Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

Showing posts with label Inflammasie. Show all posts
Showing posts with label Inflammasie. Show all posts

24.4.25

Klipsweet

Daar is opgetekende getuienis oor die gebruik van diereprodukte vir mediese behandeling in die Nama-kultuur wat amper 100 jaar terugdateer.

Laidler (1928) het die medisinale gebruik aangeteken van gedroogde ystervark maag (met die inhoud daarvan), gedroogde jakkalsnier, hiënamis, gedroogde akkedis, kankerkewer, gebrande volstruiseier (gemeng met vet) en dassie urine. Sommige van hierdie middels word steeds gebruik. Archer (1990) het opgemerk dat die diervet, rotssout, lewers van diere en die maaginhoud van ystervark steeds in Namakwaland (Leliefontein en die Richtersveld) gebruik word om “die krag van die medisyne te verbeter”.

Pappe (1847) het die term hyraceum gebruik vir 'n gewilde Kaapse middel wat vandag in Afrikaans algemeen bekend is as dassiepis. ’n Oulike alternatiewe naam daarvoor in Afrikaans is klipsweet.

Die dassie se gekonsentreerde urine ('n aanpassing om te oorleef in droë streke), wat gelos word op spesifieke plekke in rotsskeure, is tipies van die dier. Die dassie is ook ’n staat om te oorleef op aromatiese en harsagtige plantmateriaal, wat veroorsaak dat klipsweet ('n swarterige, teeragtige stof) ’n sterk, aromatiese en muskus reuk het. Dit kan met ouderdom gefossileer word en is chemies kompleks en veranderlik (Olsen et al., 2008).

Klipsweet kan geleidelik, deur die werking van reën en lug, omgeskakel word in salpeter (wit kaliumnitraat). Salpeter is tradisioneel in Europa gebruik as ’n diuretikum, ’n antipiretiese middel en as asma medisyne (Burger en Wachter, 1998).

Klipsweet word gebruik vir styfheid in die rug, rugpyn, maagpyn, epilepsie en senuweeprobleme (Pappe, 1847; Dykman, 1908; Kling, 1923; Laidler, 1928). Aftreksels en infusies word mondelings ingeneem as 'n teenmiddel vir enige tipe vergiftiging.

27.3.25

Inflammasie

Inflammasie is die reaksie van lewende weefsel op besmetting of beserings. Dit word gewoonlik gekenmerk daardeur dat die area warm voel, pyn, rooi lyk en of opswel. Dit vorm soms etter as dit ontsteek.

Wat medikasie sonder voorskrif betref kan jy iets koop wat ibuprofen bevat.

Boereraat:

'n Goeie natuurlike hulpmiddel is pynappelsap. Dit bevat die proteolitiese ensiem bromelien. Dit kom in heelwat tropiese vrugte voor en is 'n goeie teenvoeter vir inflammasie.

♦♦♦

Spyker balsem, waarvan die hoofbestanddeel terpentynolie is, kan gebruik word vir inflammasie.

4.3.25

Boegoe

Boegoe het natuurlike antibakteriële en anti-inflammatoriese eienskappe wat infeksies en inflammasie kan help voorkom. Dit ondersteun jou organe in die vinniger absorpsie van voedingstowwe, soos vitamien C, wat jou immuunstelsel versterk. Die hele gesin kan boegoe gebruik, en dit is veilig vir langdurige gebruik sonder enige newe-effekte.
Volg gerus die skakel om uit te vind wat jy alles met boegoe kan behandel:
Kruiegids

30.5.23

Kruie vir kwale: Boererate vir inflammasie

In die Willowmore-omgewing word die plakkie se blare gekook tot sag en dan fyngemaak. Die afgekoelde pasta word dan gebruik om inflammasie ekstern te behandel.

♦♦♦

Plaas skaafsels bas van ’n kiepersol (-boom) op die blare van ’n bloulelie en bind vas op seer spiere, spiere wat kramp of spiere met inflammasie.

♦♦♦

Voeg borrie gereeld by jou dieet, of drink dit sommer daagliks.

♦♦♦

Gebruik gemmer as 'n teenvoeter vir inflammasie.

♦♦♦

Gousblomblare kan gebruik word om inflammasie te behandel. Week ’n hand vol blomblare in ’n koppie warm water vir 15 minute. Laat dit dan afkoel en plaas dit in die yskas vir 30 minute. Week dan ’n waslap in die aftreksel en hou dit op die geaffekteerde plek vir 5 minute. Doen dit ’n paar keer elke dag.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

18.10.21

Natuurlike anti-inflammatoriese middels en medisyne - boererate bevestig deur die wetenskap

Die gebruik van nie-steroïdale medisyne word gereeld voorgeskryf, sonder voorskrif en op voorskrif. Die veiligheid van die langdurige gebruik daar van moet egter in ag geneem word. Natuurlike anti-inflammatoriese middels soos kruie en voedselaanvullings is veiliger oor die langtermyn en dikwels meer effektief.

Plantmateriaal word al duisende jare gebruik. Kruie medisyne word toenemend gewild vanweë hul relatief min newe-effekte. Daar is ongelukkig min gefundeerde inligting beskikbaar oor die middels en hul moontlike newe-effekte. Mens moet ook altyd seker maak die kwaliteit van die middel is van hoogstaande gehalte. Hier is ’n lys van ’n paar natuurlike anti-inflammatoriese middels waarvan die gebruik deur navorsing ondersteun word, insluitende die newe-effekte.

Lewertraan
Lewertraan word verkry deur die olie te pers uit die vars lewer van sekere vissoorte (kabeljou) Dit is ryk aan vitamiene D en A. Dit word gebruik vir die behandeling van die behandeling van spier-, skelet- en rugwerwel siektes. Daar is heelwat navorsing oor die gebruik daarvan vir neurodegeneratiewe siekte, artritis en depressie.

Newe-effekte kom gewoonlik voor as dit nie saam met maaltye geneem word nie. Die liggaam sal dan meer vet uitskei in die stoelgang en jy kan winde opbring. Lewertraan moet nie deur persone geneem word wat bloedverdunners gebruik nie.

Wit wilgerboom
Die bas van die wit wilgerboom is een van die oudste kruiemiddels vir pyn en ontsteking. Die gebruik daarvan dateer terug na die ou Egiptiese, Romeinse, Griekse en Indiese beskawings as ’n pynstillende en koorswerende middel. Die werking is soortgelyk aan aspirien.

Soos aspirien moet dit nie deur kinders gebruik word nie. Dit moet ook nie deur persone gebruik word met maagsere, swak beheerde diabetes, lewer- of nierversteurings of basies enige toestand wat wat vererger word deur aspirien nie.

’n Normale dosis 240 mg/dag.

Borrie
Borrie is ’n bekende anti-inflammatoriese middel. Chinese medisyne gebruik dit lank reeds as ’n anti-inflammatoriese middel, as behandeling vir spysverteringsprobleme en om wondgenesing te verbeter. Verskeie kliniese kliniese studies het reeds bevestig dit ’n uitstekende antioksidant is en ’n baie goeie anti-inflammatoriese en antineoplastiese effek het. Daar is ook navorsing wat toon dat dit heel moontlik ’n goeie behandeling is vir sistiese fibrose. Dit word ook voorgeskryf vir die behandeling van kolitis, chroniese neurodegeneratiewe siektes, artritis, kanker en natuurlik inflammasie.

Die newe-effekte is min, maar met langdurige gebruik kan dit maagpyn veroorsaak, en met baie hoë dosisse kan maagsere in uiterste gevalle voorkom. Moet dit liefs nie neem as jy bloedverdunners of hoë dosisse nie-steroïdale middels gebruik nie.

’n Normale dosis is 400-600 mg/dag.

Groen tee
Groen tee word lank reeds gebruik vir kardiovaskulêre probleme en kanker. Die gebruik daarvan in die behandeling van artritiese siektes as ’n anti-inflammatoriese middel is meer onlangs erken. Die aanhoudende gebruik daarvan kan maagirritasie meebring in sommige mense en die langdurige gebruik in hoë dosisse kan ’n allergiese reaksie meebring.

’n Normale dosis wanneer jy dit gebruik as tee is 3 tot 4 koppies per dag.

Denneboom
Die middel pycnogenol word verkry van die bas van die maritieme denneboom. Die bas word al meer as 2000 jaar gebruik as medisyne.

Dit word gebruik vir wondgenesing, skeurbuikbehandeling, die genesing van ulkusse, vir vaskulêre inflammasie en vir die verlaging van bloeddruk. Pycnogenolis een van die sterkste antioksidantverbindings wat tans aan ons bekend is. Dit is tot 100 keer sterker as vitamien E en verbeter die werking van vitamien C.

Die gebruik het weinig newe-effekte. Sommige mense se maag kan bietjie omgekrap raak. Diegene wat immuunonderdrukkers of kortikosteroïedmedisyne gebruik moet dit nie neem nie.

’n Normale dosis is 100-200 mg/dag.

Boomgom
Die aromatiese boomgom wat ons brand as wierook is ’n uitstekende anti-inflammatoriese middel. Dit word verkry van die Boswellia-familie bome.

Klinies word dit gebruik vir die behandeling van degeneratiewe en inflammatoriese gewrigsprobleme, byvoorbeeld artritis. Dit is veral effektief vir osteoartritis as dit saam met borrie gebruik word. Moontlike ewe-effekte sluit in maagprobleme, naarheid, sooibrand en diarree.

’n Ekstrak word verkry van die boomgom en ’n normale daaglikse dosis daarvan is 300-500 mg.

Druiwedoppe
Die middel resveratrol word verkry van verskeie plante. Die doppe van rooiwyn druiwe bevat die hoogste konsentrasies. Dit is algemeen beskikbaar as ’n voedselaanvulling.

Resveratrol is ’n anti-inflammatoriese anti-oksidant vir mens en dier. Meeste navorsing fokus op die neurologiese en kardiovaskulêre voordele, maar daar is ook navorsing oor die gebruik daarvan vir pyn as gevolg van artritis.

Katteklou
Die bas van ’n rankplant uit Peru genaamd katteklou (Uncaria tomentosa en Uncaria guianensis) word gebruik vir die behandeling van artritis, bursitis en dermsiektes. Navorsing het bevind dit val stowwe aan wat inflammasie veroorsaak.

Naarheid is soms ’n newe-effek by sekere mense.

Die bas kan as tee gedrink word – 1000 mg bas 230 mℓ water. Die ekstrak word ook in ’n kapsule verkoop – ’n normale dosis is 20-60 mg/dag.

Rissies
Meer as ’n eeu gelede het aptekers reeds capsaicin verkry van rissies. Dit beslaan omtrent 12% van ’n rissie. Die medisinale gebruik van rissies is al honderde jare deel van genesers se medisyne-tassie.

Capsaicin het ’n uitstekende ant-inflammatoriese werking. Dit kan egter die vel of spysverteringskanaal brand.

Let wel
Die gebruik van enige middels moet met jou dokter bespreek word.

(Die inligting in die dokument is gebaseer op ’n studie gepubliseer deur die Amerikaanse National Center for Biotechnology Information.)

4.10.21

Dieet ryk aan bloubessies bied baie voordele

Verskeie studies opgeneem in Journals of Gerontology, Series A: Biological Sciences and Medical Sciences toon dat ’n dieet ryk aan bloubessies verskeie voordele inhou.

Daar is reeds verskeie kere bevind dat bloubessies meer antioksidante bevat as ander gewilde vrugte. Boonop het dit anti-inflammatoriese eienskappe.

Een van die onlangse studies het bevind dat ’n koppie bloubessies per dag die bloedsomloop kan verbeter en dat dit sistoliese bloeddruk verminder.

’n Ander studie het bevind dat dit kan help om die geheue van ouer mense te verbeter en selfs van nut kan wees vir kinders met kognitiewe probleme.