Geelkoors is ’n ongeneeslike virusinfeksie wat aanleiding gee tot hoë koors, geelsug en, in ernstige gevalle, bloeding uit die slymvliese en die sogenaamde “swart braking”. Die muskiet Aëdes aegypti is die belangrikste draers van die virus wat mense infekteer.
As gevolg van die tempo toe waarteen die siekte uit die reënwoude na stedelike gebiede versprei vrees wêreldgesondheidsowerhede dat epidemies (weer) in die afsienbare toekoms kan uitbreek - veral omdat die meeste lande nie doeltreffende waarnemingstelsels het waarvolgens die siekte vroeg opgespoor en onder beheer gebring kan word nie. Daar is geen behandeling of geneesmiddel vir geelkoors nie, slegs voorkoming deur inenting. In sommige gevalle herstel pasiënte spontaan van die siekte, hoewel hy of sy nog ’n ruk lank aan geelsug kan ly. ’n Pasiënt wat van geelkoors herstel, is daarna immuun teen die siekte en sal nie weer ’n aanval kry nie.
In 1939 het die Suid-Afrikaanse geneesheer en navorser Max Theiler in samewerking met Hugh Smith ’n entstof ontwikkel wat immuniteit teen die siekte verleen. Theiler het die Nobelprys vir sy werk ontvang. Die entstof is een van die veiligste en doeltreffendste entstowwe wat tot dusvêr ontwikkel is. Dit verleen volle beskerming teen geelkoors in meer as 90 persent van mense wat ingeënt word. Die grootskaalse gebruik van die entstof het bygedra tot die doeltreffende beheer van die siekte in groot dele van die wêreld en dit het die vrees vir geelkoors grootliks besweer.
Suid-Afrika is vry van geelkoors, maar koorsmuskiete word in die land aangetref, veral in die subtropiese kusgordel van KwaZulu-Natal. Die Departement Gesondheid het streng voorkomende maatreëls ingestel om te verhoed dat die siekte die land binnekom. Alle besoekers uit gebiede waar geelkoors endemies is, moet kan bewys dat hulle ingeënt is teen die siekte, en alle vliegtuie en skepe uit sulke gebiede moet volgens wet met insekdoders bespuit word om te verseker dat geen koorsmuskiete die land binnekom nie. Gesondheidsowerhede in geelkoors-endemiese lande word ook volgens ’n internasionale ooreenkoms verplig om hul lughawens te vrywaar teen geelkoorsmuskiete.
Simptome en tekens
Die eerste simptome van geelkoors verskyn binne 3 tot 6 dae nadat ’n pasiënt met die virus besmet is. Dit begin met hoë koors, hoofpyn en rugpyn en gedurende die eerste fase ontwikkel pasiënte ook naarheid en braking. Hierdie simptome verdwyn mettertyd en die pasiënt se koors daal, net om vier, vyf dae later weer te begin styg. Die tweede fase van die siekte word gekenmerk deur geelsug, bloeiende slymvliese en braking van bloed. Dit gaan ook gepaard met ’n aftakeling van die hart, lewer en niere.
Die naam geelkoors verwys na die geel voorkoms van geelkoorspasiënte se vel as gevolg van die opbou van galpigment in die vel wanneer die virus die lewerselle vernietig. Pasiënte met ernstige geelkoors sterf gewoonlik binne ’n week tot 10 dae na die eerste simptome verskyn het.
No comments :
Post a Comment