Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



15.8.18

Verband tussen verwerkte voedsel en kanker

Daar bestaan ’n moontlike verband tussen hoogs verwerkte voedsel en kanker.

Navorsing hieroor duur voort, maar die bevindinge van ’n studie vroeër vanjaar dui daarop dat kanker al hoe meer van ’n epidemie kan word soos die inname van hoogs verwerkte voedsel toeneem.

Daar word veral vinger gewys na gaskoeldrank, graanvlokkies wat met suiker bestrooi word, kitskos en verwerkte vleisprodukte wat baie vet, sout en suiker bevat. In ontwikkelde lande kan dit tot 50% van ’n daaglikse dieet opmaak. Heelwat navorsing het al ’n verband gevind tussen hierdie voedsel en hoër risiko’s van vetsug, hoë bloeddruk en cholesterolvlakke.

Behalwe kanker oor die algemeen het die nuwe navorsing veral gekonsentreer op bors-, prostaat- en kolonkanker. Die resultate toon dat ’n 10% toename van hoogs verwerkte kosse in die dieet geassosieer word met stygings van 12% in die risiko van algehele kanker en 11% in die risiko van borskanker.

Daar is nie ’n verband gevind tussen minder verwerkte kosse (soos ingemaakte groente, kaas en varsgebakte brood) en die risiko van kanker nie, terwyl die verbruik van vars of minimaal verwerkte kosse (vrugte, groente, bone, rys, pasta, eiers, vleis , vis en melk) geassosieer is met laer risiko’s van kanker en borskanker.

Die studie is gepubliseer in The BMJ.

No comments :

Post a Comment