Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



30.3.20

Hepatitis B

Hepatitis B is ’n aansteeklike siekte wat veroorsaak word deur ’n virus wat die lewer aantas.

Baie mense het geen simptome tydens die aanvanklike infeksie nie, maar sommige kry skielike simptome soos braking, ’n geel vel, moegheid, donker urine en maagpyn. Die aanvanklike simptome duur gewoonlik ’n paar weke en dit is selde dodelik. Dit kan 30 tot 180 dae neem voor die simptome begin.

Sowat 90% van dié wat om en by die tyd van hul geboorte besmet raak, ontwikkel chroniese hepatitis B, terwyl minder as 10% van mense wat ná die ouderdom van vyf besmet raak, dit ontwikkel. Hoewel die meeste mense geen simptome het nie, kan sirrose en lewerkanker eindelik ontwikkel. Dié komplikasies lei tot die dood van 15% tot 25% van mense met die chroniese siekte.

Die virus word oorgedra deur blootstelling aan bloed of liggaamsvloeistowwe. Infeksie om en by die tyd van geboorte of weens kontak kleintyd met ander mense se bloed is die mees algemene manier waarop hepatitis B opgedoen word in gebiede waar die siekte algemeen voorkom. In gebiede waar die siekte skaars is, is dwelmgebruik en seks die algemeenste maniere van oordrag.

Die infeksie kan tussen 30 en 60 dae ná blootstelling gediagnoseer word, gewoonlik met ’n bloedtoets. Die virus is een van vyf hoofoorsake van hepatitis. Die ander is hepatitis A, C, D en E.

Hepatitis B kan met inenting voorkom word. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel inenting binne die eerste dag ná geboorte aan indien moontlik. Dit werk sowat 95% van die tyd. Daar word ook aanbeveel dat alle bloed vir hepatitis B getoets word voor ’n bloedoortapping en kondome gebruik word tydens seks om infeksie te voorkom.

In mense wat chronies siek word, kan antivirale medikasie soos tenofovir of interferon nuttig wees. ’n Leweroorplanting is soms nodig in die geval van sirrose.

No comments :

Post a Comment