Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Oogprobleme. Show all posts
Showing posts with label Oogprobleme. Show all posts

26.10.23

Sakke onder die oë

Sakke onder die oë kom algemeen voor soos jy ouer word en die weefsel rondom jou oë verswak; insluitend sommige van die spiere wat jou ooglede ondersteun. Vet wat die oë help ondersteun, kan dan in die onderste ooglede inbeweeg, wat veroorsaak dat hulle pofferig lyk. Vloeistof kan ook onder jou oë ophoop.

Die mees algemene oorsake is:
Ouderdom
Vloeistofretensie, veral wanneer jy wakker word of na ’n sout maaltyd
Gebrek aan slaap
Allergieë
Rook
Genetika - sakke onder die oë kan in gesinne voorkom
Mediese toestande, soos dermatitis, nierprobleme en skildklierprobleme

Sakke onder oë is gewoonlik 'n kosmetiese probleem en selde ’n teken van ’n ernstige toestand. Jy kan met koel kompresse help om hul voorkoms te verbeter. Vir aanhoudende of lastige swelling onder die oë kan ooglid-chirurgie 'n opsie wees.

Alternatiewe wat jy kan probeer om dit te probeer verlig is:
Koue, nat rooibostee-sakkies
Verkoel ´n aartappel in die yskas. Sny twee skywe af, sproei jou oë met water, lê plat en plaas die skywe op jou ooglede. Lê so vir 10 minute en vee dan jou oë af met ´n koue lappie. Komkommers kan ook gebruik word, maar sonder die water.

11.10.23

Oogsorgbewustheidsmaand

Tot 18 Oktober 2023 is dit Oogsorgbewustheidsmaand en word daar sterk fokus op ooggesondheid in Suid-Afrika geplaas. Die kranige sakeman en Mnr. SA Top 10-finalis, Tiaan Massyn, bestuur suksesvolle oogkundige praktyke in Pretoria en die Kaap en as oogkundige het hy eerstehandse ervaring van die impak van swak sig en ooggesondheid op mense se lewensgehalte.

Lees meer by Oogsorgbewustheidsmaand – Gesonde oë ‘n prioriteit vir Mnr. SA-Finalis

18.7.23

Karkatjie

Karkatjies word veroorsaak deur ’n bakterie. Die bakterieë leef normaalweg op mens se vel en kry met ’n klein krapmerkie toegang tot die liggaam en veroorsaak dan infeksie wat ons ’n karkatjie noem.

Aangesien die oorsaak van die karkatjie ’n bakterie is, kan ’n antibiotiese oogsalf soos Chloromycetin help. Soms kan dit nodig wees dat die dokter die karkatjie moet oopsny, maar dis selde.

Boereraat:

Warm lappie vir 10 minute, vier tot ses keer per dag. Maak dit maar kort-kort warm, want dit help om die karkatjie tot ’n punt te trek.

21.2.23

Oogprobleme - waterig, uitpeul, donker kringe, rooi, geswolle, allergie, hepatitis, galblaaskwale, galstene, bloeddruk, diabetes, versiendheid, bysiendheid ens.

Oogprobleme kom dikwels voor as gevolg van ´n probleem elders in die liggaam.

Waterige oë is ´n simptoom van verkoue, uitpeuloë mag dui op skildklierprobleme en donker kringe of rooi, geswolle en/of waterige oë is dikwels die gevolg van allergieë. Die vergeling van die oë kan dui op hepatitis, galblaaskwale of galstene, terwyl periodiese dowwe visie op hoë bloeddruk of diabetes kan dui.

Algemene oogprobleme sluit in sigprobleme soos versiendheid en bysiendheid, oogstremming, katarakte, bindvliesontsteking, gloukoom wat uiteindelik tot blindheid kan lei, en karkatjies.

Lê agteroor met oë toe en plaas ´n koue kompres oor oë. Fokus gereeld op voorwerpe op verskillende afstande.

Enige rooiheid, dowwe visie of ander oogprobleme vereis dringend mediese aandag.

Boereraat:

Boraks (boorpoeier / boorsuurpoeier) as oogspoelmiddel. Voor jy boraks as oogspoelmiddel gebruik moet jy die volgende in ag neem:
- Jy kan dit nie gebruik indien daar ’n besering in of om die oog is nie.
- Moenie gebruik vir ’n ooginfeksie voor jy met jou dokter gepraat het nie.
- Jy moet seker wees jy is nie allergies vir boraks nie.
- Indien jy erge newe-effekte ervaar moet jy dadelik mediese hulp kry.

♦♦♦

Was seer oë met suikerwater.

♦♦♦

Gooi ’n knippie koeksoda by koue gekookte water, meng goed en vryf oor jou oë om swelling en jeuk te behandel.

♦♦♦

'n Goeie raad vir wanneer jou oë seer of rooi of geirriteerd is, is om heuning in gelyke dele met warm water te meng. Laat dit afkoel en was dan die oë daarin was of om direk in die oë te sit.

♦♦♦

Om donker kringe om jou oë te laat verdwyn sny ´n rou vy in twee en plaas ´n deel op elke oog.

♦♦♦

Plaas koue teesakkies op jou oë indien dit geswel is of indien jy donker kringe om jou oë het.

♦♦♦

Wortels, spinasie, broccoli, papaja, mango, perskes en appelkose is goeie bronne van Vitamin A - Beta carotene. Dit is goed vir normale groei, goeie sig(oë), gesonde vel en sterk tande.

♦♦♦

Sny dik snye uit die punt van ´n komkommer en plaas dit op jou moeë oë.

♦♦♦

As ´n oog uit die kop spring, was die oog mooi met lou water. Druk die oog dan versigtig weer terug en sit koue kompresse op.

♦♦♦

Lê met jou kop agteroor en plaas komkommerskyfies op jou oë. Lê en ontspan vir ten minste 15 minute.

♦♦♦

Volg dieselfde metode as bo, maar gebruik twee nat teesakkies.

♦♦♦

Eet minder sout. Dit kan by sommige individue bydra tot opgeswelde oë

♦♦♦

Sit ´n ekstra kussing onder jou kop om van daai poffertjies ontslae te raak.

♦♦♦

Om van daai opgeswelde oë in die oggend ontslae te raak moet jy die aartappels nader trek. Verkoel ´n aartappel in die yskas. Sny twee skywe af, sproei jou oë met water, lê plat en plaas die skywe op jou ooglede. Lê so vir 10 minute en vee dan jou oë af met ´n koue lappie. Komkommers kan ook gebruik word, maar sonder die water.

♦♦♦

Neem 2 eetlepels rou gerasperde aartappel en plaas op geswolle oë vir 15 minute

♦♦♦

Mense met bruin oë se kanse is 80% meer as die van ander om katerakte te kry. Sorg dat jy 'n sonbril dra en eet kosse soos spinasie, soetrissies en tamaties.

15.2.23

Kruie vir kwale: Oogsorg

Maak teesakkies met droë vinkel, wat jy dan op seer oë plaas.

♦♦♦

Maak tee met kweperblare en was jou oog daarmee.

♦♦♦

’n Druppel aalwynsap kan gebruik word vir oogpyn of inflammasie van die oog, bv. konjunktivis.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

11.1.23

Kruie vir kwale: Karkatjie

Gooi ’n koppie kookwater oor oranje gousblomme. Laat dit afkoel en was die oog daarmee. Smeer dan bietjie sap van die geneesbossie/balsemkopieva/jesusplant aan die karkatjie.

5.4.21

Daar is iets in my oog

Enige oogbesering is potensieel ernstig want klein deeltjies kan die oogbal binnedring en skade veroorsaak.
Deeltjies stoof en los ooghare is van die algemeenste voorwerpe wat in die oog beland. Hulle sit op die buitenste wand van die oogbal of onder die ooglid, gewoonlik die boonste en veroorsaak aansienlike ongemak. Hulle word meesal maklik verwyder.
Jy moet nie probeer om iets te verwyder wat op die pupil en iris (die gekleurde deel van die oog) vassit nie, of iets wat in die oogbal vassteek. Kry dadelik mediese hulp.

Simptome en tekens
• Die oogbal is pynlik en jeuk.
• Sig kan belemmer wees.
• Die oog is rooi.

Behandeling – neem die persoon na die hospitaal indien dit nie suksesvol is nie
1. Die persoon moet NIE die oog vryf NIE.
2. Laat die persoon op ’n stoel sit, agteroorleun en na ’n lig kyk.
3. Staan agter die persoon. Hou die ken in een hand en gebruik die duim en wysvinger van die ander hand om die ooglede uitmekaar te trek. Vra die persoon om links en regs en op en af te kyk sodat jy elke deel van die oog deeglik kan ondersoek.
4. Indien jy die voorwerp sien probeer daarom met ’n steriele wateroplossing uit te spoel – gebruik gewone water indien jy nie byderhand het nie. Hou die kop skuins na die kant waar die voorwerp sit sodat die water oor die wang loop.
5. Indien dit onsuksesvol is of jy het nie water nie, gebruik ’n klam depper of sakdoek daarom af te haal.
6. Indien die vreemde voorwerp onder die boonste ooglid sit, vra die persoon om af te kyk. Vat die ooghare en trek die ooglid afwaarts en uitwaarts oor die onderste lid. Indien dit nie werk nie, vra die persoon om die ooglid onder lopende water te knip.
7. Indien niks werk nie, kry mediese hulp.

22.3.21

Ooggebreke

Ooggebreke ontstaan as gevolg van verskeie faktore, die hoofsaaklik weens die ontvang en uitstraling van lig. Die oog is ’n sensitiewe orgaan wat ligeffekte registreer.

In ’n normale en gesonde oog word die feitlik ewewydige ligstrale wat die lens bereik van ’n voorwerp op die retina gefokus. Hierdie toestand word normale gesigsvermoë of emmetropie genoem. Baie mense se oogbolle is langer of korter as die normale. Ander mense se lense is weer te swak.

Al hierdie afwykings veroorsaak dat die beeld nie presies op die retina val nie, maar daarvoor of daaragter. Al die strale bereik wel die retina, maar aangesien hulle nie daarop gefokus is nie, is die beeld onduidelik. Hierdie afwykings staan as gebreke van straalbreking bekend. Vier van die bekendste gebreke is:

Bysiendheid
In die geval van bysiendheid val die gefokusde beeld nie op die retina nie, maar daarvoor. Die algemeenste oorsaak hiervoor is ʼn te lang oogbol, waarin die retina te ver terug is om die beeld te ontvang. Bysiendheid kan ook veroorsaak word deur ’n ongewoon gekromde horingvlies of ’n lens wat die strale abnormaal breek.

Vêrsiendheid
In hierdie geval word die beeld van voorwerpe wat ver is, agter die retina gevorm. Mense wat aan hierdie ooggebrek ly, moet hul oë akkommodeer om voorwerpe wat meer as 6 m ver is, op die retina in te stel. Sulke mense kan dikwels nie voorwerpe naby hulle waarneem nie; daarom word die kwaal vêrsiendheid genoem.

Ouderdomsvêrsiendheid
Ouderdomsvêrsiendheid staan ook bekend as presbiopie. Dit beskryf ’n spesiale soort gesigsgebrek wat voorkom wanneer mens ouer word. Dikwels begin dit op ongeveer vyf-en-veertigjarige ouderdom. Ouderdomsvêrsiendheid word veroorsaak deur ’n geleidelike verlies aan elastisiteit van die lens van die oog. Dit beteken dat wanneer die lensspiere saamtrek en die draagligamente of –spier verslap, die lens nie meer soveel as voorheen kan uitbol nie. Sodoende verloor die oog sy akkommodasievermoë.

Astigmatisme
Die woord kom van die Griekse woorde a en stigma, wat saam die betekenis van “sonder ’n punt” het. Hierdie uitdrukking beskryf wat met die beeld van voorwerpe gebeur as die horingvlies- of lensoppervlak nie sferies is nie, maar twee heeltemal verskillende krommings, soos die vorm van ’n suurlemoen, het. Dit veroorsaak dat die ligstrale wat die oog op ’n horisontale vlak binnedring, meer gebuig word as die ligstrale wat die oog op ’n vertikale vlak binnedring.

Die strale word gevolglik nie op een punt gefokus nie, maar in ’n lyn. Veronderstel die astigmatiese lens is soos ’n suurlemoen gevorm wat op sy punt staan. Horisontale strale word meer gebuig omdat hulle deur die sterker gekromde deel van die suurlemoen gaan. Die vertikale strale word minder gebuig, aangesien die deel waardeur hulle gaan, minder gekrom is en die fokuspunt gevolglik verder. Veronderstel dat die retina dan op ʼn horisontale vlak ongeveer 5 m weg moet wees.

21.1.19

Sweisoë

Wanneer die oë te lank blootgestel word aan skerp lig, kan die horingvlies van die oog beskadig word. Dit is uiters pynlik en kan tot ’n week duur daarvoor begin verbeter. Dit word maklik voorkom deur ’n sonbril te dra.
Die toestand kan veroorsaak word deur die weerkaatsing van die son of die ultravioletlig van sweiswerk.

Simptome en tekens
• Intense pyn in die oë, dit kan voel asof daar sand in die oë is
• Die oë is rooi, waterig en gevoelig vir lig

Behandeling
1. Spoel die oë uit met koue water.
2. Verbind die oë liggies met oogkussings.
3. Kry mediese hulp.

15.11.18

Blouoog

Die beste behandeling is om onmiddellik nadat jy die blouoog gekry het ’n katoenlap met ys daarin op die oog te hou vir so 10 minute. Jy moet dit gereeld doen die eerste 48 uur.

Boereraat:

Maak ’n mengsel van 1 teelepel Engelse sout en 1 koppie warm water en gebruik ’n stukkie watte om die oog te was met mengsel. Week dan skoon watte in die water en gaan lê en sit dit op die oog.

♦♦♦

Baie mense sweer ook by pynappel en papaja vir ’n blou-oog. Wend die moes van die vrugte aan rondom die wonde. Jy kan ook die sap van die vrugte drink of die vrugte eet. Enige vrugte met vitamien C kan geëet word om te help met die herstel.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

26.4.17

Allergiese oogontsteking

Allergiese oogontsteking gaan gewoonlik hand aan hand met allergiese neusontsteking, maar kan alleen ook voorkom.

Die algemeenste hiervan noem ons hooikoors en dit word veroorsaak deur die stuifmeel on die lug. Dit kan egter ook veroorsaak word deur stofmyte en troeteldiere.

Simptome en tekens
  • Oë wat jeuk
  • Tranerige oë

Die beste behandeling vir hierdie tipe allergiese reaksie is om die oorsaak te vermy, maar dit is ongelukkig selde prakties. Daar is ’n verskeidenheid antihistamiene en oogdruppels wat gebruik kan word.

8.3.17

Astigmatisme

Wanneer die ronding van die oog se lens of kornea ongelyk is praat ons van astigmatisme. Dit lei tot dowwe en verwronge beelde.

’n Bril met spesifiek gevormde lense kan die probleem hanteer.

22.2.17

Vêrsiendheid

Vêrsiendheid beteken die persoon kan vêraf voorwerpe goed sien, maar sukkel indien dit te naby is.

Dit kom voor wanneer die oog se lens (kornea) te konveks is en nie platter kan raak nie. Die lens buig ligstrale nie genoeg nie en lig word agter die retina gefokus. Die beeld van naby voorwerpe is dus uit fokus.

’n Bril met bolvormige lense word normaalweg voorgeskryf.

15.2.17

Bysiendheid

Bysiendheid beteken die persoon kan naby voorwerpe duidelik sien, maar sukkel indien hulle vêr is.

Dit kom voor wanneer die oog se lens (kornea) te konveks is en nie platter kan raak nie. Die lens buig ligstrale te veel en gevolglik word lig vanaf vêr voorwerpe voor die retina gefokus. Dit veroorsaak dat dit buite fokus is.

Gewoonlik word ’n bril met hol lense voorgeskryf vir ’n bysiende persoon.

10.2.17

Albinisme: As die son jou vyand is ...

Rowan de Vos is maar 13, maar ken reeds die gevaar van skadelike sonbrand al te goed. Hy is een die Athlone Skool vir Blindes in Bellvile-Suid se sowat 80 leerders wat albinisme het.

Mense met albinisme se kans om velkanker te kry, is 1 000 keer meer as dié van mense met normale velpigmentasie – en dit is meer as genoeg rede om alles moontlik te doen om dit te voorkom.

Só het prof. Willie Visser, hoof van die afdeling dermatologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit vir Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en van die Tygerberg-hospitaal, op ’n besoek aan die Athlone Skool vir Blindes gesê.

Hy en ’n groep dokters het sonskerm wat deur Eucerin geborg is, aan leerlinge met albinisme geskenk.

Dr. Riëtte Burger van die US se departement van stralingsonkologie sê omdat ’n groot aantal van die skool se leerlinge albinisme het, was dit ’n goeie beginpunt om bewusmaking oor velsorg na jong mense te bring.

13.1.16

Die behandeling van oogwonde

1. Laat die persoon op sy / haar rug lê. Ondersteun die kop en hou dit so stil moontlik. MOET NIE enige voorwerpe in die oog probeer verwyder nie.

2. Vra die persoon om die beseerde oog toe te maak indien moontlik en bedek dit met ’n steriele wondbedekking. Hou dit in plek met ’n verband of pleister.

3. Die persoon moet die gesonde oog ook stilhou, aangesien beweging die beseerde oog ook kan beweeg. Verbind die gesonde oog ook indien dit sal help. Stel die persoon gerus voor jy die oog verbind.

4. Kry die persoon so gou moontlik by ’n hospitaal.

6.1.16

Oogwond

Alle oogbeserings is potensieel ernstig. Selfs ’n oppervlakkige skuurwond kan jou sig verswak of selfs blindheid veroorsaak.

Simptome en tekens
• Gedeeltelike of totale gesigsverlies van die betrokke oog – selfs sonder sigbare beserings.
• ’n Pynlike, bloedbelope oog met ’n moontlik sigbare wond aan die oogbal of ooglid.
• Bloed of ’n helder vloeistof wat uit die oog vloei met ’n afplatting van die oogbal se normale ronde vorm.

Beskerm die oog deur beweging te voorkom en kry sodra moontlik mediese hulp.

1.12.15

Oogprobleme as gevolg van chroniese moegheidsindroom

’n Britse studie het bewys dat persone met kroniese moegheidsindroom (jappiegriep) meer oogprobleme het as die res van ons.

Kroniese moegheidsindroom bly kontroversieel, omdat daar nie baie spesifieke simptome gediagnoseer kan word nie. Dit is belangrik om kennis te neem van die navorsing, omdat dit spesifieke kliniese merkers identifiseer wat moontlik gebruik kan word in die diagnose van kroniese moegheidsindroom.

Die bevindings is gepubliseer onder die titel "Increased vulnerability to pattern-related visual stress in Myalgic Encephalomyelitis" in die joernaal Perception.

3.9.12

Eerste bioniese oog

Australiese wetenskaplikes het die eerste bioniese oog ingeplant.

Die ontvanger was Diane Ashworth. Sy ly aan oorerflike sigverlies.

Die bioniese oog bevat 24 elektrodes wat elektriese impulse na haar oog se senuwee-selle stuur en is aan Ashworth se retina vasgebind. Dit werk tans net in die laboratorium.

Daar word reeds gewerk aan 'n nuwe oog wat 98 elektrodes bevat, daar is ook planne in die pyplyn vir 'n 1 024 elektrode-oog.