Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



23.5.16

A vir aambei

Boererate.com het onlangs die A-afdeling van die Mediese Woordeboek en Gids voltooi.

Daar is inskrywings van A tot Z in die lys wat deurlopend bygewerk word. A is voorlopig voltooi.

Behalwe mediese terme is daar ook skakels wat lei na natuurlike middels, soos byvoorbeeld aalwyn.

Dit is een van die mees volledigste gratis woordelyste van sy soort in Afrikaans.

Boererate.com het ook ’n handige Kruiegids wat verskeie kwale kan help genees en handige inligting oor Noodhulp.

18.5.16

Hondsdolheid

Hondsdolheid is ’n potensieel dodelike siekte wat versprei word deur die speeksel van besmette diere.

Die siekte kom dwarsdeur Suider-Afrika voor en word gewoonlik oorgedra deur besmette honde of meerkatte.

As iemand gebyt word, behandel die persoon soos vir ’n dierbyt. Neem dan die persoon na ’n hospitaal sodat ’n entstof teen hondsdolheid toegedien kan word.

Die dier moet afgesonder word sodat ’n veearts dit kan ondersoek om te bevestig of dit besmet is. Indien die dier ontsnap moet die polisie in kennis gestel word.

17.5.16

Bloedaflewering met hommeltuig

Twee organisasies, UPS en Zipline werk saam aan ‘n humanitêre projek in Afrika wat kan help om hommeltuig-aflewerings in die VSA ‘n werklikheid te maak.

16.5.16

Vars vrugte goed vir die hart

’n 7-jaar-studie van meer as ’n halfmiljoen Chinese volwassenes het bevestig: mense wat gereeld vars vrugte eet se kanse op ’n hartaanval of beroerte is laer as diegene wat selde vars vrugte eet.

Vrugte is ’n goeie bron van kalium, dieetvesel, antioksidante, en verskeie ander potensieel aktiewe verbindings, en bevat min sout of vet en relatief min kalorieë. Daar is bevind dat net 100 g vars vrugte per dag jou kanse op hartprobleme met ’n derde verminder.

Die studie is gepubliseer in die bekende New England Journal of Medicine.

11.5.16

Die behandeling van ’n ernstige dierbyt

1. Beheer bloeding met regstreekse druk op die wond.
2. Bedek met ’n steriele, ongemedikeerde wondbedekking en verbind stewig.
3. Kry die persoon by ’n hospitaal.

9.5.16

Lae-koolhidraat, hoë-vet dieet gevaarlik en lei tot gewigstoename

Onlangse navorsing het aan die lig gebring dat ’n lae-koolhidraat, hoë-vet dieet in som min as 8 weke gesondheidskomplikasies kan hê en ’n vinnige gewigstoename tot gevolg kan hê.

Die bevindinge het gelei daartoe dat navorsers aan die Universiteit van Melbourne in Australië ’n waarskuwing uitreik oor sogenaamde kitsdiëte, byvoorbeeld banting en die paleo-dieet, waarvoor daar min of geen wetenskaplike bewyse is nie. Volgens die span is hierdie tipe diëte veral nie geskik vir mense wat oorgewig is en nie veel oefening kry nie.

Die ongelukkige situasie wat tans bestaan is dat die publiek stories in die massamedia glo, veral deur bekende persoonlikhede wat diëte verkoop wat nie gerugsteun word deur ordentlike navorsing nie. En vir mense met pre-diabetes of diabetes, kan die lae-koolhidraat, hoë-vet dieet veral riskant wees.

Die belangrike deel van die wetenskaplikes se waarskuwing is dat jy altyd professionele advies moet inwin om gewig te beheer en altyd streef na ’n dieet gerugsteun deur kliniese bewyse.

Die wetenskaplikes het gesien hoe muise op die diëte se glukose onverdraagsaamheid vererger het, en hul insulienvlakke gestyg het in 8 weke op die dieet. Die muise se gewig het uiteindelik met 15% van hul liggaamsgewig toegeneem en hul vet het verdubbel. In perspektief gestel, vir 'n 100 kilogram persoon, is dit die ekwivalent van ’n 15 kilogram toename in gewig in 2 maande. Hierdie vlak van gewigstoename sal jou bloeddruk laat verhoog, en verhoog jou risiko van angs en depressie. Dit kan ook been-probleme en artritis veroorsaak. Vir iemand wat reeds oorgewig is, sal hierdie diëte net bloedsuikervlakke en insulienvlakke uiteindelik verhoog. Dit kan jou daadwerklik meer vatbaar maak vir diabetes.



(foto Universiteit van Melbourne)

5.5.16

Bedsere

Bedsere is beskadigde vel en die onderliggende weefsel as gevolg van langdurige druk op die plek. Dit is veral geneig om voor te kom waar die vel oor been span, soos byvoorbeeld die enkels, hakke en heupe. Sien die foto vir die algemene plekke op die liggaam.

Boereraat:

Gooi bietjie brandewyn op kweperpitte en laat 'n rukkie staan tot dit 'n jellie vorm. Smeer die jellie aan die sere.

♦♦♦

Klits die wit van 1 eier en gooi bietjie brandewyn by. Smeer aan die plekke.

♦♦♦

Laat die persoon op 'n gelooide vel lê.

♦♦♦

Neem Prep en 1 botteltjie Turlington. Meng goed en smeer aan die seerplekke.

♦♦♦

Smeer heuning aan sere.