Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

20.8.18

Droë brandwonde en vogbrande

Droë brandwonde en vogbrande is die mees algemene tipes brandwonde.

Hierdie tipes brandwonde moet sodra moontlik afgekoel word om verdere skade aan die onderliggende weefsel te beperk. Dit sal ook help om pyn, swelsel en skok te verminder. Die doeltreffendste manier om die wonde af te koel is daarom met koue water te besproei.

Enige klere wat deur kokende vloeistof deurweek is, moet sodra moontlik verwyder word. Afgekoelde, droë, verbrande klere moet nie verwyder word nie aangesien dit infeksie kan veroorsaak.

Indien die beseerde persoon siek, bejaard of ’n baba is, moet hulle altyd mediese hulp kry, maak nie saak hoe gering die wond mag lyk nie.
Simptome en tekens
• Hewige pyn in die area Indië die brandwond oppervlakkig is. Indien die wond diep is, kan dit dood voel.
• Rooiheid en swelling. Soms vorm dit blase.
• Grys, verkoolde, afdoppende vel om ’n ernstige brandwond.
• Skok

Behandeling van klein brandwonde en vogbrande
1. Stel die persoon gerus en hou die beseerde deel 10 minute onder stadig lopende koue water – of dompel dit 10 minute in koue water. Hou dit langer as dit steeds pyn.
2. Verwyder enige nousluitende klerasie of juweliersware in die omgewing van die wond.
3. Verbind die plek met skoon, verkieslik steriele nie donsige materiaal.
4. Kry mediese hulp indien dit ’n ernstige wond is.

MOENIE kleefverband gebruik nie.
MOENIE wasmiddel, salf of vet aan die wond smeer nie.
MOENIE blase stukkend maak, los vel verwyder of op enige manier met die wond peuter nie.

Behandeling van ernstige brandwonde en vogbrande
1. Sorg dat die persoon lê en gemaklik is.
2. Verwyder enige nousluitende klerasie of juweliersware in die omgewing van die wond.
3. Verwyder enige klerasie wat deur die kokende vloeistof deurweek is.
4. Bedek die beseerde deel met ’n steriele, ongemedikeerde wondbedekking of soortgelyke nie-donsige materiaal en heg dit met ’n verband vas.
5. As die persoon by sy/haar bewussyn is, gee dikwels ’n slukkie koue water.
6. Kry die persoon sodra moontlik by ’n hospitaal.

MOENIE wasmiddel, salf of vet aan die wond smeer nie.
MOENIE blase stukkend maak, los vel verwyder of op enige manier met die wond peuter nie.
MOENIE iets verwyder wat aan die wond vassit nie.


(foto: Ben Stiefel)

15.8.18

Verband tussen verwerkte voedsel en kanker

Daar bestaan ’n moontlike verband tussen hoogs verwerkte voedsel en kanker.

Navorsing hieroor duur voort, maar die bevindinge van ’n studie vroeër vanjaar dui daarop dat kanker al hoe meer van ’n epidemie kan word soos die inname van hoogs verwerkte voedsel toeneem.

Daar word veral vinger gewys na gaskoeldrank, graanvlokkies wat met suiker bestrooi word, kitskos en verwerkte vleisprodukte wat baie vet, sout en suiker bevat. In ontwikkelde lande kan dit tot 50% van ’n daaglikse dieet opmaak. Heelwat navorsing het al ’n verband gevind tussen hierdie voedsel en hoër risiko’s van vetsug, hoë bloeddruk en cholesterolvlakke.

Behalwe kanker oor die algemeen het die nuwe navorsing veral gekonsentreer op bors-, prostaat- en kolonkanker. Die resultate toon dat ’n 10% toename van hoogs verwerkte kosse in die dieet geassosieer word met stygings van 12% in die risiko van algehele kanker en 11% in die risiko van borskanker.

Daar is nie ’n verband gevind tussen minder verwerkte kosse (soos ingemaakte groente, kaas en varsgebakte brood) en die risiko van kanker nie, terwyl die verbruik van vars of minimaal verwerkte kosse (vrugte, groente, bone, rys, pasta, eiers, vleis , vis en melk) geassosieer is met laer risiko’s van kanker en borskanker.

Die studie is gepubliseer in The BMJ.

6.8.18

Trappe goed vir bloeddruk en beenspiere

Jy het nou nie meer ’n verskoning dat jy nie tyd het vir oefening nie. Die jongste navorsing toon dat trappe klim goed is vir jou bloeddruk en boonop jou beenspiere versterk.

Dit is veral goed vir postmenopousale vroue wat sukkel met ’n tekort aan estrogeen. Hierdie vroue is veral vatbaar vaskulêre en spierprobleme. Hierdie tipe oefening is ook ’n effektiewe ingryping vir die vermindering van ouderdomsverwante verlies aan spiermassa. ’n Bykomende voordeel is natuurlik vetverlies en die verminderde risiko van osteoporose.

Die navorsing is gepubliseer in die joernaal Menopause.

30.7.18

Ingroei toonnaels

Dit help om jou voete in warm water te week, so 3 tot 4 keer per dag. Smeer ’n antibiotiese room aan die plek na die tyd. As dit lyk asof dit ernstig ontsteek moet jy liefs ’n dokter gaan spreek. As jy geneig is om ingroei toonnaels te kry, moet jy sorg dat jou skoene nooit druk op jou tone plaas nie.

24.7.18

Rooiwyn (weereens) goed vir die hart

Antioksidante wat in rooiwyn voorkom word deesdae gebruik vir die behandeling van hartsiektes.

Meeste hartprobleme ontstaan weens die opbou van plaak in are, wat die bloedsomloop affekteer en so die kanse vir ’n hartaanval verhoog.

Daar is nie een perfekte behandeling vir hartsiektes nie. Die beste op die oomblik is om jou leefstyl aan te pas of chirurgie te ondergaan. Een prosedure wat jy kan ondergaan word genoem koronêre angioplastie. Tydens hierdie operasie plaas die chirurg ’n piepklein ballonnetjie in ’n geblokkeerde slagaar en blaas dit op om te aar te vergroot. Die verbeter die bloedsomloop en verminder so die kanse op ’n hartaanval of beroerte.

Tydens die operasie word ’n klein buis (stent) in die aar gesit om dit oop te hou. Heelwat kommersiële buise breek mettertyd op en die stowwe wat vrygestel word, is giftig en boonop veroorsaak dit dat die are weer vernou. Navorsers het egter nou ’n buis ontwikkel wat sekere rooiwyn antioksidante vrystel. Hierdie antioksidante help met die herstel van die aar, verhoed inflammasie en voorkom ook die vorming van bloedklonte.

19.7.18

Melkkoors

Was jou bors met louwarm water.
Meng dan 1 eiergeel, 2 dessertlepels kanferolie, 1 teelepel terpentyn en 1 teelepels spiritus. Dit moet deeglik gemeng word.
Smeer die mengsel op die bors, altyd in ’n afwaartse rigting.

♦♦♦

Smeer heuning op ’n stukkie wit flennielap en sit dan die lappie op die bors, met die heuning teen die bors. Maak dit dan toe met nog ’n lappie om jou onderklere te beskerm en maak dan warm toe.

♦♦♦

As die borste geswel en pynlik is, pak koue koolblare oor die borste en sit binne jou bra. Dra ’n stewige sportbra.

♦♦♦

Smeer die bors warm met klapperolie en maak warm toe. Doen gereeld tot dit beter is.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

16.7.18

Bakterieë in melk en beesvleis verbind met rumatoïede artritis

Bakterieë wat voorkom in melk en beesvleis mag dalk veroorsaak dat jy rumatoïede artritis ontwikkel.

Navorsers aan die Universiteit van Sentraal-Florida het ’n verband ontdek tussen die bakterie Mycobacterium avium sub. Paratuberculosis en rumatoïede artritis. Die bakterie word gereeld in beeste gevind en versprei na die mens deur melk, beesvleis of deur groente wat bemes is deur koeimis.

Dieselfde navorsingspan het vantevore ’n verband gevind tussen hierdie selfde bakterie en Crohn se siekte. Crohn se siekte en rumatoïede artritis deel dieselfde genetiese predisposisie en dieselfde medikasie word soms in die behandeling van beide gebruik.

Hulle het bevind dat as mense met ’n sekere genetiese mutasie blootgestel word aan hierdie bakterie, hulle ’n baie beter kans het om rumatoïede artritis te ontwikkel. Die span se navorsing duur voort.

Die bevindings van die navorsing is gepubliseer in die joernaal Frontiers in Cellular and Infection Microbiology.