Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Kanker. Show all posts
Showing posts with label Kanker. Show all posts

7.6.23

Kruie vir kwale: Kanker

Gebruik 3 g bloublomsalie, 3 g kankerbossie en 3 g wildedagga om ’n tee te maak.
Laat dit vir 5 minute trek voor jy dit deur ’n siffie gooi.
Drink dit vir kanker.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

27.12.21

Druiwestingels help om prostaatkanker te onderdruk

Tydens die produksie van wyn word druiwestingels normaalweg weggegooi. Wetenskaplikes aan die Shinshu-universiteit in China het verbindings binne druiwestingelekstrak bestudeer en beduidende anti-kankeraktiwiteit op tumorselle gevind.

In hierdie studie is verbindings van druiwestingels geïsoleer, gekarakteriseer en geëvalueer vir hul antitumoraktiwiteite. Daar is gevind dat veral een van die verbindings die indringende aktiwiteit van die kankeragtige prostaatselle onderdruk het. Die verbinding het ook die geen wat kanker bevorder onderdruk.

6.12.21

Gebruik uie en knoffel teen borskanker

Uie en knoffel is ’n goeie resep om die risiko van borskanker te verminder.

Dit is die bevinding van ’n studie gelei deur navorsers van die Universiteit van Buffalo (VSA) en die Universiteit van Puerto Rico. Dit is die eerste studie om die verband tussen uie- en knoffelverbruik en borskanker te ondersoek. Die studie is in die joernaal Nutrition and Cancer gepubliseer.

Die idee vir die studie het gespruit uit vorige wetenskaplike bewyse wat toon dat die eet van uie en knoffel ’n beskermende effek teen kanker kan hê. Die unieke chemiese verbindings van uie en knoffel het ’n antikarsinogeniese effek by mense, sowel as diere.

22.11.21

Sampioene kan help om die risiko van prostaatkanker te verlaag

’n Onlangse studie gepubliseer in die International Journal of Cancer het ’n omgekeerde verband gevind tussen sampioenverbruik en die ontwikkeling van prostaatkanker onder middeljarige en bejaarde mans. Dit dui daarop dat gereelde sampioeninname kan help om prostaatkanker te voorkom.

1.11.21

Oefening het voordele vir pasiënte met gevorderde kolorektale kanker

Pasiënte met gevorderde kolorektale kanker wat matige oefening doen, terwyl hulle chemoterapie ondergaan het, kan die vordering van die kanker en minder ernstige newe-effekte van die behandeling vertraag.

Selfs oefening met ’n lae intensiteit, soos om vier of meer uur per week te loop, hou verband met ’n afname van byna 20 persent in kolorektale kanker of die dood weens die kanker. Die studie is gepubliseer in die Journal of Clinical Oncology.

Lees ook Oefening help in stryd teen kolonkanker.

29.3.21

Meer rooivleis verhoog jou risiko vir dood

Die verhoogde inname van rooivleis, veral verwerkte rooivleis, hou verband met ’n verhoogde risiko vir dood. Dit was die bevinding van ’n groot Amerikaanse studie gepubliseer in die joernaal The BMJ.

’n Hoë inname van rooivleis, soos beesvleis, varkvleis en lamsvleis, is reeds verbind aan ’n hoër risiko vir tipe 2-diabetes, kardiovaskulêre siektes, sekere soorte kanker en voortydige dood.

’n Span navorsers in die VSA en China het nou gekyk na die verband tussen veranderinge in die verbruik van rooivleis gedurende ’n tydperk van agt jaar met sterftes gedurende die volgende agt jaar, vanaf 1986 tot die einde van 2010. Hulle het data gebruik van meer as 90 000 Amerikaanse gesondheidswerkers vir die studie.

Persone met ’n toename in die inname van rooivleis het ’n 10% hoër risiko vir dood gehad. ’n Toename in die gebruik van verwerkte rooivleis soos spek, worsies en salami het die risiko verhoog tot 13%. Hierdie toenames was grotendeels konsekwent in verskillende ouderdomsgroepe, vlakke van fisieke aktiwiteit, dieetkwaliteit, rook en alkoholgebruik.

Oor die algemeen is die vermindering van rooivleisinname en die eet van meer volgraan, groente of ander proteïenvoedsel soos pluimvee sonder vel, eiers en vis geassosieer met ’n laer risiko vir dood onder mans en vroue.

1.2.21

Nuwe oefen-riglyne vir mense met kanker

’n Dekade-oue aanbeveling vir mense met kanker om baie stadig met oefening te begin is onlangs vervang met nuwe riglyne wat ’n pasgemaakte individuele oefenprogram aanbeveel, insluitend hoë-intensiteit.

Volgens navorsers behoort oefenprogramme volgens kankerlyers se persoonlike vermoëns saamgestel word.

Meer inligting hieroor is gepubliseer in die Journal of Science and Medicine in Sport.

18.1.21

Vyf dinge wat jy moet weet van melanoom

Melanoom is ’n kwaadaardige velgewas wat soos ’n swart moesie begin en vinnig vererger.
• Sonblootstelling is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van melanoom, en dit kom dus gereeld voor op die gesig, nek, arms en bolyf, waar blootstelling aan die son algemeen voorkom.
• Melanoom kan ook voorkom in gebiede met minimale blootstelling aan die son, soos handpalms en voetsole.
• Daar is ’n genetiese komponent wat ’n rol speel in die ontwikkeling van melanoom.
• Ongeveer 10% van melanome is moeilik om te diagnoseer, aangesien dit pienk, rooi, helder of ’n normale velkleur het.
• Pasiënte met verdagte velletsels moet na ’n dermatoloog verwys word.

30.11.20

Oefening help in stryd teen kolonkanker

Oefening kan ’n rol speel in die vermindering van die groei van dikderm-kankerselle volgens navorsing gepubliseer in The Journal of Physiology. Die studie het bevind dat die groei van kankerselle ingekort word na ’n kort sessie van hoë intensiteit interval-oefening (die sogenaamde HIIT-oefeninge).

Die fokus op oefening was lank reeds op die positiewe veranderinge in die liggaam wat plaasvind na ’n lang periode van oefening. Hierdie bevindinge dui egter daarop dat ’n enkele HIIT-sessie, wat bestaan uit ’n oefenregime met kort, hoë energie-sarsies, ook belangrik is.

Dit dui daarop dat herhaalde blootstelling aan oefening kan bydra tot die stryd teen kanker. Hierdie bevindings versterk die belangrikheid van gereelde oefening en die handhawing van ’n aktiewe leefstyl.

01 November 2021 - Daar is nog nuwe navorsing wat bevind het dat oefening help vir kolonkanker / kolorektale kanker.

31.8.20

Nuwe bloedtoets kan skaars kanker proteïene opspoor

Navorsers aan die Johns Hopkins Universiteit het ’n nuwe bloedtoets ontwikkel wat proteïene, wat van belang is vir die opsporing van kanker, met minimale foute identifiseer.

Die proteïene wat normaalweg binne selkerne gevind word, is tot nou toe nog nooit in die bloed gevind nie. Die nuwe bloedtoets is aan die Johns Hopkins Universiteit ontwikkel is deur Shih-Chin Wang en Chih-Ping Mao - nagraadse studente in die laboratorium van Jie Xiao in die Departement Biofisika en Chien-Fu Hung se laboratorium in die Departement Patologie. Hulle het ’n nuwe benadering gebruik om die siekteveroorsakende molekules in bloed te visualiseer.

Die toets is nog nie kommersieel beskikbaar nie.

6.4.20

Gesonde dieet beteken ’n laer risiko vir kanker

’n Dieet wat gesonde eetgewoontes sowel as fisieke aktiwiteit aanmoedig en alkoholverbruik ontmoedig, hou verband met ’n verminderde algehele kankerrisiko, sowel as laer bors-, prostaat- en kolorektale kanker, volgens navorsers aan die Franse nasionale instituut vir gesondheid en mediese navorsing. Vogens die instituut is voeding en fisieke aktiwiteit veranderlike leefstyl-faktore wat die risiko vir kanker kan verminder.

Volgens beraming kan 35% van alle borskanker en 45% van kolonkanker verhoed word met ’n gesonde dieet.

Die studie is gepubliseer in die joernaal Cancer Research.

2.4.19

Verband tussen rooivleis en kolonkanker

Tydens ’n ondersoek na die rol van rooivleis, pluimvee, vis en ’n vegetariese dieet in kolonkanker het navorsers van Leeds Universiteit bevind dat diegene wat rooivleis eet meer geneig is om kanker te ontwikkel in die onderste gedeelte van die kolon.

Dit is nie die eerste navorsing wat bevind dat rooivleis ’n prominente rol speel in kolonkanker nie.

Leeds Universiteit se navorsing is gepubliseer in die International Journal of Cancer. Volgens die universiteit is meer werk nodig op die gebied, maar dis belangrik dat diegene met ’n geskiedenis van kolonkanker in die familie kennis neem van hierdie bevinding.

3.12.18

Hodgkin se limfoom / siekte

Hodgkin se siekte is ’n tipe kanker. Dit begin in limfositiese selle in die immuunstelsel en beïnvloed die limfkliere en limfweefsel.

Simptome:
• Vergrote limfklier in die nek, oksels of lies.
• Gewigsverlies
• Koors
• Sweet
• Swakheid

2.10.18

Breinkanker

Primêre breinkanker is kanker wat in die brein begin. Metastatiese kanker in die brein is kanker wat van elders afkomstig is en versprei het na die brein. Eersgenoemde is uiters skaars.

Simptome van kanker in die brein sluit in hoofpyn (meesal in die oggend), sensoriese versteurings (veranderings in vermoë om te praat, hoor of sien) en gestremdheid van geheue of koördinering.

Breinkanker word gewoonlik behandel met chirurgie of bestraling. Chemoterapie is minder effektief vir hierdie tipe kanker.


Area’s waar breinkanker gewoonlik voorkom.

11.9.18

Affodille help in stryd teen kanker

Navorsers het onlangs ontdek dak ’n natuurlike alkaloïed, wat van affodille verkry word, help om die groei van kankergewasse teen te werk.

Dié alkaloïed verbind met ribosome. Ribosome is belangrik vir die oorlewing van ons selle, omdat alle proteïene sintetiseer. Kankerselle maak staat op ribosome om hul volgehoue groei voort te sit. Hulle is uiters sensitief vir enige stof wat ’n invloed het op ribosome; in die geval word die proteïensintese vertraag. Die alkaloïed veroorsaak spanning binne die selkern wat lei tot die vernietiging van kankerselle. Die navorsing, gepubliseer in die joernaal Structure, duur voort.

Affodille word al eeue lank gebruik in tradisionele medisyne.


Ribosoom (grafika: D. Lafontaine – ULB)

15.8.18

Verband tussen verwerkte voedsel en kanker

Daar bestaan ’n moontlike verband tussen hoogs verwerkte voedsel en kanker.

Navorsing hieroor duur voort, maar die bevindinge van ’n studie vroeër vanjaar dui daarop dat kanker al hoe meer van ’n epidemie kan word soos die inname van hoogs verwerkte voedsel toeneem.

Daar word veral vinger gewys na gaskoeldrank, graanvlokkies wat met suiker bestrooi word, kitskos en verwerkte vleisprodukte wat baie vet, sout en suiker bevat. In ontwikkelde lande kan dit tot 50% van ’n daaglikse dieet opmaak. Heelwat navorsing het al ’n verband gevind tussen hierdie voedsel en hoër risiko’s van vetsug, hoë bloeddruk en cholesterolvlakke.

Behalwe kanker oor die algemeen het die nuwe navorsing veral gekonsentreer op bors-, prostaat- en kolonkanker. Die resultate toon dat ’n 10% toename van hoogs verwerkte kosse in die dieet geassosieer word met stygings van 12% in die risiko van algehele kanker en 11% in die risiko van borskanker.

Daar is nie ’n verband gevind tussen minder verwerkte kosse (soos ingemaakte groente, kaas en varsgebakte brood) en die risiko van kanker nie, terwyl die verbruik van vars of minimaal verwerkte kosse (vrugte, groente, bone, rys, pasta, eiers, vleis , vis en melk) geassosieer is met laer risiko’s van kanker en borskanker.

Die studie is gepubliseer in The BMJ.

9.7.18

Blaaskanker

Soos die naam aandui kom blaaskanker in die blaas voor. Dit is meer algemeen by mans as by vroue.

Faktore wat ’n rol speel
  • Rook: tabakrook is die grootste oorsaak van blaaskanker. Rook word met ongeveer die helfte van gevalle geassosieer
  • Ouderdom: Hoe ouer ’n mens word hoe groter is die kans om kanker te ontwikkel. In ’n dekade kan mens se kans selfs tienvoudig toeneem.
  • Oorerflikheid: As gesinslede, ’n vader of broer, blaaskanker ontwikkel, beteken dit dat mens se kans verdubbel om dit te ontwikkel, in vergelyking met die res van die bevolking.
  • Omgewing: Blaaskanker is oorwegend ’n Westerse siekte. Vermoedelik speel dieet ’n rol in die verskynsel. Dit kom egter ook voor in Egipte en Tanzanië waar dit ontstaan weens ’n parasitiese infeksie.


Simptome en tekens
Die volgende simptome, as hulle voortdurend voorkom, kan aandui dat die kanker begin versprei na areas buite die blaas. Van die simptome kan egter ook deur ander blaasprobleme veroorsaak word.


  • ’n Behoefte om dikwels te urineer
  • Pyn gedurende urinering
  • Bloed in die urine
  • Verlies van eetlus
  • Merkbare massaverlies

4.7.18

Omega-3 van vis die beste teenvoeter vir kanker

Omega-3 wat verkry word van vis is ’n baie beter teenvoeter teen kanker as dié wat verkry word van vlassaad en ander olies. Dit is die bevinding van ’n onlangse studie aan die Universiteit van Guelph in Kanada.

Hulle bevinding was dat mariene-gebaseerde omega-3’s agt keer meer effektief is om tumorontwikkeling en -groei te inhibeer. Aggressiewe borskanker is getoets om die uitwerking van die verskillende omega-3’s te bepaal.

Vis wat heelwat omega-3’s bevat is salm, makriel, haring, forel, sardyne en tuna. Twee tot drie porsies van enige van hierdie vis per week word aanbeveel.

Die studie is gepubliseer in die Journal of Nutritional Biochemistry.

30.5.18

Peniskanker

Peniskanker is ’n kwaadaardige groeisel aan die vel of weefsel van die penis.

Soos baie ander kanker kan peniskanker deur die liggaam versprei. Dit is gewoonlik die primêre bron van kanker, wat beteken die kanker ontstaan in die penis. Dit is selde ’n sekondêre kwaadaardigheid, wanneer die kanker van ’n ander plek na die penis versprei. Die menslike papilloomvirus (MPV) kom voor in tot 40 persent van peniskankergevalle.

Peniskanker kom selde voor by mans jonger as 50 jaar. Sowat vier uit elke vyf mans wat daarmee gediagnoseer word, is ouer as 55.

Simptome en tekens
• Die penis het ’n rooi kleur.
• Die penis het ’n uitslag.
• Die penis het ’n afskeiding met ’n slegte reuk.
• Die penis pyn.
• Daar is ’n groeisel of seerplek aan die penis wat nie binne vier weke gesond word nie (dit kan soos ’n vrat, sweer of blaas lyk; dit kan seer wees of nie).
• ’n Deel van die penis bloei.
• Die penis se kleur verander.
• Die voorhuid vernou.

Risikofaktore
Infeksies
MIV-positiewe mans se kans om peniskanker te kry is agt keer so groot as ander mans s’n.
Die menslike papilloomvirus is ’n groot faktor in die ontwikkeling van dié kanker. Genitale vratte verhoog die kans van peniskanker met tot 3,7 keer as dit langer as twee jaar voorgekom het. Sowat die helfte van mans met peniskanker het ook genitale vratte, wat deur MPV veroorsaak word.

Higiëne en beserings
Swak higiëne kan die kans op peniskanker vergroot. Smegma, ’n kombinasie van afgeskeide stukkies vel en olie wat onder die voorhuid kan saampak, word verbind met ’n groter voorkoms van peniskanker.

Infeksie van die van die penis en ’n besering van die penis word verbind met ’n kans op peniskanker van sowat 3,1 keer dié van ander mans. Infeksie word gewoonlik veroorsaak deur swak higiëne, ’n allergiese reaksie op sekere seepsoorte of ’n onderliggende gesondheidstoestand soos reaktiewe artritis of diabetes. Klein skeurtjies en skaafwonde aan die penis word verbind met ’n verhoogde kans van 3,9 keer.

Siekte
Ligeensklerose, ’n siekte waar die vel wit verkleur, is ’n risikofaktor. Die presiese oorsaak van die siekte is onbekend en daar is dus geen bekende manier om dit te voorkom nie.

Mans met psoriase wat met UV-lig en ’n middel bekend as psoralen behandel is, het ’n groter kans op peniskanker.

Rook
Rook of die kou van twak verhoog die kans op peniskanker met tot ses keer, na gelang van hoeveel en hoe lank die persoon gerook het.

Voorkoming
Inenting teen MPV kan die risiko op MPV en dus peniskanker verlaag. Die gebruik van kondome kan waarskynlik ook help om iemand teen MPV-verwante peniskanker te beskerm. Verder kan goeie genitale higiëne – die daaglikse was van die penis, skrotum en voorhuid met seep – die kans op balanitis en dus peniskanker verklein. Om op te hou rook kan ook die risiko verklein.

Voorhuidvernouing kan voorkom word deur die toepassing van behoorlike higiëne en die terugtrek van die voorhuid oor die penis se kop op ’n gereelde grondslag. Parafimose kan voorkom word deur die voorhuid nie vir lang tydperke teruggetrek te hou nie.

Behandeling
Verskeie soorte behandeling is beskikbaar na gelang van die stadium van die kanker. Dit sluit in chirurgie, bestraling, chemo- en biologiese terapie. Die gewas en van die omringende weefsel kan ook verwyder word, die kankerselle kan met laserlig weggebrand word, die voorhuid kan besny of die penis of ’n deel daarvan weggesny word.

Meer gevorderde kankers kan ’n kombinasie van chirurgie, bestraling en chemoterapie vereis.

7.5.18

Testis - Testikulêre kanker

Testikulêre kanker is aan die toeneem onder mans. Alle mans behoort gereeld hulle testes te ondersoek.

Mans tussen 25 en 35 jaar is veral geneig om hierdie kanker te ontwikkel. Gelukkig is testikulêre kanker in 90% van alle gevalle geneesbaar INDIEN dit op 'n vroeë stadium behandel word.

Die testes moet ondersoek word wanneer jy in 'n warm bad of onder 'n warm stort is. Rol elke testis tussen jou duim en wysvinger. Behalwe vir 'n gevoelige buis aan die agterkant behoort dit glad te voel. Die buis bewaar en vervoer die saad.

Indien daar enige harde knop, swelsel, vergroting, pyn of 'n pyn in jou lies is moet jy 'n dokter gaan spreek.

Let tog daarop dat dit nie ongewoon is vir die een om laer te hang of effe groter te wees as die ander nie.