Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Hartsiektes. Show all posts
Showing posts with label Hartsiektes. Show all posts

20.11.17

Omega-3 is goed vir jou hart

Navorsing wat meer as 71 000 mense betrek het toon dat omega-3 vetsure jou kanse op ’n dodelike hartaanval aansienlik verminder. Sowat 42% van mense wêreldwyd met harsiektes sterf jaarliks as gevolg van ’n hartaanval.

Selfs diegene met cholesterol-probleme se risiko op ’n hartaanval word aansienlik verminder – met 17%.

Deelnemers aan die studie het 1 g omega-3 vetsure per dag gekry. Die navorsers vermoed dat die effek van dié vetsure is selfs beter as dit van vis verkry word.

Die navorsing is twee maande gelede gepubliseer in die Journal of Clinical Lipidology.

20.3.17

Een eier per dag kan jou kanse op ’n beroerte verminder

’n Studie wat einde verlede jaar gepubliseer is, dui daarop dat een eier per dag voordele inhou vir jou gesondheid.

Nie net is eiers ’n bekostigbare bron van proteïene nie, maar deur gereeld ’n eier te eet verlaag jou kanse om ’n beroerte aanval te kry.

Een groot eier bevat tot 6 gram proteïene, antioksidante en vitamiene A, D en E. Hierdie kombinasie help om jou bloeddruk te verlaag.

Let net op hoe jy jou eiers gaarmaak. Te veel botter of olie maak dit minder voordelig.

(Die studie is gepubliseer in die Journal of the American College of Nutrition.)

17.10.16

Hartversaking

Hartversaking is ’n uiters ernstige toestand waar die hart skielik ophou klop. Die oorsaak is waarskynlik dan ’n omvattende koronêre verstopping.

Simptome en tekens
Die ongeval word bewusteloos.
Geen pols kan in die nek gevoel word nie.
Asemhaling en hartklop hou op.
Vel word bleek.

’n Mens moet dadelik die persoon probeer bybring met kunsmatige asemhaling en die persoon moet so gou moontlik by ’n hospitaal kom.

10.8.16

Probleme met die bloedsomloop

Bloed word deur die hart in die liggaam gesirkuleer deur bloedvate na die weefsels en selle, voordat dit via die hart na die longe terugkeer waar dit weer geoksigeneer word.

Daar is etlike faktore wat die sirkulasie kan raak: die volume en gehalte van bloed in die sisteem, die druk waaronder dit deur gesirkuleer word, en die toestand van die hart en vate waardeur die bloed vloei.

Die gemiddelde volwassene het 6 liter bloed wat deur sy / haar liggaam sirkuleer. Die samestelling van die bloed is van groot belang vir die gesondheid van die weefsels.

Normale bloed bestaan uit ’n deursigtige geel vloeistof wat as plasma bekend staan en waarin rooiselle, witselle en bloedplaatjies gesuspendeer is. Die gekleurde pigment in die rooiselle (hemoglobien) voer suurstof na die weefsels. Die witselle oorweldig en verwyder alle skadelike liggame in die weefsels, soos kieme en dooie selle, en die plaatjies help die bloed om te stol.

Die druk waaronder bloed vloei, word bepaal deur die krag wat nodig is om seker te maak dat al die bloed die weefsels bereik. Indien dit te laag is, byvoorbeeld weens ernstige bloedverlies, ontvang die noodsaaklike organe ’n verminderde toevoer bloed en kan nie behoorlik funksioneer nie en skok kan so ontwikkel.

Bloed sal aanhou om in die liggaam te vloei en sal slegs stol indien dit uit beskadigde bloedvate ontsnap.

In een vorm van ’n bloedsomloopkwaal, trombose, kan klontvorming egter in ’n bloedvat voorkom – dit kan die betrokke vat blokkeer en so die noodsaaklike toevoer van geoksigeneerde bloed afsluit. Klonte kan bly vassteek waar hulle gevorm word, of kan deur die liggaam gevoer word totdat hulle ’n belangrike slagaar afsluit.

Verharde slagare is nog ’n oorsaak van ’n bloedsomloopkwaal. Langdurige hoë bloeddruk (wat meer algemeen voorkom namate die persoon ouer word) kan veroorsaak dat slagare bars, wat tot inwendige bloeding lei. Die algemeenste voorbeeld hiervan is serebrale bloeding (’n vorm van beroerte) en dit gebeur wanneer ’n serebrale slagaar wat bloed na die brein voer, bars en bloed in die breinweefsel inlek. Swak bloedsomloop, wat moontlik deur die aftakelingsproses van ouderdom vererger word, kan bydra tot trombose.

Nog ’n faktor is die aanwesigheid van vernoude bloedvate wat ook ’n "vetagtige" aanpaksel aan die wande kan hê. Klonte wat opwaarts tot in die breinslagare gevoer word, kan ’n beroerte (serebrale trombose) tot gevolg hê; klonte in die longe kan die normale bloedvloei en derhalwe die oksigeneerproses versteur (pulmonêre embolisme); klonte wat in die koronêre slagare van die hart self vorm, kan hartversaking veroorsaak (koronêre trombose).

Die hartspier trek saam en verslap net soos ander spiere en het sy eie afsonderlike bloedtoevoer, die koronêre slagare. Dit moet egter ononderbroke werk ten einde al die ander organe van die liggaam te voed-selfs as sy eie suurstoftoevoer verminder is.

Die koronêre slagare kan net soos ander slagare vernou wanneer die persoon ouer word, met die gevolglike vermindering van die hoeveelheid bloed wat deur hulle na die hart kan vloei. Hoe meer van die hartspiere deur hierdie tekort aan bloed geraak word, hoe minder doeltreffend word die hart, die klop sal swak en/of ongereeld raak, en uiteindelik kan dit heeltemal ophou (hartversaking).

22.7.16

“Hy het ’n nuwe hart en dit werk!”

As dit nie was vir die jong, gesonde skenkerhart en die haarfyn beplanning van die span wat Phalo Gayiya se hartoorplanting gekoördineer het nie, het dié sewejarige van De Doorns nie Dinsdag met ’n nuwe hart gespog nie.

16.5.16

Vars vrugte goed vir die hart

’n 7-jaar-studie van meer as ’n halfmiljoen Chinese volwassenes het bevestig: mense wat gereeld vars vrugte eet se kanse op ’n hartaanval of beroerte is laer as diegene wat selde vars vrugte eet.

Vrugte is ’n goeie bron van kalium, dieetvesel, antioksidante, en verskeie ander potensieel aktiewe verbindings, en bevat min sout of vet en relatief min kalorieë. Daar is bevind dat net 100 g vars vrugte per dag jou kanse op hartprobleme met ’n derde verminder.

Die studie is gepubliseer in die bekende New England Journal of Medicine.

8.3.16

Body Worlds

Jy hoor gedurig wat die uitwerking van leefstylsiektes, soos diabetes en hartsiekte, op jou liggaam is – maar het jy dit al gesien? Die Body Worlds-uitstalling is terug in Suid-Afrika en wys presies dit.

1.2.16

Klein verswakking in lewerfunksie kan hart en are beskadig

Nuwe navorsing het ’n verband gevind tussen die afname in lewerfunksie en die verswakking van die hart en sekere are.

Volgens Britse navorsers is dit veral die linker hartkamer wat geaffekteer word.

18.1.16

Suiker ’n probleem vir hart

Wetenskaplikes aan die Universiteit van Leicester het onlangs bevind dat die vlak van suiker in jou bloed die sametrekking van jou are beïnvloed. Dit kan gevaar inhou vir jou bloeddruk en jou hart.

Hulle het aangetoon dat hoe meer suiker daar in jou bloed is, hoe erger trek jou are saam. Jou are trek saam en ontspan om jou bloeddruk te beheer. Hoe meer hulle saamtrek hoe hoër is jou bloeddruk.

’n Hartaanval vind plaas as ’n koronêre aar na die hart verstop is. Te veel suiker in jou bloed kan so ’n verstopping vererger.

17.3.15

Lang werksure affekteer jou gesondheid

Meer as 40 werksure per week is in die verlede reeds gekoppel aan stres en swak gesondheid. Nou het Koreaanse navorsers ook bevind dat dit jou risiko vir hartsiektes aansienlik verhoog.

Navorsing op meer as 8 000 mense het aan die lig gebring dat ’n lang werksweek jou kanse op hartsiektes verhoog in so min as 10 jaar. Werk jy 61 tot 70 uur per week is jou kanse 42%, 71 tot 80 uur 63%, en diegene wat meer as 80 uur per week werk is ’n gevaarlike 94%.

6.1.15

Strawwe oefening goed vir ouer dames

Ouer vrouens kan hul kanse op sekere hartsiektes verlaag deur die intensiteit van hul oefenprogramme te verhoog. Dit is die bevinding van ’n studie gepubliseer in die Journal of the American Heart Association.

Interessant was dat die bevindings daarop dui dat, al lei ’n dame aan vetsug, as die intensiteit van haar oefening hoër is as iemand wat nie vetsugtig is nie, is haar kanse minder om hartsiektes op te doen.

29.12.14

Te veel sout ’n groter gevaar vir diabete

Persone met tipe 2 diabetes wat baie sout inneem se kanse is dubbel die van ander mense om ’n kardiovaskulêre siekte te ontwikkel.

Mense ontwikkel diabetes as daar te veel suiker in hul bloedstroom is. Tipe 2 diabetes ontstaan wanneer die liggaam ’n weerstand ontwikkel teen die hormoon insulien. Insulien vervoer die suiker vanaf die bloed na die liggaamselle.

Kardiovaskulêre siektes, soos hartsiektes, kom meer voor onder diabete, as onder die res van die bevolking. ’n Onlangse studie toon nou duidelik dat persone met tipe 2 diabetes wat baie sout gebruik ’n nog groter kans staan om sulke siektes te ontwikkel.

Die studie is gepubliseer in die Journal of Clinical Endocrinology & Metabolism.

25.11.14

Alkohol nie goed vir jou hart nie

Navorsing by die Perelman School of Medicine aan die University of Pennsylvania het bevind dat alkohol glad nie goed is vir jou hart nie.

Enige vermindering in die gebruik van alkohol het dadelik ’n positiewe effek op jou risiko vir kardiovaskulêre siektes, jou liggaamsmassa-indeks en jou bloeddruk.


(foto Dani Lurie)

17.11.14

Die hart kan aanpas

Jou hart kan jou dalk al jou slegte gewoontes vergewe.

’n Onlangse studie het bevind dat as persone in hul 30’s en 40’s hul slegte gewoontes laat staan en ’n gesonde leefstyl volg, hulle enige koronêre hartsiekte onder beheer kan kry, selfs die toestand omkeer.

Met ’n gesonde leefstyl begin beteken in die konteks dat jy jou gewig onder beheer kry, ophou rook, matige drinkgewoontes het, ’n gebalanseerde dieet volg en gereeld oefening doen.

Die slegte nuus in die algemeen is dat die studie bevind het dat 40% van mense se slegte gewoontes toeneem soos hulle ouer word.

4.11.14

Oorgewig middeljarige vrouens behoort te oefen

Vir andersins gesonde middeljarige vroue wat oorgewig is, kan fisiese aktiwiteit hul beste opsie wees vir die vermyding van hartsiektes.

Oorgewig middeljarige vrouens is geneig om te sukkel met hartsiektes, hoë bloeddruk, hoë cholesterol, diabetes en inflammasie.

’n Onlangse studie het bevind dat selfs ’n klein bietjie oefening help om dié groep se kanse vir die ontwikkeling van hartsiektes kan verminder.

28.10.14

Nog ’n oorsaak van hoë bloeddruk en hartsiektes

Dit wil voorkom asof te veel fosfaat in die liggaam nadelig kan wees vir jou gesondheid. Geprosesseerde kosse, parmesaan, bakpoeier en koladrankies is ryk aan fosfaat. Fosfate word oor die algemeen baie gebruik as preserveermiddels.

Wanneer groot hoeveelhede fosfaat verteer word, word die produksie van die FGF23-hormoon gestimuleer. Dié hormoon word in die bene geproduseer. Dit het ’n negatiewe uitwerking op die mens se kardiovaskulêre stelsel.

FGF23 beïnvloed die uitskeiding van sodium deur die niere. Hoe meer FGF23 daar in die liggaam is, hoe moeiliker raak jy van sout ontslae, te veel sout lei tot probleme met jou bloeddruk.

FGF23 beïnvloed ook die kalsiumvlak in jou liggaam. Kalsium word ook in die niere filtreer. Te veel FGF23 in die liggaam veroorsaak dat te veel kalsium deur die niere geherabsorbeer word, wat verkalking van are en nierprobleme veroorsaak.

23.9.14

Eet jou groente en vrugte jong dame

’n Dieet ryk aan groente en vrugte word lank reeds geassosieer met minder hartkwale in middeljariges, veral vroue. Nuwe navorsing wys nou daarop dat dit waarskynlik dieselfde voordele inhou vir jong vroue in hul 20’s.

Die studie deur die Minneapolis Heart Institute Foundation in Amerika het veral gefokus op die eet van groente en vrugte in verhouding met die opbou van kalsium in die are.

Die resultate het getoon dat die verkalking van are in jong vroue wat 8 porsies groente en/of vrugte eet per dag, 40% minder is as die wat slegs 3 porsies eet. 2 648 vroue was betrokke by die studie.

1.9.14

Vitamien C help teen beroerte

Deur voedsel te eet wat baie vitamien C bevat kan jy jou kanse verminder om ’n slagoffer te wees van die meer dodelike tipes beroertes.

Volgens navorsers aan die Universiteit van Rennes in Frankryk, moet die tekort aan vitamien C gesien word as ’n risiko faktor vir die meer ernstige tipe beroertes. Ander faktore wat hiermee saamgaan is hoe bloeddruk, die gebruik van alkohol en oorgewig. ’n Tekort aan vitamien C word ook verbind met hartsiektes.

’n Ander voordeel van vitamien C is dat dit help met die produksie van kollageen, ’n belangrike proteïen wat gevind word in bene, vel en ander weefsel.

Vitamien C kom voor in vrugte en groente soos lemoene, papajas, rissies, broccoli en aarbeie.

11.8.14

Hoë bloeddruk ’n groot probleem in Suid-Afrika

Suid-Afrika het die hoogste voorkoms van hoë bloeddruk in die wêreld by persone ouer as 50 jaar.

’n Nuwe studie het bevind dat sowat 78% van Suid-Afrikaners in hierdie ouderdomskategorie aan hoë bloeddruk ly. Minder as 10% van hulle probeer die probleem beheer. Slegs 38% van die persone wat getoets is was bewus daarvan dat hulle hoë bloeddruk het. Die probleem in Suid-Afrika word toegeskryf aan die feit dat mense oorgewig is en min oefening doen.

Hoë bloeddruk verhoog jou kanse op ’n hartaanval of ander hartsiektes.

Die studie is gepubliseer in die International Journal of Epidemiology, volume 43, nommer 1 van Februarie 2014.