Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Wond. Show all posts
Showing posts with label Wond. Show all posts

22.1.24

Blouberglelie / Blouslangkop

Die Sotho-mense hang die bolle van die blouberglelie (Merwilla plumbea) op om uit te droog. Hulle moet 5 maande lank hang.

Die bolle word dan verpoeier en gesmeer aan frakture om dit te help herstel. Dit word ook aan littekenweefsel gesmeer om te vel te help herstel.

Die Tswana-mense hanteer die bolle op dieselfde manier, maar hulle smeer dit aan die rug of die gewrigte.

Die Sotho-mense kook ook die bolle en gebruik dit inwendig as ’n lakseermiddel – per mond of as ’n enema. LET WEL: Die bolle moet ordentlik gekook word, vir ten minste ’n halfuur.

Dieselfde kookproses geld as jy stukke van die bolle kook in water vir sere of swere. Gebruik dit terwyl die bolle nog warm is, maar nie so dat dit jou vel sal brand nie.

Die blouberglelie is 'n bedreigde plant. Moet hulle nie uit hul natuurlike omgewing verwyder nie. Koop dit van 'n kwekery.

15.1.24

Sonbrand

Te lang blootstelling aan die son se strale kan rooiheid, gejeuk en teerheid van die vel veroorsaak. Onder sekere omstandighede kan dit ernstig wees.

Simptome en tekens
• Die vel is rooi, teer en opgeswel met moontlike blase.
• Die vel sal warm voel.

Behandeling
1. Sorg dat die persoon in die koelte is en spons die vel liggies af met koue water.
2. Gee die persoon gereeld slukkies koue water.
3. Kry mediese hulp indien die blase ernstig lyk.

Boereraat:

Melk of jogurt kan aangesmeer word. Smeer kort-kort aan tot die brand weg is.

♦♦♦

Jy kan ’n pasta maak van koeksoda en sonbrand daarmee behandel.

♦♦♦

Bad in koue water met ’n bietjie koeksoda in – so koud moontlik.

♦♦♦

As jy oor jou hele liggaam deur die son gebrand is kan jy koel bad neem waarby jy een koppie asyn gevoeg het. Dit verlig die brandgevoel


Kruie vir kwale: Sonbrand

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

2.1.24

Kruie vir kwale: Wonde

Die kruisbessie is ’n belangrike plant in tradisionele medisyne en word vir ’n verskeidenheid doeleindes gebruik. Gekneusde bas wat in warm water geweek is, word gebruik om wonde te behandel.

♦♦♦

Plaas 20 g vars, gekapte wildewingerd-blare in 1 koppie kookwater en laat trek vir 5 minute.
Gebruik dit vir die behandeling van wonde.

♦♦♦

Maak ’n badmengsel deur 40 g wildeals-blare te bedek met 2 liter kookwater. Laat dit staan vir 2 uur.
Gooi deur ’n sif en botteleer.
Voeg die mengsel by jou badwater om te help met wonde. Jy kan die geaffekteerde plekke liggies daarmee afspons.

♦♦♦

Gousblomblare kan gebruik word om die inflammasie te behandel en enige wonde te help herstel. Week ’n hand vol blomblare in ’n koppie warm water vir 15 minute. Laat dit dan afkoel en plaas dit in die yskas vir 30 minute. Week dan ’n waslap in die aftreksel en hou dit op die geaffekteerde plek vir 5 minute. Doen dit ’n paar keer elke dag.

♦♦♦

Die blare van die maagpynbossie bespoedig die herstelproses as jy dit aan wonde smeer.
Trek 10 g blare in ’n koppie kookwater vir 5 minute.

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

6.7.22

Kruie vir kwale: Snye en skrape

Strooi suiker bo-op 'n sny – dit sal help dat die bloed vinniger stol.

♦♦♦

Die jellieagtige inhoud van die medisynebossie kan op snye en skrape gesmeer word.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

31.5.21

Vishoek in die vel

Enige visser kan getuig dat hulle een of ander tyd ’n vishoek in die vel gehad het. Indien die hoek ’n weerhaak aan het, moet jy liefs nie probeer om dit te verwyder nie. Kry eerder mediese hulp.

Ongelukkig vang mens gewoonlik nie vis naby ’n hospitaal nie. Indien jy dit self moet probeer verwyder kan jy die volgende doen:
1. Sny die lyn van die hoek af.
2. Indien daar nie ’n weerhaak in die vel is nie kan jy die punt versigtig verwyder en dit behandel soos ’n klein wond.
3. Indien die weerhaak jou binnegedring het, moet jy dit behandel soos ’n ingebedde vreemde voorwerp.
4. Indien daar geen gevaar is vir die beskadiging van inwendige organe nie kan jy die hoek deur die vel druk tot die weerhaak uitsteek. Dan knip jy die punt met die weerhaak af.
5. Trek nou die hoek versigtig uit en behandel soos ’n wond.
6. Wanneer moontlik moet jy mediese behandeling kry teen enige moontlike infeksie.

7.12.20

Splinter

Dit gebeur gereeld dat ’n hout- of metaalsplinter in die vel vassit. Jy kan dit gewoonlik met ’n haartangetjie verwyder. Indien dit egter diep vassit, moet dit mediese hulp kry.

Simptome en tekens
• ’n Sigbare voorwerp in die vel.
• Pyn en teerheid op die beseerde plek

Behandeling
1. Maak die plek rondom die splinter met seep en water skoon.
2. Steriliseer ’n haartangetjie deur dit in ’n vlam te hou.
3. Probeer versigtig die splinter verwyder met die haartangetjie.
4. Indien die splinter nie maklik uitkom nie of afbreek moet dit mediese sorg kry.

MOENIE in die wond rondkrap om die splinter beet te kry nie.

17.12.18

Elektriese brandwonde

Hierdie tipe brandwond kom voor wanneer elektrisiteit met ’n sterk spanning en stroom deur die liggaam gaan.

Die meeste skade kom voor naby die ingangs- en uitgangspunte. Hoewel slegs ’n klein brandwond sigbaar kan wees kan die skade aan die onderliggende weefsel aansienlik meer wees. Dit kan ook die asemhaling en hartklop beïnvloed.

Moet nie die persoon nader nie, tensy jy seker is die elektrisiteit is afgeskakel.

Simptome en tekens
• Rooiheid, swelsel, verskroeiing en verkoling naby die ingangs- en uitgangspunte.
• Moontlik bewusteloos.
• Asemhaling en hartklop kan ophou.
Simptome en tekens van skok.

Behandeling
1. Plaas ’n steriele wondbedekking van skoon nie-donsige materiaal op die wond. Maak dit met ’n verband vas.
2. Behandel vir skok.
3. Begin met kunsmatige asemhaling indien nodig.
4. Plaas die persoon in die herstelposisie indien bewusteloos.
5. Kry die persoon by ’n hospitaal sodra moontlik.

MOENIE wasmiddels of salf aanwend nie.
MOENIE blase stukkend maak of los vel verwyder nie.

15.11.18

Blouoog

Die beste behandeling is om onmiddellik nadat jy die blouoog gekry het ’n katoenlap met ys daarin op die oog te hou vir so 10 minute. Jy moet dit gereeld doen die eerste 48 uur.

Boereraat:

Maak ’n mengsel van 1 teelepel Engelse sout en 1 koppie warm water en gebruik ’n stukkie watte om die oog te was met mengsel. Week dan skoon watte in die water en gaan lê en sit dit op die oog.

♦♦♦

Baie mense sweer ook by pynappel en papaja vir ’n blou-oog. Wend die moes van die vrugte aan rondom die wonde. Jy kan ook die sap van die vrugte drink of die vrugte eet. Enige vrugte met vitamien C kan geëet word om te help met die herstel.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

31.10.16

Kruie vir kwale: Bloukolle / Kneusplek

Arnika kan gebruik word vir ’n blouoog. Mens kry dit te koop in ’n verskeidenheid rome en olies wat jy op die plekke kan gebruik vir twee tot drie keer per dag.

♦♦♦

Stamp 3 stukkies gemmer fyn saam met ½ wit ui. Voeg 30 mℓ growwe meel en 30 mℓ brandewyn by en meng om ’n pap te maak. Smeer dit aan die bloukol.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

21.7.16

Kneusplek / Bloukol

’n Kneusplek (bloukol) is die gevolg van inwendige bloeding.

Die bloed kom uit beskadigde bloedvate en dit sypel deur die weefsel en lê onder die vel.

’n Harde val, byvoorbeeld, kan tot ernstige inwendige bloeding lei.

Simptome en tekens
• Pyn en swelling.
• ’n Blouerige / pers kleur.
• Patroonkneusing, waar die buitelyne van die klere wat gedra is sigbaar is. Dit moet as potensieel gevaarlik beskou word aangesien dit kan dui op skade aan inwendige organe.

Boereraat:

Week 'n wattepluisie in asyn en sit op kneusplek en laat dit daar vir omtrent een uur. Die asyn help om die kol klein te hou en verspoedig die genesingsproses.

♦♦♦

Vir kneusplekke kan jy rou vleis op die plek hou.

♦♦♦

Smeer samboksalf dik aan die kneusplek en maak toe met 'n lappie.

♦♦♦

Maak stysel en water aan tot 'n pap en sit op die kneus of stampplek - dit verhoed dat die kneusplek verkleur.

♦♦♦

Om te verhinder dat ’n bloukol vorm waar jy jou gestamp het, smeer onmiddellik botter aan.

11.5.16

Die behandeling van ’n ernstige dierbyt

1. Beheer bloeding met regstreekse druk op die wond.
2. Bedek met ’n steriele, ongemedikeerde wondbedekking en verbind stewig.
3. Kry die persoon by ’n hospitaal.

4.5.16

Die behandeling van ’n oppervlakkige dierbyt

1. Was die wond met seepwater vir ten minste 5 minute. Droog dit af en bedek dit dan met ’n steriele ongemedikeerde wondbedekking.
2. Kry mediese hulp.

27.4.16

Dierbyte

Daar is kieme in die bekke van sowel hui- as wilde diere wat skadelik kan wees vir jou. Selfs ’n byt deur ’n mens kan gevaarlik wees.

Enige bytplek wat ’n breuk in die vel veroorsaak het gou aandag nodig om infeksie te voorkom.

’n Byt kan verder gekompliseer word deur tetanus en hondsdolheid.

Simptome en tekens
• Een of meer steekwond volgens die patroon van tande.
• Skeurwonde as gevolg van ’n skeurbyt.
• Die bloeding sal afhang na gelang van die omvang van die besering.

Behandel die wond dadelik en kry mediese hulp.

20.4.16

Die behandeling van bloukolle / kneusplekke

1. Lig en ondersteun die beseerde deel in ’n posisie wat vir die persoon gemaklik is.
2. Hou ’n koue kompres op die beseerde area om die bloeding te beperk en die swelsel te verminder.
3. Kry mediese hulp as jy vermoed dit is ernstig.

2.3.16

Vaginale bloeding

Vaginale bloeding kan veroorsaak word deur ernstige menstruasie of die gevolg van ’n miskraam of inwendige besering.

Swaar menstruasie en ’n miskraam kan beide met ernstige krampe gepaard gaan. Die krampe kom gewoonlik aan die begin van menstruasie voor.

Simptome en tekens
• Matie of ernstige bloeding uit vagina.
• Simptome en tekens van skok kan aanwesig wees.
• Krampagtige pyne in die buik of bekken.

24.2.16

Die behandeling van borskas- en rugwonde

1. Verseël onmiddellik die oop wond met jou hand.
2. Plaas die ongeval in ’n halfsittende posisie en ondersteun die kop en skouers. Draai die liggaam na die beseerde kant sodat die gesonde long bo is.
3. Bedek die wond so gou moontlik versigtig met ’n steriele ongemedikeerde wonddekking.
4. Indien moontlik moet jy ’n lugdigte seël probeer vorm deur die wonddekking met plastiek of foelie te bedek en met kleefband vas te plak op die rante.
5. Indien die persoon bewusteloos raak maar normaal asemhaal, plaas in die herstelposisie met die gesonde long na bo.
6. Behandel vir skok.
7. Toets die asemhaling en bewussynsvlak elke 10 minute. Kyk ook vir tekens van inwendige bloeding.
8. Kry die persoon sodra moontlik by die hospitaal. Probeer die persoon vervoer soos hy / sy daar lê.

17.2.16

Borskas- en rugwonde

Borskas- en rugwonde word gewoonlik veroorsaak deur ’n skerp voorwerp wat die liggaam penetreer, byvoorbeeld ’n mes of ’n koeël. Dit kan ook veroorsaak word deur ribbes wat van binnedeur die vel geforseer word.

Tydens hierdie beserings val die long aan die beseerde kant plat, selfs al is dit nie beseer nie. Lug in die borskas belemmer die werking van die gesonde long. Die persoon kan dan te min suurstof kry en versmoor.

Simptome en tekens
 Pyn in die borskas.
 Moeilike asemhaling.
 Blouheid van die mond, naels en vel.
 Helderrooi skuimerige bloed word uitgehoes indien ’n long beseer is.
 Die geluid van lug wat in die borskas ingesuig word, kan gehoor word wanneer die persoon inasem.
 Bloederige vloeistof borrel uit die wond as die persoon uitasem.
 Simptome en tekens van skok is sigbaar.

Probeer die wond seël en die persoon sodra moontlik by die hospitaal kry.

10.2.16

Die behandeling van buikwonde

1. Beheer bloeding deur die randte van die wond teen mekaar te druk.

2. Plaas die persoon in ’n halfsittende posisie met die knieë opgetrek om te verhoed dat die wond gaap en druk op die wond te verlig. Ondersteun die skouers en knieë.

3. Plaas ’n wondbedekking op die wond en hou dit in plek met ’n verband.

4. Indien die persoon bewusteloos raak maar normaal asemhaal, ondersteun die buik en plaas die persoon in die herstelposisie.

5. Indien die asemhaling of hartklop ophou, begin met resussitasie.

6. Behandel die persoon ook vir skok.

7. Toets die asemhaling en pols elke 10 minute. Kyk ook vir enige tekens van inwendige bloeding.

8. Indien die persoon hoes of opgooi, ondersteun die buik deur liggies op die wondbedekking te druk om te keer dat die ingewande uitpeul.

9. Die persoon moet sodra moontlik by ’n hospitaal kom. Verkieslik op ’n draagbaar.

10. MOET NIE die persoon enigiets deur die mond ingee nie.

3.2.16

Buikwonde

’n Diep wond aan die buikwand is ernstig, nie net weens uitwendige bloeding nie, maar ook omdat onderliggende organe gesteek of geskeur kan wees. Albei kan tot ernstige inwendige bloeding en infeksie lei. Ingewande kan ook by die wond uitpeul.

Simptome en tekens

o Algemene buikpyn.
o Bloeding en wonde aan die buik.
o Ingewande kan in die wond sigbaar wees of by die wond uitpeul.
o Simptome en tekens van skok.

Beperk infeksie, beheer bloeding en verhoed dat die ingewande uitpeul. Kry die persoon sodra moontlik by ’n hospitaal.

27.1.16

Die behandeling van wonde aan die handpalm

1. Plaas ’n steriele wondbedekking op die wond en oefen druk uit om die bloeding te beheer.

2. Laat die persoon die druk volhou deur ’n vuis te maak oor die wondbedekking – gebruik die ander hand indien daardie hand te seer is.

3. Lig die beseerde arm.

4. Verbind die vuis deur die los punte van die wondbedekking styf vas te bind oor die kneukels en sodoende die druk in stand te hou.

5. Ondersteun die arm met ’n oplighangverband.