Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



30.5.18

Peniskanker

Peniskanker is ’n kwaadaardige groeisel aan die vel of weefsel van die penis.

Soos baie ander kanker kan peniskanker deur die liggaam versprei. Dit is gewoonlik die primêre bron van kanker, wat beteken die kanker ontstaan in die penis. Dit is selde ’n sekondêre kwaadaardigheid, wanneer die kanker van ’n ander plek na die penis versprei. Die menslike papilloomvirus (MPV) kom voor in tot 40 persent van peniskankergevalle.

Peniskanker kom selde voor by mans jonger as 50 jaar. Sowat vier uit elke vyf mans wat daarmee gediagnoseer word, is ouer as 55.

Simptome en tekens
• Die penis het ’n rooi kleur.
• Die penis het ’n uitslag.
• Die penis het ’n afskeiding met ’n slegte reuk.
• Die penis pyn.
• Daar is ’n groeisel of seerplek aan die penis wat nie binne vier weke gesond word nie (dit kan soos ’n vrat, sweer of blaas lyk; dit kan seer wees of nie).
• ’n Deel van die penis bloei.
• Die penis se kleur verander.
• Die voorhuid vernou.

Risikofaktore
Infeksies
MIV-positiewe mans se kans om peniskanker te kry is agt keer so groot as ander mans s’n.
Die menslike papilloomvirus is ’n groot faktor in die ontwikkeling van dié kanker. Genitale vratte verhoog die kans van peniskanker met tot 3,7 keer as dit langer as twee jaar voorgekom het. Sowat die helfte van mans met peniskanker het ook genitale vratte, wat deur MPV veroorsaak word.

Higiëne en beserings
Swak higiëne kan die kans op peniskanker vergroot. Smegma, ’n kombinasie van afgeskeide stukkies vel en olie wat onder die voorhuid kan saampak, word verbind met ’n groter voorkoms van peniskanker.

Infeksie van die van die penis en ’n besering van die penis word verbind met ’n kans op peniskanker van sowat 3,1 keer dié van ander mans. Infeksie word gewoonlik veroorsaak deur swak higiëne, ’n allergiese reaksie op sekere seepsoorte of ’n onderliggende gesondheidstoestand soos reaktiewe artritis of diabetes. Klein skeurtjies en skaafwonde aan die penis word verbind met ’n verhoogde kans van 3,9 keer.

Siekte
Ligeensklerose, ’n siekte waar die vel wit verkleur, is ’n risikofaktor. Die presiese oorsaak van die siekte is onbekend en daar is dus geen bekende manier om dit te voorkom nie.

Mans met psoriase wat met UV-lig en ’n middel bekend as psoralen behandel is, het ’n groter kans op peniskanker.

Rook
Rook of die kou van twak verhoog die kans op peniskanker met tot ses keer, na gelang van hoeveel en hoe lank die persoon gerook het.

Voorkoming
Inenting teen MPV kan die risiko op MPV en dus peniskanker verlaag. Die gebruik van kondome kan waarskynlik ook help om iemand teen MPV-verwante peniskanker te beskerm. Verder kan goeie genitale higiëne – die daaglikse was van die penis, skrotum en voorhuid met seep – die kans op balanitis en dus peniskanker verklein. Om op te hou rook kan ook die risiko verklein.

Voorhuidvernouing kan voorkom word deur die toepassing van behoorlike higiëne en die terugtrek van die voorhuid oor die penis se kop op ’n gereelde grondslag. Parafimose kan voorkom word deur die voorhuid nie vir lang tydperke teruggetrek te hou nie.

Behandeling
Verskeie soorte behandeling is beskikbaar na gelang van die stadium van die kanker. Dit sluit in chirurgie, bestraling, chemo- en biologiese terapie. Die gewas en van die omringende weefsel kan ook verwyder word, die kankerselle kan met laserlig weggebrand word, die voorhuid kan besny of die penis of ’n deel daarvan weggesny word.

Meer gevorderde kankers kan ’n kombinasie van chirurgie, bestraling en chemoterapie vereis.

No comments :

Post a Comment