Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Diarree. Show all posts
Showing posts with label Diarree. Show all posts

11.3.24

Diarree / Buikloop

Diarree word gekenmerk deur die voorkoms van gereelde en los of totaal ongevormde, waterige stoelgange. Dit kom algemeen onder kinders voor en is ’n aansteeklike siekte. Ander simptome wat mag voorkom, sluit in braking, krampe, buikpyn en soms koors. Dit word veroorsaak deur virusinfeksies of voedselgebonde bakterieë.

Ligte diarree kan toegelaat word om vanself te genees, aangesien dit die liggaam se manier is om van gifstowwe, bakterieë en ander vreemde stowwe ontslae te raak. Moet vir minstens 2 dae nie medikasie teen diarree gebruik nie. Drink voldoende hoeveelhede water en ander vloeistowwe.

Indien dit vir langer as 2 dae voortduur, indien bloed voorkom, indien stoelgang lyk soos swart teer of indien koors voorkom moet jy dadelik die dokter gaan spreek.

Boereraat:

Rasper ’n appel. Laat dit effens bruin word en eet dit dan.

♦♦♦

Rasper 3 geelwortels en kook dit in 1 liter water saam met 2 mℓ sout vir 5 minute. Behou die vloeistof en drink gereeld ’n bietjie daarvan.

♦♦♦

Meng twee teelepels vlapoeier met ’n kwart koppie water en sluk weg. Herhaal elke 2 ure.

♦♦♦

Drink Lemonade waarvan die gas ontsnap het (flat).

13.2.24

Kruie vir kwale: Diarree

Rooiwortel (Bulbine natalensis) is 'n vetplant wat in dele van Suid-Afrika groei. Die wortel, blaar en stam word as medisyne gebruik.
Mense gebruik dit vir diarree.

♦♦♦

Week ’n takkie wilde salie in ’n koppie kookwater vir 10 minute.
Gooi dit deur ’n siffie en meng 3 eetlepels Engelse sout by en bietjie suurlemoensap. Hou die mengsel in ’n lugdigte houer en gee die pasiënt gereeld klein bietjies daarvan.

♦♦♦

Die blare en wortels van die kaneelbol word gebruik om ’n tee te maak vir die behandeling van diarree.
Sny ’n stuk wortel van 1 cm skoon en 2 teelepels gekapte blare. Laat dit trek in ’n koppie kookwater vir 5 minute en gooi deur ’n sif voor jy dit drink.

♦♦♦

Die Khoi het Europeërs meer as 200 jaar gelede geleer van die medisinale waarde van die muishondbos. Hulle het dit gebruik vir diarree.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n hand vol vars bergtee blare, ’n paar wildeals blare en twee malva blare. Laat dit trek vir 5 minute.
Drink dit vir diarree.

♦♦♦

Meng en drink mielieblom (Mezina) met water met of gerasperde appel (bruin word) of oorryp piesang en vars suurlemoensap.

♦♦♦



Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

26.7.21

Spysverteringstelsel

Die menslike liggaam bestaan uit verskeie geïntegreerde stelsels wat uit verskillende organe bestaan en saamwerk om die liggaam as ‘n eenheid te laat funksioneer.

Hooffunksie van die spysverteringstelsel
Verantwoordelik vir die afbreek van voedsel in klein oplosbare deeltjies/voedingstowwe wat in die bloedstroom geabsorbeer en na die liggaamselle vervoer word om deel te vorm van metaboliese prosesse (assimilasie).

Die spysverteringstelsel bestaan uit verskeie dele van die spysverteringskanaal (die lang gedraaide pypvormige struktuur wat by die mond begin en by die anus eindig).

Vier hoofprosesse vind in verskillende dele van die spysverteringskanaal plaas
1. Ingestie – vind plaas wanneer voedsel of drank deur die mond ingeneem word.
2. Vertering – proses waartydens groot voedseldele in klein oplosbare deeltjies afgebreek word vir opname deur die selmembrane tydens absorpsie (meganies= fisiese afbreek van voedsel; chemiese = biochemiese afbreek van voedsel met die hulp van ensieme)
3. Absorpsie – wanneer verteerde opgeloste voedseldeeltjies/voedingstowwe in die spysverteringskanaal tot in die omringende selle van die spysverteringskanaal beweeg vanwaar dit deur die bloedstroom na liggaamselle vervoer word.
4. Egestie – proses waartydens onverteerde of ongewenste deeltjies vanuit die spysverteringskanaal beweeg in die vorm van faeses (ook bekend as defekasie)

Komponente van die spysverteringskanaal

1. Mond en esofagus
▪ Voedsel word fyngekou en met speeksel gemeng (begin van meganiese en chemiese vertering). Fyngekoude voedsel word gesluk en beweeg dan deur die esofagus na die maag.
▪ Die sterk onwillekeurige spiere van die esofagus trek ritmies saam en verslap om voedsel na maag te forseer (die proses staan bekend as peristalse)
2.Maag
▪ Spieragtige sakagtige orgaan
▪ Skei verteringsap af wat ensieme en soutsuur bevat om voedsel chemies af te breek (vertering)
▪ Gedeeltelik verteerde voedsel vorm ‘n dik vloeistof genaamd chym.
3.Dunderm
▪ Verteringsappe wat deur kliere in die wande van dunderm afgeskei word is verantwoordelik vir die meeste vertering van chym tot in oplosbare voedingstowwe/deeltjies sodat absorpsie kan plaasvind.
4.Dikderm (kolon)
▪ Spieragtige buis wat strek vanaf die dunderm tot by die anus
▪ Dien as tydelike stoorplek vir onverteerde afvalmateriaal (faeces) bv. oortollige water, soute en onverteerbare vesel.
5.Rektum en anus
▪ Die oorblywende faeces beweeg deur tot in die rektum en dan na die anus vanwaar egestie plaasvind.

Gesondheidskwessies wat met die spysverteringstelsel verband hou
1.Ulkusse– veroorsaak deur skade aan die binnevoering van die mond, esofagus, maagwand of boonste deel van die dunderm. Maagsere kan ook deur bakterieë en sekere medikasie veroorsaak word en kan met antibiotika behandel word. Sielkundige stres en oormaat suurafskeiding kan ook tot maagsere lei.
2.Anorexia nervosa – een van vele eetsteurnisse wat veroorsaak word deur ‘n abnormale vrees vir gewigsopname wat daartoe lei dat mense hulself uithonger. Kan lei tot beenverdunning, nierskade, hartprobleme en selfs die dood.
3.Diarree – die oormatige uitskei van waterige faeces wat kan lei tot dehidrasie. Kan veroorsaak word deur bakteriële of virale infeksies. Simptome sluit in koors, braking en maagkrampe. Indien onbehandel, veral in jong kinders en babas, kan dit lei tot die dood.
4.Sirrose van die lewer.– beskadiging van lewerweefsel. Sommige hoofoorsake sluit in: kroniese alkoholisme, virale infeksie soos byvoorbeeld hepatitis B, C en D of vetlewersiekte wat deur oorgewig of diabetes veroorsaak word.

28.1.13

Dodelike diarree in Kaap

Diarree is een van die hoofoorsake van siekteverwante sterftes onder kinders – en die seisoen waarin dié siekte hoogty vier, duur tot Mei.

Vier kinders is reeds vanjaar in Kaapse hospitale dood aan ­diarree, het die Wes-Kaapse departement van gesondheid Donderdag bekend gemaak.

’n Baba wat te veel water verloor, kan binne ses uur sterf.

Die departement het mense gewaarsku om nie “kruiemengsels aan kinders te gee om hulle ‘uit te droog’ nie”, asook nie ’n enema toe te dien nie. “Dit is baie gevaarlik,” het Theuns ­Botha, provinsiale minister van gesondheid, gesê.

Mense besef nie dat ’n baba of kind binne ure kan ontwater nie. Elke keer wanneer ’n mens opgooi of diarree het, verloor hy water en onontbeerlike soute.

Diarree kan veroorsaak word deur bakterieë, virusse, parasiete of sommige ander siektes.

Was altyd jou hande voordat jy eet, met kos werk, nadat jy in die toilet was en nadat ’n baba se doek omgeruil is. Dit is nie net kinders wat kan ontwater, ernstig siek word en sterf weens diarree nie – volwassenes moet net so versigtig wees.