Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



17.8.16

Die pols

Die pols is ’n drukgolf wat deur die slagare gaan en wat die pompwerking van die hart aandui. Dit kan gevoel word op enige plek waar ’n slagaar naby die liggaamsoppervlak is en teen ’n been gedruk word.

Die nuttigste pols, die nekslagaarpols, kan net onder die hoek van die kakebeen in die holte tussen die stemkas en die aanliggende spier gevoel word.

Tensy hartversaking vermoed word, word die pols egter gewoonlik by die polsgewrig aan die duim- en palmkant geneem net bokant die plooi waar die slagaar langs die binnekant van die voorarmbeen loop. Plaas jou vingers in die holte net bo die onderpunt van die been en druk die vingerpunte liggies op die slagaar - moenie jou duim gebruik nie omdat dit self ’n pols het.

Om die pols te neem, gebruik ’n horlosie met ’n sekondewyser en tel die getal polsslae in een minuut.

Die drie dinge wat gekontroleer en aangeteken moet word, is die tempo, sterkte en ritme. Let op of dit vinnig of stadig, sterk of swak, gereeld of ongereeld is. Die gemiddelde polstempo van ’n volwassene is 72 slae per minuut, maar dit kan tussen 60 en 80 wissel. Dit neem toe gedurende spanning, oefening, sommige siektes, terwyl alkohol ingeneem word, of weens ’n besering. Die polstempo by bejaardes en sommige atlete kan stadiger wees (tussen 50 en 60 slae per minuut), en dit is vinniger by jong babas (ongeveer 120 slae per minuut).

’n Normale pols is gereeld en sterk. Enige abnormaliteit soos ’n swak of bonsende pols kan op ’n abnormale toestand dui. 'n Vinnige, swak pols in ’n skynbaar onbeseerde persoon kan byvoorbeeld daarop dui dat daar verskuilde inwendige verlies van bloed of vloeistof is en dat die hart baie vinniger moet werk om ’n kleiner volume bloed te sirkuleer.

No comments :

Post a Comment