Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Mediese woordeboek en gids: G

Afrikaans - English Medical Dictionary / Afrikaanse mediese woordelys en gids vir die gesondheidswetenskappe - Slaan 'n siekte / aandoening / kwaal / gesondheidskwessie na en klik op die skakel vir meer inligting.

(Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief ’n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD)

g (g) <lees gram>

g (g) <lees gravitasie>

Ga (Ga) <lees gallium> Chemiese simbool vir gallium.

gaas (gauze) Dun, deurskynende maasstof wat vir chirurgiese doeleindes gebruik word.

gaatweefsel (areolar connective tissue) <lees areolêre bindweefsel>

gal (gall, bile, fel) ’n Geelgroen, alkaliese vloeistof met 'n bitter smaak wat deur die lewer in die duodenum afgeskei word – vloeistof wat deur die lewer geproduseer en in die galblaas gestoor word.

galagtig <lees bilieus>

galaktase (galactase) Proteolitiese ensiem van melk.

galaktose (galactose) Eenvoudige heksose wat in melk aangetref word; hidroliseproduk van laktose.

galblaas (gallbladder) ’n Peervormige sakkie aan die onderkant van die lewer waar gal gekonsentreer en gestoor word.

galbossie ’n Bossie wat as medisyne teen gallamsiekte gebruik word.

galbuis (bile duct) ’n Buis wat gal vanaf die lewer afvoer.

galbult ’n Erg jeukende, rooierige bult op die vel.

galkoliek (biliary colic) <sien galsteenkoliek>

gallium (gallium, Ga) (Ga) Seldsame, wit, harde metaal wat in ystererts voorkom.

galpigmente (bile pigments) <lees ook bilirubien; biliverdien> Hemoglobien-afbraakprodukte wat deur die lewer in die gal uitgeskei word.

galpil ’n Pil wat die galblaas help ledig en spysvertering bevorder.

galsoute (bile salts) Spesiale organiese sure wat deur die lewer vervaardig word, met natrium verbind om galsoute te vorm en in die gal uitgeskei word - dit emulsifiseer vette in die duodenum tydens spysvertering.

galsteen (gallstone) ’n Steen wat in die galweë of galblaas gevorm word.

galsteenkoliek (biliary colic) (galkoliek) ’n Hewige pyn, veroorsaak deur verstopte galbuise.

galsug ’n Toestand waar ’n besonder hoë konsentrasie van galsoute en –pigmente in die bloedstroom aanwesig is.

galsuur (bile acid, cholic acid) (cholsuur) Die organiese sure in gal - kom meestal voor as galsoute.

galvanochirurgie Chirurgie waarby galvaniese stroom gebruik word.

galvanometer (galvanometer) ’n Instrument wat gebruik word om die teenwoordigheid en sterkte van ’n elektriese stroom aan te dui.

galvanoterapie Geneeskundige aanwending van galvaniese stroom.

galvet (cholesterol) <lees cholesterol>

gameet (gamete) <lees ook kiemsel; sigoot> (geslagsel) Eenslagtige, haploïede voortplantingsel - by hoër diere en die mens is dit die sperm by manlikes of ovum by vroulikes.

gameties (gametic) M.b.t. ’n gameet.

gametogenese (gametogenesis) <kyk ook oögenese; spermatogenese> Vorming en ontwikkeling van gamete; rypwordingsproses van geslagselle.

gametosiet (gametocyte) Moedersel van ’n gameet wat meiose ondergaan om ’n gameet te vorm.

gamma (gamma) Die derde item in ’n reeks.

gamma (gamma) Derde letter van die Griekse alfabet.

gammaglobulien (gamma globulin) <kyk ook immunoglobulien> 'n Plasmaproteïn wat die meeste van die antiliggame waarmee mens gebore word, dra.

gammastraal (gamma rays) <lees ook alfastrale; betastrale> Elektromagnetiese strale met ’n kort golflengte wat deur sekere radioaktiewe stowwe uitgestraal word.

gamofobie ’n Sieklike vrees vir die huwelik.

ganglia (ganglia) <ekv ganglion>

gangliaal (gangliar, ganglionic, ganglial) (gangliêr, ganglionies) M.b.t. ’n ganglion.

ganglion <mv ganglia> ’n Versameling senuweeselle wat as sentrum vir die herleiding van senuweeimpulse dien.

ganglion ’n Harde geswel wat van ’n gewrigskapsel/seningskede uitgaan.

ganglionies (ganglionic) <lees gangliaal>

ganglionsel (gangliocyte) <lees gangliosiet>

gangliosiet (gangliocyte) <lees ook senuweesel> (ganglionsel) Verwys na enige sel van ’n ganglion.

gangmaker (pacemaker) <lees pasaangeër 2de inskrywing>

gangreen (gangrene) (kouevuur) ’n Potensieel gevaarlike toestand wat ontstaan wanneer weefsel afsterf.

gangreneus (gangrenous) M.b.t. gangreen.

gas (gas) <sien ook vastestof; vloeistof> Toestand van materie waar die deeltjies vrylik rondbeweeg in die hele ruimte wat dit beslaan, bv. lug.

gasagtig (gaseous) Soos gas.

gasheer (host) Organisme waarop of waarin ’n ander organisme ’n deel van sy bestaan bly.

gastri- (gastri-) Maag.

gastrien (gastrin) ’n Hormoon wat deur die pilorusslymvlies van die maag afgeskei word en die sekresie van maagsap, intrinsieke faktor, pankreasensieme en insulien stimuleer.

gastries (gastric) Met betrekking tot die maag.

gastriese klier (gastric gland) Een van verskeie buisvormige kliere in die maagwand wat maagsap afskei.

gastriese sap (gatstric juice) <lees succus gastricus>

gastritis (gastritis) Gastritis is die ontsteking van die maag, veral die maagslymvlies.

gastro- (gastro-) Maag.

gastro-enteries (gastroenteric) M.b.t die maag en die dermkanaal.

gastro-enteriese refleks (gastroenteric reflex) ’n Senuwee-impuls vanaf die duodenum wat peristalse van die maag vertraag wanneer die chym wat daar aankom ’n groot hoeveelheid vette bevat, of oormatig suur is.

gastro-esofageaal (gastroesophageal) M.b.t die maag en die esofagus.

gastro-esofageale sfinkter (gastroesophageal sphinkter) Klep tussen die esofagus en die maag.

gastro-intestinaal (gastrointestinal) M.b.t die maag en die dermkanaal.

gastroduodenaal (gastroduodenal) M.b.t die maag en duodenum.

gastroënteritis (gastroenteritis) (maagdermontsteking) Ontsteking van die maag- en dermwande.

gastroknemius (gastrocnemius) Een van die kuitspiere.

gastrologie (gastrology) Wetenskap van die bou, funksies en siektes van die maag.

gastroloog (gastrologist) (maagdokter, maagspesialis) Deskundige op die gebied van gastrologie.

gastroseel (gastrocele) Hernia van die maag.

gastroskoop (gastroscope) (maagspieël) ’n Lang, dun, buigbare optiese instrument waarmee die slukderm en maag ondersoek word.

gastroskopie (gastroscopy) Die ondersoek van die maag met ’n gastroskoop.

gastrospleniese omentum (gastrosplenic omentum) Vou in die peritoneum wat die maag en milt met mekaar verbind.

gastrula (gastrula) Vroeë embrioniese ontwikkelingstadium waarin die embrio uit twee selle bestaan; stadium van die embrio net in die blastula-stadium.

gastrulasie (gastrulation) (gastrulering) Die proses waardeur die gastrula van die embrio gevorm word.

gastrulering (gastrulation) <lees gastrulasie>

gaswisseling (gaseous exchange) <lees ook respirasie 2de inskrywing> Die uitruiling van gasse tussen die organisme en sy omgewing, of tussen twee gebiede met verskillende gaskonsentrasies, bv tussen die bloed en weefsel.

gat (hole) <lees foramen>

geassosieerd (associated) M.b.t assosiasie.

gebalanseerd (balanced) <cf ongebalanseerd 1ste inskrywing> M.b.t toestand van balans.

gebalanseerd (balanced) <kyk ook ekwilibrium 2de inskrywing/cf ongebalanseerd 2de inskrywing> In chemie, wanneer die aantal elektrone wat die reduseermiddel verloor presies gelyk is aan die aantal elektrone wat die oksideermiddel bykry.

gebalanseerde dieet (balanced diet) ’n Dieet wat beide in kwaliteit en kwantiteit voldoende is - dit behoort voldoende energie en die regte verhouding van elke voedingstof te verskaf.

gebied (region <lees area>

gebit (denture, teeth) ’n Mens se tande. Dit word ook gebruik vir ’n stel valstande.

geboorte (birth, confinement) Die proses van in die lewe kom.

geboorte- (natal) <lees nataal>

geboortebeperking (birth control) Die willekeurige beperking van die aantal geboortes deur die voorkoming van swangerskap.

geboortemerk (birth mark) (moedervlek) Merk of vlek op die vel waarmee iemand gebore word.

geboortesyfer (natality) <sien nataliteit>

gebreksiekte (deficiency disease) (tekortsiekte) ’n Siekte wat ontstaan weens die afwesigheid van, of tekort aan een of ander essensiële voedingstof.

gedaantewisseling (metamorphosis) <lees metamorfose>

gedeeltelike hartblok (partial heart block) <lees ook volledige hartblok> Vertraagde geleiding vind plaas in die AV-knoop sodat bv slegs elke tweede of derde atriale sametrekking gevolg word deur ventrikulêre sametrekking.

gedeoksigeneerd(e) (deoxygenated, oxygen-deficient) <lees ook deoksigeneer/cf geoksigeneerd> (suurstofarm) Verwys na ’n verbinding wat ’n tekort aan suurstof ondervind.

gedermte ’n Versameling derms.

gedifferensieerd (differentiated) <cf ongedifferensieerd> Gekenmerk deur differensiasie; uiteenlopend of verskillend.

gedistilleerde water (distilled water) <lees ook distillering> Suiwer water wat verkry word deur die distillering van waterige oplossings van nievlugtige opgeloste stowwe.

gedrag (behaviour) Die manier waarop iemand hom gedra, of die manier waarop iets sy werk verrig.

geel elastiese bindweefsel (yellow elastic connective tissue) <lees elastiese bindweefsel>

geelbeenmurg (yellow bone marrow, yellow marrow) <lees ook rooibeenmurg> Sagte weefsel wat ryklik voorsien is van vetselle en bloedliggaampies en in die skag van langbene voorkom.

geelblommetjiestee Tee gemaak van die plant Leyssera anaphalioides as medikasie vir borskwale.

geelkoors (yellow fever) ’n Aansteeklike, gewoonlik dodelike siekte, veroorsaak deur ’n virus wat deur muskiete gedra word.

geellaag (buffy coat) Verwys na die dun, witterige laag wat by die eritrosiet-plasma-skeidingsvlak voorkom wanneer bloed uitgeswaai word.

geelliggaam (corpus luteum) <lees corpus luteum>

geelsug (jaundice) <sien ikterus>

geelvlek (yellow spot) <lees macula lutea>

geen (gene) <lees ook chromosoom> Eenheid van oorerwing <deel van ’n DNA-molekule>; liniêre struktuur wat oor ’n streek van ’n chromosoom strek en erflikheidskenmerke besit wat by elke seldeling voortgeplant word.

geenlokus (gene locus) Rangskikking, posisie of plek van die geen op ’n chromosoom.

geenmutasie (gene mutation) <lees ook mutasie> Verandering van ’n geen a.g.v. ’n verandering van ’n enkele basispaar in die DNA-molekule.

geënsisteerd (encysted) Omsluit deur ’n sist of kapsel.

geestesiek (mentally ill) Met ’n versteurde verstand.

geestesiekte (mentally ill) Met ’n versteurde verstand.

geesteskrank (mentally ill) Met ’n versteurde verstand.

geestestoornis (mentally ill) Met ’n versteurde verstand.

geestestoring (mentally ill) Met ’n versteurde verstand.

gefasiliteerde diffusie (facilitated diffusion) Diffusie waar ’n draermolekule ’n stof oor die membraan vervoer in die rigting van die konsentrasiegradiënt.

gefenestreerd (fenestrated) Wat openings of vensters het.

gegradueer(d) (graduated) In grade of gelyke dele verdeel.

gegroef (sulcate) Met een of meer groewe of gleuwe.

geheue (memory) Die vermoë om ervaringe te stoor of te herroep.

geheuesel (memory cell) B- of T-limfosiet wat in reaksie op die prim=êre immuunrespons gevorm word en dormant bly, maar vinnig kan reageer as dieselfde antigeen in die toekoms teëgekom word.

gehidreer/de (hydrated) <lees ook hidreer> Beskryf ’n sout wat water in die kristalle bevat.

gehoor (hearing) Die vermoë om te hoor.

gehoor- (auditory) <lees ouditief>

gehoorafstand (hearing distance) Die afstand waarbinne ’n geluid nog gehoor kan word.

gehoorapparaat (hearing aid) ’n Klein apparaatjie wat naby die oorgedra word om klank te versterk.

gehoorarea (auditory area) Area in die temporale lob van die serebrum, net onder die Sylvius-spleet, wat klankimpulse interpreteer.

gehoorbeentjie (ossicle) (ossikel) Enigeen van drie beentjies tussen die trommelvlies en die binne-oor wat onder meer dien as geleidingstelsel vir klank.

gehoorbuis (gehoorgang, gehoorkanaal) Die kanaal tussen die uitwendige oor en die trommelvlies.

gehoorgang <lees gehoorbuis>

gehoorgestrem (hearing impaired) Wat nie goed kan hoor nie.

gehoorgestremde Iemand wat nie goed kan hoor nie.

gehoorkanaal <sien gehoorbuis>

gehoormeter (audiometer) (oudiometer) ’n Toestel om die skerpte van die gehoor te meet.

gehoororgaan Die orgaan waarmee gehoor word.

gehoorpyp (stethoscope) <lees stetoskoop>.

gehoorsenuwee (auditory nerve) <lees nervus acusticus>.

gehoorskerpte (auditory acuity) Die vermoë om klanke op verskillende afstande van die oor waar te neem.

gehoorsteentjie Enigeen van die kalkagtige korrels in die membraanlabirint van die inwendige oor, wat belangrik is vir ewewigsgewaarwording.

gehoorstreek (gehoorsentrum) Die deel van die breinskors wat by gehoor betrokke is.

gehoortoestel (hearing aid) (hoortoestel) ’n Toestel wat deur ’n gehoorgestremde gebruik word om beter te hoor.

gehoortoets (hearing test) ’n Toets om gehoorskerpte vas te stel.

gehoorvlies (eardrum) <lees trommelvlies>

Geiger-Müeller-teller (Geiger-Müeller counter) <lees Geiger-teller>.

Geiger-teller (Geiger counter, Geiger-Müeller counter) (Geiger-Müeller-teller) Instrument wat gebruik word vir die opsporing van radioaktiewe deeltjies.

gekapselde abses (encysted abscess) ’n Abses waarvan die inhoud afgebaken is deur ’n verdikking van omliggende bindweefsel.

gekompliseerde fraktuur (complicated fracture) <lees ook geslote fraktuur; oop fraktuur/cf eenvoudige fraktuur> Fraktuur met besering van belangrike naasliggende organe en weefsel.

gekondisioneerd (conditioned) Aangeleer.

gekondisioneerde refleks (conditioned reflex) <lees aangeleerde refleks>

gekonjugeerde proteïen (conjugated protein) <lees konjugaatproteïen>

gekonsentreerd (concentrated) <lees ook konsentrasie 2de inskrywing> Beskryf ’n oplossing met ’n groot hoeveelheid opgeloste stof.

gel (gel) <lees jel>

gelaag (laminated) <lees gelamineerd>

gelaatsenuwee (facial nerve) Enigeen van die senuwees wat die gelaatspiere laat beweeg.

gelaatspier (facial muscle) Enigeen van die spiere in die gesig.

gelamineerd (laminated) (gelaag) Bestaan uit dun lae of laminae.

gelatien (gelatine, gelatin) (beenlym, jelatien) Jellieagtige stof wat verkry word deur gedeeltelike hidrolise van kollageen, afkomstig vanaf die vel, wit veselagtige bindweefsel en bene van diere.

gelatienagtig (gelatinous) (jellieagtig) Met die eienskappe van gelatien.

geleedpotiges (arthropods) (artropode, litpotiges) Lid van die filum Arthropoda.

geleiding (conduction) <lees ook straling; stroming> Die oordrag van energie van een plek na ’n ander; die oordrag van klank-, hitte-, lig-, elektriese of senuweeprikkels.

geleidingsafasie (conduction aphasia) Afasiesentraal.

geleidingsvermoë (conductivity, conductance) Die vermoë om energie in een of ander vorm verder te voer.

geleier (conductor) <cf niegeleier> Stof wat energie gelei.

gelob (lobulated, lobate) Wat in lobbe of lobbetjies verdeel is.

gelokaliseer(d) (localised) Beperk tot ’n bepaalde gebied of area.

geluid (sound) (klank)Waarneming van lugtrillinge deur die gehoorsenuwee.

gelykslagtig Van dieselfde geslag.

gelyksoortigheid (homogeneity) <lees homogeniteit>

gelykstroom (direct current, DC) <lees ook wisselstroom> (GS) ’n Elektriese stroom wat slegs in een rigting vloei al wissel sy sterkte.

gelykwaardig (equivalent) <lees ekwivalent> gemaniëreerdheid (mannerism) ’n Bepaalde handelswyse wat gereeld eienaardig voorkom.

gemedulleer(d) (medullated) <lees gemiëlineer(d)>

gemeenslagtig Wat manlik en/of vroulik is.

gemengde senuwee (mixed nerve) Senuwee wat uit sowel afferente (sensoriese) as efferente (motoriese) vesels bestaan.

gemiddeld (mean) Die waarde wat die meeste voorkom.

gemiddeld (mean) Wat in die middel, tussen twee uiterstes lê.

gemiëlineer(d) (myelinated, medullated) <cf ongemiëlineer(d)> (gemedulleer(d), gemiëliniseer(d)) T.o.v. ’n senuwee wat ’n miëlienskede (murgskede) besit.

gemiëliniseer(d) (myelinated) <lees gemiëlineer(d)>

gemoedstoestand (state of mind) <lees emosie>

genadedood (euthanasia) (eutanasie) Pynlose dood wat kunsmatig bewerkstellig is uit meegevoel vir ’n lyer aan ’n ongeneeslike siekte.

genees (heal) Gesond word, of verwys na die handeling van gesond maak.

geneesbaar (curable) Wat genees kan word.

geneesheer (physician, doctor) (dokter) Opgeleide persoon bevoeg om geneeskundige behandeling toe te pas.

geneesheer-generaal (Surgeon General) Hoof van die geneeskundige dienste van die weermag.

geneeskrag (healing) Die vermoë om te genees.

geneeskragtig (healing) Wat geneeskrag besit.

geneeskruid (healing herb) ’n Geneeskragtige plant.

geneeskunde (medicine) Wetenskap wat te doen het met die studie en behandeling van siektes.

geneeskundig (medical) Eie aan die geenskunde.

geneeskundige (doctor) Gennesheer; dokter.

geneeskuns (healing arts) Bedrewenheid in die genesing van siekes.

geneeslik Wat gesond gemaak kan word.

geneesmiddel (medicine) <lees medikament>

geneeswyse (healing practices) Metode van behandeling om ’n kwaal te genees.

genera (genera) <ekv genus>

generasie (generation) (geslag) Al die mense wat ongeveer dieselfde tyd gebore is.

generatief (generative) Wat die vermoë het tot of in verband staan met voortplanting.

generies (generic) Algemene naam van ’n geneesmiddel, teenoor handelsnaam.

generies (generic) Eie aan ’n geslag of soort.

generies (generic) Wat tot dieselfde genus behoort.

genesing (healing, cure) Enige herstelproses, gesondmaking of gesondwording.

geneties (genetic) M.b.t. gene, genetika of die oorsprong van iets.

genetiese kode (genetic code) Die volgorde van basisse in DNA wat sintese van verskillende proteïene, en dus verskillende strukture in die liggaam, bepaal.

genetika (genetics) (erflikheidsleer) Wetenskaplike studie van die oordrag van gene.

genetikus (geneticist) ’n Deskundige op die gebied van die genetika.

geniaal (genial) M.b.t. die ken.

geniaal (gifted) Buitengewoon begaaf, vindingryk of vernuftig.

genialiteit (genius) Buitengewoon begaaf, vindingryk of vernuftig.

genioglossaal (genioglossal) M.b.t. die ken en die tong.

genitaal (genital) Wat betrekking het op die manlike of vroulike geslagsorgane.

genitalia (genitalia, genitals) (genitalieë, geslagsorgane) Organe van die voortplantingstelsel wat verantwoordelik is vir die produksie van sperma by die manlike, of ova by die vroulike individu.

genitalieë (genitals) <lees genitalia>

genitofemoraal (genitofemoral) M.b.t. die geslagsorgane en die dy.

genotipe (genotype) <lees ook fenotipe> Die samestelling van erflike eienskappe van ’n organisme soos bepaal deur die gene wat dit besit.

genotipe (genotype, biotype) (biotipe) Groep individue wat dieselfde genetiese samestelling het.

genus (genus) <mv genera/lees ook takson> Groep lewende organismes met gemeenskaplike morfologiese of filogenetiese kenmerke; sluit gewoonlik verskillende soorte of spesies in.

geofaag (geophagist) Iemand wat grond eet.

geoksigeneer(d) (oxygenated) <lees ook oksigeneer/cf gedeoksigeneer(d)> (suurstofryk) Verwys na ’n verbinding wat met suurstof versadig is.

gepigmenteer(d) (pigmented) <lees ook pigment> Gekleur deur ’n pigmentneerslag.

geplooi(d) (rugose, plicate) <lees ook ruga> (gevou) Met plooie of voue.

geraamte (skeleton) <lees skelet>

geraamtestelsel (skeleton) <sien skelet>

gereduseer (reduced) <lees ook reduksie; reduseer> Verwys na ’n verbinding of orgaan wat reduksie ondergaan het.

gereduseerde hemoglobien (reduced haemoglobin) Hemoglobien wat nie suurstof dra nie.

geriatrie (geriatrics) ’n Vertakking van die geneeskunde wat fokus op die mediese probleme van ou mense.

geriatris ’n Deskundige in die geriatrie.

geronties (gerontic) M.b.t. die gevorderde ouderdom.

gerontologie Die wetenskap waarin liggaamlike en geestelike verskynsels wat by bejaardes voorkom bestudeer word.

gerontoloog Deskundige op die gebied van gerontologie.

gerontomorfie Vormverandering as gevolg van ouderdom.

gerontomorfose Vormverandering as gevolg van ouderdom.

geruis (murmur, bruit) Abnormale hartklank.

geruis (murmur, bruit) Sagte, hoorbare, vibrerende klanke.

geset (corpulent) <lees oormassa>

gesig (face) Die voorste gedeelte van die kop tussen die voorkop en die ken.

gesig (vision) <sien visie>

gesiggestrem (visually impaired) Nie goed kan sien nie.

gesiggestremde (visually impaired) ’n Persoon wat nie goed kan sien nie.

gesigsafstand Die afstand van die oë af waarop ’n mens iets die duidelikste kan sien.

gesigseinder (horizon) Die grens van waarneming vir die oog.

gesigsenuwee (optic nerve) <lees nervus opticus>

gesigskerpte (visual acuity) Die vermoë om voorwerpe op verskillende afstande van die oog waar te neem.

gesigskring Die gebied wat mens in sy geheel kan sien.

gesigsmeter <sien optometer>

gesigsorgaan (eye) <sien oogbol>

gesigspurper (visual purple) <lees rodopsien>

gesigsveld (visual field) Die area waarin voorwerpe gesien kan word wanneer die oë reguit vorentoe kyk. gesigsvermoë (eyesight) Die vermoë om voorwerpe waar te neem.

gesilieerd (ciliated) Wat trilhare (silia) besit.

geslag (generation) <sien generasie>

geslag (sex) <sien seks>

geslagloos Sonder geslag.

geslags- (genital, sexual) <sien ook seksueel> M.b.t. die geslagsorgane of reproduksie.

geslagsbeheerde oorerwing (sex-controlled inheritance) <lees ook geslagsgekoppelde oorerwing> Eienskappe kom slegs in een geslag voor en nie in die ander nie.

geslagsbeperk (sex-limited) (seksbeperk) Eienskap kom slegs in een van die geslagte voor.

geslagsbeperkte geen (sex-limited gene) ’n Geen wat slegs in een geslag voorkom.

geslagsbuis (gonoduct) <lees gonodukt>

geslagschromatien (sex chromatin) (sekschromatien) Digte massa aanwesig in die selkern van alle nieverdelende selle van normale vroulike individue.

geslagschromosoom (sex chromosome) <lees ook outosoom; X-chromosoom; Y-chromosoom> Die chromosoom wat verantwoordelik is vir die geslagsbepaling van die nakomeling - XX in die vroulike individu en XY in die manlike individu.

geslagsdaad (sexual act) Die daad van geslagsomgang.

geslagsdeel (genitals) Die liggaamsdeel wat kenmerkend is van die manlike of vroulike geslag.

geslagsdrang (libido) Die begeerte om seks te hê.

geslagsel (gamete) <sien gameet>

geslagsgebonde (sex-linked) <lees geslagsgekoppel>

geslagsgekoppel (sex-linked) (geslagsgebonde, seksgekoppel) Gebruik t.o.v. kenmerke wat op die geslagschromosome gedra word en dus nie deur albei geslagte in gelyke mate oorgeërf word nie.

geslagsgekoppelde oorerwing (sex-linked inheritance) <lees ook geslagsbeheerde oorerwing> Die eienskap word op die geslagschromosoom, spesifiek die X-chromosoom, gedra.

geslagsgemeenskap (intercourse) <sien koïtus>

geslagtelike voortplanting (sexual reproduction) <cf ongeslagtelike voortplanting> Tipe voortplanting waar nuwe individue gevorm word na samesmelting van die manlike en vroulike gameet.

geslagshormoon (sex hormone) Enige hormoon wat deur die geslagsorgane afgeskei word of wat daarop inwerk.

geslagsiekte (venereal disease) (veneriese siekte) Enige een van ’n aantal aansteeklike siektes wat ’n mens opdoen deur seks met ’n besmette persoon of deur aanraking van besmette voorwerpe.

geslagsklier (gonads) Die klier wat geslagselle sowel as geslagshormone afskei - teelbal by mans; eierstok by vrouens).

geslagsomgang (intercourse) <sien koïtus>

geslagsorgane (genitals) <sien genitalia>

geslagsryp Genoegsaam ontwikkel om te kan voortplant.

geslagstipe (genotype) <sien genotipe>

geslagsverandering (sex change) Mediese operasie wat iemand se liggaam vernader na die van die andrer geslag.

geslagsverkeer (sex) <sien geslagsomgang>

geslagtelik (sexual) <sien seksueel>

geslagtelikheid (gender) Hoe jy jouself seksueel definieer.

geslote fraktuur (closed fracture) <lees ook gekompliseerde fraktuur/cf oop fraktuur> Fraktuur waar die vel rondom die beskadigde been nie geperforeer is nie.

gesond (sound, healthy) Ongeskonde.

gesond (sound, healthy) Nie siek nie.

gesonde Iemand wat gesond is.

gesondheid (health) Toestand van liggaamlike en geestelike welsyn.

gesondheidsdiens (health service) ’n Organisasie verantwoordelik vir die instandhouding en bevordering van openbare gesondheid.

gesondheidsertifikaat (health certificate) ’n Sertifikaat uitgereik na afloop van ’n mediese ondersoek. Dit dien as bewys van die gesondheidstoestand van die ondersoekte persoon.

gesondheidsleer (hygiene) <sien higiëne>

gesondheidsoord (health resort) ’n Plek wat bevorderlik is vir genesing en aansterking.

gesondheidsorg (health care) Sorg vir en versorging van die gesondheid.

gesondheidswinkel (health shop) ’n Plek waar allerlei gesondheidsprodukte te koop is.

gespanne (strained) ’n Toestand van senuweeagtigheid.

gespesialiseer(d) (specialised) Wat vir ’n besondere funksie ingerig is of in ’n bepaalde rigting ontwikkel het.

gesplete verhemelte (cleft palate) 'n Verdeling van of opening in die verhemelte. Dit kan slegs 'n verdeling van die bo-lip wees, 'n haaslip, of dit kan strek vanaf die lip tot deur die verhemelte.

gestasie (gestation, pregnancy) (draagtyd, swangerskap) Die tyd wat ’n embrio in die uterus deurbring, m.a.w. vanaf bevrugting tot geboorte - vir die mens ongeveer 280 dae.

gesteeld (peduncular) < lees pedunkulêr, 2de inskrywing>

gestel (constitution) <lees konstitusie>

gestratifiseer(d) (stratified, stratiform) (laagvormig, meerlagig) Wat in lae bo-op mekaar gerangskik is.

gestratifiseerde epiteel (stratified epithelium, complex epithelium) (meerlagige epiteel, saamgestelde epiteel) Bestaan uit meer as een laag selle.

gestreep (striated) Vol strepe; van strepe voorsien.

gestrem (disabled) Met ’n liggaamlike of geestelike gebrek.

gestremde (disabled) ’n Persoon wat gestrem is.

gestu (congested) Toestand van ’n liggaamsdeel of orgaan waarin bloed opgedam het.

geswel (swollen, tumid) ’n Swelsel.

gesuspendeer (suspended) Hangend.

getand (crenated) Met uitsteeksels soos tande, bv. gevind by rooibloedselle in ’n hipertoniese oplossing.

getyvolume (tidal volume) <lees ook reserwevolume; residuele volume> Die hoeveelheid lug wat deur normale persoon in- en uitgeasem word gedurende rustige asemhaling - asemgrootte.

gevoelig (sensitive) <lees sensitief 1ste inskrywing>

gevoelig (sensible) <lees sensitief 2de inskrywing>

gevoelloos (insensible) Sonder gevoel.

gevoelsreseptor (tangoreceptor) <lees tangoreseptor>

gevou (plicate) <lees geplooi(d)>

gevurk (furcate) <lees bifida>

gewaarwording (sensation) <lees sensasie>

gewas (neoplasm) <lees neoplasma>

gewig (weight) <lees ook massa> Die krag waarmee ’n liggaam na die middelpunt van die aarde aangetrek word - word gemeet in Newton.

gewond (wounded) Beseer wees.

gewonde (wounded) Iemand wat gewond is.

gewoontevormend (habit-forming) Wat afhanklikheid tot gevolg het.

gewrig (joint) <sien artikulasie>

gewrigsband (joint band) Bindweefsel wat help om die bene van ’n gewrig aan mekaar te hou.

gewrigsbeen (joint bone) Enigeen van die bene wat saam ’n gewrig vorm.

gewrigsholte (joint cavity) Die ruimte tussen die beenvlakke in ’n gewrig wat die gewrigsvog bevat.

gewrigsholtevlies (synovial membrane) <lees sinovium>

gewrigskapsel (articular capsule) Die ligament wat ’n sinoviaalgewrig soos ’n sakkie omsluit en dit beskerm.

gewrigsknobbel (condyle) <lees kondiel>

gewrigsknobbel (epicondyle) <lees epikondiel>

gewrigsmeer (epicondyle) <lees gewrigsvog>

gewrigskom (joint bowl) (potjie) Die konkawe, hemisferiese holte in een van die bene wat ’n gewrig vorm, waarin die gewrigskop van die ander been pas.

gewrigskop (joint head) Die konvekse of bolvormige knop aan die end van ’n langbeen wat pas in die potjie van die ander been wat met die langbeen ’n gewrig vorm.

gewrigsontsteking (joint inflammation) (gewrigsrumatiek, artritis) Ontsteking van die gewrigte.

gewrigsoppervlak (articular surface) <lees artikulasieoppervlak>

gewrigsverband (joint connection) (gewrigsverbinding) Verbinding deur middel van ’n gewrig of gewrigte.

gewrigsverbinding (joint connection) (gewrigsverband) Verbinding deur middel van ’n gewrig of gewrigte.

gewrigsvergroeiing (joint growth) (ankilose) Samegroeiing van bene waar hulle ’n gewrig vorm.

gewrigsverstywing (joint stiffening) Gedeeltelike of algehele onbeweeglikheid van ’n gewrig wat normaalweg beweeglik is.

gewrigsvloeistof (synovia) <lees sinovia>

gewrigsvog (synovia) < lees sinovia >

GH (GH) <lees somatotrofiese hormoon>

ghwarrietee Tee gemaak van ghwarrieblare. Dit is vroeër in geneeskunde gebruik, veral vir hartkwale.

gietvorm (matrix) <lees matriks>

gif (poison, intoxicant) Enige stof wat deur inname of aanwending tot weefselskade of selfs dood kan lei.

gifdood (death by poison) Dood as gevolg van vergiftiging.

gifkunde (toxicology) (gifleer, toksikologie) Wetenskap van gifsoorte en vergiftiging.

gifkundig (poisonous) (toksikologies) Wat gifkunde betref.

gifkundige (toxicologist) (toksikoloog) Deskundige op die gebied van die gifkunde.

gifleer (toxicology) < lees gifkunde, toksologie >

gifplant (poisonous plant) Enige plant wat giftig is vir die mens.

gifseer (gifsweer, kwaadaardige sweer) ’n Seer wat ’n simptoom is van ’n karbonkel.

gifstof (poison, intoxicant) ’n Stof wat gif bevat of net uit gif bestaan.

gifsweer < lees gifseer >

giftig (poisonous) <lees toksies 2de inskrywing>

gifvry (non-toxic) Wat nie gif bevat nie.

gifwerend (antidotal) Teen gif werkend.

gigantisme (gigantism, giantism) <lees ook akromegalie> (reusegroei) Reusegroei a.g.v. oormatige afskeiding van groeihormoon by kinders.

Gilles de la Tourette-sindroom (Gilles de la Tourette syndrome) (sien ook Tourette-sindroom, Tourette-versteuring en Tourettes) Tourettes is meervoudige motoriese en een of meer vokale spiertrekkings, later gevolg deur onwillekeurige geluide; die onbeheerste gebruik van vuil taal kom ook soms voor.

ginandrie (dubbelslagtigheid, hermafrodities)

ginekologie (gynaecology) Afdeling van die mediese wetenskap wat betrekking het op die voortplantingsorgane van die vrou.

ginekoloog (gynaecologist) ’n Spesialis in die ginekologie.

gingiva (gingiva, gum, ula) (tandvleis, ula) Sagte, bloedvatryke weefsel as bekleding oor die deel van die kakebeen waarin die tande sit.

gingivaal (gingival) M.b.t. die tandvleis.

gingivitus (gingivitus) Ontsteking van die tandvleis.

ginglimus (ginglymus, hinge joint) (skarniergewrig) Gewrig wat beweging slegs in een vlak toelaat.

ginkgo (ginkgo) ’n Boom van die geslag Ginkgo wat gebruik word as medikasie.

gips (gypsum) ’n Poeier van hierdie stof word gebruik vir die maak van afgietsels vir die spalk van arms of bene.

gipsbry <lees gipspap>

gipspap Gipsmeel wat met water tot ’n pap aangemaak is.

gipsverband Verbandgaas en gipspap om ’n gebreekte liggaamsdeel.

girus (gyrus) Een van die menigvuldige voue van die breinoppervlak wat gevorm word deur die invouing van die korteks.

gisting (fermentation) <lees fermentasie>

gladdespier (smooth muscle) <lees ook kardiale spier; onwillekeurige spier; skeletspier> Onwillekeurige spier waaruit alle visserale organe bestaan - is opgebou uit spoelvormige vesels met ’n enkele groot, ovale selkern.

gladiolus (gladiolus) <lees corpus sterni>

glans (glans) ’n Algemene naam vir ’n klein, ronde massa of kliervormige liggaam.

glans klitoris (glans clitoris) Erektiele weefsel aan die punt van die klitorus.

glans penis (glans penis) Die koniese punt of kop van die penis.

glasagtig (vitreous) <lees ook hialien> Deurskynende jellieagtige stof.

glasagtige kraakbeen (hyaline cartilage) <lees hialiene kraakbeen>

glasvog (vitreous humour) <lees vitreuse liggaam>

glaubersout (glauber salt) Natriumsulfaat, gebruik as ’n purgeermiddel.

glenoïed (glenoid) Wat lyk soos ’n holtetjie of potjie, bv. die skouerpotjie.

glia (glia) <lees neuroglia>

gliaal (glial) M.b.t. glia.

glikase (glycase) <lees maltase>

gliasel (glial cell) <lees ook neuroglia> Hoofbestanddeel van neuroglia.

glikogeen (glycogen) (dierestysel, glukogeen) ’n Polisakkaried wat uit glukosemolekules bestaan - vernaamste bergingsvorm van koolhidraat in veral die lewer, spierselle en vetselle.

glikogenese (glycogenesis, glucogenesis) (glukogenese) Sintese van glikogeen uit glukose.

glikogenolise (glycogenolysis, glucogenolysis) (glukogenolise) Afbreek van glikogeen na glukose.

glikolipied (glycolipid) (glukolipied) ’n Vet wat koolhidraatgroepe, gewoonlik galaktose, maar ook glukose en ander, bevat - word in breinweefsel aangetref.

glikolise (glycolysis, glucolysis) (glukolise) Ensimatiese afbreek van glukose na pirodruiwesuur of melksuur.

glisemie (glycaemia, glucaemia) (glukemie) Aanwesigheid van suiker in die bloed.

glikoneogenese (glukoneogenese) (glyconeogenesis, gluconeogenesis) Sintese van glukose uit niekoolhidraatstowwe, veral aminosure, melksuur en pirodruiwesuur.

glikopenie (glycopenia, glucopenia) <lees ook hipoglisemie> (glukopenie) ’n Tekort aan suiker in die weefsel.

glikoproteïen (glycoprotein, glucoprotein) (glukoproteïen) Enigeen van ’n groep gekonjugeerde proteïene bestaande uit ’n proteïen met ’n koolhidraatgroep.

glikosied (glycoside, glucoside) (glukosied) Verbinding wat ’n hidrolise ’n suikermolekule en niesuikermolekule as produk lewer.

glikosurie (glycosuria, glucosuria) (glukosurie) Teenwoordigheid van glukose in die urien.

gliseraat (glycerate) Enige sout van gliseriensuur.

gliseried (glyceride) Ester van gliserol en een of meer organiese sure.

gliserien (glycerin, glycerine) ’n Helder, kleurlose, soet stroop wat as ’n aanklammingsmiddel of oplosmiddel vir geneesmiddels gebruik word.

gliseriensuur (glyceric acid) ’n Suur wat verkry word deur oksidasie van gliserien.

gliserol (glycerol) ’n Alkohol wat die eindproduk van vertering van ’n vetmolekule is.

glisien (glycine) ’n Nie-essensiële aminosuur - chemiese naam is aminoasynsuur.

globien (globin) Die proteïenkomponent van hemoglobien.

globulien (globulin) <lees ook immunoglobulien> Een van ’n groep proteïene wat in bloedplasma voorkom - kan deur elektroforese geskei word in alfa-, beta-, en gammaglobuliene en immunologies getipeer word.

gloeiend (glowing) <lees fosforesserend>.

glomeruli (glomeruli) <ekv glomerulus>

glomerulus (glomerulus) <mv glomeruli> (kluweltjie) Kronkelende massa bloedkapillêre wat deur die Bowman-kapsel omring word; ’n klein, ronde massa selle of bloedvate.

glomeruluskapsel (glomerulus capsule) <lees Bowman-kapsel>

glomulêr (glomerular) M.b.t. ’n glomerulus.

glomulêre filtrasiespoed (glomerular filtration rate) Tempo waarteen glomerulêre filtraat deur die niere gevorm word.

glomulêre kapsel (glomerular capsule) <lees Bowman-kapsel>

glossa (glossa) <lees lingua>

glossitis Ontsteking van die tong.

glossofaringeaal (glossopharyngeal) M.b.t. die tong en die farinks.

glossofaringeale senuwee (glossopharyngeal nerve) <lees nervus glossopharyngeus>

glottis (stemspleet) (glottis) Spleetvormige opening wat die keelholte (farinks) met die lugpyp (tragea) verbind.

gloukoom (glaucoma) (groenstaar) ’n Oogsiekte gekenmerk deur onder meer hardheid en gebrek aan elastisiteit van die oogbol, inkorting van die gesigsveld, vermindering van sig en wat tot algehele blindheid kan lei.

glukagon (glucagon) ’n hormoon wat deur die alfaselle van die Langerhans-eilande van die pankreas gesekreteer word en verantwoordelik is vir die vrystelling van glukose uit glikogeen.

glukemie (glucaemia) <lees glisemie>

glukemies (glycemic) Wat betref glukemie.

glukemiese indeks (glycemic index) Skaal van 1 tot 100 waarop aangedui word hoe vinnig koolhidraatbevattende voedsel verteer en in die bloed opgeneem word.

glukemiese lading (glycemic load) Meting van die glukemiese indeks sowel as die hoeveelheid koolhidrate in ’n bepaalde kossoort.

glukogeen (glycogen) <lees glikogeen>

glukogenese (glucogenesis) <lees glikogenese>

glukogenolise (glucogenolysis) <leesk glikogenolise>

glukokortikoïed (glucocorticoid) <lees ook mineralokortikoïed> ’n Hormoon van die bynierkorteks wat ’n invloed op die koolhidraatmetabolisme uitoefen.

glukolipied (glycolipid) <lees glikolipied>

glukolise (glucolysis) <lees glikolise>

glukoneogenese (gluconeogenesis) <lees glikoneogenese>

glukonsuur (gluconic acid) Suur gevorm deur die oksidasie van glukose.

glukopenie (glucopenia) <lees glikopenie>

glukoproteïen (glucoprotein) <lees glikoproteïen>

glukose (glucose) <lees dekstrose>

glukosied (glucoside) <lees glikosied>

glukosurie (glucosuria) <lees glikosurie>

glukuronsuur (glucuronic acid) Intermediêre metaboliese produk wat normaalweg in klein hoeveelhede in die urien voorkom.

glutamien (glutamine) (glutamine) ’n Aminosuur (monoamied van glutamiensuur) wat by die mens ’n rol speel in detoksifikasie.

glutamiensuur (glutamic acid) ’n Aminosuur wat belangrik is in die stikstofmetabolisme.

glutamine (glutamine) (glutamien) ’n Aminosuur (monoamied van glutamiensuur) wat by die mens ’n rol speel in detoksifikasie.

glutatioon (glutathione) Tripeptied wat belangrik is by weefseloksidasieprosesse aangesien dit geoksideer en gereduseer kan word.

gluteaal (gluteal) M.b.t. die boud.

gluten (gluten) Onoplosbare proteïen in koring en ander graansoorte - word vanaf meel verkry deur die stysel uit te was en dit gee aan deeg die taai, elastiese voorkoms.

glutol (glutol) Poeier gemaak van formaldehied en gliserien, gebruik op wonde.

glygewrig (gliding joint) Gewrig wat beperkte mate van beweging toelaat deurdat plat beenoppervlaktes oor mekaar gly.

glyteorie (sliding theory) ’n Verduideliking van die meganisme waardeur spiere saamtrek.

gnaties (gnathic) M.b.t. die kakebeen.

gnatodinamika (gnathodynamics) Studie van die fisiese kragte betrokke by die koubeweging.

gnatodinie (gnathodynia) Pyn in die kaak.

gnotobioot (gnotobiote) Spesiaal geteelde laboratoriumdier waarvan die mikro-organismes bekend is.

goedaardig (benign) <cf maligne> Nie gevaarlik, kwaadaardig, ernstig nie.

goiter (goitre) <lees ook hipertiroïdisme; hipotiroïdisme> (kropgeswel) Enige vergroting van die tiroïedklier.

golf (wave) <lees ook amplitude; golflengte> Grafiese voorstelling van ’n fisiologiese dinamiese verskynsel.

golf (wave) <lees ook amplitude; golflengte> Uitwyking.

golflengte (wave length) <lees ook amplitude; golf> Afstand tussen twee opeenvolgende golfkruine of -dale.

Golgi-apparaat (Golgi apparatus) ’n Mikroskopies klein struktuur wat bestaan uit stapels membrane wat vakuole omring - dit het waarskynlik te doen met selsekresies en die vervaardiging van nuwe materiaal in ’n sel.

gomfose (gomphosis) Gewrig tussen die tand en die tandkas.

gomsnuiwer Iemand wat doelbewus gomwalms inasem en daaraan verslaaf raak.

gomsnuiwery (gomsnuiwing) Die doelbewuste inaseming van walms wat deur gom afgeskei word. Dit is ’n gevaarlike vorm van dwelmgebruik wat tot breinskade kan lei.

gomsnuiwing (gomsnuiwery) Die doelbewuste inaseming van walms wat deur gom afgeskei word. Dit is ’n gevaarlike vorm van dwelmgebruik wat tot breinskade kan lei.

gonade (gonad) (geslagsklier, teelklier, voortplantingsklier) Die klier of orgaan wat geslagselle (gamete) vervaardig.

gonadotrofien (gonadotropin) <lees gonadotropien>

gonadotroop (gonadotrope) Verwys na ’n gonadotropiese stof.

gonadotropien (gonadotropin) (gonadotrofien) Hormoon wat die ontwikkeling of aktiwiteit van die gonades stimuleer.

gonadotropies (gonadotropic) Wat die gonade beïnvloed.

gonalgie (gonalgia) Pyn in die kniegewrig.

gonnabeentjie (einabeentjie, elmboogbeentjie, gottabeentjie, kieliebeentjie, ogonnabeentjie, swernootjie, swernootbeentjie, tinteltonnetjie) Die plek aan die agterkant van die elmboog waar ’n stamp ’n pynlike, verlammende gevoel veroorsaak.

gonodukt (gonoduct) (geslagsbuis) Buis wat vanaf die gonade na buite verloop.

gonokokkus (gonococcus) Bakterie wat gonorree veroorsaak.

gonorree (gonorrhea) (druiper) Besmetlike ontsteking van die slymvlies van die geslagsorgane wat veroorsaak word deur gonokokkus.

gonosiet (gonocyte) Primitiewe geslagsel van die embrio.

goormaag Versteurde spysvertering as gevolg waarvan goor winde opgebring word.

gordel (girdle) Verwys na enige struktuur wat soos ’n band rondom die liggaam geleë is, bv die heupgordel.

gordelroos (shingles) ’n Pynlike inflammasie van senuwees wat gepaard gaan met ’n veluitslag wat dikwels ’n gordel vorm om die middel van die liggaam. Dit word veroorsaak deur dieselfde virus as waterpokkies.

gorrel (strottehoof, larinks) Die boonste wye gedeelte van die lugpyp waarin die stembande geleë is.

gorrel (gargle) ’n Vloeistof agter in jou keel hou deur ’n lugstroom deur dit te stuur.

gorrelmiddel Medikasie vir die keel wat gegorrel moet word.

gorrelpyp Lugpyp tussen die keel en die longe.

gottabeentjie <lees gonnabeentjie>

goud (gold, Au) (Au) Geel edelmetaal.

goudpreparaat (gold preparation) ’n Geneesmiddel wat een of meer goudverbindings bevat.

graad (degree) ’n Interval of trap in sekere skale.

graad (degree) Eenheid vir temperatuurverskil.

graad (degree) Intensiteit of omvang.

Graaf-follikel (Graafian follicle) ’n Volwasse, vloeistofgevulde follikel in die ovarium wat ’n ovum bevat en tydens ovulasie oopbars; ovariumfollikels wat ’n ovum bevat en vroulike geslagshormone vrystel.

gradiënt (gradient) Grafiese voorstelling van die toename of afname van ’n veranderlike waarde.

gradiënt (gradient) Helling.

gradiënt (gradient) Verhouding van een fisiese krag tot ’n ander.

grafospasma (graphospasm, writer's cramp) (skrywerskramp) Spierkrampe in die hand en voorarm wat ontstaan as mens baie skryf.

gram (gram, g) (g) ’n Eenheid van massa in die metrieke stelsel wat eweredig is aan een duisendste van ’n kilogram.

gramekwivalent (gram-equivalent) Daardie massa (in gram) van ’n stof wat een mol waterstofione of een mol elektrone produseer of daarmee reageer.

Gram-kleurmetode (Gram-staining technique) Metode om mikro-organismes te kleur deur dit met ’n violetkleurstof, gevolg deur ’n ontkleuringsmiddel (bv. alkohol) en dan weer met ’n rooi teenkleurstof te kleur - hierdie kombinasie veroorsaak ’n donker blou, violet of purper kleur, wat by die Gram-positiewe organismes bly nadat dit in alkohol gewas is, terwyl dit by Gram-negatiewe organismes die neutrale rooi kleur van die teenkleurstof wat gebruik word, vertoon.

Gram-negatief (Gram-negative) <lees ook Gram-kleurmetode> Vertoon die neutraalrooi kleur van die teenkleurstof wat gebruik word in die Gram-kleurmetode.

Gram-positief (Gram-positive) <lees ook Gram-kleurmetode> Vertoon violet of blou met die Gram-kleurstof.

grammolekulêre massa (gram-molecular mass) Die molekulêre massa van ’n stof uitgedruk in gram.

grand mal (grand mal, major epilepsy) <cf petit mal> (major epilepsie) Toestand gekenmerk deur aanvalle met ’n tipiese patroon van simptome, nl. skielike bewussynsverlies wat onmiddellik gevolg word deur verspreide stuiptrekkings.

granulasie (granulation) Die vorming van weefsel in en om ’n wond.

granulasieweefsel (granulation tissue) Enige van die sagte, rooierige, vlesige uitsteeksels wat tydens die herstel van ’n wond vorm en die vroeë stadium van littekenweefsel vorm.

granule (granule) Klein korreltjie.

granuleer (granulate) Om granulasie te ondergaan.

granulêr (granular) <cf agranulêr> Bestaande uit korrels of granules; mikroskopies lyk die struktuur of weefsel asof dit korrels in of op die oppervlak bevat.

granulering (granulation) <lees granulasie>

granulosiet (granulocyte) <cf agranulosiet> Een van die groepe leukosiete wat gekenmerk word deur die teenwoordigheid van granules in die sitoplasma, bv basofiel, eosinofiel, neutrofiel.

granulositeit (granulosity) Korrelrigheid.

granulositopenie (granulocytopenia) <lees ook agranulositose> ’n Tekort aan granulosiete in die perifere bloed.

Graves-siekte (Graves’s disease, exophthalmic goitre) (eksoftalmiese goiter) Toksiese kropgeswel.

gravitasie (gravitation, gravity, g) (g, swaartekrag) Die krag waarmee ’n liggaam na die middelpunt van die aarde aangetrek word.

graweel ’n Siekte veroorsaak deur ’n gruiserige materiaal waaruit ’n nier- of blaassteen gevorm word en wat dikwels saam met die urien uitgeskei word.

graweelkruid <lees graweelwortel>

graweelwortel Een van verskeie kruidgewasse wat vroeër as middel teen graweel gebruik is.

griep (flu) Aansteeklike ontsteking van die slymvliese van die lugweë.

grieperig Siekerig met griep.

Grierson-Gopalan sindroom (Grierson-Gopalan syndrome) Bestaan uit die ernstige brand en pyn van die voete, hiperestesie, pyn, verhoogde vel-temperatuur, en vasomotoriese veranderinge van die voete, wat verband hou met oormatige sweet en algemene liggaam-afskeiding.

groeiklier (growth gland) Enige klier waarvan die afskeiding die groei van die liggaam of ’n liggaamsdeel bevorder.

groeipyne (growing pains) Groeipyne is in der waarheid spierpyne. Dit kom veral by aktiewe kinders voor. Dae wat hulle baie aktief is is dit veral geneig om erg te wees.

groeisel (growth) Gewas; geswel.

groenhoutfraktuur (greenstick fracture) (buigfraktuur) ’n Fraktuur waar die been slegs aan die een kant gebreek is en aan die ander kant gebuig is. Dit kom veral by kinders voor.

groenstaar (glaucoma) <lees gloukoom>

groep-agglutinasie (group agglutination) Agglutinasie van een of meer lede van ’n groep verwante mikroörganismes deur ’n agglutinien spesifiek vir een van hulle.

grotsiekte (spelonksiekte) ’n Soort longontsteking, veral in grotte opgedoen deur die inasemining van ’n bepaalde swam.

GS (DC) <lees gelykstroom>

guanien (guanine) <sien ook adenien; purien> Die purienbasis van nukleïensure wat in DNA en RNA voorkom.

No comments :

Post a Comment