Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Kolonkanker. Show all posts
Showing posts with label Kolonkanker. Show all posts

1.11.21

Oefening het voordele vir pasiënte met gevorderde kolorektale kanker

Pasiënte met gevorderde kolorektale kanker wat matige oefening doen, terwyl hulle chemoterapie ondergaan het, kan die vordering van die kanker en minder ernstige newe-effekte van die behandeling vertraag.

Selfs oefening met ’n lae intensiteit, soos om vier of meer uur per week te loop, hou verband met ’n afname van byna 20 persent in kolorektale kanker of die dood weens die kanker. Die studie is gepubliseer in die Journal of Clinical Oncology.

Lees ook Oefening help in stryd teen kolonkanker.

30.11.20

Oefening help in stryd teen kolonkanker

Oefening kan ’n rol speel in die vermindering van die groei van dikderm-kankerselle volgens navorsing gepubliseer in The Journal of Physiology. Die studie het bevind dat die groei van kankerselle ingekort word na ’n kort sessie van hoë intensiteit interval-oefening (die sogenaamde HIIT-oefeninge).

Die fokus op oefening was lank reeds op die positiewe veranderinge in die liggaam wat plaasvind na ’n lang periode van oefening. Hierdie bevindinge dui egter daarop dat ’n enkele HIIT-sessie, wat bestaan uit ’n oefenregime met kort, hoë energie-sarsies, ook belangrik is.

Dit dui daarop dat herhaalde blootstelling aan oefening kan bydra tot die stryd teen kanker. Hierdie bevindings versterk die belangrikheid van gereelde oefening en die handhawing van ’n aktiewe leefstyl.

01 November 2021 - Daar is nog nuwe navorsing wat bevind het dat oefening help vir kolonkanker / kolorektale kanker.

6.4.20

Gesonde dieet beteken ’n laer risiko vir kanker

’n Dieet wat gesonde eetgewoontes sowel as fisieke aktiwiteit aanmoedig en alkoholverbruik ontmoedig, hou verband met ’n verminderde algehele kankerrisiko, sowel as laer bors-, prostaat- en kolorektale kanker, volgens navorsers aan die Franse nasionale instituut vir gesondheid en mediese navorsing. Vogens die instituut is voeding en fisieke aktiwiteit veranderlike leefstyl-faktore wat die risiko vir kanker kan verminder.

Volgens beraming kan 35% van alle borskanker en 45% van kolonkanker verhoed word met ’n gesonde dieet.

Die studie is gepubliseer in die joernaal Cancer Research.

2.4.19

Verband tussen rooivleis en kolonkanker

Tydens ’n ondersoek na die rol van rooivleis, pluimvee, vis en ’n vegetariese dieet in kolonkanker het navorsers van Leeds Universiteit bevind dat diegene wat rooivleis eet meer geneig is om kanker te ontwikkel in die onderste gedeelte van die kolon.

Dit is nie die eerste navorsing wat bevind dat rooivleis ’n prominente rol speel in kolonkanker nie.

Leeds Universiteit se navorsing is gepubliseer in die International Journal of Cancer. Volgens die universiteit is meer werk nodig op die gebied, maar dis belangrik dat diegene met ’n geskiedenis van kolonkanker in die familie kennis neem van hierdie bevinding.

15.8.18

Verband tussen verwerkte voedsel en kanker

Daar bestaan ’n moontlike verband tussen hoogs verwerkte voedsel en kanker.

Navorsing hieroor duur voort, maar die bevindinge van ’n studie vroeër vanjaar dui daarop dat kanker al hoe meer van ’n epidemie kan word soos die inname van hoogs verwerkte voedsel toeneem.

Daar word veral vinger gewys na gaskoeldrank, graanvlokkies wat met suiker bestrooi word, kitskos en verwerkte vleisprodukte wat baie vet, sout en suiker bevat. In ontwikkelde lande kan dit tot 50% van ’n daaglikse dieet opmaak. Heelwat navorsing het al ’n verband gevind tussen hierdie voedsel en hoër risiko’s van vetsug, hoë bloeddruk en cholesterolvlakke.

Behalwe kanker oor die algemeen het die nuwe navorsing veral gekonsentreer op bors-, prostaat- en kolonkanker. Die resultate toon dat ’n 10% toename van hoogs verwerkte kosse in die dieet geassosieer word met stygings van 12% in die risiko van algehele kanker en 11% in die risiko van borskanker.

Daar is nie ’n verband gevind tussen minder verwerkte kosse (soos ingemaakte groente, kaas en varsgebakte brood) en die risiko van kanker nie, terwyl die verbruik van vars of minimaal verwerkte kosse (vrugte, groente, bone, rys, pasta, eiers, vleis , vis en melk) geassosieer is met laer risiko’s van kanker en borskanker.

Die studie is gepubliseer in The BMJ.

6.11.17

Brokkoli ís goed vir jou

Daar is slegte nuus vir almal wat brokkoli haat. Dié groente is baie goed vir jou dermkanaal.

Volgens navorsers aan Penn State in Amerika begin baie van ons probleme in die dermkanaal, wat kan lei tot erger aandoenings soos artritis, hartsiektes en kanker. Deur jou maag en dermkanaal gesond te hou gee jy ’n groot stap na ’n goeie gesonde liggaam. Hiervoor moet die dermkanaal goeie weerstand kan bied teen gifstowwe en ander skadelike mikroörganismes.

Daar is ’n reseptor in die dermkanaal wat die liggaam se reaksie op skadelike stowwe reguleer. Navorsing aan Penn State het getoon dat wanneer ’n komponent van brokkoli met die reseptor verbind verbeter dit die vermoë van die reseptor om die dermkanaal gesond te hou. Dit is veral ’n goeie teenvoeter vir inflammasie, wat kanker en Crohn se siekte tot gevolg kan hê. Deur gewoon gereeld brokkoli te eet verbeter jy jou dermkanaal se gesondheid.

Spruitkool en blomkool het soortgelyke eienskappe as brokkoli.

6.9.17

Kolonkanker

Kolonkanker kom meer onder vrouens as mans voor. Volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) kry een uit elke 97 mans en een uit elke 162 vroue kolonkanker. Wêreldwyd is dit die derde algemeenste soort kanker.

Kolonkanker ontstaan weens die abnormale groei van selle. In ’n klein persentasie van die gevalle gebeur dit as gevolg van genetiese afwykings. Algemene oorsake is rooi- en geprosesseerde vleis en min vesel. Ander risikofaktore sluit in leefstyl, ouderdom, geslag, alkohol, rook en ’n gebrek aan oefening.

Tekens en simptome sluit in bloeding in die stoelgang, ’n verandering in toiletgewoontes, gewigsverlies en ’n langdurige gevoel van moegheid, en naarheid en vomering in mense ouer as 50 jaar.

9.9.13

Baie belangrike verskille tussen mans en vrouens

Onlangse navorsing het bevind dat daar belangrike verskille is tussen mans en vrouens met betrekking tot kardiovaskulêre probleme, kanker, lewersiektes, osteoporose en op die gebied van farmakologie.

Die waarde van hierdie navorsing lê daarin dat ons maar nog min weet oor die verskillende maniere wat mans en vrouens hierdie siektes ervaar. Die rede is dat die afgelope 40 jaar se navorsing aanvanklik net op mans gefokus het.

Die simptome van kardiovaskulêre probleme lyk aansienlik anders by vrouens. Drukking op die bors en pyn in die borskas wat na die linkerarm versprei is algemene simptome by mans vir 'n hartaanval. Die standaard simptome by vrouens is egter naarheid en maagpyn wat baie laag voorkom. Boonop is sulke aanvalle gewoonlik meer ernstig by 'n vrou.

Kolonkanker is die tweede algemeenste kanker by mans en vrouens. Dit kom egter later in die leeftyd van 'n vrou voor. Die kankergewasse kom ook normaalweg op 'n ander plek voor as die van mans en dit reageer beter op spesifieke chemoterapie. Die geslagte reageer oor die algemeen anders op chemoterapie vir kolonkanker, longkanker en velkanker.

Primêre biliêre sirrose is 'n lewersiekte wat veral voorkom by vrouens. Daar is bevind dat vir hierdie tipe sirrose, asook kroniese hepatitis C, die vrou se genetiese samestelling en haar veranderende hormoonvlakke, haar veral vatbaar maak. Dit geld ook vir osteoporose, maar veroorsaak dat ons osteoporose as 'n vroue-siekte sien. Osteoporose kom ook by mans voor. Dit word gereeld misgekyk met die gevolg dat die sterftesyfer vir mans met osteoporose hoër is as vir vroeuens.

Wat die farmakologie betref is die uitwerking van aspiriene en ander substansies getoets op mans en vrouens. Daar is bevind dat die newe-effekte bepaal word deur faktore soos liggaamsgrootte, die tyd wat dit die liggaam neem om dit te absorbeer of uit te skei en hormonale vlakke. Dit is dus nodig dat 'n voorskrif die pasiënt se geslag in ag neem.

Die navorsing is gepubliseer in die joernaal Clinical Chemistry and Laboratory Medicine en is gedoen onder aanvoering van Giovannella Baggio.