Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Dierbyt. Show all posts
Showing posts with label Dierbyt. Show all posts

22.6.16

Behandeling van ’n haaislagoffer

Die belangrikste faktor vir die oorlewing van ’n slagoffer van ’n haaiaanval is doeltreffende noodbehandeling op die strand.

Die persoon moet so min as moontlik beweeg word. Na verwydering uit die water moet die persoon net buite bereik van die golwe neergelê word – nie verder nie.

Beheer die bloeding en behandel die persoon vir skok. Neem dan die persoon na ’n hospitaal.

15.6.16

Haaiaanval

Baie slagoffers van haaiaanvalle sterf weens swak eerstehulpbehandeling; soms met relatief klein beserings.

Die wesenlike probleem van ’n haaibyt is bloeding en ernstige skok.

Die bloeding moet sodra moontlik beheer word deurdruk toe te pas. Die persoon moet ook dadelik vir skok behandel word. Daarna sorg jy dat die persoon by die hospitaal kom.

8.6.16

Die gebruik van teengif in noodgevalle

Let wel dat teengif nie aanbeveel word as roetine-eerstehulpbehandeling nie. Ernstige komplikasies kan ontstaan as gevolg van teengif wat onnodig toegedien is.

In ’n noodgeval waar die persoon bewusteloos is of moeilik asemhaal en ’n lang vertraging verwag word kan die inhoud van die teengifampulle toegedien word deur middel van ’n diep binnespierse inspuiting in die buitekant van die dy.

Dit is belangrik om te weet dat kinders erger ly as volwassenes en net soveel teengif nodig het.

Sorg altyd dat die persoon sodra moontlik by ’n hospitaal kom.

1.6.16

Die behandeling van ’n slangbyt

1. Stel die persoon gerus en hou hom / haar rustig aangesien oefening die tempo verhaas waarteen die gif opgeneem word.

2. Vee die gif van die wond af.

3. Draai ’n breë rolverband stewig om die aangetaste ledemaat. Begin by die hand / voet en draai die verband so hoog as moontlik om die ledemaat. Moet nie die bloedsirkulasie geheel en al belemmer nie.

4. Vervoer die persoon op ’n draagbaar indien moontlik en hou sy / haar asemhaling dop.

5. Kobras en rinkhalse kan gif tot 7 meter vêr spoeg en indien dit in die oë beland kan dit kwaai pyn, swelsel en tydelike blindheid veroorsaak. Die oortollige gif moet afgevee word en die oog met baie water uitgewas word.

25.5.16

Slangbyt

Suid-Afrika is die tuiste van ongeveer 120 slangspesies. Hiervan is slegs 30% giftig en min van hulle sal mense kwaad doen.

Die meeste slange is nie aggressief nie en sal slegs byt as hulle bedreig voel of hardhandig behandel word. Seeslange byt selde.

Dit is belangrik om ’n dooie slang na die hospitaal te neem. Dit kan die dokter help om ’n gepaste teengif te gebruik. Moet egter NOOIT ’n slang ondersoek tensy jy doodseker is dit is dood nie. ’n Kobra en ’n rinkhals kan baie realisties voorgee dat hulle dood is. Moet ook NOOIT aan ’n slang se tande raak nie. Dit is skerp en gevaarlik.

Klassifikasie van slange volgens die uitwerking van hul gif

Tas die senustelsel aan

Die gif van kobras, mambas en rinkhalse is uiters gevaarlik omdat dit vinnig opgeneem word. Dit veroorsaak 1) onduidelike spraak, 2) spierswakheid (soos ooglede wat hang), 3) moeite om te sluk (speeksel loop uit die mond) en 4) swaar asemhaling.

Beskadig weefsel

Die gif van adders veroorsaak ernstige skade aan die weefsel by die bytplek. Een gevolg is skok weens verlies aan vloeistof uit die weefsel. Die vel en omliggende spiere gaan dikwels dood en dit lei tot groot wonde wat gewoonlik besmet is.


Tas bloedstolling aan

Die boomslang en bergadder se gif het ’n uitwerking op bloedstolling en kan spontane bloeding tot gevolg hê.

18.5.16

Hondsdolheid

Hondsdolheid is ’n potensieel dodelike siekte wat versprei word deur die speeksel van besmette diere.

Die siekte kom dwarsdeur Suider-Afrika voor en word gewoonlik oorgedra deur besmette honde of meerkatte.

As iemand gebyt word, behandel die persoon soos vir ’n dierbyt. Neem dan die persoon na ’n hospitaal sodat ’n entstof teen hondsdolheid toegedien kan word.

Die dier moet afgesonder word sodat ’n veearts dit kan ondersoek om te bevestig of dit besmet is. Indien die dier ontsnap moet die polisie in kennis gestel word.

11.5.16

Die behandeling van ’n ernstige dierbyt

1. Beheer bloeding met regstreekse druk op die wond.
2. Bedek met ’n steriele, ongemedikeerde wondbedekking en verbind stewig.
3. Kry die persoon by ’n hospitaal.

4.5.16

Die behandeling van ’n oppervlakkige dierbyt

1. Was die wond met seepwater vir ten minste 5 minute. Droog dit af en bedek dit dan met ’n steriele ongemedikeerde wondbedekking.
2. Kry mediese hulp.

27.4.16

Dierbyte

Daar is kieme in die bekke van sowel hui- as wilde diere wat skadelik kan wees vir jou. Selfs ’n byt deur ’n mens kan gevaarlik wees.

Enige bytplek wat ’n breuk in die vel veroorsaak het gou aandag nodig om infeksie te voorkom.

’n Byt kan verder gekompliseer word deur tetanus en hondsdolheid.

Simptome en tekens
• Een of meer steekwond volgens die patroon van tande.
• Skeurwonde as gevolg van ’n skeurbyt.
• Die bloeding sal afhang na gelang van die omvang van die besering.

Behandel die wond dadelik en kry mediese hulp.