Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

17.3.26

Die tradisionele gebruik van die kanferboom

Die kanferboom (Cinnamomum camphora) is oorspronklik van Oos-Asië (China, Japan, Taiwan, Viëtnam) en is na Suid-Afrika ingevoer as 'n sier-skaduboom, asook vir hout en medisinale doeleindes. Ondanks die nie-inheemse status, is dit in sekere tradisionele geneespraktyke opgeneem.

Die bas en blare word in tradisioneel gebruik vir:
• Asemhalingskwale: Behandeling van verkoue, koors, griep, brongitis, hoes, sinus-hoofpyn en kongestie
• Maagpyn
• Eksterne aanwendings vir spierstyfheid

⚠️ Kamfer is giftig as dit in groot hoeveelhede ingeneem word en kan naarheid, braking, stuiptrekkings, asemhalingsprobleme en selfs die dood veroorsaak—veral by kinders.

⚠️ Dit is onwettig om hierdie spesie voort te plant, te plant of te verkoop in die meeste dele van Suid-Afrika weens hul indringerstatus. Bestaande erfenisbome (soos dié by Kirstenbosch Botaniese Tuin) is beskermde uitsonderings.

Oorweeg eerder die gebruik van die inheemse Kamferbos (Tarchonanthus camphoratus) vir kwale.

16.3.26

Kruie vir Kwale: Artritis

Vir uitwendige gebruik: meng soetolie en kajapoetolie. Dit verlig gewrigs- en lende pyne.

♦♦♦

Die knolle van die duiwelsklou kan fyngemaak en gekook word. Die aftreksel word dan twee maal per dag gedrink.

♦♦♦

Rastafariërs eet wildeknoffel saam met rissie wanneer hulle enige skete en pyne onder lede het. Hulle gebruik ook ’n aftreksel van die bolle en blare in hul badwater vir artritis. Die aftreksel word gemaak deur een plant se bol en blare in koue water te week vir ’n dag lank. Die hele liggaam moet dan met die aftreksel gewas word.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n paar blare van die medisynebossie en laat trek vir 5 minute.
Gooi deur ’n sif en drink vir hoes, verkoue en artritis.

♦♦♦

Was die aangetaste dele van jou lyf met bosboegoe-blare en die fyngedrukte bolle van wildeknoffel.

♦♦♦

Meng 1 houer Camphor-room met 10 Grandpa-poeiers en smeer gereeld waar dit pyn.

♦♦♦

Neem 'n 2 liter bottel water en meng met 6 eetlepels engelse sout en die sap van 10 suurlemoene – drink 3 per dag.

♦♦♦

Meng 'n 2 liter bottel water met 2 eetlepels heuning en 2 eetlepels kaneel, 1 eetlepel borrie en 1 eetlepel gemmer en drink 3 maal per dag (hou in yskas).

♦♦♦

Duiwelsklou-tee help vir artritis.

♦♦♦

Probeer 'n kombinasie van selderysaad en aloe vera (aalwyn)tablette.

♦♦♦

Smeer die pynlike areas in met arnikaolie.

♦♦♦

Gooi jenewer en laventelolie in warm water - twee druppels elk. Neem 'n waslap en trek oor die oppervlak sodat die olielagie op die waslap kom. Plaas oor hande met 'n handdoek oor en 'n warmwaterbottel bo- op vir 30 minute.

♦♦♦

Kamille en laventel kan verligting bied van artritis. Week jou hande in louwarm water met 2 druppels kamille-olie en 2 druppels laventelolie by.

♦♦♦

Meng 'n paar druppels jenewer- en sipresolie en vryf geswelde areas daarmee in vir verligting.

♦♦♦

Maak 'n smeermiddel van twee druppels elk jenewer, swartpeper en kamille olie, vyf druppels laventel en tien teelepels olyfolie.

♦♦♦

Die Tswana-mense hang die bolle van die blouberglelie op om uit te droog. Hulle moet 5 maande lank hang. Die bolle word dan verpoeier en gesmeer aan die rug en polse om dit te help herstel.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

12.3.26

Kruie vir kwale: Boererate vir hardlywigheid

Senna is ‘n plant waarvan ’n ekstrak of die blare as ’n sterk purgeermiddel gebruik word vir die verligting van hardlywigheid en word ook deur medici voorgeskryf om die kolon skoon te maak voor prosedures soos ’n kolonoskopie.

♦♦♦

’n Aftreksel van die boomwortels van die kiepersolboom word gebruik vir ’n lakseermiddel.

♦♦♦

Gooi 1 eetlepel lynsaad in ’n glas water en laat staan dit oornag.
Gooi die water af en gooi die lynseed oor jou ontbytpap. Dit sal help indien dit gereeld gebruik word.

11.3.26

Kruie vir kwale: Maagpyn

Die sap van die blare van suurvye kan gebruik word vir die behandeling van maagpyn.

♦♦♦

Meng 5 druppels naeltjie-olie op 'n bietjie suiker saam met 'n paar druppels water. Dit is baie doeltreffend om maagpyn te verlig.

♦♦♦

Lewensessens word algemeen gebruik vir maagprobleme. Die aktiewe bestanddeel van lewensessens is bitteraalwyn.

♦♦♦

Kajapoetolie kan gebruik word vir maagpyn. Neem 1 – 3 druppels met suikerwater.

♦♦♦

Duiwelsdrek kan gebruik word vir maagpyn. Neem drie maal daagliks saam met melk of heuning genoeg hiervan om die punt van ‘n mes toe te maak.

♦♦♦

Balsem Vita, ’n preparaat van verskillende olies, word aanbeveel vir die verligting van maagpyn. Dit kan met veiligheid vir kinders en babas gegee word. Vir volwassenes 20 – 30 druppels 4 of 5 keer daagliks saam met warm water of tee. 10 druppels is genoeg vir kinders en 5 druppels in bietjie lou soet water vir babas.
Die olies wat gebruik word vir die preparaat is kassia, laventel, naeltjie, neutmuskaat en tiemie.

♦♦♦

Makkalmoes word tradisioneel deur die Zoeloe mense gebruik om maagkrampe te behandel. Die risome word normaalweg gekook en gebruik.

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir maagpyn. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Neem 2 tot 4 blare van die kankerbossie en week dit 3 minute in ’n koppie kookwater. Volgens die Khoi kan jy hierdie flou tee kan jy drink vir maagprobleme.

♦♦♦

Vir maagprobleme. Week ’n takkie wilde salie in ’n koppie kookwater vir 10 minute.
Gooi dit deur ’n siffie en meng 3 eetlepels Engelse sout by en bietjie suurlemoensap. Hou die mengsel in ’n lugdigte houer en gee die pasiënt gereeld klein bietjies daarvan.

♦♦♦

Gooi ’n koppie kookwater oor ’n eetlepel wilde salie blare en laat dit trek vir 5 minute. Daarom meer drinkbaar te maak kan jy dit versoet met heuning en ’n skyfie suurlemoen byvoeg. Die tee kan gedrink word vir maagprobleme.

♦♦♦

Die blare van die maagpynbossie word al jare in die Wes-Kaap gebruik as medikasie vir maagpyn. Trek 10 g blare in ’n koppie kookwater vir 5 minute. Drink dit stadig.

♦♦♦

’n Sterk aftreksel gemaak van die bitterbos kan eerste ding in die oggend gedrink word as ’n vinnig werkende lakseermiddel. Let asseblief daarop dat dit oormatige sweet en slaaploosheid kan veroorsaak.

♦♦♦

Die gereelde gebruik van rooibostee kan verligting bied vir maagpyn.

♦♦♦

Voeg ’n paar wildeals-spruite by ’n bottel brandewyn. Laat staan vir ’n week en skud daagliks. ’n Eetlepel hiervan twee maal per dag vir maagkrampe.

♦♦♦

Boegoebrandewyn is tot in die twintigste eeu nog vir maagkwale benut en daar is vandag nog boegoe vir dit voorskryf. Een teelepel, twee maal per dag.
Hierdie medikasie word gemaak deur ’n paar jong takkies boegoe by een bottel brandewyn te voeg. Maak toe en laat staan vir ’n week, terwyl jy dit een keer per dag goed skud.

♦♦♦

Bosboegoe kan ook gebruik word. Voeg ’n paar bosboegoe-spruite by ’n bottel brandewyn. Laat staan vir ’n week en skud daagliks. ’n Eetlepel hiervan twee maal per dag.

♦♦♦

Kapokbos kan gebruik word vir die behandeling hiervan. Maak ’n tee van die blare.

♦♦♦

Meng 2 liter water met 2 eetlepels heuning, 1 eetlepel fyngekapte gemmer en 1 eetlepel gemaalde kaneel. Hou in die yskas en drink gereeld ’n bietjie daarvan.

♦♦♦

Die Hollandse setlaars het geglo dat die vrugte van die koekemakranka voordelig is vir jou maag. Hulle het die vrugte by brandewyn gevoeg en dit gebruik as medisyne.

Maak vir jou koekemakrankabrandewyn en drink dit as jou maag nie lekker voel nie.

(foto: Robert Jacob Gordon 1743-1795 The Man and his Travels at the Cape deur Patrick Cullinan)

♦♦♦

Laat jong takkies van ’n renosterbos trek in ’n bottel brandewyn. Drink soggens en saans sowat 30 mℓ hiervan. Dit help vir verskeie maagkwale, soos byvoorbeeld maagsere.

♦♦♦

Vars basielkruid help om maagkrampe te verminder.

♦♦♦

Maak tee met vinkel. Dit help vir maagpyn.

♦♦♦

Stamp die blare van die wilde als bos fyn en sit op 'n lap met asyn en plaas die lap op die maag van 'n baba met maagpyn.

♦♦♦

Trek die blare van die wilde als bos soos tee en drink.

♦♦♦

Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

10.3.26

Kruie vir kwale: Winderigheid

Meng 5 druppels naeltjie-olie op 'n bietjie suiker saam met 'n paar druppels water. Dit is baie doeltreffend om wind in die maag en ingewande te verlig.

♦♦♦

Kajapoetolie kan gebruik word vir winde. Neem 1 – 3 druppels met suikerwater.

♦♦♦

Duiwelsdrek word aanbeveel vir winderigheid. Neem drie maal daagliks saam met melk of heuning genoeg hiervan om die punt van ‘n knipmes toe te maak.

♦♦♦

Balsem Vita, ’n preparaat van verskillende olies, word aanbeveel vir die verligting van winderigheid. Dit kan met veiligheid vir kinders en babas gegee word. Vir volwassenes 20 – 30 druppels 4 of 5 keer daagliks saam met warm water of tee. 10 druppels is genoeg vir kinders en 5 druppels in bietjie lou soet water vir babas. Die olies wat gebruik word vir die preparaat is kassia, laventel, naeltjie, neutmuskaat en tiemie.

♦♦♦

Die Zoeloes gebruik al lank reeds watersalie vir winderigheid. Die resep is twee blare in ’n koppie kookwater getrek vir 5 minute. Gooi deur ’n siffie en drink.

♦♦♦

Vir winderigheid, diarree, sooibrand en probleme met spysvertering. Week ’n takkie wilde salie in ’n koppie kookwater vir 10 minute.
Gooi dit deur ’n siffie en meng 3 eetlepels Engelse sout by en bietjie suurlemoensap. Hou die mengsel in ’n lugdigte houer en gee die pasiënt gereeld klein bietjies daarvan.

♦♦♦

Die blare van die maagpynbossie word gebruik as medikasie vir winderigheid. Trek 10 g blare in ’n koppie kookwater vir 5 minute. Drink dit stadig.

♦♦♦

Kou ’n paar groenment-blare vir winderigheid.

♦♦♦

Jy het ’n takkie kapokbos van omtrent jou duim se lengte nodig. Gooi ’n koppie kookwater daaroor en laat trek vir 5 minute. Dreineer en drink die tee vir winderigheid.

♦♦♦

Gebruik 5 g vars wildeals blare om ’n tee mee te maak. Laat dit vir 5 minute trek voor jy die blare verwyder. Drink die tee vir winderigheid.

♦♦♦

Neem ’n paar druppels anysolie op suiker wanneer nodig.

♦♦♦

Trek kruienaeltjies in kookwater en drink daarvan.

♦♦♦

Neem ’n bietjie kaneel gemeng met heuning.

♦♦♦

Meng 2 liter water met 2 eetlepels heuning, 1 eetlepel fyngekapte gemmer en 1 eetlepel gemaalde kaneel. Hou in die yskas en drink gereeld ’n bietjie daarvan.

♦♦♦

Drink 'n warm tee van byebalsem (bergamot).

♦♦♦

Maak vir jou tee met vinkel om te help met winderigheid.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

9.3.26

Blouoog

Die beste behandeling is om onmiddellik nadat jy die blouoog gekry het ’n katoenlap met ys daarin op die oog te hou vir so 10 minute. Jy moet dit gereeld doen die eerste 48 uur.

Boereraat:

Maak ’n mengsel van 1 teelepel Engelse sout en 1 koppie warm water en gebruik ’n stukkie watte om die oog te was met mengsel. Week dan skoon watte in die water en gaan lê en sit dit op die oog.

♦♦♦

Baie mense sweer ook by pynappel en papaja vir ’n blou-oog. Wend die moes van die vrugte aan rondom die wonde. Jy kan ook die sap van die vrugte drink of die vrugte eet. Enige vrugte met vitamien C kan geëet word om te help met die herstel.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

5.3.26

Hoes

Hoes is die vinnige uitstoot van ingeasemde lug deur 'n vernoude keel, gepaardgaande met 'n plofgeluid. Dit word normaalweg veroorsaak deur een of ander prikkeling in die lugweë.

Voor jy volgende keer apteek toe hardloop vir duur medikasie, probeer eers heuning. Dit werk soms beter as sommige hoesmedisyne.

Boereraat:

Antimoonwyn kan gebruik word vir verkoue en koors en maak ook die slym los by hoesbuie.

♦♦♦

As ’n kind sukkel met slym op die bors. Meng 250 mℓ heuning met 5 mℓ bakpoeier. Gee gereeld 5 mℓ daarvan vir die kind. Dit sal die slym baie gou losmaak. Die mengsel kan in 'n flessie met 'n skroefdeksel gebêre word en gebruik word wanneer nodig.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids