Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Artritis. Show all posts
Showing posts with label Artritis. Show all posts

13.12.23

Artritis / Rumatoiede artritis

Artritis is inflammasie (pyn en swelling) in een of meer gewrigte. Sommige tipes artritis kan egter probleme veroorsaak in ander organe, byvoorbeeld in jou bors, oë of selfs jou vel.

Dit kan verband hou met verswakking van die immuunstelsel, wat moontlik die gevolg is van ´n allergie of virusinfeksie.

Lyers kla van pyn, swelling, styfheid, misvormings en/of verminderde beweeglikheid.

Rumatoïede artritis
Rumatoïede artritis kom voor wanneer die liggaam se immuunstelsel nie goed werk nie. Dit tas gewrigte, bene (veral in die hande en voete) en organe aan.

Simptome sluit in 'n siek moeë gevoel en koors.

Osteoartritis
Osteoartritis is die algemeenste vorm van artritis. Dit kom gewoonlik saam met ouderdom en tas gewoonlik die vingers, knieë en heupe aan.

Jou dieet vir artritis

  • Drink gereeld Omega 3, 6 & 9 olie kapsules sowel as ysterpille.
  • Eet geel voedselsoorte: Appelkose, spanspek, pomelo, lemoene, suurlemoene, mangos, papajas, perskes, pynappels, wortels, pampoen, rooi soetrissies botterskorsies, suikermielies, nartjies en geel soetrissies. Die oranje pampoen en rooi soetrissies, lemoensap, komkommersap, wortels en waatlemoen kan ook help artritis voorkom.
  • Eet gereeld okkerneute, sojabone en vetterige vis.



Boereraat:

Meng 2 koppies Quaker Oats en 1 koppie water in 'n bak en verwarm vir 1 minuut in die mikrogolfoond. Laat effens afkoel en smeer die mengsel op jou hande vir erge artritis pyn. Dit streel en bring verligting.

♦♦♦

Probeer twee teelepels appelasyn en 'n bietjie heuning in 'n glas water, eerste ding in die oggend en weer saam met elke ete.

♦♦♦

Drink twee teelepels lewertraanolie vir vyf dae voor slapenstyd elke aand.

♦♦♦

Party mense sê koperarmbande help.

♦♦♦

Sien ook Kruie vir Kwale: Artritis

3.8.22

Kruie vir Kwale: Artritis

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n paar blare van die medisynebossie en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n sif en drink vir hoes, verkoue en artritis.

♦♦♦

Was die aangetaste dele van jou lyf met bosboegoe-blare en die fyngedrukte bolle van wildeknoffel.

♦♦♦

Meng 1 houer Camphor-room met 10 Grandpa-poeiers en smeer gereeld waar dit pyn.

♦♦♦

Neem 'n 2 liter bottel water en meng met 6 eetlepels engelse sout en die sap van 10 suurlemoene – drink 3 per dag.

♦♦♦

Meng 'n 2 liter bottel water met 2 eetlepels heuning en 2 eetlepels kaneel, 1 eetlepel borrie en 1 eetlepel gemmer en drink 3 maal per dag (hou in yskas).

♦♦♦

Duiwelsklou-tee help vir artritis.

♦♦♦

Probeer 'n kombinasie van selderysaad en aloe vera (aalwyn)tablette.

♦♦♦

Smeer die pynlike areas in met arnikaolie.

♦♦♦

Gooi jenewer en laventelolie in warm water - twee druppels elk. Neem 'n waslap en trek oor die oppervlak sodat die olielagie op die waslap kom. Plaas oor hande met 'n handdoek oor en 'n warmwaterbottel bo- op vir 30 minute.

♦♦♦

Kamille en laventel kan verligting bied van artritis. Week jou hande in louwarm water met 2 druppels kamille-olie en 2 druppels laventelolie by.

♦♦♦

Meng 'n paar druppels jenewer- en sipresolie en vryf geswelde areas daarmee in vir verligting.

♦♦♦

Maak 'n smeermiddel van twee druppels elk jenewer, swartpeper en kamille olie, vyf druppels laventel en tien teelepels olyfolie.

♦♦♦

Die Tswana-mense hang die bolle van die blouberglelie op om uit te droog. Hulle moet 5 maande lank hang. Die bolle word dan verpoeier en gesmeer aan die rug en polse om dit te help herstel.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

18.10.21

Natuurlike anti-inflammatoriese middels en medisyne - boererate bevestig deur die wetenskap

Die gebruik van nie-steroïdale medisyne word gereeld voorgeskryf, sonder voorskrif en op voorskrif. Die veiligheid van die langdurige gebruik daar van moet egter in ag geneem word. Natuurlike anti-inflammatoriese middels soos kruie en voedselaanvullings is veiliger oor die langtermyn en dikwels meer effektief.

Plantmateriaal word al duisende jare gebruik. Kruie medisyne word toenemend gewild vanweë hul relatief min newe-effekte. Daar is ongelukkig min gefundeerde inligting beskikbaar oor die middels en hul moontlike newe-effekte. Mens moet ook altyd seker maak die kwaliteit van die middel is van hoogstaande gehalte. Hier is ’n lys van ’n paar natuurlike anti-inflammatoriese middels waarvan die gebruik deur navorsing ondersteun word, insluitende die newe-effekte.

Lewertraan
Lewertraan word verkry deur die olie te pers uit die vars lewer van sekere vissoorte (kabeljou) Dit is ryk aan vitamiene D en A. Dit word gebruik vir die behandeling van die behandeling van spier-, skelet- en rugwerwel siektes. Daar is heelwat navorsing oor die gebruik daarvan vir neurodegeneratiewe siekte, artritis en depressie.

Newe-effekte kom gewoonlik voor as dit nie saam met maaltye geneem word nie. Die liggaam sal dan meer vet uitskei in die stoelgang en jy kan winde opbring. Lewertraan moet nie deur persone geneem word wat bloedverdunners gebruik nie.

Wit wilgerboom
Die bas van die wit wilgerboom is een van die oudste kruiemiddels vir pyn en ontsteking. Die gebruik daarvan dateer terug na die ou Egiptiese, Romeinse, Griekse en Indiese beskawings as ’n pynstillende en koorswerende middel. Die werking is soortgelyk aan aspirien.

Soos aspirien moet dit nie deur kinders gebruik word nie. Dit moet ook nie deur persone gebruik word met maagsere, swak beheerde diabetes, lewer- of nierversteurings of basies enige toestand wat wat vererger word deur aspirien nie.

’n Normale dosis 240 mg/dag.

Borrie
Borrie is ’n bekende anti-inflammatoriese middel. Chinese medisyne gebruik dit lank reeds as ’n anti-inflammatoriese middel, as behandeling vir spysverteringsprobleme en om wondgenesing te verbeter. Verskeie kliniese kliniese studies het reeds bevestig dit ’n uitstekende antioksidant is en ’n baie goeie anti-inflammatoriese en antineoplastiese effek het. Daar is ook navorsing wat toon dat dit heel moontlik ’n goeie behandeling is vir sistiese fibrose. Dit word ook voorgeskryf vir die behandeling van kolitis, chroniese neurodegeneratiewe siektes, artritis, kanker en natuurlik inflammasie.

Die newe-effekte is min, maar met langdurige gebruik kan dit maagpyn veroorsaak, en met baie hoë dosisse kan maagsere in uiterste gevalle voorkom. Moet dit liefs nie neem as jy bloedverdunners of hoë dosisse nie-steroïdale middels gebruik nie.

’n Normale dosis is 400-600 mg/dag.

Groen tee
Groen tee word lank reeds gebruik vir kardiovaskulêre probleme en kanker. Die gebruik daarvan in die behandeling van artritiese siektes as ’n anti-inflammatoriese middel is meer onlangs erken. Die aanhoudende gebruik daarvan kan maagirritasie meebring in sommige mense en die langdurige gebruik in hoë dosisse kan ’n allergiese reaksie meebring.

’n Normale dosis wanneer jy dit gebruik as tee is 3 tot 4 koppies per dag.

Denneboom
Die middel pycnogenol word verkry van die bas van die maritieme denneboom. Die bas word al meer as 2000 jaar gebruik as medisyne.

Dit word gebruik vir wondgenesing, skeurbuikbehandeling, die genesing van ulkusse, vir vaskulêre inflammasie en vir die verlaging van bloeddruk. Pycnogenolis een van die sterkste antioksidantverbindings wat tans aan ons bekend is. Dit is tot 100 keer sterker as vitamien E en verbeter die werking van vitamien C.

Die gebruik het weinig newe-effekte. Sommige mense se maag kan bietjie omgekrap raak. Diegene wat immuunonderdrukkers of kortikosteroïedmedisyne gebruik moet dit nie neem nie.

’n Normale dosis is 100-200 mg/dag.

Boomgom
Die aromatiese boomgom wat ons brand as wierook is ’n uitstekende anti-inflammatoriese middel. Dit word verkry van die Boswellia-familie bome.

Klinies word dit gebruik vir die behandeling van degeneratiewe en inflammatoriese gewrigsprobleme, byvoorbeeld artritis. Dit is veral effektief vir osteoartritis as dit saam met borrie gebruik word. Moontlike ewe-effekte sluit in maagprobleme, naarheid, sooibrand en diarree.

’n Ekstrak word verkry van die boomgom en ’n normale daaglikse dosis daarvan is 300-500 mg.

Druiwedoppe
Die middel resveratrol word verkry van verskeie plante. Die doppe van rooiwyn druiwe bevat die hoogste konsentrasies. Dit is algemeen beskikbaar as ’n voedselaanvulling.

Resveratrol is ’n anti-inflammatoriese anti-oksidant vir mens en dier. Meeste navorsing fokus op die neurologiese en kardiovaskulêre voordele, maar daar is ook navorsing oor die gebruik daarvan vir pyn as gevolg van artritis.

Katteklou
Die bas van ’n rankplant uit Peru genaamd katteklou (Uncaria tomentosa en Uncaria guianensis) word gebruik vir die behandeling van artritis, bursitis en dermsiektes. Navorsing het bevind dit val stowwe aan wat inflammasie veroorsaak.

Naarheid is soms ’n newe-effek by sekere mense.

Die bas kan as tee gedrink word – 1000 mg bas 230 mℓ water. Die ekstrak word ook in ’n kapsule verkoop – ’n normale dosis is 20-60 mg/dag.

Rissies
Meer as ’n eeu gelede het aptekers reeds capsaicin verkry van rissies. Dit beslaan omtrent 12% van ’n rissie. Die medisinale gebruik van rissies is al honderde jare deel van genesers se medisyne-tassie.

Capsaicin het ’n uitstekende ant-inflammatoriese werking. Dit kan egter die vel of spysverteringskanaal brand.

Let wel
Die gebruik van enige middels moet met jou dokter bespreek word.

(Die inligting in die dokument is gebaseer op ’n studie gepubliseer deur die Amerikaanse National Center for Biotechnology Information.)

23.8.21

Reaktiewe artritis / Reiter se sindroom

Reaktiewe artritis is ’n vorm van artritis wat die gewrigte, oë, uretra en die vel aantas. Gepaardgaande swelling in die gewrigte kom voor.

Hierdie tipe artritis word veroorsaak deur verskeie tipe bakterieë. Die artritis is nie aansteeklik nie, maar die bakterieë kan deur seksueel kontak en besmette voedsel oorgedra word.

Jou dokter moet liefs die behandeling voorskryf.

19.7.17

Outo-immuun siektes

’n Groot aantal mense het een of ander stadium van hul lewens ’n outo-immuun siekte onder lede.

’n Outo-immuun siekte ontstaan wanneer ’n mens se immuniteitstelsel sukkel om te onderskei tussen die liggaam se eie selle en vreemde middels. Dit het ’n inflammatoriese reaksie tot gevolg gemik op die liggaam se eie selle. Ons sien dit in spesifieke aanvalle, soos byvoorbeeld met diabetes, of algemene immunologiese probleme, soos byvoorbeeld lupus. Artritis is nog ’n voorbeeld van ’n outo-immuun siekte.

’n Gesonde leefstyl en eetgewoontes is uiters belangrik vir ’n gesonde immuniteitstelsel.

9.5.16

Lae-koolhidraat, hoë-vet dieet gevaarlik en lei tot gewigstoename

Onlangse navorsing het aan die lig gebring dat ’n lae-koolhidraat, hoë-vet dieet in som min as 8 weke gesondheidskomplikasies kan hê en ’n vinnige gewigstoename tot gevolg kan hê.

Die bevindinge het gelei daartoe dat navorsers aan die Universiteit van Melbourne in Australië ’n waarskuwing uitreik oor sogenaamde kitsdiëte, byvoorbeeld banting en die paleo-dieet, waarvoor daar min of geen wetenskaplike bewyse is nie. Volgens die span is hierdie tipe diëte veral nie geskik vir mense wat oorgewig is en nie veel oefening kry nie.

Die ongelukkige situasie wat tans bestaan is dat die publiek stories in die massamedia glo, veral deur bekende persoonlikhede wat diëte verkoop wat nie gerugsteun word deur ordentlike navorsing nie. En vir mense met pre-diabetes of diabetes, kan die lae-koolhidraat, hoë-vet dieet veral riskant wees.

Die belangrike deel van die wetenskaplikes se waarskuwing is dat jy altyd professionele advies moet inwin om gewig te beheer en altyd streef na ’n dieet gerugsteun deur kliniese bewyse.

Die wetenskaplikes het gesien hoe muise op die diëte se glukose onverdraagsaamheid vererger het, en hul insulienvlakke gestyg het in 8 weke op die dieet. Die muise se gewig het uiteindelik met 15% van hul liggaamsgewig toegeneem en hul vet het verdubbel. In perspektief gestel, vir 'n 100 kilogram persoon, is dit die ekwivalent van ’n 15 kilogram toename in gewig in 2 maande. Hierdie vlak van gewigstoename sal jou bloeddruk laat verhoog, en verhoog jou risiko van angs en depressie. Dit kan ook been-probleme en artritis veroorsaak. Vir iemand wat reeds oorgewig is, sal hierdie diëte net bloedsuikervlakke en insulienvlakke uiteindelik verhoog. Dit kan jou daadwerklik meer vatbaar maak vir diabetes.



(foto Universiteit van Melbourne)

9.5.11

Psoriatiese artritis

Die verskil tussen psoriatiese artritis en ander vorms van artritis is dat die hele vinger of toon swel, nie net die area om die gewrig nie. Die siekte hou verband met die velsiekte psoriase.

Pynmedikasie en inflammatoriese medisyne word normaalweg voorgeskryf.

Sien ook Kruie vir Kwale: Artritis