Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

16.11.16

Bewusteloosheid

Jou bewegings, die funksies van jou liggaam en jou bewussynsvlak word deur jou senustelsel beheer.

Wanneer jy bewusteloos, of gedeeltelik bewusteloos, is dit ’n aanduiding dat jou brein nie normaal werk nie. Dit is potensieel gevaarlik vir jou.

Daar is verskeie oorsake van bewusteloosheid. Die algemeenste is: kopbeserings, floute, hartaanval, beroerte, asfiksie, epilepsie, skok, vergiftiging en diabetes.

9.11.16

Wat doen jy tydens ’n beroerteaanval?

Die fokus tydens ’n beroerteaanval is om die persoon te ondersteun. Dit kan gebeur dat die persoon bewusteloos raak en dan moet jy sorg dat die lugweë oop bly en kunsmatige asemhaling toepas indien nodig. Probeer altyd om die persoon sodra moontlik by die hospitaal te kry.

1. Indien die persoon nog by sy/ haar bewussyn is, laat hulle lê met die kop en skouers effens gelig en ondersteun. Draai die kop na die kant toe sodat enige speeksel uit die mond kan dreineer.

2. Maak stywe klere om die nek, borskas en middel los om sirkulasie en asemhaling te verbeter.

3. Behandel vir skok.

4. Indien die persoon bewusteloos is, plaas die persoon in die herstelposisie.

5. Indien die asemhaling en hartklop ophou begin dadelik met kunsmatige asemhaling.

6. Sorg dat die persoon so gou as moontlik by ’n hospitaal kom.

7.11.16

Bloedsuiker

Koskonsultant, Heleen Meyer, het met ons gesels oor kosse wat goed is vir stabiele bloedsuiker.

4.11.16

Baba 2 keer ‘gebore’: Hoe werk dit?

Klein Lynlee Boemer is nie net twee keer “gebore” nie, maar haar hart het gaan staan lank voordat sy ten einde laas die lewenslig aanskou het, berig Elsabé Brits.

2.11.16

Beroerte

’n Beroerte is ’n toestand waartydens die bloedtoevoer na ’n deel van die brein skielik en kritiek afgesny word deur ’n bloedklont (serebrale trombose) of wanneer ’n gebarste aarbloed in die brein lek (serebrale bloeding). Laasgenoemde kom veral voor onder mense met hoë bloeddruk. In beide gevalle word die aangetaste breinselle se funksie geaffekteer.

Aangesien verskillende stelsel en dele van die liggaam deur verskillende areas in die brein beheer word, hang die gevolge van ’n beroerte af van watter deel van die brein geraak is.

Mense herstel gewoonlik maklik van ’n klein beroerteaanval, maar ’n groot beroerteaanval is dikwels noodlottig.

Beroerteaanvalle is meer algemeen onder persone ouer as 55 jaar.

Die simptome van ’n beroerte word soms met dronkheid verwar.

Simptome en tekens
• Skielike ernstige hoofpyn.
• Die polsslag is ernstig.
• Die persoon is gedisoriënteer en verwar, kan selfs angstig wees en huil.
• Lighoofdigheid en moontlike bewusteloosheid.

Die volgende fisiese tekens kan ook voorkom:
• Verlamming van die mond.
• Swakheid of verminderde gevoel in een of albei ledemate en aan die een kant van die liggaam.
• ’n Blosende gesig met ’n droë, warm vel.
• Pupille wat verskillend oop is.
• Verlies van blaas- en dermbeheer.

Die persoon moet so gou as moontlik by ’n hospitaal kom.

26.10.16

Behandeling van 'n hartkramp / Angina Pectoris

Die persoon moet so ’n posisie inneem dat die hart doeltreffend kan werk. Behandel deur:

1. Die persoon te laat sit en te ondersteun met ’n kombers of ’n baadjie agter die rug en ’n kussing onder die knieë.

2. Stel die persoon gerus en maak die klere om die nek, borskas en middel los.

3. Indien die simptome nie verbeter nie moet die persoon sodra moontlik by ’n hospitaal kom.

Indien die persoon gereeld hartkrampe kry, kan hulle dalk medikasie hê daarvoor, soos byvoorbeeld gliseroltrinitraat. Laasgenoemde word onder die tong geplaas.