Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Aritmie. Show all posts
Showing posts with label Aritmie. Show all posts

20.5.19

Drie koppies koffie dalk goed vir die hart

Indien jy sukkel met sogenaamde hartkloppings, dan is dit moontlik dat jou dokter jou al aangeraai het om minder koffie te drink. Nuwe navorsing toon egter dat dit kan dalk goed wees vir jou om ’n beperkte hoeveelheid koffie en tee per dag te drink.

Op die punt moet mens byvoeg, luister ALTYD na jou dokter se raad. Hy of sy het (hopelik) ’n goeie fisiologiese profiel van jou en weet dinge van jou wat inligtingsbronne nie het nie.

In mediese kringe word na hartkloppings verwys as aritmie*. ’n Aritmie veroorsaak dat die hart te vinnig, stadig of oneweredig klop. Sommige arritmieë is skadeloos en sommige sal jy nie eens opmerk nie, maar ander kan die risiko vir ’n skielike hartstilstand verhoog. Atriale fibrillasie, ’n baie algemene vorm, veroorsaak dat die hart vinnig klop, en as dit onbehandel gelaat word, kan dit beroertes veroorsaak. Arritmieë* kan ook in ons are voorkom.

Een koppie koffie bevat 95 mg kafeïen, wat die sentrale senuweestelsel stimuleer. Hierdie kafeïen blokkeer adenosien, ’n chemiese verbinding wat help om atriale fibrillasie te veroorsaak. Die nuwe navorsing toon dat die toename van kafeïen beslis die werking van adenosien verminder en die risiko vir atriale fibrillasie met tussen 6 en 13% verminder.

Die studie het ook bevind dat 9 of meer koppies per dag ander probleme meegebring het in amper 2% van pasiënte met hartprobleme, wie aan die studie deelgeneem het. Wat by laasgenoemde aansluit in ’n mate, is dat die navorsers van die American College of Cardiology aanbeveel dat energiedrankies vermy moet word as gevolg van die hoeveelheid gekonsentreerde kafeïen wat dit bevat.

So hoeveel is veilig? Volgens die navorsers is 300 mg ’n veilige aanbeveling vir die bevolking as geheel. Onthou ook om altyd jou dokter hieroor te raadpleeg, omdat jou mediese profiel mag verskil.

Hierdie studie sluit in ’n mate aan by navorsing waaroor ons 5 jaar gelede berig het: Koppie koffie dalk goed vir jou bloedvate

Die studie is gepubliseer in die Journal of the American College of Cardiology.

* Die spelling van arritmie met een of twee r’e is beide aanvaarbaar in Afrikaans.