Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



Showing posts with label Boeke. Show all posts
Showing posts with label Boeke. Show all posts

20.4.20

Maklike maaltye vir babas en kleuters

Hierdie Afrikaanse vertaling van Easy Meals for Babies & Toddlers volg op die sukses van laasgenoemde nadat die derde uitgawe bygewerk is om huidige beskouings en neigings te weerspieël.

Die meer as 150 resepte sluit ou gunstelinge sowel as nuwe maaltyd-idees in en sal enige kind 'n gesonde wegspringplek gee. Wat meer is, daar is oorgenoeg kreatiewe en verbeeldingryke voorstelle om kos aptytlik en prettig voor te sit.

Die boek dui aan watter resepte vir maaltye van baba- en kleutergrootte is, watter kan dien as gesinsmaaltye, watter in groot maat voorberei kan word en hoe om dit te bevries.

'n Afdeling oor kos vir kinders met allergieë en siektes verduidelik ook hoe om die kos te kook en voor te berei.

Maklike maaltye vir babas en kleuters - Praktiese raad word gegee oor voeding, die speen van kinders, maaltyd en spyskaartbeplanning, watter kos om te vermy en die vorming van 'n positiewe gesindheid teenoor gesonde kos.

28.10.19

Ontdek: Die menslike liggaam

Hierdie boek gee nuuskierige agies die kans om die wonders van die menslike liggaam te ontdek.

Dit bied ’n omvattende blik op liggaamsprosesse –– van die kleinste selletjies tot die stelsels wat mense aan die lewe hou! Kinders kan onder andere ontdek hoeveel bloed deur die hart gepomp word, hoeveel spiere gebruik word om te glimlag en hoe die neus en ore binne-in lyk.

Die inhoud sluit in die menslike liggaam, mites, toorkrag en die geneeskunde, studie en disseksie, mikroskopiese liggaam, kyk sonder om te sny, liggaam se raamwerk, binne-in been, gewrigte, spierkrag, spiere, senuweestelsel, brein, binne-in die brein, vel en voel, oë en sien, ore en hoor, ruik en proe, hormone, die hart, in omloop, bloed, asemhaling, binne-in die longe, eet, vertering, afvalverwydering, manlik en vroulik, nuwe lewe, groei en ontwikkeling, die toekoms, tydlyn, vind meer uit. Die foto's en detail in die boek sal enige kind se belangstelling prikkel!


18.3.19

Ons raaiselpad met alzheimersiekte - 'n Persoonlike Reis

Elise Nel se eens briljante man raak aggressief en vergeetagtig, en tree heeltemal anders op as wat sy hom ken. Sy het ’n vae vermoede wat die probleem is, maar uiteindelik word haar ergste vrese bewaarheid: haar geliefde man het Alzheimer se siekte. Hy vra haar in ’n oomblik van helderheid om tot die einde na hom om te sien, wat sy doen.

Elise vertel hierdie intieme en aangrypende verhaal met deernis vir haar man en elke persoon wat aan alzheimers ly. Sy gee ook praktiese raad vir versorgers en tekens waarna mens moet oplet.



30.10.17

Sielsiek

Waarom “haak mense se koppe uit”?

Chris Mahlangu, wat vir Eugene Terre’Blanche vermoor het, het hom nie net doodgeslaan nie. Daar is berig dat Terre’Blanche se liggaam 28 keer met ’n ysterpyp, ’n afgebreekte stuk staaldiefwering, geslaan en gekap is. Dit terwyl hy op sy rug gelê en slaap het. Dit was ’n bloedbad.

Een jong man slaan ’n verpleegster met ’n stuk hout in die veld dood en haar kêrel tot in die hospitaal se waakeenheid. ’n Ander slaan beide sy aanneemouers bewusteloos met ’n krieketkolf en dan steek hy hulle meer as 20 keer elk in die bors met ’n mes voor hy sy pa keelaf sny.

’n Manlike prostituut slaan sy vriend soveel keer met ’n knopkierie oor sy “onsedelike voorstelle” dat dié sterf aan ’n skedelbreuk. Waarom sal ’n heteroseksuele man wat by prostitute slaap ’n seun by winkelsentrum oplaai en met hom lol?

Vyf gevallestudies oor Suid-Afrikaanse geweldsmisdadigers, vertel deur ervare ware misdaadskrywer Carla van der Spuy en kliniese sielkundige dr Henk Swanepoel.

Die boek bevat inligting oor persoonlikheidsversteurings, elke misdadiger se agtergrond, die dag van die misdaad, die hofsaak, onderhoude en bevindings tydens die verhoor, tot die opvolgtronkbesoek – van aangesig tot aangesig met die oortreder.

17.7.17

Hoe ken jy ’n sosiopaat uit?

Jy het vandag niksvermoedend by minstens een psigopaat verbygeloop.

En by die huis wag ‘n narsis op jou en ‘n sluiper by jou venster. Wie is hierdie ongure, gevaarlike mense?

Uitgebreide navorsing en gevallestudies – van Daisy de Melker tot Oscar Pistorius – maak hierdie mense werklik en herkenbaar. Sodat jy hulle kan vermy ...

M.E. se eie Psigopaat-toets
Op haar blog, www.sociopathworld.com, het M.E. Thomas in Desember 2010 haar eie “Sociopath test” aangebied: “How to spot them before they target you.” (Uit die mond van die sosiopaat ... en let op die “hulle”.)

Sy kry dié vraag gereeld en uit haar persoonlike ondervinding met (ander) sosiopate glo sy daar’s ’n paar maklik waarneembare gedrags- of persoonlikheidseienskappe waaraan jy ’n sosiopaat kan uitken:

1. Sosiopate maak tipies nie soveel praatjies oor hulself soos normale mense nie. Hulle sal die gesprek teruglei na die ander persoon. (M.E. sê sy’s altyd die een wat ’n gesprek beëindig, skielik. “Die enigste ding waarvoor ek werklik omgee wanneer ek met mense praat, is om te kry wat ek wil hê.”)

2. ’n Sosiopaat sal “persoonlike” detail strategies deel met die doel om die ander persoon te mislei of ’n vals sin van intimiteit/vertroue te skep. Sosiopate sal selde die waarheid oor hulself praat.

3. Sosiopate aarsel gereeld voordat hulle antwoord. Sy sê dit sal nie vir jou duidelik wees of hulle verveeld, vies is of jok nie. Of dalk al drie.

4. Hulle het nie sterk reaksies op omstrede politieke of sosiale onderwerpe nie (soos byvoorbeeld Katolieke priesters wat kinders molesteer).

5. ’n Monotone stem. “Sê hulle my.” M.E. praat met ’n doelbewuste aksent om haarself ’n bietjie meer misterieus, aantreklik en niebedreigend te maak.

6. ’n Geneigdheid om dinge te letterlik op te neem, of om andersins nie toepaslik te reageer op klein emosionele tekens nie. Sosiopate, nes skisofrene, verstaan nie sarkasme en ironie of abstrakte taal soos metafore nie – nog ’n manier om hulle uit te ken. Wanneer iemand byvoorbeeld ’n glas breek en jy sê: “Dis nou mooi…” sal die psigopaat/skisofreen reageer met: “Wat’s so mooi aan ’n glas wat breek?” (Of Oscar Pistorius wat opreg om verskoning vra omdat Anneliese Burgess weer begin rook het.) Maar gelukkig, sê M.E., kan sosiopate ook wegkom deur alles letterlik op te neem. Wanneer sy sou sê sy’s lus en maak daardie oulike klein diertjie dood, dink mense sy maak ’n grap.

7. Kil afsydigheid teenoor een of meer gesinslede. (M.E. sê wel sy’s baie lief vir haar familie. “Pseudoliefde” het Hervey Cleckley dit genoem.)

8. Hy’s oënskynlik ’n ander mens wanneer die sosiopaat ingedagte is, wanneer sy aandag by iets anders is.

9. Geen verband tussen wat die sosiopaat sê en doen nie. Byvoorbeeld: Dit lyk of hy goeie dade doen, maar hy gee nie werklik geld vir, byvoorbeeld, haweloses nie.

10. Toon nooit tekens van verleentheid nie. Kry maklik en selfversekerd groot gehore in die palm van sy hand. Dis bloot ’n gebrek aan senuwees.

11. Voldoen nie aan die stereotipes van gender, ras, etnisiteit, ouderdom, seksuele oriëntasie of loopbaan nie. Hy kan dus nie so maklik “geplaas” word nie.

12. Kan heen en weer wissel tussen ’n baie lae profiel handhaaf (die waarnemer) tot kaatjie van die baan (die akteur). M.E. meen omdat hierdie eienskappe nie direk deel vorm van klassieke sosiopatiese of antisosiale gedrag nie het die sosiopaat minder rede om dit weg te steek. Wat hom of haar dan makliker herkenbaar maak. Sy glo wat die sosiopaat eintlik van alle ander mense onderskei, is “ons kompulsies, ons motiverings en die narratiewe wat ons vir onsself oor ons innerlike lewens vertel”.

13. Sosiopate vertel teenstrydige stories. Haar boek is op sigself ’n storie met heelwat teenstrydighede. Byvoorbeeld: Sy was nie die slagoffer van kindermishandeling nie, sê sy, maar vertel dan hoe haar “gewelddadige” pa sy kinders een vir een met ’n gordel afgeransel het, en haar ma was dikwels afwesig en soms “histeries”. Haar ouers was narsiste. Desondanks het sy ’n hegte gesin (hoewel “disfunksioneel”). Sy sluit ook haar boek af met die begeerte om uit te kom agter haar masker. Maar dis nog te onveilig. Sy waarsku dan ander sosiopate: “Daar is boeke en webblaaie wat daaraan gewy word om sosiopate uit te ken en te vermy. Moenie met hierdie mense praat nie, moenie naby hulle kom nie, moenie in hul strik beland nie.”

Nadat sy pas gesê het hoe om ’n sosiopaat uit te ken … Psigopate kom nie hul eie teenstrydighede agter nie. Klaarblyklik hanteer hulle hul teenstrydige stories nes hul leuens – trek net skouers op. Uiteindelik is die psigopaat (of narsis) se hele lewe onder verdenking. M.E. se dertien punte is uitgebrei deur lesers van haar blog:

14. Kom dikwels sag, liefdevol of passievol voor, maar kan ewe skielik omswaai na selfgesentreerd, koud en onapologeties, en omgekeerd.

15. Kan oënskynlik almal se probleme verstaan, is logies en gee raad.

16. Hy’s goed daarmee om raad te gee oor sosiale manipulasies, kamma om vriende, geliefdes en familie te “help”.

17. Die “suur” of wrang glimlag van doelbewuste leuenaars. Oor die algemeen is dit ’n suur gesigsuitdrukking om enige ander uitdrukking op daardie oomblik weg te steek.

18. ’n Rigiede, doodse, “gevriesde” gesigsuitdrukking. Psigopate self word nie van stryk gebring deur direkte oogkontak nie. Die meeste mense voel ontsenu as hulle aangestaar word. (“Wat kyk jy?” sou ’n tipiese reaksie wees.) Wanneer mense gesels, maak hulle oogkontak, kyk weg, maak weer oogkontak. Dit help om hul gedagtes agtermekaar te kry. Die luisteraar kyk gewoonlik meer in die spreker se oë as andersom. En wanneer die spreker dan té langdurige oogkontak maak, laat dit die een wat in die oë gekyk word ongemaklik, selfs kwesbaar voel.

“Deur nie ordentlikheidshalwe weg te kyk nie word dit dikwels beskou as selfversekerd, aggressief, verleidend of roofdieragtig,” skryf M.E. “Die aangename doodgewoonheid van my hare wat liggies aan my wimpers raak, is daar om die intensiteit van my oë te neutraliseer. Hulle is deurdringend en gevoelloos.”

Maar wees bedag daarop: Die psigopaat kan ook kyk om te verlei. Met ’n amper hipnotiese kyk “so diep in jou oë”, en hy maak seker dit laat jou nie ongemaklik voel nie, eerder belangrik, asof hy werklik in jou as mens belangstel.

Kil. Berekend. Dalk met ’n glimlaggie.

Die enigste manier om die psigopaat se blik te troef is om nie weg te kyk nie. Maar dis nie so maklik nie.

Daardie kyk maak jou bang.

26.8.16

Eet Reg - Zelda Ackerman

Vetsug neem skokwekkend toe in Suid-Afrika, veral onder tieners. Hierdie boek wys hoe emosionele eet ontstaan en hoe om dit te voorkom. Eet reg is propvol gesaghebbende raad wat regtig werk. Bevry jouself en jou kinders vir altyd van emosionele eet en verwelkom 'n leeftyd van lekker én gesond eet. Met resepte, eetplanne en sielkundig begrond.

* Leer jou kind om negatiewe emosies gepas te hanteer.
* Skep die optimale huis vir die voorkoming van emosionele eet en oorgewig.
* Voed jou gesin optimaal
* Leer jou kinders gesond eet en eet self reg – lewenslank.
* Hoe om ‘n kind wat reeds oorgewig is te hanteer.

Zelda Ackermann is 'n geregistreede dieetkundige wat skryf vir Baba & Kleuter. Met die samewerking van gerekende sielkundige Louis Awerbuck.

19.8.16

Eet reg

Vetsug neem skokwekkend toe in Suid-Afrika, veral onder tieners. Hierdie boek wys hoe emosionele eet ontstaan en hoe om dit te voorkom.

Eet reg is propvol gesaghebbende raad wat regtig werk. Bevry jouself en jou kinders vir altyd van emosionele eet en verwelkom 'n leeftyd van lekker én gesond eet. Met resepte, eetplanne en sielkundig begrond.

* Leer jou kind om negatiewe emosies gepas te hanteer.
* Skep die optimale huis vir die voorkoming van emosionele eet en oorgewig.
* Voed jou gesin optimaal.
* Leer jou kinders gesond eet en eet self reg – lewenslank.
* Hoe om ‘n kind wat reeds oorgewig is te hanteer.

Zelda Ackermann is 'n geregistreede dieetkundige wat skryf vir Baba & Kleuter. Met die samewerking van gerekende sielkundige Louis Awerbuck.


Eet reg / Zelda Ackerman -- Human & Rousseau, 15 Mei 2016; 192 p. ; sagteband. -- ISBN 9780798171274

Eet reg,
Bettie Blom,
16 Augustus 2016.

2

15.8.16

My Koebaai, Stres!-joernaal

Met My Koebaai, Stres!-joernaal nooi Tanya O’Connor die leser om nie net in te kleur om ontslae te raak van stres nie maar ook om met woorde dit neer te sit op papier wat jou stres gee.

Sy luister na haar “porseleinmense” soos sy hulle noem en daarom is My Koebaai, Stres!-joernaal geskep, ’n inkleur en joernaal alles in een boek om te ontlaai van die wat pla.

Met haar woorde in Engels en Afrikaans skryf sy met ongekende eerlikheid oor haar groei as kunstenaar, ma wees op 43, die ego, vergifnis, om jouself te aanvaar en soveel meer waaroor daar gewonder word. Sy vertel met humor van die vrouens wat elke Woensdag by haar huis kom speel en hoe sy hulle leer om nie ’n uitveer te gebruik nie en hul eie styl met kreatiewe plesier te ontwikkel.

Die boek weerspieel haar “kuns renaissance” soos sy dit beskryf, asook om elke prentjie absoluut te gebruik tot jou voordeel en plesier. Hier is nie reels nie, en dit is hoe sy verkies om haar terapie met die leser te deel. My Koebaai, Stres!-joernaal is ’n interaktiewe boek wat jou eie persoonlike joernaal is om soveel vryheid te ervaar soos jy jouself toelaat.


My Koebaai, Stres!-joernaal / Tanya O’Connor -- Naledi

My Koebaai, Stres!-joernaal,
Bettie Blom,
15 Augustus 2016.

2

12.7.16

Mishandel, misbruik, misken

Amor van der Westhuyzen, dogter van die berugte Joey Haarhoff wat saam met die pedofiel Gert van Rooyen ses jong meisies ontvoer het, se kinderjare was ’n riller.

Joey het haar enigste dogter fisiek, verbaal en emosioneel mishandel, toegelaat dat Amor se eie pa haar seksueel misbruik en haar geheel en al as mens misken. Joey het as beheervraat vir dekades haar dogter se lewe gemanipuleer en oorheers.

Selfs jare nà Joey se dood moes Amor nog ly as gevolg van haar ma se dade.

Maar sy het die trauma danksy pure vasberadenheid oorleef. Amor is ’n diep gelowige mens wat die siklus van haat en geweld stopgesit het. Sy wil hoop gee aan ander vroue wat deur hul naastes verniel is.

Mishandel, misbruik, misken is ook in Engels beskikbaar as Battered, abused, shamed.


Mishandel, misbruik, misken / Carla van der Spuy -- Lapa, sagteband. -- ISBN 9780799379594

Mishandel, misbruik, misken,
Bettie Blom,
12 Julie 2016.

2

25.4.16

Kos vir kwale - bespreking

Adele van der Merwe en Jeske Wellman (Eet gesond, voel gesond: Beveg kanker met voeding), Arien van der Merwe (Hanteer diabetes) en Hilda Lategan (SA kookboek vir allergieë en voedselsensitiwiteit) gesels met Carmen Niehaus oor hoe die regte voeding ons gesondheid beïnvloed en verbeter.

15.2.16

Boererate

As jong seun het Danie Smuts met ’n blikkie agter vee in die veld aangeloop om kuttels te versamel vir ’n konkoksie om maselspasiënte se simptome te verlig. Min het hy toe geweet dat hy eendag die legendariese aanbieder van ’n gewilde Springbok Radio-program sou word waarin die volk kure vir allerlei kwinte en kwale deel.

Toe Boererate – ’n keur van die tradisionele advies wat luisteraars oor die jare vir Smuts se radioprogram ingestuur het – in 1989 verskyn, was dit onmiddellik ’n treffer. Sedertdien het dié besonderse boek uit sirkulasie verdwyn, maar die aanvraag daarvoor nie.

’n Byna vergete era in die Afrikaanse kultuurgeskiedenis word in herinnering geroep deur dié vreemdsoortige en dikwels skreeusnaakse wenke. Die volgende stappe word byvoorbeeld aanbeveel om griep te bekamp:

1.) Plaas ’n bottel whiskey en ’n glas saam met ’n brandende kers langs jou bed.

2.) Klim in die bed, maak seker jy lê onder baie komberse, en begin geleidelik aan die whiskey teug.

3.) Sodra jy twee kerse sien, sit die glas neer, plaas die prop terug op die whiskey-bottel, blaas al twee kerse dood en gaan slaap.

Maar wees gewaarsku: Dat die griep binne 24 uur sal verdwyn, word gewaarborg, maar jy mag dalk ’n hoofpyn oorhou.

Boererate se oorsprong word teruggevoer na verskillende bronne: waarnemings, eerstehandse ondervinding, mites, godsdiens en selfs toorkuns. Behandeling gaan dikwels gepaard met die uitvoer van komieklike rituele.

Tussen die mediese advies is daar ook handige raad oor sake op die plaaswerf: hoe om ’n troeteldier se vel te laat blink, aartappelsteggies lank vars te hou, van lastige miere ontslae te raak, en nog baie meer.

Boererate bied onontbeerlike pitkos vir geskiedenis-liefhebbers en is ’n nostalgiese terugblik op ’n kosbare stukkie Afrikaner-erfenis.

28.9.15

Juliana Coetzer - Bloedvreemd

Bloedvreemd is die aangrypende verhaal van ’n ma se poging om haarself en haar gesin heel te hou en vrede te maak met ’n kind wat nou “in ’n ander vorm leef”.

Juliana Coetzer, ’n psigoterapeut, skroom nie om te wys wat in die binnekamers van haar huis gebeur nie en laat die leser beurtelings saam met haar huil én lag.

Luister hoe Coetzer vertel van die sewejarige Anneke wat by die dood omgedraai het, herstel het, maar breinskade opgedoen het. Met die sigbare verstandelike agteruitgang gaan die gesin op ’n soektog na ’n wonderkuur.

Genre: Boeke
Taal: Afrikaans
Ouderdomsbeperking: Ouerbegeleiding
Kaartjies: Gratis
Tydsduur: 45 minute
Plek: ATKV Boeke-oase, Potchefstroom
Datum: 8 Okt. – 15:30

Aardklop 2015

Juliana Coetzer - Bloedvreemd,
Roekeloos,
28 September 2015.

2

11.8.15

Eczema - Your essential guide

Ekseem is ’n veltoestand wat gekenmerk word deur inflammasie, rooiheid en ’n gekrap.

Tussen 10 en 20% van alle mense het dit. In hierdie boek word daar gekyk na wat presies ekseem is, wat die oorsake is, hoe dit behandel kan word, en hoe ekseem by kinders en volwassenes lyk. Daar is ook addisionele inligting, gevallestudies en wenke.

Eczema - Your essential guide word op 14 Augustus 2015 vrygestel.

Eczema - Your essential guide / Regina Malan -- Human & Rousseau, 14 Augustus 2015; 224 p. ; sagteband. -- ISBN 9780798169325

Eczema - Your essential guide,
Bettie Blom,
11 Augustus 2015. 2

15.9.14

Wie is ek?

Wie is ek?, via Roekeloos, 14 September Vir eeue worstel die mens al met die vraag: “Wie is ek?”

In hierdie boek van Louis Awerbuck en Lise Swart word jy as leser op ’n verkenningstog van jouself, jou persoonlikheid en jou menswees geneem.

Die doel van hierdie boek, wat gebaseer is op Louis en Lise se RSG-radioprogram – "Wie is ek? – met Louis en Lise", is om mense met kennis te bemagtig sodat hulle hulself en ander beter sal kan verstaan.

Die drie afdelings van die boek – ‘Wie is ek?’, ‘Waarmee sukkel ek?’ en ‘Wat nou?’ is so gerangskik dat die leser stap-vir-stap self-ondersoek kan doen. Daar is vraelyste wat onder andere jou voorkeure en persoonlikheid toets, maar jou ook kan help om te bepaal of jy byvoorbeeld aan depressie ly.

Alhoewel hierdie boek nie as ’n plaasvervanger vir professionele psigoterapie dien nie, kan dit jou help om insig tot jou eie menswees en die mense om jou te kry. Die antieke Grieke het dit nie verniet gesê nie: “Ken jouself.”

Louis Awerbuck is ’n kliniese sielkundige wat sedert 1995 in privaat praktyk is. Hy is gespesialiseerd in psigoterapie met volwassenes en tieners, forensiese assessering en sportsielkunde.

Lise Swart het bekendheid verwerf as TV-aanbieder en agtergrondsanger.

Koop / Buy Wie is ek? (sagteband) >>

Koop / Buy Wie is ek? (eBoek) >>

Wie is ek? [teks] / deur Louis Awerbuck en Lise Swart -- Naledi


2.5

26.5.14

Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes

Daar is hoop vir ADHD-lyers!

Helena Bester, Suid-Afrika se voorste kenner van ADHD, vertel met groot meelewing die suksesverhale van sommige van die duisende ADHD-lyers wat reeds haar pad gekruis het. Haar leesbare en omvattende gids bevat die jongste inligting oor ADHD by kinders én volwassenes.

In ’n geselstrant, toegelig met onderhoudende gevallestudies, vertel sy van die jongste behandelingsmetodes, van fisieke terapieë tot ontspanningstegnieke, dieetaanpassings en nuwe medikasie. Een van talle nuwe behandelings wat sy in diepte bespreek, is neuroterugvoer-terapie. Dit word vir alle vorms van ADHD ingespan, en word ook met welslae gebruik vir angs, slaaploosheid, depressie, epilepsie, breinbeserings, outisme en verslawing.

Die skrywer verskaf ook leiding oor hoe om ADHD-leerders in die klaskamer te hanteer en hoe om die onderwysdepartement te hanteer.

Helena Bester is sowel ingelig as gerusstellend. Haar omvattende, gesaghebbende gids gee lesers moed en kennis sodat aandagafleibaarheid tuis en in die klaskamer met vertroue aangepak kan word. Die toon is warm en menslik, maar tog bevat die boek die jongste navorsing en beskryf dit verskeie behandelingsopsies.

Ook verkrygbaar in Engels as New hope for ADHD in Children and Adults.

Koop / Buy Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes >>

Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes [teks] / deur Helena Bester -- Tafelberg, 15 Julie 2014 -- 320 p. ; sagteband. -- ISBN 9780624063865

20.1.14

Trauma

Trauma het in ons tyd meer as net ’n mediese begrip geword. In die harde Suid-Afrikaanse werklikheid voel ons dit al meer aan die lyf.

Dr. Tessa van Wijk bewys haar as kenner van die “moderne” geestelike siekte: PTSD (post-traumatiese stressindroom). Met die kundigheid van ’n terapeut wat daagliks met slagoffers werk, begelei sy die leser en deel haar deurleefde insigte met die begrip van iemand wat self traumas beleef het. So bemagtig sy slagoffers van ’n wye spektrum traumatiese ervarings: van mishandeling, Grensoorlog, plaasaanvalle, motorkapings enverkragting, tot die middeljare-krisis.

Dié boek bied haalbare stappe wat toeganklik en byna speels uiteengesit word. Hier geld die basiese terapeutiese beginsels, soos die veg/vlug/vries-ervaring binne die krisis, asook ’n uitkenningsparade van die lewensrowers: innerlike prosesse wat tot die geestelike verwonding ly.

In die proses moet diep weggesteekte emosies en innerlike gif uitgelig en hanteer word, sodat die leser kan aanbeweeg.


Trauma / deur Dr. Tessa van Wijk -- Naledi.-- ISBN 9781920654221 : R 176.00

16.12.13

Top gesondheidsboeke vir 2013

Die volgende boeke het die beste verkoop by Boererate.com in 2013:


God se Apteek


Tissue Salts for Healthy Living



Chicken Soup for the Soul: Hope & Healing for Your Breast Cancer Journey / Eat Right 4 Your Type Complete Blood Type Encyclopedia


Heal Your Body

17.6.13

Ag, ma, whatever! Selfone, neusringe en ander tienerkwessies

Moet dit altyd ’n nagmerrie wees om tieners groot te maak? Is daar ’n regte manier om dit te doen? Hoe kom ons deur hierdie moeilike tydperk sodat ons kan verseker dat ons kinders op die regte pad na volwassenheid kom?

Hierdie boek is ’n praktiese en insiggewende gids oor hoe ouers die uitdagings kan hanteer van hierdie komplekse fase in hulle en hul kinders se lewens.

Ouers moet leer hoe om goeie rolmodelle te wees vir hul tienerkinders. Vind uit hoe om 100 belangrike kwessies te hanteer. Onder andere:

• Kommunikasie probleme
• Drank en dwelm misbruik
• Seks en verhoudings
• Slegte maniere en ongeskikte gedrag
• Pornografie
• Slegte prestasie op skool
• Bederfde kinders
• Eetversteurings
• Internet en selfone

Gerusstellende raad van ’n mediese dokter en ma van vyf kinders.

Ook beskikbaar in Engels: Whatever, Mom! Body Piercings and Other Power Struggles

Ag, ma, whatever! Selfone, neusringe en ander tienerkwessies verskyn 20 Junie 2013.

Ag, ma, whatever! Selfone, neusringe en ander tienerkwessies / deur Linda Friedland -- Tafelberg, 20 Junie 2013 - 240pp;. -- sagteband. -- ISBN 9780624057222 : R195.00

Koop / Buy Ag, ma, whatever! Selfone, neusringe en ander tienerkwessies >> (sagteband)

27.5.13

Die bleek man op my hakke: ’n Skisofreen vertel

’n Hoogswanger vrou stort in ’n koffiewinkel in duie, en word daarna wakker van die verskriklikste pyn. Sy lê op ’n hospitaalbed, langs haar die man met die strepieshemp wat sy in die koffiewinkel herken het voordat sy inmekaar gesak het. Hy is besig om haar ongebore kind stuk vir stuk uit haar te sny ...

Maar niemand weet hiervan behalwe Harriet nie. Niemand hoor ook die stemme wat so duidelik in haar kop praat nie. Niemand weet dat sy nie eers kan bad nie omdat haar bad voortdurend vol bloed is ... en tog is dit alles vir Harriet die allerverskriklikste werklikheid.

Niemand weet van Harriet Christou se lewe met skisofrenie nie, trouens, dit is een van die mees verborge aspekte van menswees in die algemeen. In hierdie aangrypende boek vertel sy ’n uiters sonderlinge verhaal, en sy vertel dit onverskrokke en openhartig.

Dit is ’n onthutsende verhaal. Skokkend. Maar ook ’n verhaal van volharding, hoop, menslikheid en begrip vir die kompleksiteit en broosheid van die menslike lewe.

Die bleek man op my hakke: ’n Skisofreen vertel verskyn 20 Junie 2013.

Die bleek man op my hakke: ’n Skisofreen vertel / deur Harriet Christou -- Tafelberg, 20 Junie 2013 - 256pp;. -- sagteband. -- ISBN 9780624054979 : R195.00

Koop / Buy Die bleek man op my hakke: ’n Skisofreen vertel >> (sagteband)