Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Wond. Show all posts
Showing posts with label Wond. Show all posts

20.1.16

Wonde aan jou palm

’n Wond aan die handpalm kan ernstig bloei. Sulke wonde gaan ook soms gepaard met frakture. Indien die wond diep is, kan die senuwees en senings in die hand beskadig word.

Simptome:

Pyn by die wond.

Ernstige bloeding.

Verlies van gevoel en beweging in die vingers en hand – dit is wanneer die senuwees en senings afgesny is.


Beheer die bloeding en kry die persoon so gou moontlik by ’n hospitaal. Moet nie enige ingebedde voorwerpe probeer verwyder nie.

30.12.15

Behandeling van mondwonde

1. Vra die persoon om te sit met sy / haar kop vooroor en na die beseerde kant.

2. Plaas ’n skoon wondbedekking op de wond en oefen regstreekse druk uit daarop daardeur tussen die duim en vingers vas te druk.

3. Sê die persoon moet enige bloed in die mond uitspoeg.

4. Indien die bloeding na 10 tot 20 minute voortduur of indien dit ’n groot wond is, moet die persoon dadelik na die hospitaal geneem word.

5. Moenie die mond uitspoel nie. Dit kan bloedklonte versteur. Die persoon moet vir 12 uur lank warm drankies vermy.

2.12.15

Die behandeling van bloeiende tandvleis

1.       Vra die persoon om met die kop skuins na die beseerde kant te sit sodat die bloed kan dreineer.
2.       Plaas ’n dik kussinkie of ’n skoon doek op die bloeiende tandkas, maar nie in die gat nie – die kussinkiemoet dik genoeg wees sodat die persoonse tande nie op mekaar kom tydens ’n byt nie.
3.       Vra die persoon om die kussinkie in posisie te hou en dan vir 15 tot 20 minute daarop te byt. Die ken kan met die hand gestut word.
4.       Vra die persoon om enige bloed in die mond uit te spoeg terwyl die kussinkie in posisie gehou word.
5.       Verwyder die kussinkie versigtig na 15 tot 20 minute sonder om enige moontlike klont te versteur. Indien dit nog bloei moet die kussinkie weer vasgebyt word vir nog 10 minute.
6.       Moenie die mond uitspoel nie – dit sal enige klont versteur. Die persoon moet ook geen warm drankie drink vir 12 uur nie.
7.       Indien die bloeding nie wil stop nie of weer begin moet die persoon mediese hulp kry.

8.       Indien ’n tand uit is, plaas dit in ’n skoonhouer en kry die persoon sodra moontlik by ’n tandarts saam met die tand.

25.11.15

Bloeiende tandvleis

’n Tandkas kan bloei nadat ’n tand getrek, as gevolg van die verlies van ’n tand weens ’n besering of as gevolg van ’n kakebeenfraktuur.

Met die uitstamp of –skeur van ’n tand sit jy normaalweg met ’n skeurwond in die mond.

Kyk altyd om die inaseming van bloed te verhoed en probeer enige bloeding beheer.

As die tand uitgestamp is, moet jy hulp kry van ’n tandarts.

13.11.15

Snye en skrape

Was klein snytjies met seep en water en bedek met ´n steriele gaasbedekking. Die meeste klein wonde sal na ´n minuut of wat ophou bloei met ligte lokale drukking. In die geval van dieper snye moet voorwerpe wat in die wond vassit nie mee gepeuter word nie. Druk ´n skoon lap of gaas op die wond of om die rand daarvan vir 10-15 minute. Vermeerder druk indien die bloeding voortduur. Hou die beseerde gedeelte hoër as die res van die liggaam om die bloed in die rigting van die hart te laat vloei.

Maak die persoon so gerieflik moontlik, maar moenie vir hom of haar iets te ete of drinke gee nie. Sodra die bloeding gestop het, verwyder die bedekking en enige vuilheid. Gebruik ´n seperige lappie en warm water om die wond versigtig met uitwaartse bewegings te reinig. Droog sagkens rondom die wond af en bedek met ´n skoon lap. Bedek dan met ´n pleister of verband.

Sorg dat die persoon mediese hulp kry indien die bloeding ernstig is, indien die bloed uitspuit, indien die bloeding nie afneem en ophou nie, indien die snye diep is met gapende rande en in geval van punktuurwonde of infeksie.

28.10.15

Noodhulp: Die behandeling van kopvelwonde

1. Beheer die bloeding deur regstreekse druk uit te oefen op die wond. Plaas ’n wondbedekking wat groter as die wond is daarop en verbind dit stewig. As daar ’n fraktuur is of ’n voorwerp in die wond, moet nie druk toepas nie.
2. Indien die persoon by sy / haar bewussyn is, laat hulle lê met die kop en skouers effens opgelig.
3. Toets die asemhalingstempo, pols en bewussynsvlak elke 10 minute.
4. Indien die persoon bewusteloos is, plaas hulle in die herstelposisie met die beseerde kant na bo.
5. Indien die asemhaling en hartklop ophou begin onmiddellik met kunsmatige asemhaling.
6. Die persoon moet sodra moontlik by ’n hospitaal kom.

21.10.15

Kopvelwonde

Beserings van die kopvel is gewoonlik as gevolg van ’n val. Veral bejaardes is geneig om maklik te val.

Hierdie tipe wonde kan erg bloei weens die ryk toevoer van bloed na die kopvel en omdat die vel om die skedel baie styf gespan is. As die vel beskadig word bars dit oop en laat ’n gapende wond. Die bloeding kan ernstiger lyk as wat dit werklik is, maar wees ook bedag op ’n moontlike skedelfraktuur.

Simptome en tekens:
o Pyn teerheid en bloeding op die kopvel.
o Swelsel om die wond.
o Moontlike simptome en tekens van skedelbreuk.
o Moontlike simptome en tekens van breinskade.
o Die persoon kan ook bewusteloos wees.

Beheer die bloeding sodra moontlik. Die pasiënt moet sodra moontlik by ’n hospitaal kom. ’n Kopbesering moet altyd deur ’n dokter ondersoek word.

5.8.15

Behandeling van geinfekteerde wonde

1. Bedek die wond met ’n skoon, verkieslik steriele materiaal en bind vas met ’n verband.
2. Lig die beseerde deel en immobiliseer dit.
3. Neem die persoon na ’n hospitaal.

29.7.15

Geïnfekteerde wonde

Alle oop wonde kan besmet word. Dit kan kieme wees wat verband hou met die oorsaak van die besering, uit die lug of van iemand se asem of vingers.

Sommige vullisdeeltjies word deur bloeding weggevoer van die beskadigde weefsel. Enige skadelike kieme wat agterbly word gewoonlik deur die witbloedselle in die bloed vernietig.

Normale noodhulp sluit die voorkoming van infeksie in.

Enige wond wat na 48 uur nog nie normaal begin genees nie kan geïnfekteer wees. Dit kan ernstige gevolge hê. Die kieme kan deur die bloedsomloopstelsel versprei na ander dele van die liggaam. Dit kan weefsel vernietig of selfs die pasiënt se dood veroorsaak.

Simptome:
• Toenemende pyn in die wond.
• Toenemende swelsel en rooi kleur in die wond saam met ’n warm gevoel.
• Etter kan uit die wond sypel.
• Koors, sweet, dors, bewerasie en slaperigheid.
• Swelsel en teerheid in die kliere.
• Dowwe rooi strepe wat in die rigting van die limfkliere loop – dit is geïnfekteerde limfvate. Dit word gewoonlik gesien op die vel of aan die binnekant van die arms of bene.

22.7.15

Behandeling vir geringe uitwendige bloeding

1. Spoel die wond liggies af met lopende water.
2. Gebruik ’n steriele depper en maak die omliggende vel skoon met water en seep. Vee weg van die wond af. Druk versigtig droog.
3. Oefen regstreekse druk uit indien daar bloeding is.
4. Verbind ’n klein wond met ’n pleister.
5. Lig en ondersteun die beseerde deel, tensy jy vermoed daar is ’n fraktuur.
6. As daar enige twyfel is oor die besering, kry mediese hulp.

13.7.15

Geringe uitwendige bloeding

Meeste wonde is redelik klein en veroorsaak slegs geringe bloeding. Bloed kanwel uit alle dele van die wond sypel, maar dit hou gou vanself op.

’n Klein pleister is gewoonlik al wat nodig. Mediese hulp is slegs nodig as daar infeksie is.

Simptome:
• Pyn in die wond
• Geringe bloeding

Maak die wond sodra moontlik skoon en verbind dit.

Kruisement-olie en kaneel gebruik om ernstige wonde te behandel

Bakterieë wat op ernstige wonde ontwikkel kan ernstige probleme veroorsaak en is moeilik om te behandel. Wetenskaplikes het onlangs uitgevind hoe om die antimikrobiese verbindings in kruisement en kaneel te onttrek en so te verpak in kapsules dat dit sulke bakterieë vernietig en herstel aanwakker.

Bakterieë wat wonde op hierdie manier kan nie altyd met gewone antibiotika behandel word nie. Soms moet die geaffekteerde dele uitgesny word.

Vir meer inligting raadpleeg die joernaal ACS Nano.

1.7.15

Groot voorwerp in ’n wond

As daar ’n groot voorwerp in ’n wond vassit moet jy dit nooit probeer verwyder nie. Dit kan as ’n prop dien wat bloeding beperk. ’n Groot voorwerp is enigiets wat nie maklik afgevee of afgespoel kan word nie.

Behandeling:
1. As daar erge bloeding is, moet jy die rande van die wond langs die voorwerp teen mekaar druk.
2. Indien jy gaas beskikbaar het, plaas dit oor of om die voorwerp.
3. Plaas watte of soortgelyke materiaal rondom die wond, Indien moontlik moet jy dit opbou tot dit hoog genoeg is om drukking op die voorwerp te voorkom.
4. Bind dit vas met ’n verband. Die verband moet nie oor die voorwerp gaan nie.
5. Lig die beseerde deel van die liggaam op en immobiliseer dit sovêr moontlik.
6. Neem die persoon nou dadelik na ’n hospitaal.

17.6.15

Noodhulp: die behandeling van ernstige uitwendige bloeding

1. Kyk of daar vreemde voorwerpe in die wond is. Oefen druk uit om die bloeding te beheer. Indien die wond baie groot is, druk die rande na mekaar.

2. Laat die persoon lê en indien die wond aan ’n ledemaat is wat nie gebreek is nie, lig en ondersteun daardie ledemaat.

3. Indien die wond aan ’n ledemaat is en regstreekse druk help nie om die bloeding te keer nie, plaas druk op die hoofslagaar wat bloed na daardie ledemaat vervoer.

4. Plaas ’n steriele ongemedikeerde wondbedekking op die wond en maak seker dat dit oor die wond se rande strek. Druk dit stewig vas en bind vas met ’n verband. Knoop die verband styf genoeg om die bloeding te beheer, maar moet nie die sirkulasie afsny nie.

5. Indien daar nog bloeding is, plaas nog wondbedekkings bo-op die oorspronklike wondbedekking.

6. Kry die persoon by ’n hospitaal.

10.6.15

Ernstige uitwendige bloeding

Wonde met ernstige uitwendige bloeding is soms so traumaties dat mens vergeet van wat jy moet doen.

Onthou die belangrikste is altyd asemhaling. Begin onmiddellik met kunsmatige asemhaling indien nodig. Kyk ook dat die lugweë oop is en oop bly. Gee dan aandag aan die wond.

Ernstige bloeding moet sodra moontlik behandel word. Soms kan jy net die bloeding verminder en nie stop nie, maar dit is soms genoeg om ’n lewe te red.

Behalwe ernstige bloedverlies sal die persoon ook die simptome en tekens van skok toon, kla dat hy dors is, duiselig voel, die persoon se vel kan koud en klam voel, die pols word vinniger maar swakker, die persoon is rusteloos en praat dalk aanhoudend en die asemhaling raak vlakker.

Kry die persoon so gou moontlik by ’n hospitaal.

27.5.15

Kneuswond

’n Kneuswond word veroorsaak deur ’n val of ’n hou met ’n stomp voorwerp wat die vel laat bars en die omliggende weefsel kneus.

’n Kneuswond hou die risiko in van skade aan enige onderliggende strukture. Tydens ’n kneuswond lek bloed uit die beskadigde bloedvate in die weefsel in, hoewel die vel heel bly.

20.5.15

Skietwond

Skietwonde kan ernstige inwendige beserings tot gevolg hê. Pasiënte moet vir beide inwendige en uitwendige bloeding behandel word, want inwendige organe, weefsel en bloedvate word deur die koeël beskadig. Let op dat die wond waar die koeël die liggaam verlaat gewoonlik groter is as die een waar dit binnegaan.

13.5.15

Skuurwond

’n Skuurwond is gewoonlik die gevolg van ’n skurende val. Die oppervlak van die vel word afgeskraap en dit laat ’n teer rou wond.

Hierdie wonde bevat dikwels vullis wat tydens die besering daar vassit en maklik kan ontsteek.

6.5.15

Steekwond

Spykers, naalde, tuinvurke, relings, selfs tande, kan wonde veroorsaak wat ’n ernstige inwendige besering tot gevolg kan hê.

Indien die wond diep is, is die infeksierisiko hoog, omdat kieme en vullis dieper ingevoer kan word.


(foto James Heilman)

29.4.15

Skeurwond

Die vel kan geskeur word as dit in aanraking kom met sekere voorwerpe, byvoorbeeld doringdraad, masjinerie of ’n troeteldier se naels.

Hierdie wonde is normaalweg minder ernstig as snywonde en bloei nie so erg nie. Die gevaar van besmetting is wel groter in so ’n sny.