Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Noodhulp. Show all posts
Showing posts with label Noodhulp. Show all posts

28.1.15

Noodhulp: Buikdrukking vir kinders wat verstik

1. Plaas die kind op jou skoot of laat hom / haar staan as hulle groot genoeg is. Plaas een arm om die buik. Maak ’n vuis en plaas die duim binnewaarts in die middel van die bobuik. Ondersteun die kind se rug met jou ander hand.
2. Druk jou vuis in die buik met ’n vinnige opwaartse en inwaartse beweging. Gebruik baie minder druk as wat jy sou vir ’n volwassene. Herhaal tot vier maal indien nodig. Die druk moet hard genoeg wees om die versperring los te maak.

Vir ’n bewustelose kind gebruik jy dieselfde metode as vir volwassenes, maar druk net met een hand.

20.1.15

Noodhulp: Buikdrukking vir bewustelose persone wat verstik het

1. Draai die persoon op sy / haar rug met die kop in die ooplugweg-posisie. Kniel wydsbeen oor die persoon se dye sodat u genoeg druk op die korrekte middelbuikposisie kan uitoefen. As jy nie oor die persoon kan kniel nie, kniel langsaan.
2. Plaas die onderkant van jou palm in die middel van die persoon se bobuik en bedek dit met jou ander hand. Hou jou vingers sovêr moontlik weg van die buik.
3. Hou jou arms reguit en druk op die buik met ’n vinnige opwaartse en voorwaartse drukking; vier maal indien nodig. Die druk moet hard genoeg wees om die versperring los te kry.

7.1.15

Noodhulp: Bewustelose persone wat verstik het

1. Draai die persoon op sy of haar rug, maak die lugweg oop en begin met kunsmatige asemhaling.
2. Indien dit nie werk nie, rol die persoon met sy of haar gesig na jou toe met die borskas op jou bobeen. Dien vier houe toe op die rug.
3. Kyk of die versperring losgekom het, haal dit uit indien wel.
4. Indien nie, draai die persoon op die rug en pas buikdrukking toe. Kyk weer in die mond.
5. Herhaal die stappe indien die versperring nie loskom nie.
6. Indien die versperring uit is, plaas die persoon in die herstelposisie.

19.11.14

Noodhulp: Koolstofmonoksiedvergiftiging

1. Sny die oorsprong van die gas af en kry die persoon weg van die gas.

2. Indien die persoon bewusteloos is, maar normaal asemhaal, plaas in die herstelposisie.

3. Indien asemhaling moeilik is of nie bestaan nie, begin onmiddellik met kunsmatige asemhaling.

4. Kry die persoon by ’n hospitaal.

5.11.14

Noodhulp: Versmoring as gevolg van rookinaseming

Versmoring as gevolg van rookinaseming kan plaasvind as gevolg van ’n brand wat al die suurstof uit ’n vertrek haal, of rook wat die keel so irriteer dat dit in spasma gaan en die lugweg afsluit. Die volgende stappe kan gevolg word om so ’n persoon te behandel:

1. Neem die persoon na veiligheid.
2. Blus enige brandende of smeulende klere.
3. Indien die persoon bewusteloos is, maar normaal asemhaal, moet hy / sy in die herstelposisie geplaas word.
4. Begin met mond-tot-mond asemhaling indien die persoon moeilik asemhaal.
5. Behandel enige brandwonde.
6. Neem die persoon sodra moontlik na ’n hospitaal.

29.10.14

Noodhulp: Verdrinking

Indien jy iemand wat besig is om te verdrink wil help moet jy sodra dit moontlik is begin met kunsmatige asemhaling.

Indien die persoon in die water is en dis vlak genoeg om te staan, begin jy sommer net daar. Plaas een van jou arms onder die persoon ter ondersteuning en gebruik jou ander hand om die persoon se kop te ondersteun en die neus te verseël.

Indien julle in diep water is, moet jy begin kant toe swem met die persoon, maar blaas nou en dan lug in by die mond. Wanneer jy aan wal is, kan jy normale kunsmatige asemhaling toepas.

17.9.14

Noodhulp: Hoe help jy iemand wat hulself opgehang het of verwurg word

1. Indien dit iemand is wat hang, ondersteun die persoon se liggaam dadelik. Verwyder dan die beknelling om die nek.

2. Indien die persoon bewusteloos is, maar normaal asemhaal, plaas jy hom / haar in die herstelposisie.

3. Indië die asemhaling moeilik is of opgehou het, begin dadelik met kunsmatige asemhaling.

4. Sorg dat die persoon sodra moontlik by ’n hospitaal kom.

10.9.14

Die onmiddellike behandeling vir versmoring

1. Verwyder die oorsaak van die versmoring en maak seker die persoon se lugweg is oop.

2. Indien die persoon nie asemhaal nie, begin onmiddellik met kunsmatige asemhaling.

3. Indien daar asemhaling en ’n pols is, plaas die persoon in die herstelposisie.

4. Toets die asemhalingstempo en die bewussynsvlak elke 10 minute.

5. Kry so gou as moontlik mediese hulp.

27.8.14

Noodhulp: Hoe om skoene te verwyder

Maak of sny die veters versigtig los. Verwyder die skoen deur die enkel te ondersteun met jou een hand, terwyl jy die skoen verwyder met die ander hand.

20.8.14

Noodhulp: Verwyder 'n broek

Indien die bobeen ontbloot moet word, trek die broek van die middel af. Indien jy by die kuit of knie moet uitkom, skyf die broek op van onder af, indien moontlik. ’n Nousluitende broek sal in alle gevalle waarskynlik afgetrek moet word.

’n Alternatief is om die broek aan die binnenaat oop te sny of te knip.

13.8.14

Noodhulp: Verwyder ’n baadjie / jas / hemp / frokkie

Die persoon moet in die herstelposisie wees. Lig hom / haar op en skuif die kledingstuk oor die skouers. As een van die arms beseer is, buig die gesonde arm en verwyder eers die baadjie aan daardie kant. Trek dan die mou baie versigtig van die gesonde arm af. Hou die arm so reguit moontlik.

'n Hemp of frokkie word op dieselfde manier verwyder. Sny dit indien nodig.

6.8.14

Noodhulp: Die verwydering van valhelms

Voor ’n valhelm, soos die van ’n motorfietsryer, verwyder word, moet die persoon se toestand beoordeel word. Meeste van die tyd is dit beter om die valhelm op te los.

’n Volgesighelm moet slegs verwyder word indien dit asemhaling belemmer, die persoon opgooi of indien daar ernstige kopbeserings is. Meeste van die tyd sal die verwydering afhang van die beserings en die moontlikheid om dit te verwyder.

Indien dit ’n helm is wat slegs die kop bedek, maak die kenband los, of sny dit af. Voorkom enige onnodige drukking op die kop deur die helm se kante na buite te trek voor jy dit oplig en agtertoe verwyder.

Twee persone moet liefs ’n volgesighelm verwyder. Een moet die beseerde se kop en nek ondersteun, terwyl die ander een die valhelm verwyder. Kantel die helm eers agtertoe en lig dit oor die ken. Kantel dit dan weer vorentoe daarom van die skedel te verwyder.

30.7.14

Noodhulp: Uitwendige leidrade

Indien jy moet hulp verleen aan ’n onbekende persoon is dit ’n goeie idee om vir moontlik belangrike leidrade in die persoon se sakke of handsak te soek.

Kyk vir dinge soos afspraakkaartjies vir dokters of klinieke. Of inligtingkaartjies in verband met steroïede of insulien of dalk epilepsie.

Pakkies met suikerklontjies of glukose kan dui op ’n diabeet.

Daar is ook verskeie mediese waarskuwingstekens wat deur persone met ’n mediese toestand gedra word, byvoorbeeld die bekende Medic-alert halsband.

Probeer om die ondersoek in die teenwoordigheid van ’n getuie te doen.

23.7.14

Noodhulp: Bewussynsvlakke

Daar is verskillende stadiums waardeur ’n mens kan gaan indien jy beweeg van by jou volle bewussyn wees tot bewusteloos wees.

Basies kom dit daarop neer dat indien die persoon goed op prikkels reageer, die bewusteloosheid slegs lig is – soos byvoorbeeld ’n floute.

As die bewussynsvlak laag is, is die persoon dieper bewusteloos.

Wanneer daar geen reaksie is van enige aard nie, is die persoon in ’n potensieel gevaarlike toestand.

Bewussynsvlakke moet elke 10 minute getoets word. Gebruik prikkels soos om hard in die persoon se oor te praat, die persoon te probeer wakker maak deur die skouers liggies te skud en deur die persoon se hande of enkels te knyp. Toets ook vir ’n refleksreaksie deur aan die persoon se wimpers te raak.

Die persoon se asemhaling en temperatuur moet ook nagegaan word.

16.7.14

Noodhulp: 'n Algemene ondersoek van die bene

Die bene word op dieselfde manier as die arms ondersoek. Ondersoek dit deeglik en kyk vir enige misvormheid en swelling. Maak seker jy kyk na die heupe, dye, knieskywe, die onderbene, bobene, enkels, voete en tone.

9.7.14

Noodhulp: ’n Algemene ondersoek van die arms

Begin met die bene in die bo-arm en werk dan af na die voorarm, polsgewrigte, hande en vingers. Let noukeurig op vir enige misvormdheid en swelsel wat op frakture kan dui. Kyk ook vir enige mediese armbande of inspuitmerke.

2.7.14

Noodhulp: ’n Algemene ondersoek van die borskas, sleutelbene en bekken

Voel liggies met jou hande oor die volgende gedeeltes van die liggaam:

Borskas
Voel vir egaligheid van die beweging van die ribbes tydens asemhaling. Voel en kyk vir wonde wat lug insuig. Voel vir onreëlmatigheid in die ribbes. Onthou om ook met die borsbeen langs te voel.

Sleutelbene
Voel met die sleutelbene langs en die skouers vir onreëlmatigheid.

Bekken
Voel langs die bekken vir onreëlmatigheid. Onthou om versigtig te wees!

25.6.14

Noodhulp: ’n Algemene ondersoek van die ruggraat

Skuif jou hand versigting onder ’n persoon in wat op sy/haar rug lê. Moet nie enige klerasie probeer verwyder nie. Voel met jou hand langs die ruggraat op en af vir enige onreëlmatighede of swelling.

18.6.14

Noodhulp: ’n Algemene ondersoek van die nek

Sorg dat al die klere om ’n persoon se nek los is. Begin aan die onderkant van die skedel en beweeg jou vingers af oor die ruggraat sovêr as wat jy kan bykom. Voel vir enige onreëlmatigheid in die rugwerwels.

Die nekslagaar word gebruik om vas te stel of die hart klop.

Indien daar geen ernstige beserings aan die nek op ruggraat is nie kan die kop in die oop lugweg-posisie geplaas word.

11.6.14

Noodhulp: ’n Algemene ondersoek van die gesig

Die kleur van iemand se gesig is belangrik. Dit kan wissel van blosend na bleek, selfs blou indien daar fout is met die asemhaling.

Voel ook die temperatuur van die gesig om vas te stel of dit baie warm of koud is. Let ook op na die toestand van die vel. Is dit droog of oormatig natgesweet.