Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



15.2.16

Boererate

As jong seun het Danie Smuts met ’n blikkie agter vee in die veld aangeloop om kuttels te versamel vir ’n konkoksie om maselspasiënte se simptome te verlig. Min het hy toe geweet dat hy eendag die legendariese aanbieder van ’n gewilde Springbok Radio-program sou word waarin die volk kure vir allerlei kwinte en kwale deel.

Toe Boererate – ’n keur van die tradisionele advies wat luisteraars oor die jare vir Smuts se radioprogram ingestuur het – in 1989 verskyn, was dit onmiddellik ’n treffer. Sedertdien het dié besonderse boek uit sirkulasie verdwyn, maar die aanvraag daarvoor nie.

’n Byna vergete era in die Afrikaanse kultuurgeskiedenis word in herinnering geroep deur dié vreemdsoortige en dikwels skreeusnaakse wenke. Die volgende stappe word byvoorbeeld aanbeveel om griep te bekamp:

1.) Plaas ’n bottel whiskey en ’n glas saam met ’n brandende kers langs jou bed.

2.) Klim in die bed, maak seker jy lê onder baie komberse, en begin geleidelik aan die whiskey teug.

3.) Sodra jy twee kerse sien, sit die glas neer, plaas die prop terug op die whiskey-bottel, blaas al twee kerse dood en gaan slaap.

Maar wees gewaarsku: Dat die griep binne 24 uur sal verdwyn, word gewaarborg, maar jy mag dalk ’n hoofpyn oorhou.

Boererate se oorsprong word teruggevoer na verskillende bronne: waarnemings, eerstehandse ondervinding, mites, godsdiens en selfs toorkuns. Behandeling gaan dikwels gepaard met die uitvoer van komieklike rituele.

Tussen die mediese advies is daar ook handige raad oor sake op die plaaswerf: hoe om ’n troeteldier se vel te laat blink, aartappelsteggies lank vars te hou, van lastige miere ontslae te raak, en nog baie meer.

Boererate bied onontbeerlike pitkos vir geskiedenis-liefhebbers en is ’n nostalgiese terugblik op ’n kosbare stukkie Afrikaner-erfenis.

No comments :

Post a Comment