Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



13.11.17

Pankreaskanker

Pankreaskanker is een van die dodelikste tipes kanker wat jy kan opdoen. Mense wat hiermee gediagnoseer word lewe meestal slegs weke, die gelukkiges ’n paar maande.

Rokers is veral geneig om hierdie tipe kanker te kry. Ook diabete kry dit meer gereeld as die res van die bevolking.

Die eerste simptome is gewoonlik pyn, naarheid en diarree.

8.11.17

Kruie vir kwale: Heupjig en ander senuweepyne geassosieer met die heupe

Natuurlike middels gemaak van die gedroogde wortels van die inheemse duiwelsklou (devil’s claw) word aanbeveel vir persone met heupjig of enuweepyne geassosieer met die heupe. Kyk op die verpakking van medikasie gemaak van die plant dit ten minste sowat 50 mg van die aktiewe bestanddeel “harpagoside” bevat. Mense wat maagsere het en diegene wat medikasie gebruik wat die bloed verdun moet dit vermy.

Jy kan ook ys of hitte gebruik vir tydelike verligting. Oor die algemeen is fisiese oefening soos joga of stap ook goed hiervoor. Dit verbeter die bloedtoevoer na die senuwee, wat help om van die chemikalieë wat die inflammasie veroorsaak ontslae te raak. Indien stap te seer is, probeer in ’n swembad oefening doen.

6.11.17

Brokkoli ís goed vir jou

Daar is slegte nuus vir almal wat brokkoli haat. Dié groente is baie goed vir jou dermkanaal.

Volgens navorsers aan Penn State in Amerika begin baie van ons probleme in die dermkanaal, wat kan lei tot erger aandoenings soos artritis, hartsiektes en kanker. Deur jou maag en dermkanaal gesond te hou gee jy ’n groot stap na ’n goeie gesonde liggaam. Hiervoor moet die dermkanaal goeie weerstand kan bied teen gifstowwe en ander skadelike mikroörganismes.

Daar is ’n reseptor in die dermkanaal wat die liggaam se reaksie op skadelike stowwe reguleer. Navorsing aan Penn State het getoon dat wanneer ’n komponent van brokkoli met die reseptor verbind verbeter dit die vermoë van die reseptor om die dermkanaal gesond te hou. Dit is veral ’n goeie teenvoeter vir inflammasie, wat kanker en Crohn se siekte tot gevolg kan hê. Deur gewoon gereeld brokkoli te eet verbeter jy jou dermkanaal se gesondheid.

Spruitkool en blomkool het soortgelyke eienskappe as brokkoli.

2.11.17

Kruie vir kwale: Boererate vir hardlywigheid

Gooi 1 eetlepel lynsaad in ’n glas water en laat staan dit oornag.
Gooi die water af en gooi die lynseed oor jou ontbytpap. Dit sal help indien dit gereeld gebruik word.

1.11.17

Heup- en dybeen frakture

As die dybeen gebreek word moet dit as ernstig beskou word. Dit is die langste been in die liggaam en het ’n ryk bloedtoevoer. Met ’n breek kan groot hoeveelhede bloed in die weefsel beland. Hierdie verlies aan bloed kan tot ernstige skok lei. Die persoon moet dus by ’n hospitaal kom.

By ouer mense gebeur dit gereeld dat ’n gebreekte heupbeen aangesien word as ’n gekneusde heup. Indien ’n bejaarde persoon kla oor ’n seer heup na ’n val of enige ongeluk, moet hulle hospitaal toe geneem word.

30.10.17

Sielsiek

Waarom “haak mense se koppe uit”?

Chris Mahlangu, wat vir Eugene Terre’Blanche vermoor het, het hom nie net doodgeslaan nie. Daar is berig dat Terre’Blanche se liggaam 28 keer met ’n ysterpyp, ’n afgebreekte stuk staaldiefwering, geslaan en gekap is. Dit terwyl hy op sy rug gelê en slaap het. Dit was ’n bloedbad.

Een jong man slaan ’n verpleegster met ’n stuk hout in die veld dood en haar kêrel tot in die hospitaal se waakeenheid. ’n Ander slaan beide sy aanneemouers bewusteloos met ’n krieketkolf en dan steek hy hulle meer as 20 keer elk in die bors met ’n mes voor hy sy pa keelaf sny.

’n Manlike prostituut slaan sy vriend soveel keer met ’n knopkierie oor sy “onsedelike voorstelle” dat dié sterf aan ’n skedelbreuk. Waarom sal ’n heteroseksuele man wat by prostitute slaap ’n seun by winkelsentrum oplaai en met hom lol?

Vyf gevallestudies oor Suid-Afrikaanse geweldsmisdadigers, vertel deur ervare ware misdaadskrywer Carla van der Spuy en kliniese sielkundige dr Henk Swanepoel.

Die boek bevat inligting oor persoonlikheidsversteurings, elke misdadiger se agtergrond, die dag van die misdaad, die hofsaak, onderhoude en bevindings tydens die verhoor, tot die opvolgtronkbesoek – van aangesig tot aangesig met die oortreder.

25.10.17

Kanker van die galblaas

Die galblaas is 'n peervormige sak waarin galvloeistof tydelik gestoor word. Die vloeistof word deur die lewer geproduseer. Wanneer vetterige voedsel die maag verlaat, trek die galblaas saam. So word galvloeistof via die galbuise na die dunderm oorgedra. In die dunderm help dit om vette te verteer.

Kanker van die galblaas is ’n seldsame vorm van kanker. Hierdie tipe kanker is die algemeenste by vroue ouer as 60 jaar. Daar is min bekend oor galblaaskanker en omdat daar min pasiënte is, is daar nie soveel navorsing beskikbaar oor die oorsake, risikofaktore en moontlike behandelings nie. Dit word egter geassosieer met vetsug.