Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



15.8.18

Verband tussen verwerkte voedsel en kanker

Daar bestaan ’n moontlike verband tussen hoogs verwerkte voedsel en kanker.

Navorsing hieroor duur voort, maar die bevindinge van ’n studie vroeër vanjaar dui daarop dat kanker al hoe meer van ’n epidemie kan word soos die inname van hoogs verwerkte voedsel toeneem.

Daar word veral vinger gewys na gaskoeldrank, graanvlokkies wat met suiker bestrooi word, kitskos en verwerkte vleisprodukte wat baie vet, sout en suiker bevat. In ontwikkelde lande kan dit tot 50% van ’n daaglikse dieet opmaak. Heelwat navorsing het al ’n verband gevind tussen hierdie voedsel en hoër risiko’s van vetsug, hoë bloeddruk en cholesterolvlakke.

Behalwe kanker oor die algemeen het die nuwe navorsing veral gekonsentreer op bors-, prostaat- en kolonkanker. Die resultate toon dat ’n 10% toename van hoogs verwerkte kosse in die dieet geassosieer word met stygings van 12% in die risiko van algehele kanker en 11% in die risiko van borskanker.

Daar is nie ’n verband gevind tussen minder verwerkte kosse (soos ingemaakte groente, kaas en varsgebakte brood) en die risiko van kanker nie, terwyl die verbruik van vars of minimaal verwerkte kosse (vrugte, groente, bone, rys, pasta, eiers, vleis , vis en melk) geassosieer is met laer risiko’s van kanker en borskanker.

Die studie is gepubliseer in The BMJ.

6.8.18

Trappe goed vir bloeddruk en beenspiere

Jy het nou nie meer ’n verskoning dat jy nie tyd het vir oefening nie. Die jongste navorsing toon dat trappe klim goed is vir jou bloeddruk en boonop jou beenspiere versterk.

Dit is veral goed vir postmenopousale vroue wat sukkel met ’n tekort aan estrogeen. Hierdie vroue is veral vatbaar vaskulêre en spierprobleme. Hierdie tipe oefening is ook ’n effektiewe ingryping vir die vermindering van ouderdomsverwante verlies aan spiermassa. ’n Bykomende voordeel is natuurlik vetverlies en die verminderde risiko van osteoporose.

Die navorsing is gepubliseer in die joernaal Menopause.

30.7.18

Ingroei toonnaels

Dit help om jou voete in warm water te week, so 3 tot 4 keer per dag. Smeer ’n antibiotiese room aan die plek na die tyd. As dit lyk asof dit ernstig ontsteek moet jy liefs ’n dokter gaan spreek. As jy geneig is om ingroei toonnaels te kry, moet jy sorg dat jou skoene nooit druk op jou tone plaas nie.

24.7.18

Rooiwyn (weereens) goed vir die hart

Antioksidante wat in rooiwyn voorkom word deesdae gebruik vir die behandeling van hartsiektes.

Meeste hartprobleme ontstaan weens die opbou van plaak in are, wat die bloedsomloop affekteer en so die kanse vir ’n hartaanval verhoog.

Daar is nie een perfekte behandeling vir hartsiektes nie. Die beste op die oomblik is om jou leefstyl aan te pas of chirurgie te ondergaan. Een prosedure wat jy kan ondergaan word genoem koronêre angioplastie. Tydens hierdie operasie plaas die chirurg ’n piepklein ballonnetjie in ’n geblokkeerde slagaar en blaas dit op om te aar te vergroot. Die verbeter die bloedsomloop en verminder so die kanse op ’n hartaanval of beroerte.

Tydens die operasie word ’n klein buis (stent) in die aar gesit om dit oop te hou. Heelwat kommersiële buise breek mettertyd op en die stowwe wat vrygestel word, is giftig en boonop veroorsaak dit dat die are weer vernou. Navorsers het egter nou ’n buis ontwikkel wat sekere rooiwyn antioksidante vrystel. Hierdie antioksidante help met die herstel van die aar, verhoed inflammasie en voorkom ook die vorming van bloedklonte.

19.7.18

Melkkoors

Was jou bors met louwarm water.
Meng dan 1 eiergeel, 2 dessertlepels kanferolie, 1 teelepel terpentyn en 1 teelepels spiritus. Dit moet deeglik gemeng word.
Smeer die mengsel op die bors, altyd in ’n afwaartse rigting.

♦♦♦

Smeer heuning op ’n stukkie wit flennielap en sit dan die lappie op die bors, met die heuning teen die bors. Maak dit dan toe met nog ’n lappie om jou onderklere te beskerm en maak dan warm toe.

♦♦♦

As die borste geswel en pynlik is, pak koue koolblare oor die borste en sit binne jou bra. Dra ’n stewige sportbra.

♦♦♦

Smeer die bors warm met klapperolie en maak warm toe. Doen gereeld tot dit beter is.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

16.7.18

Bakterieë in melk en beesvleis verbind met rumatoïede artritis

Bakterieë wat voorkom in melk en beesvleis mag dalk veroorsaak dat jy rumatoïede artritis ontwikkel.

Navorsers aan die Universiteit van Sentraal-Florida het ’n verband ontdek tussen die bakterie Mycobacterium avium sub. Paratuberculosis en rumatoïede artritis. Die bakterie word gereeld in beeste gevind en versprei na die mens deur melk, beesvleis of deur groente wat bemes is deur koeimis.

Dieselfde navorsingspan het vantevore ’n verband gevind tussen hierdie selfde bakterie en Crohn se siekte. Crohn se siekte en rumatoïede artritis deel dieselfde genetiese predisposisie en dieselfde medikasie word soms in die behandeling van beide gebruik.

Hulle het bevind dat as mense met ’n sekere genetiese mutasie blootgestel word aan hierdie bakterie, hulle ’n baie beter kans het om rumatoïede artritis te ontwikkel. Die span se navorsing duur voort.

Die bevindings van die navorsing is gepubliseer in die joernaal Frontiers in Cellular and Infection Microbiology.

9.7.18

Blaaskanker

Soos die naam aandui kom blaaskanker in die blaas voor. Dit is meer algemeen by mans as by vroue.

Faktore wat ’n rol speel
  • Rook: tabakrook is die grootste oorsaak van blaaskanker. Rook word met ongeveer die helfte van gevalle geassosieer
  • Ouderdom: Hoe ouer ’n mens word hoe groter is die kans om kanker te ontwikkel. In ’n dekade kan mens se kans selfs tienvoudig toeneem.
  • Oorerflikheid: As gesinslede, ’n vader of broer, blaaskanker ontwikkel, beteken dit dat mens se kans verdubbel om dit te ontwikkel, in vergelyking met die res van die bevolking.
  • Omgewing: Blaaskanker is oorwegend ’n Westerse siekte. Vermoedelik speel dieet ’n rol in die verskynsel. Dit kom egter ook voor in Egipte en Tanzanië waar dit ontstaan weens ’n parasitiese infeksie.


Simptome en tekens
Die volgende simptome, as hulle voortdurend voorkom, kan aandui dat die kanker begin versprei na areas buite die blaas. Van die simptome kan egter ook deur ander blaasprobleme veroorsaak word.


  • ’n Behoefte om dikwels te urineer
  • Pyn gedurende urinering
  • Bloed in die urine
  • Verlies van eetlus
  • Merkbare massaverlies