Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Hartsiektes. Show all posts
Showing posts with label Hartsiektes. Show all posts

9.6.14

Koppie koffie dalk goed vir jou bloedvate

Die kafeïen in 'n koppie koffie kan jou klein bloedvate dalk help om beter te werk, volgens navorsing wat deur die American Heart Association bekendgemaak is.

Die studie het aangetoon dat die drink van 'n koppie koffie die bloedvloei in 'n vinger aansienlik verbeter. Bloedvloei in die vinger is 'n aanduiding van hoe goed die binneste voering van die liggaam se kleiner bloedvate werk.

Kafeïenvrye koffie is ook gebruik. Gewone koffie se effek was 30% beter as die kafeïenvrye koffie. Die studie het wel getoon dat gewone koffie mense se bloeddruk effens verhoog. Beide soorte koffie het geen beduidende invloed op die hartklop gehad nie.

Die studie suggereer dat koffie help om bloedvate oop te maak en inflammasie verminder.



(foto Julius Schorzman)

24.3.14

Oefening so goed soos baie medikasie

Navorsers van onder andere Harvard en Stanford het onlangs in ’n persverklaring gevra vir meer navorsing in oefening as ’n alternatief tot sekere medikasie. Dié groep het in ’n studie ondersoek ingestel na die uitwerking van oefening op die sekondêre voorkoming van koronêre hartsiekte, die herstel van ’n beroerte, die behandeling van hartversaking en die voorkoming van diabetes.

Wat die voorkoming van koronêre hartsiekte en diabetes betref kon hulle geen beduidende verskil vind tussen die uitwerking van oefening en medikasie nie.

Hulle het bevind dat diegene wat herstel van beroerte meer suksesvol is deur oefening te gebruik in plaas van medikasie. Vir hartversaking was medikasie meer suksesvol.


(foto Nevit Dilmen)

11.11.13

'n Appel 'n dag

Daar is verskeie redes om 'n appel 'n dag deel van jou dieet te maak:

- Appels is ryk aan vesel. Dié vesel help om maagdermprobleme te verminder en dit help met spysvertering.

- Appels het 'n lae glisemiese indeks (GI) wat help met die stadige vrystelling van suiker in die bloedstroom. So help dit om insulienvlakke te beheer. Appels is dus 'n belangrike vrug indien jy aan suikersieke ly.

- Die pektien in appels verlaag cholesterol.

- Appels bring 'n ontgiftigingseffek mee wat help om van swaarmetale in die liggaam ontslae te raak.

- Die kalium in appels versterk die hart.

- Appels verminder die risiko verbonde aan asma.

- Appels versterk die immuunstelsel, omdat dit vitamien A, C, bioflavonoïede en spoorelemente bevat. Dit help dus ook om kanker te beveg.

23.9.13

Westerse dieet nie goed vir jou nie

'n Nuwe studie dui (weereens) daarop dat die tipiese Westerse dieet nie nie goed is vir ons nie. By die Westerse dieet word ingesluit gebraai voedsel, versoete voedsel, geprosesseerde vleis, rooivleis, verfynde graan en suiwelprodukte met ’n hoë vetinhoud.

Die studie het spesifiek gekyk hoe so 'n dieet uiteindelik bepaal hoe oud jy word en die invloed daarvan in sekere chroniese siektes, soos byvoorbeeld hartprobleme en diabetes. Meer as 5 000 mans en vrouens is vanaf 1985 tot 2009 bestudeer hiervoor.

Afgesien van die gevare van 'n Westerse dieet, moet mens ook daarop let dat oefening deesdae as dié belangrikste deel van enige dieet beskou word.

(Die studie is gepubliseer in The American Journal of Medicine van Mei 2013.)

9.9.13

Baie belangrike verskille tussen mans en vrouens

Onlangse navorsing het bevind dat daar belangrike verskille is tussen mans en vrouens met betrekking tot kardiovaskulêre probleme, kanker, lewersiektes, osteoporose en op die gebied van farmakologie.

Die waarde van hierdie navorsing lê daarin dat ons maar nog min weet oor die verskillende maniere wat mans en vrouens hierdie siektes ervaar. Die rede is dat die afgelope 40 jaar se navorsing aanvanklik net op mans gefokus het.

Die simptome van kardiovaskulêre probleme lyk aansienlik anders by vrouens. Drukking op die bors en pyn in die borskas wat na die linkerarm versprei is algemene simptome by mans vir 'n hartaanval. Die standaard simptome by vrouens is egter naarheid en maagpyn wat baie laag voorkom. Boonop is sulke aanvalle gewoonlik meer ernstig by 'n vrou.

Kolonkanker is die tweede algemeenste kanker by mans en vrouens. Dit kom egter later in die leeftyd van 'n vrou voor. Die kankergewasse kom ook normaalweg op 'n ander plek voor as die van mans en dit reageer beter op spesifieke chemoterapie. Die geslagte reageer oor die algemeen anders op chemoterapie vir kolonkanker, longkanker en velkanker.

Primêre biliêre sirrose is 'n lewersiekte wat veral voorkom by vrouens. Daar is bevind dat vir hierdie tipe sirrose, asook kroniese hepatitis C, die vrou se genetiese samestelling en haar veranderende hormoonvlakke, haar veral vatbaar maak. Dit geld ook vir osteoporose, maar veroorsaak dat ons osteoporose as 'n vroue-siekte sien. Osteoporose kom ook by mans voor. Dit word gereeld misgekyk met die gevolg dat die sterftesyfer vir mans met osteoporose hoër is as vir vroeuens.

Wat die farmakologie betref is die uitwerking van aspiriene en ander substansies getoets op mans en vrouens. Daar is bevind dat die newe-effekte bepaal word deur faktore soos liggaamsgrootte, die tyd wat dit die liggaam neem om dit te absorbeer of uit te skei en hormonale vlakke. Dit is dus nodig dat 'n voorskrif die pasiënt se geslag in ag neem.

Die navorsing is gepubliseer in die joernaal Clinical Chemistry and Laboratory Medicine en is gedoen onder aanvoering van Giovannella Baggio.

24.12.12

Volstruis-are vir jou hart

Japanese wetenskaplikes het volstruis-are gebruik om 'n suksesvolle hartomleiding op 'n vark uit te voer. Dit beteken dat 'n soortgelyke prosedure moontlik ook op mense gebruik kan word.

Die span het are in volstruise se nekke gebruik om kunsmatige are te vervaardig wat tot 30 cm lank kan wees en twee millimeters dik is.

Konvensionele plaasvervangers, soos die are van dooie mense, diere of sintetiese are, moet gewoonlik dubbel daardie lengte wees om gebruik te word. Die bloed vloei ook deur die are sonder die gebruik van klont-voorkomingsmiddels.

16.7.12

'n Nuwe hartklep-konsep

'n Nuwe hartklep-konsep is by die Universiteit Kaapstad (UK) ontwikkel.

Kapitaal van R30 miljoen is bekom om die kommersiële ontwikkeling en vervaardiging van toestelle wat beskadigde hartkleppe kan vervang, moontlik te maak.

Die werk is daarop gemik om lyers van rumatiese hartsiekte te help. Die tradisionele manier om dié siekte te behandel is 'n opehart-operasie, maar dié prosedure is buite bereik van arm lyers.

Navorsing by die Universiteit Kaapstad het daarop gedui dat 'n nuwe benadering nodig is. Drie toestelle wat die siekte onder beheer kan bring sonder opehart-chirurgie is op grond van die navorsing ontwikkel.

6.12.11

Vis gesond vir vroue

Vroue wat oud genoeg is om kinders te kry kan hul kanse op hartprobleme verlaag as hulle vis ryk aan omega 3-vetsure eet, het navorsers bevind.

Die studie is die eerste om vrouens tussen die ouderdom van 15 en 49 te ondersoek vir die effek wat vis in hul dieet op hartprobleme kan hê.

Vis hou vroue se harte gesond

13.4.10

Hartsiektes

Die hart versprei lewensbelangrike suurstof en voedingstowwe deur die liggaam.

Om reg te funksioneer het die hart suurstof nodig. Die hart kry hierdie suurstof vanaf die koronêre arterieë (kroonslagare).

Daar is verskeie hartsiektes wat wissel van abnormaliteite van die hart tot die aanpak van die kroonslagare.

Die grootste oorsaak van sterftes veroorsaak deur hartsiektes in die Westerse wêreld is die aanpak van weefsel in die koronêre arterieë. Die arterieë vernou in die proses en die hart ontvang nie meer die nodige suurstof nie. Pyn en hartaanvalle is die gevolg van die vernouing van die are.

Daar is verskillende soorte medikasie om hartsiektes te behandel. Ander behandelings sluit in chirurgie.

Kontak dadelik jou dokter indien jy vermoed jy ly aan 'n hartsiekte.