Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



1.1.14

Mediese woordeboek en gids: C

Afrikaans - English Medical Dictionary / Afrikaanse mediese woordelys en gids vir die gesondheidswetenskappe - Slaan 'n siekte / aandoening / kwaal / gesondheidskwessie na en klik op die skakel vir meer inligting.

(Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief ’n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD)

°C (°C) <sien Celsius>

C (C) <sien coulomb>

C (C) <sien koolstof> (chemiese simbool)

C2H2 (C2H2) <sien etyn> Chemiese formule.

C2H4 (C2H4) <sien eteen> Chemiese formule.

C2H5- (C2H5-) <sien etiel> Chemiese formule.

C2H5OH (C2H5OH) <sien etanol> Chemiese formule.

C2H6 (C2H6) <sien etaan> Chemiese formule.

Ca (Ca) <sien kalsium> Chemiese simbool.

Ca+ (Ca+) Kalsiumioon.

CaCO3 (CaCO3 )<sien kalsiumkarbonaat> Chemiese formule.

caissonsiekte (caisson disease) (borrelsiekte, duikersiekte) Siekte wat voorkom by werkers in 'n caisson of duikers wanneer hulle te vinnig uit diep water na bo kom.

cAMP ( cAMP) <sien sikliese adenosienmonofosfaat>

candela (candela, cd) (cd, kandela) Die SI-eenheid waarin ligintensiteit gemeet word.

candida ’n Swamgis wat algemeen voorkom in die mond en in die vagina.

Cannabis (Cannabis) Die gedroogte blomtoppe van daggaplante.

CaO (CaO) <sien kalsiumoksied> Chemiese formule.

cauda equina (cauda equina, horse tail) (perdestert) Die terminale trosvormige gedeelte van die rugmurgsenuwees wat die ruggraatkanaal deur 'n opening aan sy onderpunt, net voor die stuitjie, verlaat - dit het die voorkoms van 'n perdestert.

CCl4 (CCl4) <sien koolstoftetrachloried> Chemiese formule.

cd (cd)<sien candela>

Celsius (Celsius, °C) <sien ook Fahrenheit> (°C) 'n Temperatuurskaal waarop die vriespunt van water as 0°C en die kookpunt as 100°C aangedui word.

Cestoda (Cestoda ) <sien ook lintwurm; nematood; wurm> 'n Klas parasitiese, gesegmenteerde platwurms sonder 'n mond of spysverteringskanaal.

CH4 (CH4) <sien metaan>

CHCl3 (CHCl3) <sien chloroform> Chemiese formule.

cheilitis (cheilitis) Ontsteking van die lip.

cheilose (cheilosis) Siektetoestand waar barsies in die lip en mondhoeke ontstaan agv 'n gebrek aan sekere vitamiene.

cheiralgie (cheiralgia) Pyn in die hande.

cheiromegalie (cheiromegaly)Abnormale toestand gekenmerk deur besondere groot hande.

chemie (chemistry) (skeikunde) Die studie van elemente en hulle chemiese verbindings.

chemies (chemical) (skeikundig) Van of m.b.t. die chemie.

chemiese binding (chemical bond) <sien ook ioniese binding; kovalente binding> Die aantrekkingskrag of krag wat atome bymekaar hou.

chemiese energie (chemical energy) Die vermoë van 'n stof om arbeid te verrig - is geleë in die chemiese samestelling van die stof.

chemiese ewewig (chemical equilibrium) 'n Toestand tydens 'n omkeerbare chemiese reaksie waar beide die voorwaartse en terugwaartse reaksie teen dieselfde tempo verloop.

chemiese formule (chemical formula) 'n Snelskrifmetode (syfers of letters) wat een molekule van 'n verbinding of element voorste.

chemiese reaksie (chemical reaction) 'n Proses waar een of meer stowwe chemies reageer om nuwe stowwe te vorm.

chemiese verbinding (chemical compound) 'n Stof wat bestaan uit verskillende elemente wat chemies met mekaar verbind is, bv NaOH wat bestaan uit die elemente natrium, suurstof en waterstof.

chemiese vergelyking (chemical equation, equation) (vergelyking) 'n Vergelyking wat 'n chemiese reaksie voorstel, bv wanneer water (H2O) met natrium (Na) verbind, is die chemiese vergelyking 2Na + 2H2O - 2NaOH + H2.

chemiese vertering (chemical digestion) Opbreek van voedsel in absorbeerbare eenhede deur die inwerking van spysverteringsappe en ensieme.

chemikalie (chemical) ’n Stof wat verkry word of gebruik word in chemiese reaksies.

chemikus (chemist) (skeikundige) Vakkundige in die chemie.

chemoreseptor (chemoreceptor,chemoceptor) (chemoseptor) Sensoriese reseptor wat op 'n spesifieke chemiese stof reageer.

chemoseptor (chemoceptor) <sien chemoreseptor>

chemosintese (chemosynthesis ) Die opbou van chemiese stowwe in organismes.

chemotakse (chemotaxis) Die reaksie van selle en organismes op 'n chemiese stimulus, hetsy deur aantrekking (positief chemotakties) of afstoting (negatief chemotakties).

chemotakties (chemotactic) Mbt chemotakse.

chemoterapie (chemotherapy) Die behandeling of voorkoming van siektes deur chemiese stowwe wat die oorsaaklike mikro-organismes of agente teenwerk of vernietig, sonder 'n ernstige toksiese uitwerking op die pasiënt.

chiasma (chiasm, chiasma ) Skuins rangskikking of kruising (X-vormig).

chiasma (chiasm, chiasma ) <mv chiasmata/sien ook oorkruising> Kom oa voor by homoloë chromosome waar dit die aanhegtingspunt is waar oorkruising geskied genetiese materiaal uitgeruil word.

chiasmata (chiasmata) <ekv chiasma>

chiasmies (chiasmic) Oorkruis; mbt chiasma.

chilomikron (chylomicron ) ’n Mikroskopiese vetdruppel wat ’n vertering in die bloed teenwoordig is; ’n lipiedproteïenpartikel wat, na ’n maal, van die slymvliesepiteel van die dunderm na die limf gaan.

chimera (chimera) ’n Organisme wat ’n mengsel van geneties verskillende weefsels bevat en gevorm is deur prosesse soos die vergroeiing van embrio’s, enting of mutasie.

chimotripsien (chymotrypsin) ’n Proteolitiese ensiem wat in die duodenum gevorm word wanneer chimotripsinogeen deur tripsien geaktiveer word.

chimotripsinogeen (chymotrypsinogen) 'n Stof wat in die pankreas geproduseer word en wat die voorganger van chimotripsien is.

chiropodie (chiropody) (voetheelkunde) Kennis omtrent voetkwale.

chiropodis (chiropodist) (voetheelkundige) ’n Spesialis wat hande en voete, veral liddorings, eelte en naels behandel.

chiropraktisyn (chiropractor) ’n Spesialis wat chiropraktyk beoefen.

chiropraktyk (chiropractic) Terapie gegrond op die veronderstelling dat 'n persoon se gesondheidstoestand bepaal word deur die algemene toestand van die senuweestelsel.

chirurg (surgeon) (snydokter, sjirurg) ’n Dokter wat veral operasies uitvoer.

chirurgie (surgery) (sjirurgie) ’n Afdeling van die geneeskunde waar snykunde (operatiewe behandeling) vereis word.

chirurgies (surgically) (sjirurgies) Van die chirurgie; deur middel van ’n operasie.

chirurgyn ’n Geneeskundige sonder behoorlike bevoegdheid.

chloasma <sien lewervlekke>

chloor (chlorine, Cl) (Cl) Geelgroen gas; een van die halogene.

chloorsuur (chloric acid) ’n Suur wat algemeen as bleikmiddel of tydens watersuiwering gebruik word

chloraat (chlorate) ’n Sout van chloorsuur.

chloreer (chlorinating) Met chloor behandel.

chloride (chloride) (chloried) Enige binêre verbinding met chloor.

chloried (chloride) <sien ook soutsuur> Enige sout van soutsuur (HCl).

chloried (chloride) (chloride) Enige binêre verbinding met chloor.

chloriedverskuiwing (chloride shift) Omruiling van chloried- en bikarbonaatione deur selmembrane gedurende die reaksie van CO2 en water in ’n sel.

chloriedverskuiwing (chloride shift) Die beweging van chloriedione om die elektriese lading in liggaamsvloeistof gelyk te maak.

chlorofil (chlorophyll) (bladgroen) Groen pigment wat in alle groen plante en sommige bakterieë aangetref word - absorbeer lig om energie te verskaf vir fotosintese.

chloroform (chloroform, CHCl3, trichloromethane) (CHCl3, trichlorometaan) Swaar, kleurlose, verdampende chloorvloeistof - inademing van dampe veroorsaak bewusteloosheid, daarom is dit voorheen as narkosemiddel gebruik.

CHO-groep (CHO group) <sien aldehiedgroep>

choana (choana) Inwendige neusopening; opening na die oraalfarinks.

cholangitis (cholangitis) Ontsteking van die galbuise.

cholangitiese abses (cholangitic abscess) ’n Lewerabses as gevolg van cholangitis.

cholemie (cholaemia) <sien ook ikterus> Verhoogde galkonsentrasie in die bloed.

cholera (cholera) ’n Besmetlike maagsiekte - met hewige braking en maagwerking - wat deur 'n bakterium veroorsaak word.

cholesistokinien (cholecystokinin) <sien pankreosimien>

cholesterase (cholesterase) Ensieme wat cholesterol opbreek.

cholesterol (cholesterol) - 'n Vetagtige verbinding wat in die weefsels en vloeistowwe van diere aangetref word en waaruit sekere hormone, vitamien D en galsure gevorm word.

cholesterolose (cholesterolosis) (aarbeitong) ’n Neerslag van groot hoeveelhede cholesterolesters in die galblaasmukosa.

cholienesterase (cholinesterase ) 'n Ensiem wat die afbreek van asetielcholien kataliseer.

cholinergies (cholinergic) <sien ook adrenergies> - Beskryf 'n senuweevesel waar asetielcholien as oordragstof by die senuwee-eindpunt vrygestel word.

cholsuur (cholic acid) <sien galsuur>

cholurie (choluria) Aanwesigheid van gal in die urine.

chondraal (chondral) M.b.t. kraakbeen.

chondrien (chondrin) (kraakbeenstof) Gelatienagtige proteïen in die kraakbeenmatriks.

chondriosoom (chondriosome) <sien mitochondrion>

chondroblast (chondroblast) ’n Sel wat kraakbeen vorm.

chondrodisplasie (chondrodysplasia) Kongenitale wanvorming van die endochondrale been.

chondrogenese (chondrogenesis) Die vorming van kraakbeen.

chondroklast (chondroclast) Reusesel wat by die absorpsie van kraakbeen betrokke is.

chondrosiet (chondrocyte)(kraakbeensel) Enigeen van die polimorfiese (veelvormige) selle wat die kraakbeen in die liggaam vorm.

chorda (chorda,cord, sinew,string) (koord, sening, string) Enige struktuur wat soos ’n tou lyk.

chorda dorsalis (chorda dorsalis, notochord) (notokoord, vrugrugmurg) Embrioniese weefsel waaruit die werwelkolom ontwikkel.

chordaal (chordal) M.b.t. die chorda dorsalis.

chordae tendineae (chordae) (hartklepstringe) Onrekbare seningdraadjies wat die punte van die atrioventrikulêre kleppe aan die papillêre spier verbind om te verhoed dat dit toeklap.

Chordata (Chordata) ’n Groep diere wat gedurende een of ander stadium in hulle lewensiklus ’n notokoord besit.

choriomeningitis (choriomeningitis) (abakteriële meningitis) Serebrale meningitis waar die meninges en choroïedpleksusse infiltrasie met limfosiete toon.

chorion (chorion) <sien ook fetale membraan> Buitenste embrioniese membraan wat by die vorming van die plasenta ’n rol speel.

chorionies (chorionic) M.b.t. die chorion.

chorioniese gonadotropien (chorionic gonadotropin) ’n Hormoon wat deur die chorion en later die plasentagesekreteer word en die vrystelling van estrogeen en progesteroon tydens swangerskap stimuleer.

chorioniese villus (chorionic villus) <sien chorionvillus>

chorionvillus (chorionic villus) (chorioniese villus) Vingeragtige uitgroeisel van die buitenste oppervlak van die chorion wat betrokke is by die uitruiling van stowwe met moedersbloed.

choroïed (choroid ) (oogvaatvlies, vaatvlies) Die vaskulêre, gepigmenteerde middelste laag van die oogwand - tussen die retina en sklera.

choroïedpleksus (choroid plexus) ’n Massa gespesialiseerde bloedkapillêre wat uitsteeksels in die ventrikels van die brein vorm en serebrospinalevloeistof sekreteer.

chromaffien (chromaffin) Wat maklik met chroomsoute kleur.

chromatied (chromatid) Een van die twee eenderse helftes waarin ’n chromosoom tydens seldeling splits.

chromatien (chromatin) (chromatine) ’n Netwerk nukleoproteïene in die kern van selle wat tydens seldeling oorsprong gee aan chromosome.

chromaties (chromatic) M.b.t. chromatien.

chromaties (chromatic) M.b.t. kleur.

chromatine (chromatin) (chromatien) ’n Netwerk nukleoproteïene in die kern van selle wat tydens seldeling oorsprong gee aan chromosome.

chromatofiel (chromatophil,chromophil) (chromofiel) Maklik kleurbaar.

chromatofobie (chromatophobia) Afsku vir bepaalde kleure.

chromatogeen (chromatogenous) Wat kleur voortbring.

chromatografie (chromatography) Proses wat gebruik word om chemiese stowwe - vloeistowwe, vastestowwe of gasse - van mekaar te skei.

chromatogram (chromatogram) Rekord wat verkry is nadat chromatografie uitgevoer is.

chromatose (chromatosis) Abnormale velpigmentasie.

chromaturie (chromaturia) Uitskeiding van abnormaal gekleurde urien.

chromofiel (chromophil) <sien chromatofiel>

chromofoob (chromophobe) M.b.t. selle wat moeilik of glad nie gekleur kan word nie.

chromofoor (chromophore) (kleurstofdraer) Groep atome wat die kleur van 'n kleurstof bepaal.

chromomeer (chromomere) Enigeen van die chromatienkorreltjies wat in 'n ry op 'n chromosoom voorkom.

chromoproteïen (chromoprotein) Gekonjugeerde proteïen, bv hemoglobien, waarvan die prostetiese groep gekleurd is.

chromosoom (chromosome) <sien ook geen> Staafvormige struktuur wat gedurende seldeling in die kern sigbaar word en uit chromatien gevorm word - selle van 'n bepaalde spesie het 'n kenmerkende getal chromosome, nl 46, of 23 paar by die mens, wat die gene of erflike eienskappe van 'n sel dra.

chronies (chronic) <cf akuut> T.o.v. ’n siekte of ongesteldheid wat stadig ontwikkel en oor ’n lang tydperk strek.

chroniese gewrigsontsteking (chronic joint inflammation) Pyn in die gewrigte wat langsaam verskyn maar uiteindelik kan lei tot gewrigsvervorming.

chroniese inflammatoriese dermsiekte (chronic inflammatory bowel disease) Chroniese inflammatoriese dermsiekte is gewoonlik die probleem indien geen ander oorsaak gevind kan word by iemand met diarree nie.

chronograaf (chronograph) Instrument wat kort tydintervalle registreer, bv ’n stophorlosie.

chronologies (chronologic, chronological) Volgens tydsvolgorde.

chroom (chromium, Cr) (Cr) Harde, grys metaalelement.

chyl (chyle) (kyl) Limf wat geëBmulsifiseerde vetdruppeltjies bevat en in die lakteaalvate aangetref word nadat vetvertering en absorpsie plaasgevind het.

chym (chyme) (kym, spysbry) Gedeeltelik verteerde, vloeibare kosmassa wat die maag verlaat.

cilia (cilia) <ekv cilium>

cilium (cilium) <mv cilia>

cisterna (cisterna, cistern ) (sisterne) Holte of reservoir wat vloeistof bevat.

cisterna cerebellomedullaris (cisterna cerebellomedullaris) <sien cisterna magna>

cisterna chiasmatica (cisterna chiasmatica) Subaragnoïedruimte tussen die optiese chiasma en die rostrum van die corpus callosum.

cisterna chyli (cisterna chyli) (kylholte) Verwyding aan die onderpunt van die torakale buis waar in die groot limfvate van die onderste ledemate dreineer.

cisterna interpeduncularis (cisterna interpeduncularis) Verwyde gedeelte van die subaragnoïedruimte tussen die twee serebrale pedunkels.

cisterna magna (cisterna magna, cisterna cerebellomedullaris) (cisterna cerebellomedullaris, groot sisterne) Subaragnoïedruimte agter die medulla oblongata en onder die serebellum.

cisterna pontis (cisterna pontis) Subaragnoïedruimte voor die pons.

Cl (Cl) <sien chloor> Chemiese simbool.

claustrum (claustrum) Dun lagie grysstof wat tussen die witstof van die insula en die eksterne kapsel van die brein voorkom.

cm (cm) <sien sentimeter>

cm3 (cm3) <sien kubieke sentimeter>

Co (Co) <sien kobalt> Chemiese simbool

CO ( CO) <sien koolstofmonoksied> Chemiese formule

CO2 (CO2 ) <sien koolstofdioksied> Chemiese formule

cochlea (cochlea, acoustic labyrinth) <sien koglea>

coitus (coitus, sexual intercourse, intercourse, cohabitation, copulation) <sien koïtus>

coitus interruptus (coitus interruptus) Onderbroke geslagsgemeenskap.

Colles-fraktuur (Colles's fracture) Fraktuur van die onderkant van die radius met dorsaalwaartse verplasing.

communicans (communicans) Kommunikerend of verbindend.

communis (communis)Gemeenskaplik of gesamentlik.

compos mentis (compos ment is) <cf non compos mentis> ’n Toestand waarin 'n persoon by sy volle verstand is.

Condy-kristalle (Condy's crystals, potassium permanganate, KMnO4) (kaliumpermanganaat, KMnO4) Donkerpers kristalle wat algemeen as anti-infektiewe middel gebruik word.

Conn-sindroom (Conn's syndrome) Hiperaldosteronisme; ’n siekte a.g.v. buitensporige aldosteroonsekresie.

cor (cor) <sien ook hart> Dit verwys na die hart.

cor pulmonale (corpulmonale, pulmonary heart disease) (pulmonêre hartsiekte) Hartsiekte wat die gevolg is van 'n siekte van die longe oflongbloedvate.

corona radiata (corona radiata) Laag follikelselle rondom die ryp ovum.

corpora (corpora) <ekv corpus>

corpus (corpus, body) <mv corpora/sien ook soma 2de inskrywing; torso> (liggaam) Die hele struktuur van 'n individu bestaande uit die kop, nek, romp en ledemate met al die organe.

corpus (corpus, body) <mv corpora> (liggaam) Grootste of belangrikste deel van 'n orgaan of struktuur, bv werwelliggaam.

corpus (corpus, body) <mv corpora> (liggaam) Enige massa gespesialiseerde weefsel.

corpus albicans (corpus albicans) (eierlitteken, witliggaam) Litteken wat oorbly na degenerasie van die corpus luteum.

corpus callosum (corpus callosum) (breinbalk, harsingbalk) Massa senuvesels wat die twee serebrale hemisfere met mekaar verbind.

corpus cavernosum (corpus cavernosum) Sponsagtige liggaam in die wortel van of die klitoris of die penis.

corpus ciliare (corpus ciliare, ciliary body) (siliaarliggaam, siliêre liggaam,straalliggaam) Verdiktedeel van die vaskulêre laag van die oog wat die iris met die voorste deel van die choroïed verbind en wat die siliaarspier bevat.

corpus luteum (corpusluteum, luteal body) (geelliggaam, luteaalliggaam) ’n Endokriene klier wat ’n ovulasie in die ovarium vorm en die vroulike geslagshormone sekreteer; geel liggaampie wat in die ovarium ontwikkel nadat die ovum vrygestel is.

corpus spongiosum (corpus spongiosum) Sponsagtige liggaam waarin die penisgedeelte van die uretra lê.

corpus sterni (corpus sterni, gladiolus) <sien ook manubrium; xifoïed> (gladiolus) Middelste deel van die sternum.

corpus striatum (corpus striatum) (streepliggaam) Een van die komponente van die basale ganglia, ’n subkortikale massa van grys- en witstof wat voor en lateraal tot die talamus in elke serebrale hemisfeer voorkom.

corpus trapezoideum (corpus trapezoideum) Dwarslopende veselbondel in die pons wat deel van die gehoorvesels uitmaak.

Corti-orgaan (Corti's organ) (orgaan van Corti) Struktuur in die koglea wat klankgolwe omsit in senuwee-impulse.

coulomb (coulomb, C) (C) Die SI-eenheid van elektriese lading, gedefinieer as die hoeveelheid lading wat deur 'n elektriese stroom van een ampère in een sekonde gedra word.

Cowper-klier (Cowper's gland, bulbo-urethral gland) (bulbo-uretrale klier) Enigeen van twee ertjievormige kliere wat in die uretrale sfinkter van die man voorkom.

coxa (coxa,hip) <sien ook heupgewrig> (heup, koksa) Gebied aan weerskante van die bekken.

Cr (Cr) <sien chroom> Chemiese simbool.

crista (crista) (krista) Struktuur wat uitsteek, veral vanaf ’n beenrif; ’n projeksie.)

crista (crista)(krista) Dwars invouende membrane van ’n mitochondrion.

crista acustica (crista acustica) <sien crista ampullaris>

crista ampullaris (crista ampullaris, crista acustica) (crista acustica) Reseptororgaantjie in die ampulla van die halfsirkelvormige kanale van die oor.

Crohn-siekte (Crohn's disease) <sien ook ulseratiewe kolitis> - ’n Ontsteking van die spysverteringsisteem.

crura (crura) <ekv. crus>

crus (crus) <mv. crura / sien ook been> - Die been vanaf die knie tot die voet.

crus (crus) <mv. crura> - Algemene term om anatomiese strukture met die vorm van ’n been aan te toon.

crusta (crusta, crust) (kors) ’n Harde, gedroogde eksudaat.

Cs ( Cs ) <sien sesium> Chemiese simbool.

Cu (Cu) <sien koper> Chemiese simbool.

cuneus (cuneus) ’n Wigvormige lob van die oksipitale lob van die serebrum wat aan die mediale oppervlak van die agterkant van die serebrale hemisfeer voorkom.

CuSO4 (CuSO4) <sien kopersulfaat> Chemiese formule.

Cushing-siekte (Cushing’s disease) <sien ook hiperadrenalisme> Siekte wat veroorsaak word deur oormatige afskeiding van ACTH of adrenokortikotrofiese hormone.

Cushing-sindroom (Cushing’s syndrome) Toestand wat veroorsaak word deur oortollige glukokortikoïedsekresie, veral kortisol.

cutis (cutis) <sien integument>

No comments :

Post a Comment