Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids


10.8.16

Probleme met die bloedsomloop

Bloed word deur die hart in die liggaam gesirkuleer deur bloedvate na die weefsels en selle, voordat dit via die hart na die longe terugkeer waar dit weer geoksigeneer word.

Daar is etlike faktore wat die sirkulasie kan raak: die volume en gehalte van bloed in die sisteem, die druk waaronder dit deur gesirkuleer word, en die toestand van die hart en vate waardeur die bloed vloei.

Die gemiddelde volwassene het 6 liter bloed wat deur sy / haar liggaam sirkuleer. Die samestelling van die bloed is van groot belang vir die gesondheid van die weefsels.

Normale bloed bestaan uit ’n deursigtige geel vloeistof wat as plasma bekend staan en waarin rooiselle, witselle en bloedplaatjies gesuspendeer is. Die gekleurde pigment in die rooiselle (hemoglobien) voer suurstof na die weefsels. Die witselle oorweldig en verwyder alle skadelike liggame in die weefsels, soos kieme en dooie selle, en die plaatjies help die bloed om te stol.

Die druk waaronder bloed vloei, word bepaal deur die krag wat nodig is om seker te maak dat al die bloed die weefsels bereik. Indien dit te laag is, byvoorbeeld weens ernstige bloedverlies, ontvang die noodsaaklike organe ’n verminderde toevoer bloed en kan nie behoorlik funksioneer nie en skok kan so ontwikkel.

Bloed sal aanhou om in die liggaam te vloei en sal slegs stol indien dit uit beskadigde bloedvate ontsnap.

In een vorm van ’n bloedsomloopkwaal, trombose, kan klontvorming egter in ’n bloedvat voorkom – dit kan die betrokke vat blokkeer en so die noodsaaklike toevoer van geoksigeneerde bloed afsluit. Klonte kan bly vassteek waar hulle gevorm word, of kan deur die liggaam gevoer word totdat hulle ’n belangrike slagaar afsluit.

Verharde slagare is nog ’n oorsaak van ’n bloedsomloopkwaal. Langdurige hoë bloeddruk (wat meer algemeen voorkom namate die persoon ouer word) kan veroorsaak dat slagare bars, wat tot inwendige bloeding lei. Die algemeenste voorbeeld hiervan is serebrale bloeding (’n vorm van beroerte) en dit gebeur wanneer ’n serebrale slagaar wat bloed na die brein voer, bars en bloed in die breinweefsel inlek. Swak bloedsomloop, wat moontlik deur die aftakelingsproses van ouderdom vererger word, kan bydra tot trombose.

Nog ’n faktor is die aanwesigheid van vernoude bloedvate wat ook ’n "vetagtige" aanpaksel aan die wande kan hê. Klonte wat opwaarts tot in die breinslagare gevoer word, kan ’n beroerte (serebrale trombose) tot gevolg hê; klonte in die longe kan die normale bloedvloei en derhalwe die oksigeneerproses versteur (pulmonêre embolisme); klonte wat in die koronêre slagare van die hart self vorm, kan hartversaking veroorsaak (koronêre trombose).

Die hartspier trek saam en verslap net soos ander spiere en het sy eie afsonderlike bloedtoevoer, die koronêre slagare. Dit moet egter ononderbroke werk ten einde al die ander organe van die liggaam te voed-selfs as sy eie suurstoftoevoer verminder is.

Die koronêre slagare kan net soos ander slagare vernou wanneer die persoon ouer word, met die gevolglike vermindering van die hoeveelheid bloed wat deur hulle na die hart kan vloei. Hoe meer van die hartspiere deur hierdie tekort aan bloed geraak word, hoe minder doeltreffend word die hart, die klop sal swak en/of ongereeld raak, en uiteindelik kan dit heeltemal ophou (hartversaking).

No comments :

Post a Comment