Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Beroerte. Show all posts
Showing posts with label Beroerte. Show all posts

2.3.20

Aanvullings gaan nie hartsiektes keer nie

Huidige navorsing vind nie genoeg bewyse dat vitamien- of mineraalaanvullings voordelig is vir die voorkoming of behandeling van hartsiektes nie, met die uitsondering van foliensuur wat die risiko van beroerte verminder. Dit is volgens ’n artikel wat in die Journal of the American College of Cardiology gepubliseer is.

Vitamiene en minerale word al lank gebruik om voedingstekorte te behandel. Deesdae word aanvullings egter aanbeveel ter bevordering van algemene gesondheid en langlewendheid.

Daar is egter geen klinkklare bewyse dat individuele vitamiene of minerale of kombinasie-aanvullings geneem moet word om hartsiektes te voorkom of te behandel nie. Die Amerikaanse Advieskomitee vir Dieetriglyne beveel drie diëte aan om die risiko van hartsiektes te verminder: 'n gesonde Amerikaanse dieet wat min in versadigde vette, transvet en rooivleis bevat, maar baie vrugte en groente; ’n Mediterreense dieet en ’n vegetariese dieet.

20.3.17

Een eier per dag kan jou kanse op ’n beroerte verminder

’n Studie wat einde verlede jaar gepubliseer is, dui daarop dat een eier per dag voordele inhou vir jou gesondheid.

Nie net is eiers ’n bekostigbare bron van proteïene nie, maar deur gereeld ’n eier te eet verlaag jou kanse om ’n beroerte aanval te kry.

Een groot eier bevat tot 6 gram proteïene, antioksidante en vitamiene A, D en E. Hierdie kombinasie help om jou bloeddruk te verlaag.

Let net op hoe jy jou eiers gaarmaak. Te veel botter of olie maak dit minder voordelig.

(Die studie is gepubliseer in die Journal of the American College of Nutrition.)

16.11.16

Bewusteloosheid

Jou bewegings, die funksies van jou liggaam en jou bewussynsvlak word deur jou senustelsel beheer.

Wanneer jy bewusteloos, of gedeeltelik bewusteloos, is dit ’n aanduiding dat jou brein nie normaal werk nie. Dit is potensieel gevaarlik vir jou.

Daar is verskeie oorsake van bewusteloosheid. Die algemeenste is: kopbeserings, floute, hartaanval, beroerte, asfiksie, epilepsie, skok, vergiftiging en diabetes.

9.11.16

Wat doen jy tydens ’n beroerteaanval?

Die fokus tydens ’n beroerteaanval is om die persoon te ondersteun. Dit kan gebeur dat die persoon bewusteloos raak en dan moet jy sorg dat die lugweë oop bly en kunsmatige asemhaling toepas indien nodig. Probeer altyd om die persoon sodra moontlik by die hospitaal te kry.

1. Indien die persoon nog by sy/ haar bewussyn is, laat hulle lê met die kop en skouers effens gelig en ondersteun. Draai die kop na die kant toe sodat enige speeksel uit die mond kan dreineer.

2. Maak stywe klere om die nek, borskas en middel los om sirkulasie en asemhaling te verbeter.

3. Behandel vir skok.

4. Indien die persoon bewusteloos is, plaas die persoon in die herstelposisie.

5. Indien die asemhaling en hartklop ophou begin dadelik met kunsmatige asemhaling.

6. Sorg dat die persoon sodra moontlik by ’n hospitaal kom.

2.11.16

Beroerte

’n Beroerte is ’n toestand waartydens die bloedtoevoer na ’n deel van die brein skielik en kritiek afgesny word deur ’n bloedklont (serebrale trombose) of wanneer ’n gebarste aarbloed in die brein lek (serebrale bloeding). Laasgenoemde kom veral voor onder mense met hoë bloeddruk. In beide gevalle word die aangetaste breinselle se funksie geaffekteer.

Aangesien verskillende stelsel en dele van die liggaam deur verskillende areas in die brein beheer word, hang die gevolge van ’n beroerte af van watter deel van die brein geraak is.

Mense herstel gewoonlik maklik van ’n klein beroerteaanval, maar ’n groot beroerteaanval is dikwels noodlottig.

Beroerteaanvalle is meer algemeen onder persone ouer as 55 jaar.

Die simptome van ’n beroerte word soms met dronkheid verwar.

Simptome en tekens
• Skielike ernstige hoofpyn.
• Die polsslag is ernstig.
• Die persoon is gedisoriënteer en verwar, kan selfs angstig wees en huil.
• Lighoofdigheid en moontlike bewusteloosheid.

Die volgende fisiese tekens kan ook voorkom:
• Verlamming van die mond.
• Swakheid of verminderde gevoel in een of albei ledemate en aan die een kant van die liggaam.
• ’n Blosende gesig met ’n droë, warm vel.
• Pupille wat verskillend oop is.
• Verlies van blaas- en dermbeheer.

Die persoon moet sodra moontlik by ’n hospitaal kom.

16.5.16

Vars vrugte goed vir die hart

’n 7-jaar-studie van meer as ’n halfmiljoen Chinese volwassenes het bevestig: mense wat gereeld vars vrugte eet se kanse op ’n hartaanval of beroerte is laer as diegene wat selde vars vrugte eet.

Vrugte is ’n goeie bron van kalium, dieetvesel, antioksidante, en verskeie ander potensieel aktiewe verbindings, en bevat min sout of vet en relatief min kalorieë. Daar is bevind dat net 100 g vars vrugte per dag jou kanse op hartprobleme met ’n derde verminder.

Die studie is gepubliseer in die bekende New England Journal of Medicine.

1.9.14

Vitamien C help teen beroerte

Deur voedsel te eet wat baie vitamien C bevat kan jy jou kanse verminder om ’n slagoffer te wees van die meer dodelike tipes beroertes.

Volgens navorsers aan die Universiteit van Rennes in Frankryk, moet die tekort aan vitamien C gesien word as ’n risiko faktor vir die meer ernstige tipe beroertes. Ander faktore wat hiermee saamgaan is hoe bloeddruk, die gebruik van alkohol en oorgewig. ’n Tekort aan vitamien C word ook verbind met hartsiektes.

’n Ander voordeel van vitamien C is dat dit help met die produksie van kollageen, ’n belangrike proteïen wat gevind word in bene, vel en ander weefsel.

Vitamien C kom voor in vrugte en groente soos lemoene, papajas, rissies, broccoli en aarbeie.

24.3.14

Oefening so goed soos baie medikasie

Navorsers van onder andere Harvard en Stanford het onlangs in ’n persverklaring gevra vir meer navorsing in oefening as ’n alternatief tot sekere medikasie. Dié groep het in ’n studie ondersoek ingestel na die uitwerking van oefening op die sekondêre voorkoming van koronêre hartsiekte, die herstel van ’n beroerte, die behandeling van hartversaking en die voorkoming van diabetes.

Wat die voorkoming van koronêre hartsiekte en diabetes betref kon hulle geen beduidende verskil vind tussen die uitwerking van oefening en medikasie nie.

Hulle het bevind dat diegene wat herstel van beroerte meer suksesvol is deur oefening te gebruik in plaas van medikasie. Vir hartversaking was medikasie meer suksesvol.


(foto Nevit Dilmen)

16.1.12

Vrae oor 'n aneurisme

Anoniem skryf:
"Wat is 'n aneurisme?"


Antwoord:
Wanneer 'n arterie in die brein begin lek kan dit 'n beroerte veroorsaak. Die lekkasie kan as gevolg van hoë bloeddruk wees of 'n aneurisme, 'n swak plek in die arteriewand.



Cerenne van Deventer skryf:
"My suster van 45 het verlede Oktober 'n aneurisme gehad. Sy was verlam aan haar regterkant en het haar spraak verloor. Fisies het sy sedertdien baie verbeter, maar emosioneel gaan sy agteruit. Dit is asof sy geen kort-termyn geheue het nie en kry woede uitbarstings. Sy weier om te eet, want volgens haar het sy elke ete klaar geeet. Sy het ook haar dag en nag omgeruil. Ek kry nerens op internet enige inligting om te sien wat al die dinge veroorsaak en ons kan nie verdere toetse laat doen nie aangesien sy geen medies of inkomste het nie. Kan julle my dalk raad gee of laat weet waar ons meer kan lees oor al die simptome en 'oplossings'. "


Antwoord:
Haar gedrag klink na tipies die van iemand wat 'n aneurisme gehad het. Op hierdie stadium is daar ongelukkig nie behandelings hiervoor wat baie suksesvol is nie. Meeste toetse na 'n aneurisme bestudeer slegs die beserings. Van haar selle kan genees en julle het al waarskynlik dit agtergekom. Meeste genesing vind gewoonlik kort na die aneurisme plaas, maar dit kan ook maande neem. Belangrikste nou is om te verhoed dat sy 'n tweede aanval kry. Julle kan die volgende doen: Haar soutinname moet beperk word. Sout speel 'n rol in die oorsake van 'n aneurisme. 'n Laevet-hoëvesel-dieet behoort gevolg te word. Sy moet haar inname van alkohol beperk. Die beste is geen alkohol. Gereelde oefening is ook belangrik. 'n Daaglikse dosis aspirien (150 - 300 mg) kan voordelig wees. Let Wel: Bespreek dit asseblief eers met 'n geneesheer. Familie en vriende speel nou 'n sleutelrol. Help haar om beweeglik te wees en alledaagse take te verrig. Moet asseblief tog nie die persoon soos 'n invalide behandel nie, hulle intelligensie en herinneringe is steeds daar. Positiewe aanmoediging en ondersteuning is nou uiters belangrik.

8.2.11

Beroerte

Ons praat van ’n beroerte wanneer iemand duiselig word of sy of haar bewussyn verloor as gevolg van ’n breinobstruksie of -beskadiging.

Ander simptome kan insluit verwardheid, hoofpyn, onduidelike spraak, balansverlies, swakheid, inkontinensie en pupille wat nie ewe groot is nie.

Die meeste beroertes is as gevolg van hoë bloeddruk.