Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Brandwonde. Show all posts
Showing posts with label Brandwonde. Show all posts

15.1.24

Sonbrand

Te lang blootstelling aan die son se strale kan rooiheid, gejeuk en teerheid van die vel veroorsaak. Onder sekere omstandighede kan dit ernstig wees.

Simptome en tekens
• Die vel is rooi, teer en opgeswel met moontlike blase.
• Die vel sal warm voel.

Behandeling
1. Sorg dat die persoon in die koelte is en spons die vel liggies af met koue water.
2. Gee die persoon gereeld slukkies koue water.
3. Kry mediese hulp indien die blase ernstig lyk.

Boereraat:

Melk of jogurt kan aangesmeer word. Smeer kort-kort aan tot die brand weg is.

♦♦♦

Jy kan ’n pasta maak van koeksoda en sonbrand daarmee behandel.

♦♦♦

Bad in koue water met ’n bietjie koeksoda in – so koud moontlik.

♦♦♦

As jy oor jou hele liggaam deur die son gebrand is kan jy koel bad neem waarby jy een koppie asyn gevoeg het. Dit verlig die brandgevoel


Kruie vir kwale: Sonbrand

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

20.11.23

Brandwonde

Brandwonde word veroorsaak deur hitte, warm vloeistowwe, wrywing en chemikalieë. Die grootste gevaar verbonde aan brandwonde is vogverlies wat lei tot skoktoestande en infeksie.

Oppervlakkige brandwonde: Week die aangetaste deel in koue water vir 10-15 minute of totdat pyn verminder.

Dieper brandwonde: Simptome sluit in: blaasvorming, pyn en swelling. Ernstige son-brand moet dieselfde behandel word as oppervlakkige brandwonde.

Voldiepte brandwonde: Kry onmiddellike mediese hulp.

Ingeval van enige diep brandwond of indien die wond groter as jou handpalm is moet jy dadelik by ´n dokter uitkom.

Boereraat:
’n Kalamyn-oplossing gee verligting aan sonbrand.

♦♦♦

Smeer dadelik asyn aan 'n brandwond. Dit neem die brand weg en keer blase.

12.9.22

Kruie vir kwale: Brandwonde

Die jellieagtige inhoud van die blare van suurvye kan op ligte brandwonde gesmeer word.

♦♦♦

Die jellieagtige inhoud van die medisynebossie kan op ligte brandwonde gesmeer word.

♦♦♦

Wanneer jy jou tong brand met warm kos, gooi ’n paar druppels vanilla daarop om dit te verlig.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

12.12.19

Kruie vir kwale: Sonbrand

Smeer komkommersap aan of smeer sommer versigtig met ’n komkommer.

♦♦♦

Maak ’n groot kastrol sterk rooibostee. Gooi die tee in jou badwater en bad daarin.

♦♦♦

Smeer aalwynsap aan vir die verligting van sonbrand.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

19.8.19

Vriesbrand

Vriesbrand kom voor wanneer die ekstremiteite van die liggaam (ore, neus, ken, hande, voete) blootgestel word aan langdurige of intense koue blootgestel word.

Die blootstelling kan oppervlakkig wees, waar slegs die vel gevries word, of dit kan diep wees, waar beide die vel en onderliggende weefsel gevries word. In ernstige gevalle kan gangreen ontwikkel.

Vriesbrand gaan soms gepaard met hipotermie. Hipotermie moet voor vriesbrand behandel word.

Simptome en tekens
• Prikkelende pyn in aangetaste deel, gevolg deur geleidelike gevoelloosheid.
• Beweging van die aangetaste deel is moeiliker.
• Die vel voel hard en styf.
• Die vel lyk oormatig wit of het blou spikkels.
Behandeling
1. Sorg dat die persoon binnemuurs is of ordentlike skuiling het.
2. Verwyder enige klerasie of bedekking om die aangetaste deel.
3. Maak enige beklemmende klerasie of juweliersware los.
4. Verwarm die aangetaste deel met jou liggaam.
5. Plaas die aangetaste deel nou in warm water – indien beskikbaar.
6. Indien die tekens en simptome binne ’n uur verbeter kan jy die behandeling staak, maar moet nie die persoon weer aan koue blootstel nie.
7. Lig die aangetaste deel op om swelsel en pyn te verlig.
8. Bedek die aangetaste deel met ’n sagte wondbedekking.
9. Neem die persoon na ’n hospitaal.

Waarskuwings
• Moenie die persoon op ontdooide voete laat loop nie.
• Moet nie die aangetaste dele vryf of masseer nie.
• Moenie blase oopbreek nie. • Moenie salf aan die aangetaste deel smeer nie.
• Moenie die aangetaste deel met droë of uitgestraalde hitte verwarm nie.


Stadia van vriesbrand

17.12.18

Elektriese brandwonde

Hierdie tipe brandwond kom voor wanneer elektrisiteit met ’n sterk spanning en stroom deur die liggaam gaan.

Die meeste skade kom voor naby die ingangs- en uitgangspunte. Hoewel slegs ’n klein brandwond sigbaar kan wees kan die skade aan die onderliggende weefsel aansienlik meer wees. Dit kan ook die asemhaling en hartklop beïnvloed.

Moet nie die persoon nader nie, tensy jy seker is die elektrisiteit is afgeskakel.

Simptome en tekens
• Rooiheid, swelsel, verskroeiing en verkoling naby die ingangs- en uitgangspunte.
• Moontlik bewusteloos.
• Asemhaling en hartklop kan ophou.
Simptome en tekens van skok.

Behandeling
1. Plaas ’n steriele wondbedekking van skoon nie-donsige materiaal op die wond. Maak dit met ’n verband vas.
2. Behandel vir skok.
3. Begin met kunsmatige asemhaling indien nodig.
4. Plaas die persoon in die herstelposisie indien bewusteloos.
5. Kry die persoon by ’n hospitaal sodra moontlik.

MOENIE wasmiddels of salf aanwend nie.
MOENIE blase stukkend maak of los vel verwyder nie.

22.10.18

Chemiese brandwonde

Sekere chemikalieë kan skade veroorsaak aan ons vel- en ander weefsels. Die oë is veral kwesbaar. Ander chemikalieë kan deur die vel geabsorbeer word en ernstige skade in die liggaam veroorsaak, soms noodlottig.

Vinnige optrede is belangrik, maar so ook die veiligheid van die persoon wat ’n ongeval wil help. Hou jou eie veiligheid altyd in gedagte.

Simptome en tekens
• Die persoon kla dat die vel brand.
• Die vel kan gevlek of rooi wees. Blase kan ook voorkom en die vel kan afdop.

Behandeling
1. Spoel die aangetaste deel ten minste vir 10 minute onder stadig lopende koue water.
2. Verwyder enige besoedelde klere terwyl julle die wond afspoel.
3. Behandel verder soos vir ’n ernstige brandwond.
4. Kry die persoon sodra moontlik by ’n hospitaal.

25.9.18

Brandwonde in die mond en keel

Hierdie tipe brandwonde kom gewoonlik voor wanneer iets baie warm gedrink word, chemikalieë gesluk word of baie warm lug ingeasem word.

Hierdie beserings is baie ernstig, omdat die weefsel in die keel baie vinnig swel en sodoende die lugweg kan afsluit.

Simptome en tekens
• Hewige pyn in die mond en/of keel.
• Beskadigde vel om mond.
• Moeilike asemhaling.
• Moontlike bewusteloosheid.
• Skok.

Behandeling
1. Stel die persoon gerus.
2. Gee die persoon ’n slukkie koue water.
3. Verwyder enige klere en juweliersware om die nek en borskas.
4. Indien die persoon bewusteloos is, maar normaal asemhaal, plaas in die herstelposisie.
5. Sorg dat die persoon sodra moontlik by die hospitaal kom.

20.8.18

Droë brandwonde en vogbrande

Droë brandwonde en vogbrande is die mees algemene tipes brandwonde.

Hierdie tipes brandwonde moet sodra moontlik afgekoel word om verdere skade aan die onderliggende weefsel te beperk. Dit sal ook help om pyn, swelsel en skok te verminder. Die doeltreffendste manier om die wonde af te koel is daarom met koue water te besproei.

Enige klere wat deur kokende vloeistof deurweek is, moet sodra moontlik verwyder word. Afgekoelde, droë, verbrande klere moet nie verwyder word nie aangesien dit infeksie kan veroorsaak.

Indien die beseerde persoon siek, bejaard of ’n baba is, moet hulle altyd mediese hulp kry, maak nie saak hoe gering die wond mag lyk nie.
Simptome en tekens
• Hewige pyn in die area Indië die brandwond oppervlakkig is. Indien die wond diep is, kan dit dood voel.
• Rooiheid en swelling. Soms vorm dit blase.
• Grys, verkoolde, afdoppende vel om ’n ernstige brandwond.
• Skok

Behandeling van klein brandwonde en vogbrande
1. Stel die persoon gerus en hou die beseerde deel 10 minute onder stadig lopende koue water – of dompel dit 10 minute in koue water. Hou dit langer as dit steeds pyn.
2. Verwyder enige nousluitende klerasie of juweliersware in die omgewing van die wond.
3. Verbind die plek met skoon, verkieslik steriele nie donsige materiaal.
4. Kry mediese hulp indien dit ’n ernstige wond is.

MOENIE kleefverband gebruik nie.
MOENIE wasmiddel, salf of vet aan die wond smeer nie.
MOENIE blase stukkend maak, los vel verwyder of op enige manier met die wond peuter nie.

Behandeling van ernstige brandwonde en vogbrande
1. Sorg dat die persoon lê en gemaklik is.
2. Verwyder enige nousluitende klerasie of juweliersware in die omgewing van die wond.
3. Verwyder enige klerasie wat deur die kokende vloeistof deurweek is.
4. Bedek die beseerde deel met ’n steriele, ongemedikeerde wondbedekking of soortgelyke nie-donsige materiaal en heg dit met ’n verband vas.
5. As die persoon by sy/haar bewussyn is, gee dikwels ’n slukkie koue water.
6. Kry die persoon sodra moontlik by ’n hospitaal.

MOENIE wasmiddel, salf of vet aan die wond smeer nie.
MOENIE blase stukkend maak, los vel verwyder of op enige manier met die wond peuter nie.
MOENIE iets verwyder wat aan die wond vassit nie.


(foto: Ben Stiefel)

11.6.18

Klere wat brand

Brandwonde weens oop vure kom algemeen voor by Suid-Afrikaners wat so lief is vir oop vure. Wanneer ’n persoon se klere aan die brandslaan moet jy vinnig optree om te sorg dat die skade beperk word.

Mense is geneig om buitentoe te hardloop as hul klere by ’n binne-braai of kaggel vlam vat. Keer hulle, want beweging of wind buite sal die vlamme aanhelp. Laat die persoon dadelik lê om te verhoed dat die vlamme opwaarts reik. Moenie dat die persoon op die grond rol nie, dit kan veroorsaak dat die vlamme versprei na ander kledingstukke op die liggaam. Blus die vlamme met water. As daar nie water byderhand is nie, maar dik NIE-VLAMBARE materiaal, kan jy die persoon daarin toedraai om die vlamme te smoor.

12.9.16

Kruie vir kwale: Chemiese brandwonde

Die behandeling van chemiese brandwonde sal afhang van waarmee jy jou gebrand het. Oor die algemeen kan mens sommer 'n aalwyn se blaar breek en die sap gebruik om die wond te help herstel. As jy dalk weet van 'n geneesbossie in jou omgewing kan jy die sap van daardie blare ook gebruik. As jy ernstige wonde opgedoen het moet jy eerder 'n dokter gaan sien.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

11.3.15

Elektriese beserings

’n Elektriese stroom deur die liggaam kan ernstige en soms noodlottige beserings veroorsaak. Dit kan die hart laat stop of ernstige brandwonde veroorsaak.

Moet nooit probeer om ’n ongeval weens elektriese beserings met kaal hande aan te raak voor jy seker is dat daar geen verdere gevaar is nie.

Algemene simptome sluit in:
• Versmoring
• Brandwonde
• Skok