Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



20.8.18

Droë brandwonde en vogbrande

Droë brandwonde en vogbrande is die mees algemene tipes brandwonde.

Hierdie tipes brandwonde moet sodra moontlik afgekoel word om verdere skade aan die onderliggende weefsel te beperk. Dit sal ook help om pyn, swelsel en skok te verminder. Die doeltreffendste manier om die wonde af te koel is daarom met koue water te besproei.

Enige klere wat deur kokende vloeistof deurweek is, moet sodra moontlik verwyder word. Afgekoelde, droë, verbrande klere moet nie verwyder word nie aangesien dit infeksie kan veroorsaak.

Indien die beseerde persoon siek, bejaard of ’n baba is, moet hulle altyd mediese hulp kry, maak nie saak hoe gering die wond mag lyk nie.
Simptome en tekens
• Hewige pyn in die area Indië die brandwond oppervlakkig is. Indien die wond diep is, kan dit dood voel.
• Rooiheid en swelling. Soms vorm dit blase.
• Grys, verkoolde, afdoppende vel om ’n ernstige brandwond.
• Skok

Behandeling van klein brandwonde en vogbrande
1. Stel die persoon gerus en hou die beseerde deel 10 minute onder stadig lopende koue water – of dompel dit 10 minute in koue water. Hou dit langer as dit steeds pyn.
2. Verwyder enige nousluitende klerasie of juweliersware in die omgewing van die wond.
3. Verbind die plek met skoon, verkieslik steriele nie donsige materiaal.
4. Kry mediese hulp indien dit ’n ernstige wond is.

MOENIE kleefverband gebruik nie.
MOENIE wasmiddel, salf of vet aan die wond smeer nie.
MOENIE blase stukkend maak, los vel verwyder of op enige manier met die wond peuter nie.

Behandeling van ernstige brandwonde en vogbrande
1. Sorg dat die persoon lê en gemaklik is.
2. Verwyder enige nousluitende klerasie of juweliersware in die omgewing van die wond.
3. Verwyder enige klerasie wat deur die kokende vloeistof deurweek is.
4. Bedek die beseerde deel met ’n steriele, ongemedikeerde wondbedekking of soortgelyke nie-donsige materiaal en heg dit met ’n verband vas.
5. As die persoon by sy/haar bewussyn is, gee dikwels ’n slukkie koue water.
6. Kry die persoon sodra moontlik by ’n hospitaal.

MOENIE wasmiddel, salf of vet aan die wond smeer nie.
MOENIE blase stukkend maak, los vel verwyder of op enige manier met die wond peuter nie.
MOENIE iets verwyder wat aan die wond vassit nie.


(foto: Ben Stiefel)

No comments :

Post a Comment