Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Alzheimer’s. Show all posts
Showing posts with label Alzheimer’s. Show all posts

3.1.22

Oefening help vir alle vorme van demensie

Dit is nooit te laat is om te begin oefen nie. Dit is dalk die belangrikste boodskap van ’n studie uitgevoer aan die Noorweegse Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Die gemiddelde deelnemer die studie was ongeveer 60 jaar oud by die aanvang van die studie. Hulle moes begin oefen en daar is ’n sterk verband gevind tussen fiksheid en ’n lae risiko vir demensie.

Demensie behels ’n progressiewe afname in kognitiewe funksies, ernstig genoeg om in te meng met die vermoë om onafhanklik te funksioneer. Alzheimer se siekte is die mees algemene vorm van demensie.

Teen 2050 word beraam dat 150 miljoen mense in die wêreld demensie sal hê - 'n verdriedubbeling van die voorkoms van die siekte vandag. Daar is geen genesing nie. Mans leef gemiddeld vyf jaar nadat hulle met demensie gediagnoseer is, terwyl vroue ná die diagnose gemiddeld sewe jaar leef.

Die studie is gepubliseer in die joernaal Lancet Public Health.

25.10.21

Cholien verminder jou risiko vir demensie

’n Onlangse studie deur navorsers aan die Universiteit van Oos-Finland (Itä-Suomen yliopisto) is die eerste om te vind dat die inname van cholien gepaard gaan met ’n verminderde risiko van demensie. Cholien word ook gekoppel aan verbeterde kognitiewe prestasie. Die belangrikste voedingsbronne wat cholien bevat is eiers en vleis. Die bevindings is gepubliseer in die American Journal of Clinical Nutrition.

Cholien is 'n noodsaaklike voedingstof, wat gewoonlik in verskillende vorme in voedsel voorkom. Cholien is ook nodig vir die vorming van asetielcholien, wat ’n neurotransmitter is. Vroeëre studies het die inname van cholien met kognitiewe verwerking verbind, en voldoende cholien-inname kan ’n rol speel in die voorkoming van kognitiewe agteruitgang en Alzheimer se siekte. Deesdae word cholien gebruik in ’n mediese drank wat gebruik word vir die behandeling van vroeë Alzheimer.

Die nuwe studie toon nou aan dat die risiko van demensie 28% laer was by mans met ’n hoë inname van cholien, in vergelyking met mans wat min cholien inkry. Hierdie bevindings is beduidend, aangesien meer as 50 miljoen mense wêreldwyd aan ’n geheueversteuring ly wat tot demensie lei.

9.8.21

Oefening beskerm teen Alzheimer se siekte

Oefening op ’n daaglikse basis kan jou beskerm teen die kognitiewe agteruitgang toegeskryf aan Alzheimer se siekte. Dit het nie net ’n voordeel vir Alzheimer-lyers nie, maar bied ook beskerming teen normale kognitiewe agteruitgang wat met ’n hoër ouderdom gepaard gaan.

Die navorsers het ook bevind dat die verlaging van vaskulêre risikofaktore weens gereelde oefening addisionele beskerming bied teen Alzheimer se siekte.

Die navorsing is gedoen aan die Massachusetts General Hospital. Die studie is gepubliseer in die joernaal JAMA Neurology.

Vyf maande na die bogenoemde studie het die Duitse Sentrum vir Neurodegeneratiewe Siektes ook bevind dat daar ’n verband is tussen oefening en die brein se gesondheid. Die bevindings van hul 15 jaar studie is gepubliseer in die joernaal Mayo Clinic Proceedings.

18.3.19

Ons raaiselpad met alzheimersiekte - 'n Persoonlike Reis

Elise Nel se eens briljante man raak aggressief en vergeetagtig, en tree heeltemal anders op as wat sy hom ken. Sy het ’n vae vermoede wat die probleem is, maar uiteindelik word haar ergste vrese bewaarheid: haar geliefde man het Alzheimer se siekte. Hy vra haar in ’n oomblik van helderheid om tot die einde na hom om te sien, wat sy doen.

Elise vertel hierdie intieme en aangrypende verhaal met deernis vir haar man en elke persoon wat aan alzheimers ly. Sy gee ook praktiese raad vir versorgers en tekens waarna mens moet oplet.



14.1.19

Langtermyn gebruik van kafeïen kan Alzheimer se siekte vererger

Dit is algemeen bekend dat geheueprobleme kenmerkend is van Alzheimer se siekte. Dit word ook gekenmerk deur neuropsigiatriese simptome, wat reeds in die vroeë stadia van die siekte voorkom. Laasgenoemde gedrags- en sielkundige simptome sluit in angs, apatie, depressie, hallusinasies, paranoia en nog ander. Dit is deel van ’n verskeidenheid simptome wat op verskillende maniere manifesteer, afhangende van die individuele pasiënt. Hierdie simptome word beskou as die sterkste bron van nood vir pasiënte en versorgers.

Koffie, of kafeïen, is onlangs voorgestel as 'n strategie om demensie te voorkom, beide by pasiënte met Alzheimer se siekte en by normale verouderingsprosesse, maar daar is egter nou bewyse dat kafeïen die teenoorgestelde effek kan uitoefen.

Navorsers verbonde aan die Karolinska Universiteitshospitaal in Stockhölm, Swede, het bevind dat die langtermyn gebruik van kafeïen neuropsigiatriese simptome in diegene met Alzheimer se siekte kan vererger.

Die navorsing is aangevoer deur wetenskaplikes verbonde aan Universitat Autonoma de Barcelona in Spanje.

7.8.17

Afrika plant bied hoop vir die behandeling van Alzheimer se siekte

’n Plantekstrak uit Afrika kan die basis word van nuwe medikasie vir die behandeling van Alzheimer se siekte.

Navorsers aan die Universiteit van Nottingham het bevind dat die ekstrak, geneem van die blare, stam en wortels van Carpolobia lutea, kan help om die chemiese oordragstowwe in die brein te beskerm. Hulle verwys spesifiek na oordragstowwe wat ’n rol speel in leer en die geheue. Dit word reeds vir eeue lank in tradisionele medikasie (lees boererate) in Nigerië gebruik.

In pasiënte met Alzheimer se siekte en ander soortgelyke siektes, soos Parkinson se siekte, word effektiwiteit van die oordragstof asetielcholien verminder. Die gevolg is dat lyers probleme begin ervaar met hul geheue en om aandag te gee. Die navorsers het bevind dat die plant die afbreek van asetielcholien help verhoed.

Carpolobia lutea staan in Nigerië bekend as “veestok” (’n stok waarmee jy vee aanjaag). Tradisionele geneeshere gebruik dit vir die behandeling van verskeie infeksies. Daar word vermoed dat dit oor die algemeen goeie antiinflammatoriese eienskappe besit. Daar is juis al hoe meer navorsing wat daarop dui dat Alzheimer se siekte waarskynlik ’n tipe inflammasie van die brein is.

27.2.17

Daar is hoop vir die behandeling van Alzheimer se siekte

In ’n navorsingsprojek aan die Universiteit van Manchester in Brittanje is ’n eksperimentele model van Alzheimer se siekte suksesvol behandel met antiinflammatoriese medikasie. Die navorsingspan het daarin geslaag om geheueverlies en inflammasie van die brein in muise heeltemal om te keer. Die navorsing dui ook op ’n moontlike sterk verband tussen inflammasie van die brein en Alzheimer se siekte.

Die meeste mense neem op een of ander stadium van hul lewens ’n nie-steroïede antiinflammatoriese middel. Die navorsing toon dat sekere van hierdie middels moontlik gebruik kan word om skade aan breinselle te verhoed en selfs te herstel. Dit is ook belangrik dat die medikasie reeds in gebruik is, wat die ontwikkeling van nuwe demensie medikasie aansienlik sal verhaas.

Daar word tans voorberei vir fase twee van die studie wat sal begin fokus op die gebruik van die middels vir die mens.

Die studie is gepubliseer in die joernaal Nature Communications.



(foto: University of Manchester)

11.5.15

Medikasie vir prostaatkanker help vir Alzheimer's

Medikasie wat nog altyd voorgeskryf is vir mans met prostaatkanker kan ook help om geheueverlies in vroulike pasiënte met Alzheimer’s te bekamp.

Daar is vroeër bevind dat mans met prostaatkanker wat Lupron Depot neem minder geneig is om Alzheimer’s te ontwikkel. Nou is ’n formele studie deur die Universiteit van Wisconsin-Madison gedoen op vroue, met dieselfde bevindings.

Verdere navorsing is nodig hierin, maar die maatskappy wat die oorspronklike navorsing geborg het, bestaan nie meer nie.

21.1.15

Dagga help dalk teen Alzheimer’s

’n Groep neurowetenskaplikes aan die University of South Florida in Amerika het bevind dat ’n chemiese bestanddeel van dagga, die bekende THC-komponent, dalk help om die ontwikkeling van Alzheimer’s te vertraag.

Die bevindings is gepubliseer in die Journal of Alzheimer's Disease; "The Potential Therapeutic Effects of THC on Alzheimer's Disease".

7.4.14

’n Goeie nagrus belangrik

’n Goeie nagrus bly maar belangrik, volgens ’n nuwe studie wat aan die University of Rochester Medical Center gedoen is. Die studie gee ons ’n beter idee oor die biologiese funksie van slaap en hoe ons dit kan gebruik om sekere neurologiese probleme die hoof te bied.

De brein het ’n unieke metode van “vullisverwydering”, wat aktief is wanneer ons slaap. Die proses is verantwoordelik vir die verwydering van gifstowwe wat ’n rol speel in Alzheimer’s en ander neurologiese probleme. Wanneer jy slaap verklein die breinselle, sodat die gifstowwe meer effektief verwyder kan word.

4.11.13

Koper se rol in Alzheimer se siekte

Koper blyk een van die belangrikste omgewingsfaktore te wees wat Alzheimer se siekte aanhelp. Koper stimuleer die opbou van skadelike proteïene in die brein en verhoed ook dat die liggaam effektief daarvan ontslae raak.

Koper is alomteenwoordig in ons voedsel, veral in rooivleis, skulpvis, neute, groente en vrugte. Ons drinkwater kom in koperpype en daar is koper in die voedingaanvullers wat ons gebruik. Dit speel 'n belangrike rol in ons senustelsel, beenvorming en hormoonafskeiding.

Die probleem is dat koper kan opbou in die bloedbreinskans – die stelsel wat beheer wat in en uit ons brein beweeg. Dit veroorsaak 'n opbou van giftige proteïene, wat uiteindelik Alzheimer’s aanhelp.

Dit wil voorkom asof die oplossing 'n gebalanseerde inname van koper is. Wat die ideale vlak van koper in die liggaam is, is nog onduidelik.

Die rol van koper in Alzheimer se siekte is onthul in 'n studie wat gepubliseer is in Proceedings of the National Academy of Sciences.

12.8.13

Alzheimer-siekte

Rina Dunckley skryf: "Kan u asseblief vir my die tekens en simptome van Alheizmer beskryf"

Antwoord: Daar is nog heelwat onsekerheid oor wat Alzheimer-siekte veroorsaak. Daar is verskillende teorieë, waaronder een wat wys op 'n genetiese verband. Dat kan al in die 40 jare begin, maar gewoonlik is die aanvang vanaf 50. Tot 15% van mense ouer as 65 ly aan die siekte.

Wat ook al die oorsaak, dit ontstaan geleidelik. Ander mense word normaalweg eers na diagnose daarvan bewus.

Die persone se korttermyngeheue laat hulle in die steek. Hulle sal byvoorbeeld dieselfde gesprek oor en oor hê. Soos hulle ouer word word die geheueverlies al hoe erger. Aanvanklik is hulle ook afsydig en verward. Dit vererger met tyd in so 'n mate dat hulle heeltemal gedisoriënteerd raak. Hulle begin verdwaal, weet nie meer van tyd af nie en kan selfs nie sê wat die verskil tussen dag en nag is nie.

Later kan hulle nie meer sinvol kommunikeer nie. Daaglikse take soos eet en aantrek begin ook onmoontlik raak. Gedrags- en persoonlikheidsverandering tree ook na vore.

In 'n gevorderde stadium herken Alzheimer-lyers nie meer vriende en familie nie.

Iemand wat aan die siekte ly raak uiteindelik baie afhanklik van versorging. Emosioneel is hulle baie onstabiel en kan selfs geweldadig raak.

Anders as wat meeste mense glo is vergeetagtigheid nie 'n onvermydelike deel van ouer word nie. Dit beteken natuurlik nie dat 'n vergeetagtige persoon Alzheimer-siekte het nie. Dieselfde simptome kan ook ander oorsake hê. 'n Dokter sal die moontlikheid van ander siektes kan diagnoseer. Die diagnose vir Alzheimer-siekte moet liefs deur 'n spesialis gemaak word.

Terwyl daar (nog) nie doeltreffende behandeling vir Alzheimer-siekte is nie word daar gereeld nuwe navorsing gedoen. Daar is ook reeds medikasie om die gemoedstemming tydelik te beheer en agteruitgang te vertraag.

Die eerste ding wat mens kan doen is om van aliminiumkookware ontslae te raak. Een teorie is dat alimnium een van die oorsake van die siekte is.

Belangrike voedingstowwe is betakaroteen (vrugte en groente), kieselsuur (blaarslaai en kool), ko-ensiem Q10 (aartappel, soja en spinasie) en vitamien A en E (eier, kaas, koringkiem, neute, olierige vis, patats, saad en wortels).

Alkohol moet vermy word.

27.10.12

Film oor Alzheimer’s

Hayley Morris se oupa was die inspirasie vir hierdie kortfilm, Undone, waarin sy die progressie van Alzheimer’s uitbeeld.



(via Roekeloos.co.za)