Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Maag. Show all posts
Showing posts with label Maag. Show all posts

7.11.23

Kruie vir kwale: Spysvertering

Vir probleme met spysvertering. Week ’n takkie wilde salie in ’n koppie kookwater vir 10 minute.
Gooi dit deur ’n siffie en meng 3 eetlepels Engelse sout by en bietjie suurlemoensap. Hou die mengsel in ’n lugdigte houer en gee die pasiënt gereeld klein bietjies daarvan.

♦♦♦

Die blare en wortels van die kaneelbol word gebruik om ’n tee te maak vir die behandeling van probleme met spysvertering.
Sny ’n stuk wortel van 1 cm skoon en 2 teelepels gekapte blare. Laat dit trek in ’n koppie kookwater vir 5 minute en gooi deur ’n sif voor jy dit drink.

♦♦♦

Kou ’n paar groenment-blare vir slegte spysvertering.

♦♦♦

Maak tee met gedroogde wilde-jasmyn blomme, met suurlemoensap en heuning. Drink dit vir slegte spysvertering.

♦♦♦

Gebruik 10 g vars tiemie om ’n tee mee te maak. Laat dit vir 5 minute trek voor jy dit deur ’n siffie gooi. Roer 5 mℓ heuning by.
Drink die tee vir spysvertering.

♦♦♦

Maak vir jou tee met roosmaryn indien jy hulp nodig het met spysvertering.

♦♦♦

Maak tee met pietersielie vir hulp met die spysvertering.

♦♦♦

Tee van origanum help dit met spysvertering.

♦♦♦

Tee van marjolein help met spysvertering.

♦♦♦

Kruisementtee help vir spysvertering.

♦♦♦

Voeg ’n paar wildeals-spruite by ’n bottel brandewyn. Laat staan vir ’n week en skud daagliks. ’n Eetlepel hiervan twee maal per dag vir slegte spysvertering.

♦♦♦

Gooi kookwater oor ’n teelepel bloekomblare (Eucalyptus globulus) gemeng met ’n teelepel bokboegoe (Coleonema pulchellum). Laat dit trek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink vir slegte spysvertering.

♦♦♦

Gebruik pietersielie by jou kos as jy ly aan slegte spysvertering.

♦♦♦

Laat jong takkies van ’n renosterbos trek in ’n bottel brandewyn. Drink soggens en saans sowat 30 mℓ hiervan. Dit help vir verskeie maagkwale, soos byvoorbeeld slegte spysvertering.

♦♦♦

Drink vinkeltee.

♦♦♦

Vars basielkruid help die liggaam om kos beter te verteer.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n ¼ koppie vars groenment-blare. Laat dit staan vir 3 minute voor jy die tee drink.
Drink dit vir slegte spysvertering


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

25.4.23

Maagpyn

Maagpyn is die algemene naam wat vir die pyn gebruik kan word, maar dit kan misleidend wees. Dit is nie altyd die maag wat betrokke is nie. ’n Beter woord sal buikpyn wees.

Daar is verskeie moontlike oorsake vir maagpyn. Dit kan slegte spysvertering wees, menstruasie-krampe, hardlywigheid en voedselvergiftiging.

Die pyn word gewoonlik nie as ernstig beskou as dit korter as ’n halfuur duur nie, terwyl daar geen ander simptome soos hoofpyn, vomering, koors of diarree nie.

Simptome en tekens
Enige tipe pyn in die buik.

Behandeling
1. Plaas die persoon in ’n halfsittende posisie met die knieë gebuig.
2. Indien dit beskikbaar is, plaas ’n verhitte warmsak op die area.
3. Is dit lyk asof die persoon wil opgooi, plaas hulle in die herstelposisie.
4. Indien die pyn langer as ’n halfuur duur, kry mediese hulp.

18.10.21

Natuurlike anti-inflammatoriese middels en medisyne - boererate bevestig deur die wetenskap

Die gebruik van nie-steroïdale medisyne word gereeld voorgeskryf, sonder voorskrif en op voorskrif. Die veiligheid van die langdurige gebruik daar van moet egter in ag geneem word. Natuurlike anti-inflammatoriese middels soos kruie en voedselaanvullings is veiliger oor die langtermyn en dikwels meer effektief.

Plantmateriaal word al duisende jare gebruik. Kruie medisyne word toenemend gewild vanweë hul relatief min newe-effekte. Daar is ongelukkig min gefundeerde inligting beskikbaar oor die middels en hul moontlike newe-effekte. Mens moet ook altyd seker maak die kwaliteit van die middel is van hoogstaande gehalte. Hier is ’n lys van ’n paar natuurlike anti-inflammatoriese middels waarvan die gebruik deur navorsing ondersteun word, insluitende die newe-effekte.

Lewertraan
Lewertraan word verkry deur die olie te pers uit die vars lewer van sekere vissoorte (kabeljou) Dit is ryk aan vitamiene D en A. Dit word gebruik vir die behandeling van die behandeling van spier-, skelet- en rugwerwel siektes. Daar is heelwat navorsing oor die gebruik daarvan vir neurodegeneratiewe siekte, artritis en depressie.

Newe-effekte kom gewoonlik voor as dit nie saam met maaltye geneem word nie. Die liggaam sal dan meer vet uitskei in die stoelgang en jy kan winde opbring. Lewertraan moet nie deur persone geneem word wat bloedverdunners gebruik nie.

Wit wilgerboom
Die bas van die wit wilgerboom is een van die oudste kruiemiddels vir pyn en ontsteking. Die gebruik daarvan dateer terug na die ou Egiptiese, Romeinse, Griekse en Indiese beskawings as ’n pynstillende en koorswerende middel. Die werking is soortgelyk aan aspirien.

Soos aspirien moet dit nie deur kinders gebruik word nie. Dit moet ook nie deur persone gebruik word met maagsere, swak beheerde diabetes, lewer- of nierversteurings of basies enige toestand wat wat vererger word deur aspirien nie.

’n Normale dosis 240 mg/dag.

Borrie
Borrie is ’n bekende anti-inflammatoriese middel. Chinese medisyne gebruik dit lank reeds as ’n anti-inflammatoriese middel, as behandeling vir spysverteringsprobleme en om wondgenesing te verbeter. Verskeie kliniese kliniese studies het reeds bevestig dit ’n uitstekende antioksidant is en ’n baie goeie anti-inflammatoriese en antineoplastiese effek het. Daar is ook navorsing wat toon dat dit heel moontlik ’n goeie behandeling is vir sistiese fibrose. Dit word ook voorgeskryf vir die behandeling van kolitis, chroniese neurodegeneratiewe siektes, artritis, kanker en natuurlik inflammasie.

Die newe-effekte is min, maar met langdurige gebruik kan dit maagpyn veroorsaak, en met baie hoë dosisse kan maagsere in uiterste gevalle voorkom. Moet dit liefs nie neem as jy bloedverdunners of hoë dosisse nie-steroïdale middels gebruik nie.

’n Normale dosis is 400-600 mg/dag.

Groen tee
Groen tee word lank reeds gebruik vir kardiovaskulêre probleme en kanker. Die gebruik daarvan in die behandeling van artritiese siektes as ’n anti-inflammatoriese middel is meer onlangs erken. Die aanhoudende gebruik daarvan kan maagirritasie meebring in sommige mense en die langdurige gebruik in hoë dosisse kan ’n allergiese reaksie meebring.

’n Normale dosis wanneer jy dit gebruik as tee is 3 tot 4 koppies per dag.

Denneboom
Die middel pycnogenol word verkry van die bas van die maritieme denneboom. Die bas word al meer as 2000 jaar gebruik as medisyne.

Dit word gebruik vir wondgenesing, skeurbuikbehandeling, die genesing van ulkusse, vir vaskulêre inflammasie en vir die verlaging van bloeddruk. Pycnogenolis een van die sterkste antioksidantverbindings wat tans aan ons bekend is. Dit is tot 100 keer sterker as vitamien E en verbeter die werking van vitamien C.

Die gebruik het weinig newe-effekte. Sommige mense se maag kan bietjie omgekrap raak. Diegene wat immuunonderdrukkers of kortikosteroïedmedisyne gebruik moet dit nie neem nie.

’n Normale dosis is 100-200 mg/dag.

Boomgom
Die aromatiese boomgom wat ons brand as wierook is ’n uitstekende anti-inflammatoriese middel. Dit word verkry van die Boswellia-familie bome.

Klinies word dit gebruik vir die behandeling van degeneratiewe en inflammatoriese gewrigsprobleme, byvoorbeeld artritis. Dit is veral effektief vir osteoartritis as dit saam met borrie gebruik word. Moontlike ewe-effekte sluit in maagprobleme, naarheid, sooibrand en diarree.

’n Ekstrak word verkry van die boomgom en ’n normale daaglikse dosis daarvan is 300-500 mg.

Druiwedoppe
Die middel resveratrol word verkry van verskeie plante. Die doppe van rooiwyn druiwe bevat die hoogste konsentrasies. Dit is algemeen beskikbaar as ’n voedselaanvulling.

Resveratrol is ’n anti-inflammatoriese anti-oksidant vir mens en dier. Meeste navorsing fokus op die neurologiese en kardiovaskulêre voordele, maar daar is ook navorsing oor die gebruik daarvan vir pyn as gevolg van artritis.

Katteklou
Die bas van ’n rankplant uit Peru genaamd katteklou (Uncaria tomentosa en Uncaria guianensis) word gebruik vir die behandeling van artritis, bursitis en dermsiektes. Navorsing het bevind dit val stowwe aan wat inflammasie veroorsaak.

Naarheid is soms ’n newe-effek by sekere mense.

Die bas kan as tee gedrink word – 1000 mg bas 230 mℓ water. Die ekstrak word ook in ’n kapsule verkoop – ’n normale dosis is 20-60 mg/dag.

Rissies
Meer as ’n eeu gelede het aptekers reeds capsaicin verkry van rissies. Dit beslaan omtrent 12% van ’n rissie. Die medisinale gebruik van rissies is al honderde jare deel van genesers se medisyne-tassie.

Capsaicin het ’n uitstekende ant-inflammatoriese werking. Dit kan egter die vel of spysverteringskanaal brand.

Let wel
Die gebruik van enige middels moet met jou dokter bespreek word.

(Die inligting in die dokument is gebaseer op ’n studie gepubliseer deur die Amerikaanse National Center for Biotechnology Information.)

26.7.21

Spysverteringstelsel

Die menslike liggaam bestaan uit verskeie geïntegreerde stelsels wat uit verskillende organe bestaan en saamwerk om die liggaam as ‘n eenheid te laat funksioneer.

Hooffunksie van die spysverteringstelsel
Verantwoordelik vir die afbreek van voedsel in klein oplosbare deeltjies/voedingstowwe wat in die bloedstroom geabsorbeer en na die liggaamselle vervoer word om deel te vorm van metaboliese prosesse (assimilasie).

Die spysverteringstelsel bestaan uit verskeie dele van die spysverteringskanaal (die lang gedraaide pypvormige struktuur wat by die mond begin en by die anus eindig).

Vier hoofprosesse vind in verskillende dele van die spysverteringskanaal plaas
1. Ingestie – vind plaas wanneer voedsel of drank deur die mond ingeneem word.
2. Vertering – proses waartydens groot voedseldele in klein oplosbare deeltjies afgebreek word vir opname deur die selmembrane tydens absorpsie (meganies= fisiese afbreek van voedsel; chemiese = biochemiese afbreek van voedsel met die hulp van ensieme)
3. Absorpsie – wanneer verteerde opgeloste voedseldeeltjies/voedingstowwe in die spysverteringskanaal tot in die omringende selle van die spysverteringskanaal beweeg vanwaar dit deur die bloedstroom na liggaamselle vervoer word.
4. Egestie – proses waartydens onverteerde of ongewenste deeltjies vanuit die spysverteringskanaal beweeg in die vorm van faeses (ook bekend as defekasie)

Komponente van die spysverteringskanaal

1. Mond en esofagus
▪ Voedsel word fyngekou en met speeksel gemeng (begin van meganiese en chemiese vertering). Fyngekoude voedsel word gesluk en beweeg dan deur die esofagus na die maag.
▪ Die sterk onwillekeurige spiere van die esofagus trek ritmies saam en verslap om voedsel na maag te forseer (die proses staan bekend as peristalse)
2.Maag
▪ Spieragtige sakagtige orgaan
▪ Skei verteringsap af wat ensieme en soutsuur bevat om voedsel chemies af te breek (vertering)
▪ Gedeeltelik verteerde voedsel vorm ‘n dik vloeistof genaamd chym.
3.Dunderm
▪ Verteringsappe wat deur kliere in die wande van dunderm afgeskei word is verantwoordelik vir die meeste vertering van chym tot in oplosbare voedingstowwe/deeltjies sodat absorpsie kan plaasvind.
4.Dikderm (kolon)
▪ Spieragtige buis wat strek vanaf die dunderm tot by die anus
▪ Dien as tydelike stoorplek vir onverteerde afvalmateriaal (faeces) bv. oortollige water, soute en onverteerbare vesel.
5.Rektum en anus
▪ Die oorblywende faeces beweeg deur tot in die rektum en dan na die anus vanwaar egestie plaasvind.

Gesondheidskwessies wat met die spysverteringstelsel verband hou
1.Ulkusse– veroorsaak deur skade aan die binnevoering van die mond, esofagus, maagwand of boonste deel van die dunderm. Maagsere kan ook deur bakterieë en sekere medikasie veroorsaak word en kan met antibiotika behandel word. Sielkundige stres en oormaat suurafskeiding kan ook tot maagsere lei.
2.Anorexia nervosa – een van vele eetsteurnisse wat veroorsaak word deur ‘n abnormale vrees vir gewigsopname wat daartoe lei dat mense hulself uithonger. Kan lei tot beenverdunning, nierskade, hartprobleme en selfs die dood.
3.Diarree – die oormatige uitskei van waterige faeces wat kan lei tot dehidrasie. Kan veroorsaak word deur bakteriële of virale infeksies. Simptome sluit in koors, braking en maagkrampe. Indien onbehandel, veral in jong kinders en babas, kan dit lei tot die dood.
4.Sirrose van die lewer.– beskadiging van lewerweefsel. Sommige hoofoorsake sluit in: kroniese alkoholisme, virale infeksie soos byvoorbeeld hepatitis B, C en D of vetlewersiekte wat deur oorgewig of diabetes veroorsaak word.

28.6.21

Ingeslukte voorwerpe

Dis veral klein kindertjies wat geneig is om vreemde voorwerpe in te sluk. Voorbeelde is spelde, muntstukke en knope. Onthou om klein voorwerpe buite hulle bereik te hou.

Gladde voorwerpe sal gewoonlik maklik deur die ingewande beweeg. Skerp voorwerpe kan egter verstikking veroorsaak of die ingewande beskadig.

In beide gevalle moet die persoon na die hospitaal geneem word.

MOET NIE DIE PERSOON IETS PER MOND GEE NIE.

6.11.17

Brokkoli ís goed vir jou

Daar is slegte nuus vir almal wat brokkoli haat. Dié groente is baie goed vir jou dermkanaal.

Volgens navorsers aan Penn State in Amerika begin baie van ons probleme in die dermkanaal, wat kan lei tot erger aandoenings soos artritis, hartsiektes en kanker. Deur jou maag en dermkanaal gesond te hou gee jy ’n groot stap na ’n goeie gesonde liggaam. Hiervoor moet die dermkanaal goeie weerstand kan bied teen gifstowwe en ander skadelike mikroörganismes.

Daar is ’n reseptor in die dermkanaal wat die liggaam se reaksie op skadelike stowwe reguleer. Navorsing aan Penn State het getoon dat wanneer ’n komponent van brokkoli met die reseptor verbind verbeter dit die vermoë van die reseptor om die dermkanaal gesond te hou. Dit is veral ’n goeie teenvoeter vir inflammasie, wat kanker en Crohn se siekte tot gevolg kan hê. Deur gewoon gereeld brokkoli te eet verbeter jy jou dermkanaal se gesondheid.

Spruitkool en blomkool het soortgelyke eienskappe as brokkoli.

21.8.17

Maagkanker

Daar is 4 faktore wat jou kanse vergroot om maagkanker te ontwikkel:

1. As jy deel van die A-bloedgroep is.
2. As jy geneig is om maagsere te ontwikkel.
3. As jou dieet nie genoeg vrugte en groen en geel groente bevat nie.
4. As jy te veel sout eet.

11.11.13

'n Appel 'n dag

Daar is verskeie redes om 'n appel 'n dag deel van jou dieet te maak:

- Appels is ryk aan vesel. Dié vesel help om maagdermprobleme te verminder en dit help met spysvertering.

- Appels het 'n lae glisemiese indeks (GI) wat help met die stadige vrystelling van suiker in die bloedstroom. So help dit om insulienvlakke te beheer. Appels is dus 'n belangrike vrug indien jy aan suikersieke ly.

- Die pektien in appels verlaag cholesterol.

- Appels bring 'n ontgiftigingseffek mee wat help om van swaarmetale in die liggaam ontslae te raak.

- Die kalium in appels versterk die hart.

- Appels verminder die risiko verbonde aan asma.

- Appels versterk die immuunstelsel, omdat dit vitamien A, C, bioflavonoïede en spoorelemente bevat. Dit help dus ook om kanker te beveg.