Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Koors. Show all posts
Showing posts with label Koors. Show all posts

27.6.23

Koors

Koors is ’n styging in liggaamstemperatuur. Dit is ’n simptoom en nie ’n siekte nie. Koors help die liggaam om op die verdediging te gaan deur die aktiwiteit van die immuniteitstelsel te verhoog en meer witbloedliggaampies word gevorm wat die infeksie kan aanval. Jy hoef jou nie veel te bekommer oor koors onder 38ºC nie, maar kinders kan wel koorsstuipe kry by hierdie temperatuur. Bly in die bed as jy koors het.

Gebruik ’n koue, nat kompres met suurlemoen of appelasyn om ´n hoë koors te beheer, maar nie as die pasiënt koud kry nie. Drink baie vloeistowwe en ’n louwarm sponsbad kan ook help.

Spreek jou dokter indien dit gepaard gaan met ernstige bewing, rukbewegings, klappertand of indien dit wissel tussen kouekoors en sweetaanvalle.

bydrae: Barbara Pelser

Boereraat:

Volwassenes kan 10 tot 30 druppels antimoonwyn in kanferwater gegee word 3 of 4 keer per dag. Die laaste dosis met slaaptyd. Kinders kan ’n dosis van 5 tot 10 druppels gegee word.

♦♦♦

Drink suikerwater vir kouekoors.

♦♦♦

Laat die persoon bad in louwarm water met 2 koppies asyn by.

♦♦♦

Maak ’n handdoek nat met ’n mengsel van louwarm water en asyn. Plaas die handdoek/e op die persoon se lyf en kop. Herhaal die proses wanneer die handdoek koud is.

♦♦♦

Meng 15 mℓ brandewyn, 30 mℓ kookwater en ’n mespunt sout. Gee 20 mℓ elke 15 minute – slegs vir volwassenes.

♦♦♦

Om ’n kind se koors te breek, gooi twee koppies bruin asyn in baie lou badwater en spons die kind aanhoudend af. Dit kan net so effektief wees om mee te sponsbad in die bed as die kind te siek is om in die bad te sit.

27.3.23

Wat help vir kouekoors / koue koors?

Wat is kouekoors?

Kouekoors word gewoonlik veroorsaak wanneer ’n siekte die liggaam se temperatuur beïnvloed. Jou liggaam voel dat die temperatuur moet hoër wees en dit laat jou voel asof jy koud kry.
Dit word gewoonlik meegebring deur virale of bakteriële infeksies. Bakteriële infeksies word met antibiotika behandel, virale infeksies moet hul gang gaan.

Wat help vir kouekoors?

Daar is ’n paar dinge wat jy kan doen om jou simptome te verlig en beter te voel:
Bly gehidreer: Drink baie vloeistowwe, soos water, kruietee of warm sop, om te help om jou liggaam gehidreer te hou.
Rus: Kry baie rus om jou liggaam te help om die infeksie te beveg en energie te bespaar.
Oor-die-toonbank medikasie: Oor-die-toonbank pynstillers soos ibuprofen kan help om koors en ander simptome te verlig.
Stoom inaseming: As jy stoom uit ’n bak warm water of ’n warm stort inasem, kan dit help om benoudheid te verlig en asemhaling te vergemaklik.
Gorrel: Gorrel met warm soutwater. Dit kan help om 'n seer keel te verlig.
Bly warm: Hou jouself warm en gemaklik deur warm klere te dra en jouself met komberse toe te maak.
Vermy die verspreiding van die infeksie: Bedek jou mond en neus wanneer jy hoes of nies, en was jou hande gereeld om te verhoed dat die virus na ander versprei word.

As die volwassene se koors onder 38ºC bly hoef jy nie bekommerd te wees nie. Kinders kan egter koorsstuipe kry by hierdie temperatuur.
Kry mediese hulp indien die koors gepaard gaan met ernstige bewing, rukbewegings, klappertand of indien dit wissel tussen kouekoors en sweetaanvalle.



(Foto: Alex Greene)

6.2.23

Kruie vir kwale: Koors

Tee van suurlemoengras help om koors te verlig.

♦♦♦

Plaas 10 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Drink dit vir koors.

♦♦♦

Maak ’n badmengsel deur 40 g wildeals-blare te bedek met 2 liter kookwater. Laat dit staan vir 2 uur.
Gooi deur ’n sif en botteleer.
Voeg die mengsel by jou badwater om te help met koors. Jy kan die geaffekteerde plekke liggies daarmee afspons.

♦♦♦

’n Tee gemaak van kattekruid help vir koors.

♦♦♦

’n Tee gemaak van die blare van die koorsbossie help vir koors.

♦♦♦

Gee koue water om te drink en ’n bietjie komkommersap elke 2 minute.

♦♦♦

Neem ’n mespunt vol kremetart met ’n bietjie water vir koors.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

18.10.21

Natuurlike anti-inflammatoriese middels en medisyne - boererate bevestig deur die wetenskap

Die gebruik van nie-steroïdale medisyne word gereeld voorgeskryf, sonder voorskrif en op voorskrif. Die veiligheid van die langdurige gebruik daar van moet egter in ag geneem word. Natuurlike anti-inflammatoriese middels soos kruie en voedselaanvullings is veiliger oor die langtermyn en dikwels meer effektief.

Plantmateriaal word al duisende jare gebruik. Kruie medisyne word toenemend gewild vanweë hul relatief min newe-effekte. Daar is ongelukkig min gefundeerde inligting beskikbaar oor die middels en hul moontlike newe-effekte. Mens moet ook altyd seker maak die kwaliteit van die middel is van hoogstaande gehalte. Hier is ’n lys van ’n paar natuurlike anti-inflammatoriese middels waarvan die gebruik deur navorsing ondersteun word, insluitende die newe-effekte.

Lewertraan
Lewertraan word verkry deur die olie te pers uit die vars lewer van sekere vissoorte (kabeljou) Dit is ryk aan vitamiene D en A. Dit word gebruik vir die behandeling van die behandeling van spier-, skelet- en rugwerwel siektes. Daar is heelwat navorsing oor die gebruik daarvan vir neurodegeneratiewe siekte, artritis en depressie.

Newe-effekte kom gewoonlik voor as dit nie saam met maaltye geneem word nie. Die liggaam sal dan meer vet uitskei in die stoelgang en jy kan winde opbring. Lewertraan moet nie deur persone geneem word wat bloedverdunners gebruik nie.

Wit wilgerboom
Die bas van die wit wilgerboom is een van die oudste kruiemiddels vir pyn en ontsteking. Die gebruik daarvan dateer terug na die ou Egiptiese, Romeinse, Griekse en Indiese beskawings as ’n pynstillende en koorswerende middel. Die werking is soortgelyk aan aspirien.

Soos aspirien moet dit nie deur kinders gebruik word nie. Dit moet ook nie deur persone gebruik word met maagsere, swak beheerde diabetes, lewer- of nierversteurings of basies enige toestand wat wat vererger word deur aspirien nie.

’n Normale dosis 240 mg/dag.

Borrie
Borrie is ’n bekende anti-inflammatoriese middel. Chinese medisyne gebruik dit lank reeds as ’n anti-inflammatoriese middel, as behandeling vir spysverteringsprobleme en om wondgenesing te verbeter. Verskeie kliniese kliniese studies het reeds bevestig dit ’n uitstekende antioksidant is en ’n baie goeie anti-inflammatoriese en antineoplastiese effek het. Daar is ook navorsing wat toon dat dit heel moontlik ’n goeie behandeling is vir sistiese fibrose. Dit word ook voorgeskryf vir die behandeling van kolitis, chroniese neurodegeneratiewe siektes, artritis, kanker en natuurlik inflammasie.

Die newe-effekte is min, maar met langdurige gebruik kan dit maagpyn veroorsaak, en met baie hoë dosisse kan maagsere in uiterste gevalle voorkom. Moet dit liefs nie neem as jy bloedverdunners of hoë dosisse nie-steroïdale middels gebruik nie.

’n Normale dosis is 400-600 mg/dag.

Groen tee
Groen tee word lank reeds gebruik vir kardiovaskulêre probleme en kanker. Die gebruik daarvan in die behandeling van artritiese siektes as ’n anti-inflammatoriese middel is meer onlangs erken. Die aanhoudende gebruik daarvan kan maagirritasie meebring in sommige mense en die langdurige gebruik in hoë dosisse kan ’n allergiese reaksie meebring.

’n Normale dosis wanneer jy dit gebruik as tee is 3 tot 4 koppies per dag.

Denneboom
Die middel pycnogenol word verkry van die bas van die maritieme denneboom. Die bas word al meer as 2000 jaar gebruik as medisyne.

Dit word gebruik vir wondgenesing, skeurbuikbehandeling, die genesing van ulkusse, vir vaskulêre inflammasie en vir die verlaging van bloeddruk. Pycnogenolis een van die sterkste antioksidantverbindings wat tans aan ons bekend is. Dit is tot 100 keer sterker as vitamien E en verbeter die werking van vitamien C.

Die gebruik het weinig newe-effekte. Sommige mense se maag kan bietjie omgekrap raak. Diegene wat immuunonderdrukkers of kortikosteroïedmedisyne gebruik moet dit nie neem nie.

’n Normale dosis is 100-200 mg/dag.

Boomgom
Die aromatiese boomgom wat ons brand as wierook is ’n uitstekende anti-inflammatoriese middel. Dit word verkry van die Boswellia-familie bome.

Klinies word dit gebruik vir die behandeling van degeneratiewe en inflammatoriese gewrigsprobleme, byvoorbeeld artritis. Dit is veral effektief vir osteoartritis as dit saam met borrie gebruik word. Moontlike ewe-effekte sluit in maagprobleme, naarheid, sooibrand en diarree.

’n Ekstrak word verkry van die boomgom en ’n normale daaglikse dosis daarvan is 300-500 mg.

Druiwedoppe
Die middel resveratrol word verkry van verskeie plante. Die doppe van rooiwyn druiwe bevat die hoogste konsentrasies. Dit is algemeen beskikbaar as ’n voedselaanvulling.

Resveratrol is ’n anti-inflammatoriese anti-oksidant vir mens en dier. Meeste navorsing fokus op die neurologiese en kardiovaskulêre voordele, maar daar is ook navorsing oor die gebruik daarvan vir pyn as gevolg van artritis.

Katteklou
Die bas van ’n rankplant uit Peru genaamd katteklou (Uncaria tomentosa en Uncaria guianensis) word gebruik vir die behandeling van artritis, bursitis en dermsiektes. Navorsing het bevind dit val stowwe aan wat inflammasie veroorsaak.

Naarheid is soms ’n newe-effek by sekere mense.

Die bas kan as tee gedrink word – 1000 mg bas 230 mℓ water. Die ekstrak word ook in ’n kapsule verkoop – ’n normale dosis is 20-60 mg/dag.

Rissies
Meer as ’n eeu gelede het aptekers reeds capsaicin verkry van rissies. Dit beslaan omtrent 12% van ’n rissie. Die medisinale gebruik van rissies is al honderde jare deel van genesers se medisyne-tassie.

Capsaicin het ’n uitstekende ant-inflammatoriese werking. Dit kan egter die vel of spysverteringskanaal brand.

Let wel
Die gebruik van enige middels moet met jou dokter bespreek word.

(Die inligting in die dokument is gebaseer op ’n studie gepubliseer deur die Amerikaanse National Center for Biotechnology Information.)

19.7.21

Antimoonwyn

Antimoonwyn is tradisioneel gemaak deur wyn te laat staan in ’n houer gemaak van antimoon. Normaalweg word dit vir ten minste een dag gelos. As die suurinhoud van die wyn te hoog is en dit word te lank in die metaalhouer gelos kan dit giftig raak.

Hierdie preparaat kan gebruik word vir verkoue en koors en maak ook die slym los by hoesbuie. Volwassenes kan 10 tot 30 druppels in kanferwater drie of vier keer per dag neem met slaaptyd. Kinders kan ’n dosis van 5 tot 10 druppels gegee word.



9.4.10

Stuipe

My seuntjie kry stuipe as hy koors kry.

My dokter het vir my gesê dat as daai koors begin dan trek jy alles uit ... tot die doek en as jy lugversorging het dan sit jy dit aan of in die kar of ´n waaier al is dit in die middel van die winter want longontsteking kan hulle behandel maar nie breinskade nie ... stuipe is baie gevaarlik, dit versper die suurstof na die brein wat dan breinskade veroorsaak.

Sterkte ek weet wat dit is om ´n hele nag so by hulle onder lugversorging te sit en waak.

bydrae: Charnelle