Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Noodhulp. Show all posts
Showing posts with label Noodhulp. Show all posts

24.1.24

Gebruik YouTube in noodgevalle

Met enige geluk sal die meeste mense hulself nooit in 'n situasie bevind wat die Heimlich-maneuver of dringende behandeling van 'n slangbyt vereis nie. Maar as dit gebeur, sal YouTube jou vinnige toegang bied tot stap-vir-stap noodhulpvideo's wat deur hospitale en betroubare gesondheidsorganisasies gemaak is.

YouTube het verlede week aangekondig dat die kort instruksievideo's boaan algemene soekresultate vasgepen sal word vir akute gesondheidsnoodgevalle, insluitend bloeding, verstikking, hartaanvalle, aanvalle en oordosisse.

26.12.16

Maak só indien iemand verstik

Die Amerikaanse dokter Henry Heimlich, wat bekendheid verwerf het deurdat hy ’n tegniek ontwikkel het om mense van verstikking te red het, het gedurende sy loopbaan die lewens van meer 100 000 mense in Amerika gered.

23.12.16

Heimlich op jouself

Indien jy verstik sonder dat daar enige ander persoon in die omtrek is om jou te help nie, kan jy selfs die Heimlich-tegniek op jouself toepas sê Meiring. Kyk die volgende video om te verstaan hoe.

20.12.16

Maak só tydens ‘n noodgeval in die water

Indien iemand in die water in die moeilikheid beland:

1) Kry die persoon onmiddellik uit die water.
2) Ontbied hulp deur bv. 084 124 te skakel.

6.7.16

Behandeling van ’n spinnekopbyt

Die basiese behandeling van ’n spinnekopbyt behels dat jy moet sorg dat die persoon se lugweg oop is en asemhaal. Pas kunsmatige asemhaling toe indien nodig. Maak ook die persoon gemaklik deur hulle in die herstelposisie te plaas – indien hulle nie hulp nodig het met asemhaling nie.

Sorg dat die persoon so gou moontlik by ’n hospitaal kom. Hospitale het normaalweg die nodige teengif.

22.6.16

Behandeling van ’n haaislagoffer

Die belangrikste faktor vir die oorlewing van ’n slagoffer van ’n haaiaanval is doeltreffende noodbehandeling op die strand.

Die persoon moet so min as moontlik beweeg word. Na verwydering uit die water moet die persoon net buite bereik van die golwe neergelê word – nie verder nie.

Beheer die bloeding en behandel die persoon vir skok. Neem dan die persoon na ’n hospitaal.

15.6.16

Haaiaanval

Baie slagoffers van haaiaanvalle sterf weens swak eerstehulpbehandeling; soms met relatief klein beserings.

Die wesenlike probleem van ’n haaibyt is bloeding en ernstige skok.

Die bloeding moet sodra moontlik beheer word deurdruk toe te pas. Die persoon moet ook dadelik vir skok behandel word. Daarna sorg jy dat die persoon by die hospitaal kom.

8.6.16

Die gebruik van teengif in noodgevalle

Let wel dat teengif nie aanbeveel word as roetine-eerstehulpbehandeling nie. Ernstige komplikasies kan ontstaan as gevolg van teengif wat onnodig toegedien is.

In ’n noodgeval waar die persoon bewusteloos is of moeilik asemhaal en ’n lang vertraging verwag word kan die inhoud van die teengifampulle toegedien word deur middel van ’n diep binnespierse inspuiting in die buitekant van die dy.

Dit is belangrik om te weet dat kinders erger ly as volwassenes en net soveel teengif nodig het.

Sorg altyd dat die persoon sodra moontlik by ’n hospitaal kom.

1.6.16

Die behandeling van ’n slangbyt

1. Stel die persoon gerus en hou hom / haar rustig aangesien oefening die tempo verhaas waarteen die gif opgeneem word.

2. Vee die gif van die wond af.

3. Draai ’n breë rolverband stewig om die aangetaste ledemaat. Begin by die hand / voet en draai die verband so hoog as moontlik om die ledemaat. Moet nie die bloedsirkulasie geheel en al belemmer nie.

4. Vervoer die persoon op ’n draagbaar indien moontlik en hou sy / haar asemhaling dop.

5. Kobras en rinkhalse kan gif tot 7 meter vêr spoeg en indien dit in die oë beland kan dit kwaai pyn, swelsel en tydelike blindheid veroorsaak. Die oortollige gif moet afgevee word en die oog met baie water uitgewas word.

6.4.16

Noodbehandeling vir vergruising

1. Beheer ernstige bloeding en behandel alle wonde en frakture. Teken die tyd aan wat jy die gewig verwyder.

2. Indien die ledemaat bevry kan word, verwyder enige gewig. Laat die persoon lê met die kop omlaag en bene omhoog – indien moontlik.

3. Immobiliseer die ledemaat met kussings en/of opgerolde klere of handdoeke en lig die ledemaat op – indien die besering dit toelaat. Waar moontlik moet sulke beserings nie bedek word nie.

4. Behandel vir skok.

5. Toets die asemhaling en pols elke 10 minute.

6. Indien die persoon bewusteloos is of raak maar normaal asemhaal, plaas in die herstelposisie.

7. Pas kunsmatige asemhaling toe indien nodig.

8. Die persoon moet sodra moontlik by ’n hospitaal kom en die persoon se posisie moet sovêr moontlik behou word. As dit langer neem as 30 minute om die persoon by die hospitaal te kry en jy is seker daar is nie inwendige beserings nie, gee die persoon slukkies koue water.

9. Indien die vergruising beperk is tot vingers, hand of voet, plaas die beseerde deel onder koue lopende water en wend ’n koue wondbedekking aan.

30.12.15

Behandeling van mondwonde

1. Vra die persoon om te sit met sy / haar kop vooroor en na die beseerde kant.

2. Plaas ’n skoon wondbedekking op de wond en oefen regstreekse druk uit daarop daardeur tussen die duim en vingers vas te druk.

3. Sê die persoon moet enige bloed in die mond uitspoeg.

4. Indien die bloeding na 10 tot 20 minute voortduur of indien dit ’n groot wond is, moet die persoon dadelik na die hospitaal geneem word.

5. Moenie die mond uitspoel nie. Dit kan bloedklonte versteur. Die persoon moet vir 12 uur lank warm drankies vermy.

18.11.15

Die behandeling van ’n bloedneus

1. Laat die persoon vooroor sit met die kop vêr vorentoe. Maak enige stywe klere om die nek en borskas los.
2. Sê aan die persoon om deur die mond asem te haal en die sagte deel van die neus toe te knyp.
3. Sê die persoon moet enige bloed in die mond uitspoeg.
4. Staak die drukking na 10 minute. Indien die bloeding nog nie opgehou het nie, sit dit voort vir nog 10 minute. Die persoon moet NOOIT sy of haar kop oplig nie.
5. Terwyl die kop vooroor is maak jy die neus en mond saggies skoon met ’n depper of wondbedekking wat in lou water gedoop is. Moet NIE die neus toestop nie.
6. As die bloeding ophou moet die persoon alle inspanning vermy. Die neus moet ook nie vir ten minste 4 uur lank gesnuit word nie – dit kan weer die wond versteur.
7. Indien die bloeding na 30 minute nog steeds aanhou of nog nie opgehou het nie, kry mediese behandeling.

11.11.15

Behandeling vir bloeding uit die oor

1. Plaas ’n persoon wat by sy/haar bewussyn is in ’n halfsittende posisie met die kop oorgebuig na die beseerde kant – sodat die bloed of vloeistof kan dreineer. Moet nooit die vloei uit die oor probeer keer nie, dit kan drukking in die middeloor laat opbou.
2. Bedek die oor met ’n steriele ongemedikeerde wondbedekking.
3. Toets die asemhalingstempo, pols en bewussynsvlak gereeld.
4. Behandel vir skok.
5. Indien die persoon bewusteloos is, maar normaal asemhaal, plaas in die herstelposisie.
6. Begin met kunsmatige asemhaling Indië die asemhaling of hartklop ophou.
7. Kry die persoon by ’n hospitaal.

26.8.15

Behandeling vir inwendige bloeding

1. Laat die persoon met sy / haar kop omlaag na die eenkant lê om ’n goeie bloedtoevoer na die brein te verseker. Die persoon moet so stil as moontlik lê.
2. Lig die bene – as die besering dit toelaat. Dit help die bloedtoevoer na die organe.
3. Maak enige stywe klere om die nek, borskas en middel los.
4. Stel die persoon gerus en verduidelik dat dit belangrik is dat hy / sy ontspan.
5. Behandel die persoon vir skok.
6. Toets die asemhaling en bewussynsvlak elke 10 minute.
7. Ondersoek die persoon vir ander beserings en behandel soos nodig.
8. Indien die persoon bewusteloos raak, maar normaal asemhaal, plaas hom / haar in die herstelposisie.
9. Indien die asemhaling en hartklop ophou, begin onmiddellik met resussitasie.
10. Hou die persoon bedek – met ’n kombers indien beskikbaar.
11. Hou boek van enige uitskeidings of vomeersel. Indien moontlik neem ’n monster en stuur saam na die hospitaal.
12. Die persoon moet sodra moontlik na die hospitaal geneem word.
13. MOET ONDER GEEN OMSTANDIGHEDE DIE PERSOON IETS GEE OM TE EET OF DRINK NIE.

5.8.15

Behandeling van geinfekteerde wonde

1. Bedek die wond met ’n skoon, verkieslik steriele materiaal en bind vas met ’n verband.
2. Lig die beseerde deel en immobiliseer dit.
3. Neem die persoon na ’n hospitaal.

17.6.15

Noodhulp: die behandeling van ernstige uitwendige bloeding

1. Kyk of daar vreemde voorwerpe in die wond is. Oefen druk uit om die bloeding te beheer. Indien die wond baie groot is, druk die rande na mekaar.

2. Laat die persoon lê en indien die wond aan ’n ledemaat is wat nie gebreek is nie, lig en ondersteun daardie ledemaat.

3. Indien die wond aan ’n ledemaat is en regstreekse druk help nie om die bloeding te keer nie, plaas druk op die hoofslagaar wat bloed na daardie ledemaat vervoer.

4. Plaas ’n steriele ongemedikeerde wondbedekking op die wond en maak seker dat dit oor die wond se rande strek. Druk dit stewig vas en bind vas met ’n verband. Knoop die verband styf genoeg om die bloeding te beheer, maar moet nie die sirkulasie afsny nie.

5. Indien daar nog bloeding is, plaas nog wondbedekkings bo-op die oorspronklike wondbedekking.

6. Kry die persoon by ’n hospitaal.

1.4.15

Noodhulp: Wind-uit

1. Laat die persoon in ’n ontspanne posisie sit. Indien die persoon bewusteloos is plaas hom / haar in die herstelposisie.
2. Maak enige stywe klere om die nek, bors en middel los.
3. Masseer die bobuik liggies.

18.3.15

Noodhulp: Asma

1. Stel die persoon gerus en probeer hom / haar kalmeer.
2. Laat die persoon sit en dan die arms rus op ’n stut, soos byvoorbeeld ’n tafel.
3. Laat die persoon sy / haar medikasie gebruik indien dit byderhand is.
4. As die simptome voortduur, kry mediese hulp.

18.2.15

Noodhulp: Behandeling van beseerdes by 'n ontploffing


  1. Stel die persoon gerus en moet hulle nie beweeg voor jy nie seker is waar hulle beseer is nie.
  2. Na jy vasgestel het wat fout is kan jy die persoon tot in 'n halfsittende posisie help, indien die beserings dit toelaat - ondersteun die kop en skouers.
  3. Maak stywe klere om die nek, borskas en middel los.
  4. Beheer enige bloeding of brandwonde. Behandel frakture.
  5. Toets die asemhaling, pols en bewussynsvlak elke 10 minute.
  6. Indien die persoon bewusteloos raak, maar normaal asemhaal, plaas hom / haar in die herstelposisie.
  7. Indien die asemhaling opgehou het of moeilik is, begin met kunsmatige asemhaling.
  8. Die persoon moet so gou as moontlik by 'n hospitaal kom.

4.2.15

Noodhulp: Buikdrukking vir baba’s wat verstik

Plaas die baba op ’n stewige oppervlak met die kop in die ooplugweg-posisie. Plaas jou wysvinger en die lang vinger saam op die bobuik tussen die naeltjie en die borsbeen en druk met ’n vinnige voorwaartse en afwaartse beweging. Herhaal tot vier keer indien nodig. Elke druk moet net hard genoeg wees om die versperring los te maak.