Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Hepatitis B. Show all posts
Showing posts with label Hepatitis B. Show all posts

26.7.21

Spysverteringstelsel

Die menslike liggaam bestaan uit verskeie geïntegreerde stelsels wat uit verskillende organe bestaan en saamwerk om die liggaam as ‘n eenheid te laat funksioneer.

Hooffunksie van die spysverteringstelsel
Verantwoordelik vir die afbreek van voedsel in klein oplosbare deeltjies/voedingstowwe wat in die bloedstroom geabsorbeer en na die liggaamselle vervoer word om deel te vorm van metaboliese prosesse (assimilasie).

Die spysverteringstelsel bestaan uit verskeie dele van die spysverteringskanaal (die lang gedraaide pypvormige struktuur wat by die mond begin en by die anus eindig).

Vier hoofprosesse vind in verskillende dele van die spysverteringskanaal plaas
1. Ingestie – vind plaas wanneer voedsel of drank deur die mond ingeneem word.
2. Vertering – proses waartydens groot voedseldele in klein oplosbare deeltjies afgebreek word vir opname deur die selmembrane tydens absorpsie (meganies= fisiese afbreek van voedsel; chemiese = biochemiese afbreek van voedsel met die hulp van ensieme)
3. Absorpsie – wanneer verteerde opgeloste voedseldeeltjies/voedingstowwe in die spysverteringskanaal tot in die omringende selle van die spysverteringskanaal beweeg vanwaar dit deur die bloedstroom na liggaamselle vervoer word.
4. Egestie – proses waartydens onverteerde of ongewenste deeltjies vanuit die spysverteringskanaal beweeg in die vorm van faeses (ook bekend as defekasie)

Komponente van die spysverteringskanaal

1. Mond en esofagus
▪ Voedsel word fyngekou en met speeksel gemeng (begin van meganiese en chemiese vertering). Fyngekoude voedsel word gesluk en beweeg dan deur die esofagus na die maag.
▪ Die sterk onwillekeurige spiere van die esofagus trek ritmies saam en verslap om voedsel na maag te forseer (die proses staan bekend as peristalse)
2.Maag
▪ Spieragtige sakagtige orgaan
▪ Skei verteringsap af wat ensieme en soutsuur bevat om voedsel chemies af te breek (vertering)
▪ Gedeeltelik verteerde voedsel vorm ‘n dik vloeistof genaamd chym.
3.Dunderm
▪ Verteringsappe wat deur kliere in die wande van dunderm afgeskei word is verantwoordelik vir die meeste vertering van chym tot in oplosbare voedingstowwe/deeltjies sodat absorpsie kan plaasvind.
4.Dikderm (kolon)
▪ Spieragtige buis wat strek vanaf die dunderm tot by die anus
▪ Dien as tydelike stoorplek vir onverteerde afvalmateriaal (faeces) bv. oortollige water, soute en onverteerbare vesel.
5.Rektum en anus
▪ Die oorblywende faeces beweeg deur tot in die rektum en dan na die anus vanwaar egestie plaasvind.

Gesondheidskwessies wat met die spysverteringstelsel verband hou
1.Ulkusse– veroorsaak deur skade aan die binnevoering van die mond, esofagus, maagwand of boonste deel van die dunderm. Maagsere kan ook deur bakterieë en sekere medikasie veroorsaak word en kan met antibiotika behandel word. Sielkundige stres en oormaat suurafskeiding kan ook tot maagsere lei.
2.Anorexia nervosa – een van vele eetsteurnisse wat veroorsaak word deur ‘n abnormale vrees vir gewigsopname wat daartoe lei dat mense hulself uithonger. Kan lei tot beenverdunning, nierskade, hartprobleme en selfs die dood.
3.Diarree – die oormatige uitskei van waterige faeces wat kan lei tot dehidrasie. Kan veroorsaak word deur bakteriële of virale infeksies. Simptome sluit in koors, braking en maagkrampe. Indien onbehandel, veral in jong kinders en babas, kan dit lei tot die dood.
4.Sirrose van die lewer.– beskadiging van lewerweefsel. Sommige hoofoorsake sluit in: kroniese alkoholisme, virale infeksie soos byvoorbeeld hepatitis B, C en D of vetlewersiekte wat deur oorgewig of diabetes veroorsaak word.

30.3.20

Hepatitis B

Hepatitis B is ’n aansteeklike siekte wat veroorsaak word deur ’n virus wat die lewer aantas.

Baie mense het geen simptome tydens die aanvanklike infeksie nie, maar sommige kry skielike simptome soos braking, ’n geel vel, moegheid, donker urine en maagpyn. Die aanvanklike simptome duur gewoonlik ’n paar weke en dit is selde dodelik. Dit kan 30 tot 180 dae neem voor die simptome begin.

Sowat 90% van dié wat om en by die tyd van hul geboorte besmet raak, ontwikkel chroniese hepatitis B, terwyl minder as 10% van mense wat ná die ouderdom van vyf besmet raak, dit ontwikkel. Hoewel die meeste mense geen simptome het nie, kan sirrose en lewerkanker eindelik ontwikkel. Dié komplikasies lei tot die dood van 15% tot 25% van mense met die chroniese siekte.

Die virus word oorgedra deur blootstelling aan bloed of liggaamsvloeistowwe. Infeksie om en by die tyd van geboorte of weens kontak kleintyd met ander mense se bloed is die mees algemene manier waarop hepatitis B opgedoen word in gebiede waar die siekte algemeen voorkom. In gebiede waar die siekte skaars is, is dwelmgebruik en seks die algemeenste maniere van oordrag.

Die infeksie kan tussen 30 en 60 dae ná blootstelling gediagnoseer word, gewoonlik met ’n bloedtoets. Die virus is een van vyf hoofoorsake van hepatitis. Die ander is hepatitis A, C, D en E.

Hepatitis B kan met inenting voorkom word. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel inenting binne die eerste dag ná geboorte aan indien moontlik. Dit werk sowat 95% van die tyd. Daar word ook aanbeveel dat alle bloed vir hepatitis B getoets word voor ’n bloedoortapping en kondome gebruik word tydens seks om infeksie te voorkom.

In mense wat chronies siek word, kan antivirale medikasie soos tenofovir of interferon nuttig wees. ’n Leweroorplanting is soms nodig in die geval van sirrose.