Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Hartsiektes. Show all posts
Showing posts with label Hartsiektes. Show all posts

17.7.23

Kruie vir kwale: Hartsiektes

Die Khoi het Europeërs meer as 200 jaar gelede geleer van die medisinale waarde van die muishondbos. Vandag word dit ook gebruik vir hartsiektes.
’n Kwart koppie vars blare word geweek in ’n koppie kookwater vir 5 minute. Dit moet daagliks geneem word.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n kwart koppie vars sewejaartjie-blare. Laat dit trek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink vir hartkwale.

♦♦♦

Voeg ’n kwart koppie kattekruid-blare by ’n koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n sif en drink vir hartsiektes.

♦♦♦

Gekookte suurvye kan gebruik word vir hartsiektes.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

16.5.22

Sistoliese bloeddruk bo 120 mmHg verhoog die kanse vir kardiovaskulêre siekte

Bloeddruk is die krag wat bloed uitoefen teen die wande van die liggaam se are terwyl dit sirkuleer. Ons praat van hipertensie wanneer bloeddruk te hoog is.

Bloeddruk word as twee getalle geskryf. Die eerste (sistoliese) getal verteenwoordig die druk in bloedvate wanneer die hart saamtrek of klop. Die tweede (diastoliese) getal verteenwoordig die druk in die vate wanneer die hart tussen slae rus. Hipertensie word gediagnoseer as, wanneer dit op twee verskillende dae gemeet word, die sistoliese bloeddruk (SBP) lesings op beide dae ≥140 mmHg is en/of die diastoliese bloeddruk (DBP) lesings op beide dae ≥90 mmHg is. Normale bloeddruk is minder as 120/80 mm Hg.

Wêreldwyd is hoë bloeddruk 'n algemene en sterk risikofaktor vir die ontwikkeling van kardiovaskulêre siektes. ’n Studie gepubliseer in die joernaal Diabetes Care in 2021 het bevind dat indien die sistoliese druk te hoog is verhoog dit ook die kanse vir kardiovaskulêre siekte.

14.2.22

Hoe om hoë bloeddruk te behandel of te verhoed met oefening

Een uit elke vier hartaanvalle word deur hoë bloeddruk veroorsaak. Daar word beraam dat ongeveer 60% van die wêreld se bevolking teen 2025 aan hipertensie sal ly. Alhoewel dit algemeen aanvaar word dat oefening bloeddruk verlaag, het aanbevelings tot dusvêr gefokus op die hoeveelheid oefening per week, sonder om 'n individu se aanvanklike bloeddrukvlak in ag te neem.

Daar is nou riglyne vir gedetailleerde leiding oor hoe om bloeddruk te verlaag by mense met hipertensie, hoë-normale bloeddruk en normale bloeddruk. Dit is gepubliseer in die European Journal of Preventive Cardiology, ’n publikasie van die European Society of Cardiology.

Deur die verlaging van bloeddruk kan ons die risiko van 'n hartaanval, beroerte en dood weens kardiovaskulêre siekte verminder.

Vir mense met hipertensie (bloeddruk van ten minste 140/90 mmHg), is aërobiese oefening die doeltreffendste metode. Dit sluit aktiwiteite in soos stap, hardloop, fietsry of swem. Vir mense met hipertensie beteken ordentlike aërobiese oefening dieselfde, of selfs effens meer, as om 'n enkele antihipertensiewe medikasie te neem.

In diegene met hoë-normale bloeddruk (130-139/85-89 mmHg), is dinamiese weerstandsoefening die eerste prioriteit. Dit verwys na kragoefeninge wat tipies ten minste ses groot spiergroepe betrek en spiersametrekking en beweging tot gevolg het - byvoorbeeld die optel van gewigte, hurke en opstote.

Mense met normale bloeddruk (minder as 130/84 mmHg) baat die meeste by isometriese weerstandsoefening. Dit behels statiese sametrekking van die spiere.

Die navorsers het opgemerk dat fisiese aktiwiteit gereeld gedoen moet word om die voordele te handhaaf. Die effek van die meeste oefeninge duur vir ongeveer 24 uur, soortgelyk aan medikasie, so dit is die beste om elke dag so aktief moontlik te wees.

31.1.22

Musiek is medisyne

Om na musiek te luister kan lekker wees, maar dit is ook goed vir jou hart. Pasiënte wat kort ná ’n hartaanval episodes van borspyn opgedoen het, bekend as vroeë post-infarksie angina, het aansienlik laer vlakke van angs en pyn gehad as hulle 30 minute per dag na musiek geluister het, volgens ’n nuwe studie deur die American College of Cardiology
.

12.1.22

Te veel alkohol kan hartweefsel beskadig

Gereelde swaar alkoholverbruik kan die hartweefsel beskadig. Dit is die bevinding van navorsing gepubliseer in die Journal of the American Heart Association.

Die navorsers het bevind dat mense wat baie drink, hoër as normale vlakke van inflammasie in hul liggame skep wat gekoppel is aan ’n wye verskeidenheid gesondheidsprobleme, insluitend kardiovaskulêre siektes.

20.12.21

Na ’n hartaanval – beweeg

Mans wat na afloop van ’n hartaanval vir minstens 30 minute per dag stap, leef langer as diegene wat minder fisies aktief is na ’n hartaanval. Dit is die gevolgtrekking van navorsing deur die American Heart Association.

Mans wat ’n baie hoë vlak van fisiese aktiwiteit handhaaf voor en na ’n hartaanval leef nog langer as hulle daarby hou.

Die navorsers het inligting oor die fisieke aktiwiteit van meer as 1 500 mans ontleed, beide voor en nadat hulle ’n hartaanval ervaar het (gemiddeld op ouderdom 65). Die mans was almal deelnemers aan ’n langtermyn studie van Harvard Health Professionals.

13.12.21

Een avokado per dag help om 'slegte' cholesterol te verlaag

Navorsers van Penn State College of Medicine in die VSA het bevind dat een avokado per dag kan help om "slegte cholesterol" te verlaag.

Volgens die navorsers kan slegte cholesterol verwys na beide geoksideerde lae-digtheid lipoproteïen (LDL) en klein, digte LDL deeltjies.

Die het het bevind dat die eet van een avokado per dag geassosieer word met laer vlakke van LDL (spesifiek klein, digte LDL-deeltjies) en geoksideerde LDL by volwassenes met oorgewig of vetsug.

Die navorsing is gepubliseer in die Journal of Nutrition.

26.4.21

Koolhidrate help in die hart

Onlangse navorsing uit die Universiteit van Kopenhagen dui daarop dat ’n bepaalde soort koolhidrate 'n belangrike rol speel in die regulering van die bloeddruk in die menslike liggaam.

Beide hipertensie en hipotensie kan nadelige gevolge vir die gesondheid hê en lei tot onderskeidelik kardiovaskulêre siektes. Nou weet navorsers egter bietjie meer oor die faktore wat help om die bloeddruk te reguleer. Die navorsing is gepubliseer in die wetenskaplike tydskrif Journal of Biological Chemistry.

Die selle van die liggaam gebruik koolhidrate in die vorm van suiker om die stabiliteit van die proteïene te beheer. In die studie het die navorsers getoon hoe 'n spesifieke soort suiker aan ’n peptiedhormoon genaamd atriale natriuretiese peptied (ANP) heg. Hierdie peptiedhormoon word in die hart afgeskei en is belangrik vir die regulering van die bloeddruk en die vloeistofbalans in die liggaam.

11.1.21

Lae koolhidrate dieet gekoppel aan probleme met hartritme

Lae koolhidraat-diëte is baie gewild, maar dit kan probleme vir jou hart veroorsaak. Diegene wat min van hul daaglikse kalorieë uit grane, vrugte en styselagtige groente kry, is aansienlik meer geneig om atriale fibrillasie te ontwikkel, die mees algemene hartritme-stoornis.

Tydens atriale fibrillasie klop die hart klop nie soos dit moet nie. Dit kan lei tot hartkloppings, duiseligheid en moegheid. Mense met atriale fibrillasie het vyf keer meer kans om beroerte te kry as mense sonder die toestand. Dit kan ook tot hartversaking lei.

Die beperking van koolhidrate het die afgelope jare ’n gewilde strategie vir gewigsverlies geword. Daar verskeie koolhidraat-diëte, insluitend die ketogeniese, paleo- en Atkins-dieet, met ’n klem op proteïene, terwyl die inname van suikers, graan, peulgewasse, vrugte en styselagtige groente beperk word.

Verskeie meganismes kan verklaar waarom die beperking van koolhidrate tot atriale fibrillasie kan lei. Die een is dat mense wat ’n lae koolhidraat-dieet eet, geneig is om minder groente, vrugte en grane te eet - voedsel wat daarvoor bekend is dat dit inflammasie verminder. Sonder hierdie voedsel kan mense meer ontsteking ervaar, wat verband hou met atriale fibrillasie. Nog ’n moontlike verklaring is dat die eet van meer proteïene en vet in plaas van koolhidraat-ryke voedsel tot oksidatiewe spanning kan lei, wat ook met atriale fibrillasie verband hou. Oor die algemeen hou dit verband met ’n verhoogde risiko vir ander vorme van kardiovaskulêre siektes.

Die studie wat bogenoemde bevind het is voorgelê by die American College of Cardiology. Die hoof outeur van die studie was Dr. Xiaodong Zhuang (MD, Ph.D.) kardioloof verbonde aan die hospitaal geaffilieer aan die Sun Yat-Sen Universiteit in Guangzhou, China.

16.3.20

Diëte met ’n hoë proteïen-inhoud verhoog die risiko van hartversaking by middeljarige mans

Die eet van groot hoeveelhede proteïen deur middeljarige mans gaan gepaard gegaan met ’n verhoogde risiko vir hartversaking volgens nuwe navorsing van die Universiteit van Oos-Finland.

Die navorsers het wel bevind dat die verband nie bestaan tussen die eet van proteïene van vis en eiers en hartversaking nie.

Ondanks die gewildheid van diëte met ’n hoë proteïeninhoud, is daar weinig navorsing oor hoe sulke diëte kan bydra tot hartsiektes.

Die studie is gepubliseer in die joernaal Circulation: Heart Failure.

2.3.20

Aanvullings gaan nie hartsiektes keer nie

Huidige navorsing vind nie genoeg bewyse dat vitamien- of mineraalaanvullings voordelig is vir die voorkoming of behandeling van hartsiektes nie, met die uitsondering van foliensuur wat die risiko van beroerte verminder. Dit is volgens ’n artikel wat in die Journal of the American College of Cardiology gepubliseer is.

Vitamiene en minerale word al lank gebruik om voedingstekorte te behandel. Deesdae word aanvullings egter aanbeveel ter bevordering van algemene gesondheid en langlewendheid.

Daar is egter geen klinkklare bewyse dat individuele vitamiene of minerale of kombinasie-aanvullings geneem moet word om hartsiektes te voorkom of te behandel nie. Die Amerikaanse Advieskomitee vir Dieetriglyne beveel drie diëte aan om die risiko van hartsiektes te verminder: 'n gesonde Amerikaanse dieet wat min in versadigde vette, transvet en rooivleis bevat, maar baie vrugte en groente; ’n Mediterreense dieet en ’n vegetariese dieet.

16.12.19

‘n Eier per dag laat die hartsiektes wag

Mense wat een eier per dag eet se risiko om kardiovaskulêre siektes op te doen is aansienlik laer in vergelyking met diegene wie geen eiers eet nie.

Kardiovaskulêre siektes is die grootste oorsaak van sterftes en gestremdhede wêreldwyd, meestal as gevolg van iskemiese hartsiektes en beroerte.

Eiers is 'n prominente bron van cholesterol in die dieet, maar dit bevat ook proteïen van hoë gehalte, baie vitamiene en komponente soos fosfolipiede en karotenoïede.

Vorige studies wat gekyk het na die assosiasies tussen die eet van eiers en die invloed op die gesondheid, was teenstrydig, en die meeste van hulle het onbeduidende assosiasies tussen eierverbruik en koronêre hartsiektes of beroerte gevind.

Daarom het 'n span navorsers van China en die Verenigde Koninkryk beoog om die assosiasies tussen eierverbruik en hartprobleme te ondersoek.

Hulle het data uit die China Kadoorie Biobank-studie gebruik, 'n voortslepende studie van ongeveer 'n halfmiljoen volwassenes tussen 30 en 79 jaar.

Vir die nuwe studie het die navorsers gefokus op 416 213 deelnemers wat vry was van voorafgaande kanker, kardiovaskulêre siektes en diabetes.

Analise van die resultate het getoon dat in vergelyking met mense wat nie eiers eet nie, daaglikse eierverbruik geassosieer word met 'n laer risiko vir kardiovaskulêre probleme in die algemeen.

Die bevindings van die studie is gepubliseer in die vaktydskrif Heart.

4.11.19

Oefening verlaag jou kanse op hartversaking

Deur meer as 11 000 Amerikaanse volwassenes se vlakke van fisieke aktiwiteit mettertyd te ontleed het navorsers van die Johns Hopkins Medicine tot die gevolgtrekking gekom dat gereelde oefening oor die periode van ses jaar ’n beduidende verminderde risiko van hartversaking teweegbring.

In dieselfde ontleding is bevind dat ses jaar sonder oefening ’n verhoogde risiko vir hartsiektes teweegbring.

Anders as ’n hartaanval, waarin hartspier sterf, word hartversaking gekenmerk deur 'n langdurige, chroniese onvermoë van die hart om genoeg bloed te pomp, of hard genoeg te pomp om die nodige suurstof in die liggaam te bring. Die risikofaktore van die versteuring is die grootste oorsaak van hospitalisasie by persone ouer as 65 jaar, dit sluit in hoë bloeddruk, hoë cholesterol, diabetes, rook en ’n familiegeskiedenis van hartversaking.

20.5.19

Drie koppies koffie dalk goed vir die hart

Indien jy sukkel met sogenaamde hartkloppings, dan is dit moontlik dat jou dokter jou al aangeraai het om minder koffie te drink. Nuwe navorsing toon egter dat dit kan dalk goed wees vir jou om ’n beperkte hoeveelheid koffie en tee per dag te drink.

Op die punt moet mens byvoeg, luister ALTYD na jou dokter se raad. Hy of sy het (hopelik) ’n goeie fisiologiese profiel van jou en weet dinge van jou wat inligtingsbronne nie het nie.

In mediese kringe word na hartkloppings verwys as aritmie*. ’n Aritmie veroorsaak dat die hart te vinnig, stadig of oneweredig klop. Sommige arritmieë is skadeloos en sommige sal jy nie eens opmerk nie, maar ander kan die risiko vir ’n skielike hartstilstand verhoog. Atriale fibrillasie, ’n baie algemene vorm, veroorsaak dat die hart vinnig klop, en as dit onbehandel gelaat word, kan dit beroertes veroorsaak. Arritmieë* kan ook in ons are voorkom.

Een koppie koffie bevat 95 mg kafeïen, wat die sentrale senuweestelsel stimuleer. Hierdie kafeïen blokkeer adenosien, ’n chemiese verbinding wat help om atriale fibrillasie te veroorsaak. Die nuwe navorsing toon dat die toename van kafeïen beslis die werking van adenosien verminder en die risiko vir atriale fibrillasie met tussen 6 en 13% verminder.

Die studie het ook bevind dat 9 of meer koppies per dag ander probleme meegebring het in amper 2% van pasiënte met hartprobleme, wie aan die studie deelgeneem het. Wat by laasgenoemde aansluit in ’n mate, is dat die navorsers van die American College of Cardiology aanbeveel dat energiedrankies vermy moet word as gevolg van die hoeveelheid gekonsentreerde kafeïen wat dit bevat.

So hoeveel is veilig? Volgens die navorsers is 300 mg ’n veilige aanbeveling vir die bevolking as geheel. Onthou ook om altyd jou dokter hieroor te raadpleeg, omdat jou mediese profiel mag verskil.

Hierdie studie sluit in ’n mate aan by navorsing waaroor ons 5 jaar gelede berig het: Koppie koffie dalk goed vir jou bloedvate

Die studie is gepubliseer in die Journal of the American College of Cardiology.

* Die spelling van arritmie met een of twee r’e is beide aanvaarbaar in Afrikaans.

25.2.19

Die ouer vrou en groente

Navorsing uit Australië, gepubliseer in die Journal of the American Heart Association, het bevind dat daar minder verdikking van die nekslagare is van ouer vrouens wat gereeld groente eet.

Dit is veral broccoli, blomkool, kool en Brusselse spruite wat voordelig is.

10.12.18

Proteïene in vleis dalk nie goed vir jou nie

’n Studie deur navorsers in die VSA en Frankryk het bevind dat vleis-proteïene geassosieer word met verhoogde risiko vir hartsiektes, terwyl proteïen van neute en sade voordelig vir die hart is.

Die belangrike bevinding was dat mense wat groot hoeveelhede vleis-proteïene verbruik ’n toename van 60% in kardiovaskulêre siektes ervaar, terwyl diegene wat groot hoeveelhede proteïen van neute en sade gebruik se kanse met 40% verlaag.

Dieetkundiges verwys al lank na die “slegte vette” in vleis en “goeie vette” in sade en neute, maar die nuwe navorsing wys op iets meer. Die proteïene van beide blyk ook ’n belangrike rol te speel in die biologiese prosesse.

Die navorsing is gedoen deur die Loma Linda University School of Public Health in Kalifornië en AgroParisTech en Institut National de la Recherche Agronomique, beide in Parys, Frankryk. Dit is gepubliseer in die joernaal International Journal of Epidemiology.

24.7.18

Rooiwyn (weereens) goed vir die hart

Antioksidante wat in rooiwyn voorkom word deesdae gebruik vir die behandeling van hartsiektes.

Meeste hartprobleme ontstaan weens die opbou van plaak in are, wat die bloedsomloop affekteer en so die kanse vir ’n hartaanval verhoog.

Daar is nie een perfekte behandeling vir hartsiektes nie. Die beste op die oomblik is om jou leefstyl aan te pas of chirurgie te ondergaan. Een prosedure wat jy kan ondergaan word genoem koronêre angioplastie. Tydens hierdie operasie plaas die chirurg ’n piepklein ballonnetjie in ’n geblokkeerde slagaar en blaas dit op om te aar te vergroot. Die verbeter die bloedsomloop en verminder so die kanse op ’n hartaanval of beroerte.

Tydens die operasie word ’n klein buis (stent) in die aar gesit om dit oop te hou. Heelwat kommersiële buise breek mettertyd op en die stowwe wat vrygestel word, is giftig en boonop veroorsaak dit dat die are weer vernou. Navorsers het egter nou ’n buis ontwikkel wat sekere rooiwyn antioksidante vrystel. Hierdie antioksidante help met die herstel van die aar, verhoed inflammasie en voorkom ook die vorming van bloedklonte.

23.5.18

Sofapokkels kan hartprobleme vermy deur te begin oefen

Vir middeljarige sofapokkels (couch potatoes) is daar altyd die risiko van hartversaking as gevolg van jare staties wees voor die televisie. Daar is egter nou hoop met navorsing wat toon dat twee jaar van gereelde aërobiese oefening hierdie risiko kan verminder, of selfs die skade kan herstel.

Aërobiese oefening is volgehoue aktiwiteite soos stap, swem, hardloop en soortgelyke aktiwiteite wat die hart en ander spiere versterk en die liggaam help om suurstof meer effektief te gebruik.

Statiese gedrag, soos om lang tydperke te sit, verhoog die risiko dat die hartspier krimp en verstyf op ’n middeljarige ouderdom, wat die risiko van hartversaking aansienlik verhoog. Vorige studies het getoon dat elite-atlete, wat 'n leeftyd lank met 'n hoë intensiteit oefening geoefen het, se hart en bloedvate aansienlik minder verouder het.

Deur twee tot drie keer ’n week te oefen doen nie veel om jou hart te beskerm nie. Vier tot vyf keer ’n week is egter baie effektief, volgens die studie. Dit is dus belangrik dat so ’n oefenprogram deel van jou daaglikse roetine word. So ’n program moet ten minste een lang sessie insluit (minimum een uur) en ten minste een hoë-intensiteit aërobiese sessie.

Dit is belangrik om voor jou laat middeljare te begin, as die hart nog goeie plastisiteit het, wat dit in staat stel om makliker te verander.

Die studie is gepubliseer in die joernaal Circulation.

(Hier artikel is bygedra deur Quintus van Rensburg, ’n ASA-gesertifiseerde afrigter in Bellville. -> bellvilleac.co.za)

13.2.18

Wegneemetes verbind aan hartsiektes en diabetes by kinders

Kinders wat gereeld wegneemetes eet se risiko om hartsiektes of diabetes op te doen, is baie hoog.

Hierdie kinders is ook geneig om oor die algemeen meer kalorieë in te neem en kry minder vitamiene en minerale in as kinders wat tuisgemaakte kos eet.

Tegnologiese toepassings wat wegneemetes en aflewering dryf maak dit al hoe makliker om ongesond te eet. By volwassenes is die bewyse alreeds ’n geruime tyd daar dat hierdie maaltye geassosieer kan word met ’n swak gesondheid, meer liggaamsvet en 'n hoër risiko vir tipe 2-diabetes en hartsiektes. Nou is daar ook bewyse dat dit soortgelyke probleme by kinders veroorsaak.

Die mees verdoemende gevolgtrekking in die studie is dat die hoër cholesterol en LDL cholesterol-konsentrasies waargeneem in kinders wat gereeld wegneemetes eet genoeg is om die langtermyn risiko vir koronêre hartsiektes met ongeveer 10% te verhoog.

Verder dui die navorsing op negatiewe gevolge vir openbare gesondheidsorg as gevolg hiervan. Die navorsers voel dat die gebruik van wegneemetes ontmoedig moet word.

Amper 2 000 kinders is betrek in die navorsing wat gepubliseer is in Archives of Disease in Childhood.

20.12.17

Kalium is belangrik vir rooibloedselle en jou hart

Rooibloedselle, soos baie ander menslike selle, het ’n 24 uur biologiese ritme.

Anders as ander selle met DNA en gene om die ritme te reguleer, gebruik rooibloedselle kalium. Bedags vermeerder die kalium in die selle en snags verminder dit.

Hierdie nuwe ontdekking van navorsers aan die Universiteite van Surrey en Cambridge gaan ons dalk help om hartaanvalle beter te verstaan. Meeste hartaanvalle gebeur in die oggend. Die regulering van kalium sal help om dit beter te verstaan en te help voorkom. Die universiteite gaan verdere navorsing in die verband aanpak.

Die navorsing is gepubliseer in ’n onlangse uitgawe van die joernaal Nature Communications.