Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



8.7.19

’n Seer tong

’n Seer tong kan verskeie oorsake hê. ’n Baie algemene oorsaak is ’n voedingstekort, byvoorbeeld ’n gebrek aan vitamien B en yster. Gaan vir ’n bloedtoets om vas te stel watter tekorte jy het. Dit sal ook toon of jy diabetes onder lede het, nog ’n moontlike oorsaak.

Maar dan is daar nog talle moontlikhede, byvoorbeeld jou medikasie, veral bloeddruk medikasie en waterpille, ’n droë mond, sproei, sooibrand, tandvleis infeksie, rook, en ’n allergie vir tandepasta of mondspoelmiddels.

’n Mediese diagnose is dus nodig om uit te vind wat jou probleem veroorsaak.

24.6.19

Vis jou vriend teen Parkinson se siekte

Navorsing aan die Chalmers Universiteit van Tegnologie in Swede het ’n moontlike verband gevind tussen ’n proteïen wat in groot hoeveelhede in verskeie verskillende visspesies aangetref word en langtermyn-neurologiese gesondheid. Meer spesifiek het dit getoon dat dié proteïen die vorming van sekere proteïenstrukture voorkom, die strukture hou nou verband met Parkinson se siekte.

Vis word lank reeds beskou as gesonde voedsel, veral met betrekking tot verbeterde langtermyn kognitiewe gesondheid, maar die redes hiervoor is onduidelik. Omega-3 en -6, vetsure, wat algemeen in vis voorkom, word dikwels die erkenning hiervoor gegee en dan ook so wyd bemark. Die wetenskaplike navorsing hieroor kom egter tot gemengde gevolgtrekkings. Die nuwe navorsing van Chalmers toon nou dat die proteïen, wat baie by baie visspesies voorkom, ’n groot bydrae lewer tot die gesondheidsvoordele van vis.

Parkinson se siekte kan dus nou ook beveg word met vis, veral haring, kabeljou, karp en salm.



(foto: Johan Bodell / Chalmers Universiteit van Tegnologie)

10.6.19

Respiratoriese sinsitiale virus

Respiratoriese sinsitiale virus (RSV) is die hoofoorsaak van akute respiratoriese infeksie (ARI) by kinders en dit is verantwoordelik vir ernstige probleme wat jonger kinders se dood kan veroorsaak.

Die virus veroorsaak normaalweg infeksies in die winter en dit manifesteer gewoonlik in babas tussen die ouderdomme van 2 en 6 maande. Teen die ouderdom van 2 jaar het meeste kinders al die virus onder lede gehad. Die virus versprei gewoonlik van persoon tot persoon, en daar is bevind dat kinders van ouers wat rook meer vatbaar is. Die voorkoms van die virus is laer onder babas wat borsmelk drink.

Infeksie deur RSV lei tot siektes soos brongitis en longontsteking.

Simptome en tekens
• Longe wat hoorbaar sukkel om te funksioneer.
• Moeisame asemhaling.
• Die kind word gou moeg en tam.
• Hoes.

3.6.19

Hipotermie by bejaardes

Dit is moeiliker vir ’n bejaarde persoon om hul liggaamstemperatuur te reguleer.

Dit gebeur ongelukkig ook gereeld dat bejaardes ’n ontoereikende dieet het en min of geen verwarming. Hipotermie by bejaardes kan aangesien word vir ’n beroerte of hartaanval.

Behandel soos vir hipotermie.

20.5.19

Drie koppies koffie dalk goed vir die hart

Indien jy sukkel met sogenaamde hartkloppings, dan is dit moontlik dat jou dokter jou al aangeraai het om minder koffie te drink. Nuwe navorsing toon egter dat dit kan dalk goed wees vir jou om ’n beperkte hoeveelheid koffie en tee per dag te drink.

Op die punt moet mens byvoeg, luister ALTYD na jou dokter se raad. Hy of sy het (hopelik) ’n goeie fisiologiese profiel van jou en weet dinge van jou wat inligtingsbronne nie het nie.

In mediese kringe word na hartkloppings verwys as aritmie*. ’n Aritmie veroorsaak dat die hart te vinnig, stadig of oneweredig klop. Sommige arritmieë is skadeloos en sommige sal jy nie eens opmerk nie, maar ander kan die risiko vir ’n skielike hartstilstand verhoog. Atriale fibrillasie, ’n baie algemene vorm, veroorsaak dat die hart vinnig klop, en as dit onbehandel gelaat word, kan dit beroertes veroorsaak. Arritmieë* kan ook in ons are voorkom.

Een koppie koffie bevat 95 mg kafeïen, wat die sentrale senuweestelsel stimuleer. Hierdie kafeïen blokkeer adenosien, ’n chemiese verbinding wat help om atriale fibrillasie te veroorsaak. Die nuwe navorsing toon dat die toename van kafeïen beslis die werking van adenosien verminder en die risiko vir atriale fibrillasie met tussen 6 en 13% verminder.

Die studie het ook bevind dat 9 of meer koppies per dag ander probleme meegebring het in amper 2% van pasiënte met hartprobleme, wie aan die studie deelgeneem het. Wat by laasgenoemde aansluit in ’n mate, is dat die navorsers van die American College of Cardiology aanbeveel dat energiedrankies vermy moet word as gevolg van die hoeveelheid gekonsentreerde kafeïen wat dit bevat.

So hoeveel is veilig? Volgens die navorsers is 300 mg ’n veilige aanbeveling vir die bevolking as geheel. Onthou ook om altyd jou dokter hieroor te raadpleeg, omdat jou mediese profiel mag verskil.

Hierdie studie sluit in ’n mate aan by navorsing waaroor ons 5 jaar gelede berig het: Koppie koffie dalk goed vir jou bloedvate

Die studie is gepubliseer in die Journal of the American College of Cardiology.

* Die spelling van arritmie met een of twee r’e is beide aanvaarbaar in Afrikaans.

13.5.19

Posttraumatiese stresversteuring

Posttraumatiese stresversteuring (PTSV) is ’n sielkundige probleem wat deur ’n traumatiese ervaring veroorsaak word, hetsy deur dit self te beleef of dit te aanskou. Mense verwys gereeld hierna as bomskok.

Dit veroorsaak ‘n ongemak en ‘n inmenging in jou daaglikse lewe. Die lyer word dikwels gekwel deur voortdurende en vreesaanjaende herinneringe aan die traumatiese gebeurtenis. Daar word gereken dat tot tien persent van die populasie geraak word deur PTSV.

Simptome en tekens
Simptome van PTSV kom gewoonlik eers voor binne drie maande na die trauma, maar kan baie langer neem om te manifesteer, selfs jare na die gebeurtenis.

Simptome sluit in vermydingsgedrag, terugflitse, nagmerries en erge angstigheid, asook onbeheerbare gedagtes oor die gebeurtenis. Die persoon vermy gewoonlik enige gedagtes en emosies, en weier om oor die traumatiese gebeure te praat of kan dit dikwels nie onthou nie.

6.5.19

Fobie

’n Fobie is ’n sinlose vrees wat met ’n bepaalde situasie of voorwerp verband hou. Gewoonlik is dit iets wat normaalweg nie vreeswekkend behoort te wees nie. Fobies verskil van gewone vrees daarin dat hulle lank duur en sinloos is en dat die voorwerp of situasie wat die vrees uitlok, vermy word.

Voorwerpe of situasies sluit ’n wye verskeidenheid in, byvoorbeeld ’n vrees vir hoogtes (akrofobie), geslote ruimtes (kloustrofobie), oop ruimtes (agorafobie), water (akwafobie), diere (soöfobie), vuur (pirofobie) ensovoorts. Die voorwerpe en situasies is feitlik onbeperk.



Die vrees vir die getal 13 staan bekend as triskaidekafobie.