599–602.)
(Lall N., Hussein A.A., Meyer J.J.M. Antiviral and antituberculosis activity of Helichrysum melanacme constituents. Fitoterapia. 2006;77:230–232. doi: 10.1016/j.fitote.2006.01.007. )

♦♦♦

Vir griep week Rastafariërs een wildeknoffel plant se bol en blare in kookwater vir 10 minute. Die aftreksel word dan as ’n tee gedrink.

♦♦♦

Die kalwerbossie kan suksesvol gebruik word vir die behandeling van sekere griepvirusse en die koronavirus-stam.

’n Aftreksel word gemaak deur die plant se wortels 3 tot 5 dae lank in alkohol of water te week en dan te filtreer.

Om aftreksel te gebruik, vul 'n druppelaar of klein spuit met die vloeistof en drup dit in die mond, net onder die tong. Hou die tinktuur vir 'n paar sekondes in die mond voordat jy dit sluk. Spoel die mond dan deeglik uit met water om van die bitter smaak ontslae te raak. Die presiese dosis wat 'n persoon moet neem, hang af van hul ouderdom, maar dit is die beste om nie meer as 2 klein vol druppelaars te neem nie. Moenie tinkture aan kinders gee nie.
(Michaelis M., Doerr H.W., Cinatl J. Investigation of the influence of EPs 7630, a herbal drug preparation from Pelargonium sidoides, on replication of a broad panel of respiratory viruses. Phytomedicine. 2011;18:384)

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik die bol van wildeknoffel vir die behandeling van griep.
Een plant se bol word fyngedruk en in melk gekook vir 10 minute. Klein bietjies van die aftreksel word dan in die oggend en aand gedrink.

(Cock, IE & Van Vuuren, SF. The traditional use of southern African medicinal plants in the treatment of viral respiratory diseases: A review of the ethnobotany and scientific evaluations. Journal of Ethnopharmacology. 2020)

♦♦♦

Sommige mense maak ’n eksterne wasmiddel met kankerbossie vir griep. Hiervoor gebruik jy 4 hande vol blare van die kankerbossie, ’n fyngedrukte bol wildeknoffel en 4 hande vol kruidjie-roer-my-nie se blare. Alles saam word in kookwater getrek vir 30 minute. Die lyf word gewas terwyl die mengsel nog warm is en die pasiënt moet ook 125 mℓ van die mengsel drink. Die 125 mℓ moet egter afgetap word na 15 minute se trek. As dit te sterk is, kan dit die persoon laat opgooi. Hoe bitterder ’n kankerbossie-mengsel is, hoe sterker is dit.


♦♦♦

Neem 2 tot 4 blare van die kankerbossie en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Volgens die Khoi kan jy hierdie flou tee kan jy drink vir griep.

♦♦♦

Plaas 10 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Drink dit vir griep

♦♦♦

Voeg ’n kwart koppie kattekruid-blare by ’n koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n sif en drink vir griep

♦♦♦

Drink die sap van een suurlemoen saam met warm water, 'n teelepel heuning en twee aspirientablette vir griep.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

26.6.25

Kruie vir kwale: Diabetes

Sitroengras kan help om bloedsuikervlakke te beheer, wat belangrik is vir die voorkoming van diabetiese niersiekte.
Hoe om te gebruik:
Tee: Week 1-2 teelepels gedroogde sitroengras in warm water vir 5-10 minute. Beperk tot 1-2 koppies daagliks.

♦♦♦

Boegoe kan bydra tot die handhawing van gesonde bloedsuikervlakke.

♦♦♦

Neem 2 tot 4 kankerbossie blare en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Heelwat Suid-Afrikaners gebruik dit steeds vir diabetes.

♦♦♦

Rooiwortel (Bulbine natalensis) is 'n vetplant wat in dele van Suid-Afrika groei. Die wortel, blaar en stam word as medisyne gebruik. Mense gebruik dit vir diabetes, maar daar is geen goeie wetenskaplike bewyse om hierdie gebruike te ondersteun nie.

♦♦♦

Plaas 5 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Drink dit vir diabetes.

♦♦♦

Kap 5 g bitterbos-blare fyn en laat 5 minute trek in ’n koppie kookwater. Drink drie maal per dag vir diabetes.

♦♦♦

So min soos 1 gram borrie saam met ontbyt help om die geheue te verbeter van persone wat in die vroeë fase van die ontwikkeling van diabetes is.

♦♦♦

Gebruik 3 g bloublomsalie, 3 g kankerbossie en 3 g wildedagga om ’n tee mee te maak.
Laat dit vir 5 minute trek voor jy dit deur ’n siffie gooi.
Drink dit vir diabetes.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

24.6.25

Kruie vir kwale: Hoes

Balsem Vita, ’n preparaat van verskillende olies, word aanbeveel vir die verligting van hoes van ‘n minder ernstige aard. Dit kan met veiligheid vir kinders en babas gegee word. Vir volwassenes 20 – 30 druppels 4 of 5 keer daagliks saam met warm water of tee. 10 druppels is genoeg vir kinders en 5 druppels in bietjie lou soet water vir babas.
Die olies wat gebruik word vir die preparaat is kassia, laventel, naeltjie, neutmuskaat en tiemie.

♦♦♦

Die vars blare van die kransaalwyn word gekap of fyngemaak en dan in water gekook om 'n tee of aftreksel te maak.
Dit word gedrink om hoes te verlig.
Soms word heuning of ander medisinale kruie, soos die blare van die lemoenbossie of gemmer, bygevoeg om die doeltreffendheid te verbeter.

♦♦♦

Vir hoes week Rastafariërs een wildeknoffel plant se bol en blare in kookwater vir 10 minute. Die aftreksel word dan as ’n tee gedrink.

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir hoes. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n eetlepel geelblomsalie blare en laat dit trek vir 5 minute. Om dit meer drinkbaar te maak kan jy dit versoet met heuning en ’n skyfie suurlemoen byvoeg.
Die Nama mense gebruik al lank tee van geelblomsalie vir die behandeling van hoes. .

♦♦♦

Tee van die wilde salie word wêreldwyd gebruik vir die behandeling van hoes en ander borskwale.
Gooi ’n koppie kookwater oor ’n eetlepel wilde salie blare en laat dit trek vir 5 minute. Daarom meer drinkbaar te maak kan jy dit versoet met heuning en ’n skyfie suurlemoen byvoeg.
As jy hoes moet jy daarvan drink direk na die hoesbui. Jy kan ook ’n blaar kou om te help met hoes of ’n seer keel.

♦♦♦

Gebruik 10 g wildedagga-blare, stele en/of blomme om ’n tee mee te maak. Laat dit vir 5 minute trek voor jy dit deur ’n siffie gooi.
Drink dit vir hoes.

♦♦♦

Jy het ’n takkie kapokbos van omtrent jou duim se lengte nodig. Gooi ’n koppie kookwater daaroor en laat trek vir 5 minute.
Dreineer en voeg bietjie heuning en suurlemoensap by en drink dit vir hoes.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n paar gedroogde takkies heuningtee en laat dit trek vir 20 minute. Drink dit ten minste 4 keer per dag vir hoes.

♦♦♦

Gebruik 10 g vars tiemie om ’n tee mee te maak. Laat dit vir 5 minute trek voor jy dit deur ’n siffie gooi. Roer 5 mℓ heuning by.
Drink die tee vir hoes.

♦♦♦

Plaas 5 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Drink dit vir hoes.

♦♦♦

Plaas ’n ¼ koppie klimop-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n siffie en geur met heuning na smaak.
Drink dit vir hoes.

♦♦♦

Maak die wortel van die noem-noem skoon en maak fyn. Gebruik 2 teelepels in ’n koppie warm water. Drink dit vir hoes.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n paar blare van die medisynebossie en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n sif en drink vir hoes.

♦♦♦

Voeg ’n paar wildeals-spruite by ’n bottel brandewyn. Laat staan vir ’n week en skud daagliks. ’n Eetlepel hiervan twee maal per dag vir hoes.

♦♦♦

Gebruik 5 g vars wildeals blare om ’n tee mee te maak. Laat dit vir 5 minute trek voor jy die blare verwyder. Roer 5 mℓ heuning by.
Drink die tee vir hoes.

♦♦♦

Gooi kookwater oor ’n teelepel bloekomblare (Eucalyptus globulus) gemeng met ’n teelepel bokboegoe (Coleonema pulchellum). Laat dit trek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink vir hoes.

♦♦♦

Een teelepel boegoebrandewyn, twee maal per dag.
Lees hier hoe om boegoebrandewyn te maak.

♦♦♦

Kook ´n stuk saliebos in water tot die vloeistof lyk soos sterk tee.
Neem een koppie daarvan en kook dit tot ’n stroop saam met 500 ml suiker.
Voeg 1 botteltjie borsdruppels en 125 ml suurlemoensap by en skud goed.
Drink 15 ml hiervan 3 maal per dag.

♦♦♦

Sny ’n wit ui in dun skyfies en strooi bruinsuiker daaroor. Laat die staan sodat dit ’n stroop kan trek. Gee dan 5 mℓ van die stroop elke uur. Dit sal help vir hoes.

♦♦♦

Jy kan jou eie hoesstroop maak deur gelyke hoeveelhede suurlemoensap en heuning te meng.

♦♦♦

Peperwortel is jare gelede gereeld gebruik om hoes mee te behandel. Jy berei jou eie hoesstroop van die plant. Behou die wortel se skil, maar was en skrop dit deeglik. Sny dit dan in skyfies. Strooi ’n dik laag bruinsuiker oor en laat staan vir 24 uur. Dan gooi jy die los suiker af en kook die res op tot sag. Neem 5 mℓ wanneer jy ’n hoesbui het.

♦♦♦

Kou ses naeltjies en sluk die sap in.

♦♦♦

George Moore skryf:
"Man, ek het so 'n lelike hoesie gekry die winter toe sê 'n ou taante om die draai van my ek moet die volgende gebruik:
1 half jack gemmer brandewyn
1 middelslag ui
2 huisies knoffel
1 bottel heuning
Gooi die heuning en brandewyn in 'n potjie en verhit stadig maar nie kook nie, rasper dan die ui en knoffel baie fyn en gooi by die brandewyn en heuning laat so vir 10 minute staan en gooi in bottels maak seker dat die ui en knoffel gelyk verdeel is in al die bottels. Gebruik dan so 2 eetlepels op 'n slag vir hoes maar nou nie te veel nie anders moet 'n mens dan 'n raad vir wingerdgriep gaan soek. So elke 2 ure het gewerk vir my."


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids