Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



22.3.21

Ooggebreke

Ooggebreke ontstaan as gevolg van verskeie faktore, die hoofsaaklik weens die ontvang en uitstraling van lig. Die oog is ’n sensitiewe orgaan wat ligeffekte registreer.

In ’n normale en gesonde oog word die feitlik ewewydige ligstrale wat die lens bereik van ’n voorwerp op die retina gefokus. Hierdie toestand word normale gesigsvermoë of emmetropie genoem. Baie mense se oogbolle is langer of korter as die normale. Ander mense se lense is weer te swak.

Al hierdie afwykings veroorsaak dat die beeld nie presies op die retina val nie, maar daarvoor of daaragter. Al die strale bereik wel die retina, maar aangesien hulle nie daarop gefokus is nie, is die beeld onduidelik. Hierdie afwykings staan as gebreke van straalbreking bekend. Vier van die bekendste gebreke is:

Bysiendheid
In die geval van bysiendheid val die gefokusde beeld nie op die retina nie, maar daarvoor. Die algemeenste oorsaak hiervoor is ʼn te lang oogbol, waarin die retina te ver terug is om die beeld te ontvang. Bysiendheid kan ook veroorsaak word deur ’n ongewoon gekromde horingvlies of ’n lens wat die strale abnormaal breek.

Vêrsiendheid
In hierdie geval word die beeld van voorwerpe wat ver is, agter die retina gevorm. Mense wat aan hierdie ooggebrek ly, moet hul oë akkommodeer om voorwerpe wat meer as 6 m ver is, op die retina in te stel. Sulke mense kan dikwels nie voorwerpe naby hulle waarneem nie; daarom word die kwaal vêrsiendheid genoem.

Ouderdomsvêrsiendheid
Ouderdomsvêrsiendheid staan ook bekend as presbiopie. Dit beskryf ’n spesiale soort gesigsgebrek wat voorkom wanneer mens ouer word. Dikwels begin dit op ongeveer vyf-en-veertigjarige ouderdom. Ouderdomsvêrsiendheid word veroorsaak deur ’n geleidelike verlies aan elastisiteit van die lens van die oog. Dit beteken dat wanneer die lensspiere saamtrek en die draagligamente of –spier verslap, die lens nie meer soveel as voorheen kan uitbol nie. Sodoende verloor die oog sy akkommodasievermoë.

Astigmatisme
Die woord kom van die Griekse woorde a en stigma, wat saam die betekenis van “sonder ’n punt” het. Hierdie uitdrukking beskryf wat met die beeld van voorwerpe gebeur as die horingvlies- of lensoppervlak nie sferies is nie, maar twee heeltemal verskillende krommings, soos die vorm van ’n suurlemoen, het. Dit veroorsaak dat die ligstrale wat die oog op ’n horisontale vlak binnedring, meer gebuig word as die ligstrale wat die oog op ’n vertikale vlak binnedring.

Die strale word gevolglik nie op een punt gefokus nie, maar in ’n lyn. Veronderstel die astigmatiese lens is soos ’n suurlemoen gevorm wat op sy punt staan. Horisontale strale word meer gebuig omdat hulle deur die sterker gekromde deel van die suurlemoen gaan. Die vertikale strale word minder gebuig, aangesien die deel waardeur hulle gaan, minder gekrom is en die fokuspunt gevolglik verder. Veronderstel dat die retina dan op ʼn horisontale vlak ongeveer 5 m weg moet wees.

No comments :

Post a Comment