Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



14.2.22

Hoe om hoë bloeddruk te behandel of te verhoed met oefening

Een uit elke vier hartaanvalle word deur hoë bloeddruk veroorsaak. Daar word beraam dat ongeveer 60% van die wêreld se bevolking teen 2025 aan hipertensie sal ly. Alhoewel dit algemeen aanvaar word dat oefening bloeddruk verlaag, het aanbevelings tot dusvêr gefokus op die hoeveelheid oefening per week, sonder om 'n individu se aanvanklike bloeddrukvlak in ag te neem.

Daar is nou riglyne vir gedetailleerde leiding oor hoe om bloeddruk te verlaag by mense met hipertensie, hoë-normale bloeddruk en normale bloeddruk. Dit is gepubliseer in die European Journal of Preventive Cardiology, ’n publikasie van die European Society of Cardiology.

Deur die verlaging van bloeddruk kan ons die risiko van 'n hartaanval, beroerte en dood weens kardiovaskulêre siekte verminder.

Vir mense met hipertensie (bloeddruk van ten minste 140/90 mmHg), is aërobiese oefening die doeltreffendste metode. Dit sluit aktiwiteite in soos stap, hardloop, fietsry of swem. Vir mense met hipertensie beteken ordentlike aërobiese oefening dieselfde, of selfs effens meer, as om 'n enkele antihipertensiewe medikasie te neem.

In diegene met hoë-normale bloeddruk (130-139/85-89 mmHg), is dinamiese weerstandsoefening die eerste prioriteit. Dit verwys na kragoefeninge wat tipies ten minste ses groot spiergroepe betrek en spiersametrekking en beweging tot gevolg het - byvoorbeeld die optel van gewigte, hurke en opstote.

Mense met normale bloeddruk (minder as 130/84 mmHg) baat die meeste by isometriese weerstandsoefening. Dit behels statiese sametrekking van die spiere.

Die navorsers het opgemerk dat fisiese aktiwiteit gereeld gedoen moet word om die voordele te handhaaf. Die effek van die meeste oefeninge duur vir ongeveer 24 uur, soortgelyk aan medikasie, so dit is die beste om elke dag so aktief moontlik te wees.

7.2.22

Meeste diëte lei tot gewigsverlies, maar ...

Redelik goeie bewyse dui daarop dat die meeste diëte ’n mate van gewigsverlies en verbeterings in kardiovaskulêre risikofaktore oor ’n tydperk van ses maande tot gevolg het – in vergelyking met ’n gewone dieet. Dit is die bevinding van navorsing gepubliseer in The BMJ.

Na 12 maande het die gewigsverlies egter afgeneem en verbeterings in kardiovaskulêre risikofaktore het grootliks verdwyn, behalwe in die geval van die Mediterreense dieet, wat ’n klein maar belangrike verlaging in 'slegte' LDL-cholesterol veroorsaak.

Vetsug het wêreldwyd byna verdriedubbel sedert 1975, wat gelei het tot ’n oorvloed dieetaanbevelings vir gewigsbestuur en kardiovaskulêre risikovermindering.

Langtermyn is hierdie diëte nie van veel waarde nie, sommige kan selfs gevaarlik wees.

Gesond eet is ongelukkig selde gewild by die publiek. Wat is basies wil doen, is om mense aan te moedig om meer groente, peulgewasse en volgraan en minder suiker, sout en alkohol te eet.

31.1.22

Musiek is medisyne

Om na musiek te luister kan lekker wees, maar dit is ook goed vir jou hart. Pasiënte wat kort ná ’n hartaanval episodes van borspyn opgedoen het, bekend as vroeë post-infarksie angina, het aansienlik laer vlakke van angs en pyn gehad as hulle 30 minute per dag na musiek geluister het, volgens ’n nuwe studie deur die American College of Cardiology
.

24.1.22

Bloeddruk-medikasie kan help vir jig (gout)

Jig (gout) word gekenmerk deur ’n skielike aanvang van pyn, swelling en styfheid in die gewrigte en word veroorsaak deur die vorming van kristalle in die klein spasies tussen gewrigte wat opbou wanneer hoë hoeveelhede uriensuur in die bloed sirkuleer. Alhoewel jig gekoppel word aan sekere kosse, insluitend rooivleis, seekos en alkohol, word dit ook gekoppel aan bloeddruk-probleme.

Nuwe navorsing deur dokter-navorsers by Beth Israel Deaconess Medical Centre (BIDMC) van Harvard Universiteit berig dat die antihipertensiewe middel amlodipine die risiko vir jig verlaag oor die langtermyn.

Die navorsing is gepubliseer in die Journal of Hypertension.

17.1.22

Blootstelling aan honde kan die risiko om skisofrenie te ontwikkel verminder

Sedert die mens die hond mak gemaak het, het die getroue, gehoorsame en beskermende dier geselskap en emosionele welstand aan die eienaar verskaf. ’n Nuwe studie het nou bevind dat dier ook ’n gesondheidsvoordeel kan inhou – ’n verminderde kans om skisofrenie as ’n volwassene te ontwikkel.

In die studie, ondersteun deur die Stanley Medical Research Institute, is die verband ondersoek tussen blootstelling aan ’n kat of hond gedurende die eerste 12 jaar en ’n latere diagnose van skisofrenie of bipolêre versteuring. Vir skisofrenie was die navorsers verbaas om ’n statisties beduidende afname in die risiko te sien vir die siekte vir iemand wat vroeg in hulle lewe aan ’n hond blootgestel is. Daar is geen beduidende verband tussen honde en bipolêre versteuring, of tussen katte en enige psigiatriese versteuring gevind nie.

Die navorsing is gepubliseer in die joernaal PLoS ONE.

12.1.22

Te veel alkohol kan hartweefsel beskadig

Gereelde swaar alkoholverbruik kan die hartweefsel beskadig. Dit is die bevinding van navorsing gepubliseer in die Journal of the American Heart Association.

Die navorsers het bevind dat mense wat baie drink, hoër as normale vlakke van inflammasie in hul liggame skep wat gekoppel is aan ’n wye verskeidenheid gesondheidsprobleme, insluitend kardiovaskulêre siektes.

3.1.22

Oefening help vir alle vorme van demensie

Dit is nooit te laat is om te begin oefen nie. Dit is dalk die belangrikste boodskap van ’n studie uitgevoer aan die Noorweegse Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Die gemiddelde deelnemer die studie was ongeveer 60 jaar oud by die aanvang van die studie. Hulle moes begin oefen en daar is ’n sterk verband gevind tussen fiksheid en ’n lae risiko vir demensie.

Demensie behels ’n progressiewe afname in kognitiewe funksies, ernstig genoeg om in te meng met die vermoë om onafhanklik te funksioneer. Alzheimer se siekte is die mees algemene vorm van demensie.

Teen 2050 word beraam dat 150 miljoen mense in die wêreld demensie sal hê - 'n verdriedubbeling van die voorkoms van die siekte vandag. Daar is geen genesing nie. Mans leef gemiddeld vyf jaar nadat hulle met demensie gediagnoseer is, terwyl vroue ná die diagnose gemiddeld sewe jaar leef.

Die studie is gepubliseer in die joernaal Lancet Public Health.