Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



6.12.21

Gebruik uie en knoffel teen borskanker

Uie en knoffel is ’n goeie resep om die risiko van borskanker te verminder.

Dit is die bevinding van ’n studie gelei deur navorsers van die Universiteit van Buffalo (VSA) en die Universiteit van Puerto Rico. Dit is die eerste studie om die verband tussen uie- en knoffelverbruik en borskanker te ondersoek. Die studie is in die joernaal Nutrition and Cancer gepubliseer.

Die idee vir die studie het gespruit uit vorige wetenskaplike bewyse wat toon dat die eet van uie en knoffel ’n beskermende effek teen kanker kan hê. Die unieke chemiese verbindings van uie en knoffel het ’n antikarsinogeniese effek by mense, sowel as diere.

29.11.21

Hoë-vet diëte beïnvloed ook jou brein, nie net jou fisiese voorkoms nie

Daar was al heelwat navorsing oor hoe ’n ongesonde dieet met vetsug korreleer. Daar was nog nie ’n ondersoek van hoe jou dieet neurologiese veranderinge in die brein kan meebring nie. ’n Onlangse Yale-studie het ontdek dat hoë-vet diëte bydra tot onreëlmatighede in die hipotalamus-gebied van die brein, wat liggaamsgewig homeostase en metabolisme reguleer.

Die navorsers het bevestig dat inflammasie in die hipotalamus voorkom so vroeg as drie dae na die inname van 'n hoë-vet dieet, selfs voordat die liggaam tekens van vetsug begin toon.

Die studie is gepubliseer in die joernaal Cell Metabolism.

22.11.21

Sampioene kan help om die risiko van prostaatkanker te verlaag

’n Onlangse studie gepubliseer in die International Journal of Cancer het ’n omgekeerde verband gevind tussen sampioenverbruik en die ontwikkeling van prostaatkanker onder middeljarige en bejaarde mans. Dit dui daarop dat gereelde sampioeninname kan help om prostaatkanker te voorkom.

15.11.21

Toksoplasmose

Toksoplasmose is ’n siektetoestand wat veroorsaak word deur die protozoa Toxoplasma gondii. Dit is ’n siekte wat deur diere gedra word en toevallig aan mense oorgedra word. Toksoplasmose is gewoonlik ’n asimptomatiese infeksie, maar in sekere gevalle, by name kongenitale infeksie of immuunonderdrukking, kan dit meer gevaarlik wees.

Toxoplasma gondii se gasheer is die huiskat. Die parasiet se eiers, word via die feses aan mense oorgedra. Inname by ’n mens vind plaas wanneer die persoon die eiers in rou of swak gekookte vleis inneem, of wanneer hy in kontak met die eiers in die feses van ’n geïnfekteerde kat, byvoorbeeld vanuit die kat se sandput.

Mense wat aan Toxoplasma gondii blootgestel is, produseer teenliggaampies teen die organisme. Hierdie antiliggaampies bly voortbestaan in die bloed van die persoon.

Wanneer infeksie tydens swangerskap plaasvind, kan dit baie gevaarlik wees vir die ongebore fetus, met tot een uit drie van hierdie fetusse wat geïnfekteerd raak met Toxoplasma gondii. Fetale infeksie met Toxoplasma gondii lei tot kongenitale toksoplasmose. Vroeë fetale infeksie, in die eerste trimester, word geassosieer met hoër kans op fetale dood of erge kongenitale toksoplasmose, maar die infeksiekoers in derde trimester is hoër.

1.11.21

Oefening het voordele vir pasiënte met gevorderde kolorektale kanker

Pasiënte met gevorderde kolorektale kanker wat matige oefening doen, terwyl hulle chemoterapie ondergaan het, kan die vordering van die kanker en minder ernstige newe-effekte van die behandeling vertraag.

Selfs oefening met ’n lae intensiteit, soos om vier of meer uur per week te loop, hou verband met ’n afname van byna 20 persent in kolorektale kanker of die dood weens die kanker. Die studie is gepubliseer in die Journal of Clinical Oncology.

Lees ook Oefening help in stryd teen kolonkanker.

25.10.21

Cholien verminder jou risiko vir demensie

’n Onlangse studie deur navorsers aan die Universiteit van Oos-Finland (Itä-Suomen yliopisto) is die eerste om te vind dat die inname van cholien gepaard gaan met ’n verminderde risiko van demensie. Cholien word ook gekoppel aan verbeterde kognitiewe prestasie. Die belangrikste voedingsbronne wat cholien bevat is eiers en vleis. Die bevindings is gepubliseer in die American Journal of Clinical Nutrition.

Cholien is 'n noodsaaklike voedingstof, wat gewoonlik in verskillende vorme in voedsel voorkom. Cholien is ook nodig vir die vorming van asetielcholien, wat ’n neurotransmitter is. Vroeëre studies het die inname van cholien met kognitiewe verwerking verbind, en voldoende cholien-inname kan ’n rol speel in die voorkoming van kognitiewe agteruitgang en Alzheimer se siekte. Deesdae word cholien gebruik in ’n mediese drank wat gebruik word vir die behandeling van vroeë Alzheimer.

Die nuwe studie toon nou aan dat die risiko van demensie 28% laer was by mans met ’n hoë inname van cholien, in vergelyking met mans wat min cholien inkry. Hierdie bevindings is beduidend, aangesien meer as 50 miljoen mense wêreldwyd aan ’n geheueversteuring ly wat tot demensie lei.

18.10.21

Natuurlike anti-inflammatoriese middels en medisyne - boererate bevestig deur die wetenskap

Die gebruik van nie-steroïdale medisyne word gereeld voorgeskryf, sonder voorskrif en op voorskrif. Die veiligheid van die langdurige gebruik daar van moet egter in ag geneem word. Natuurlike anti-inflammatoriese middels soos kruie en voedselaanvullings is veiliger oor die langtermyn en dikwels meer effektief.

Plantmateriaal word al duisende jare gebruik. Kruie medisyne word toenemend gewild vanweë hul relatief min newe-effekte. Daar is ongelukkig min gefundeerde inligting beskikbaar oor die middels en hul moontlike newe-effekte. Mens moet ook altyd seker maak die kwaliteit van die middel is van hoogstaande gehalte. Hier is ’n lys van ’n paar natuurlike anti-inflammatoriese middels waarvan die gebruik deur navorsing ondersteun word, insluitende die newe-effekte.

Lewertraan
Lewertraan word verkry deur die olie te pers uit die vars lewer van sekere vissoorte (kabeljou) Dit is ryk aan vitamiene D en A. Dit word gebruik vir die behandeling van die behandeling van spier-, skelet- en rugwerwel siektes. Daar is heelwat navorsing oor die gebruik daarvan vir neurodegeneratiewe siekte, artritis en depressie.

Newe-effekte kom gewoonlik voor as dit nie saam met maaltye geneem word nie. Die liggaam sal dan meer vet uitskei in die stoelgang en jy kan winde opbring. Lewertraan moet nie deur persone geneem word wat bloedverdunners gebruik nie.

Wit wilgerboom
Die bas van die wit wilgerboom is een van die oudste kruiemiddels vir pyn en ontsteking. Die gebruik daarvan dateer terug na die ou Egiptiese, Romeinse, Griekse en Indiese beskawings as ’n pynstillende en koorswerende middel. Die werking is soortgelyk aan aspirien.

Soos aspirien moet dit nie deur kinders gebruik word nie. Dit moet ook nie deur persone gebruik word met maagsere, swak beheerde diabetes, lewer- of nierversteurings of basies enige toestand wat wat vererger word deur aspirien nie.

’n Normale dosis 240 mg/dag.

Borrie
Borrie is ’n bekende anti-inflammatoriese middel. Chinese medisyne gebruik dit lank reeds as ’n anti-inflammatoriese middel, as behandeling vir spysverteringsprobleme en om wondgenesing te verbeter. Verskeie kliniese kliniese studies het reeds bevestig dit ’n uitstekende antioksidant is en ’n baie goeie anti-inflammatoriese en antineoplastiese effek het. Daar is ook navorsing wat toon dat dit heel moontlik ’n goeie behandeling is vir sistiese fibrose. Dit word ook voorgeskryf vir die behandeling van kolitis, chroniese neurodegeneratiewe siektes, artritis, kanker en natuurlik inflammasie.

Die newe-effekte is min, maar met langdurige gebruik kan dit maagpyn veroorsaak, en met baie hoë dosisse kan maagsere in uiterste gevalle voorkom. Moet dit liefs nie neem as jy bloedverdunners of hoë dosisse nie-steroïdale middels gebruik nie.

’n Normale dosis is 400-600 mg/dag.

Groen tee
Groen tee word lank reeds gebruik vir kardiovaskulêre probleme en kanker. Die gebruik daarvan in die behandeling van artritiese siektes as ’n anti-inflammatoriese middel is meer onlangs erken. Die aanhoudende gebruik daarvan kan maagirritasie meebring in sommige mense en die langdurige gebruik in hoë dosisse kan ’n allergiese reaksie meebring.

’n Normale dosis wanneer jy dit gebruik as tee is 3 tot 4 koppies per dag.

Denneboom
Die middel pycnogenol word verkry van die bas van die maritieme denneboom. Die bas word al meer as 2000 jaar gebruik as medisyne.

Dit word gebruik vir wondgenesing, skeurbuikbehandeling, die genesing van ulkusse, vir vaskulêre inflammasie en vir die verlaging van bloeddruk. Pycnogenolis een van die sterkste antioksidantverbindings wat tans aan ons bekend is. Dit is tot 100 keer sterker as vitamien E en verbeter die werking van vitamien C.

Die gebruik het weinig newe-effekte. Sommige mense se maag kan bietjie omgekrap raak. Diegene wat immuunonderdrukkers of kortikosteroïedmedisyne gebruik moet dit nie neem nie.

’n Normale dosis is 100-200 mg/dag.

Boomgom
Die aromatiese boomgom wat ons brand as wierook is ’n uitstekende anti-inflammatoriese middel. Dit word verkry van die Boswellia-familie bome.

Klinies word dit gebruik vir die behandeling van degeneratiewe en inflammatoriese gewrigsprobleme, byvoorbeeld artritis. Dit is veral effektief vir osteoartritis as dit saam met borrie gebruik word. Moontlike ewe-effekte sluit in maagprobleme, naarheid, sooibrand en diarree.

’n Ekstrak word verkry van die boomgom en ’n normale daaglikse dosis daarvan is 300-500 mg.

Druiwedoppe
Die middel resveratrol word verkry van verskeie plante. Die doppe van rooiwyn druiwe bevat die hoogste konsentrasies. Dit is algemeen beskikbaar as ’n voedselaanvulling.

Resveratrol is ’n anti-inflammatoriese anti-oksidant vir mens en dier. Meeste navorsing fokus op die neurologiese en kardiovaskulêre voordele, maar daar is ook navorsing oor die gebruik daarvan vir pyn as gevolg van artritis.

Katteklou
Die bas van ’n rankplant uit Peru genaamd katteklou (Uncaria tomentosa en Uncaria guianensis) word gebruik vir die behandeling van artritis, bursitis en dermsiektes. Navorsing het bevind dit val stowwe aan wat inflammasie veroorsaak.

Naarheid is soms ’n newe-effek by sekere mense.

Die bas kan as tee gedrink word – 1000 mg bas 230 mℓ water. Die ekstrak word ook in ’n kapsule verkoop – ’n normale dosis is 20-60 mg/dag.

Rissies
Meer as ’n eeu gelede het aptekers reeds capsaicin verkry van rissies. Dit beslaan omtrent 12% van ’n rissie. Die medisinale gebruik van rissies is al honderde jare deel van genesers se medisyne-tassie.

Capsaicin het ’n uitstekende ant-inflammatoriese werking. Dit kan egter die vel of spysverteringskanaal brand.

Let wel
Die gebruik van enige middels moet met jou dokter bespreek word.

(Die inligting in die dokument is gebaseer op ’n studie gepubliseer deur die Amerikaanse National Center for Biotechnology Information.)