Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



8.3.21

Iets sit vas in my oor

Veral jong kinders druk vreemde voorwerpe in hul ore. Dit kan ook gebeur dat ’n insek in die oor vassit. Wanneer iets diep genoeg penetreer kan dit die oortrommel beskadig.

Simptome en tekens
• Pyn in die oor.
• Vibrasies in die oor indien dit ’n insek is.
• Gehoor van die oor is aangetas.

Behandeling
1. Moenie die voorwerp probeer uitkry nie.
2. Indien dit ’n insek is, kan jy lou water versigtig in die oorgooi om dit te probeer uitspoel.
3. Sorg dat die persoon by ’n hospitaal kom.

1.3.21

Oestersampioene wat aan die son blootgestel word help pasiënte met tuberkulose

Tuberkulose (TB) bly een van die dodelikste aansteeklike siektes in ontwikkelende lande. Ongeveer 1,6 miljoen mense sterf jaarliks aan die siekte sterf. In ’n onlangse studie het navorsers aan die Universiteit van Hohenheim, Duitsland bevind dat oestersampioene wat aan die son blootgestel was ’n uitstekende bron van vitamien D is. Vitamien D help TB-pasiënte om beter te reageer op TB-medikasie deur die immuunrespons te verbeter.

Navorsing toon dat vitamien D die liggaam help om antimikrobiese verbindings te vorm wat die bakteriese oorsaak van TB aanval. Alhoewel blootstelling aan die son die vitamien D-vlakke van mense kan verhoog, moet dit deur middel van dieet verkry word as blootstelling aan die son skaars is.

Die navorsers gebruik oestersampioene omdat dit ’n goedkoop, veilige en maklik beskikbare bron van vitamien D bied wat maklik deur die liggaam opgeneem kan word. Alhoewel vars oestersampioene bykans geen vitamien D bevat nie, produseer die swam dit na blootstelling aan sonlig, net soos die menslike liggaam.

22.2.21

Milt

Die milt is ’n orgaan wat hoofsaaklik dien as ’n bloedfilter. Dit is geleë aan die linkersy langs die maag.

Hoewel dit naby die maag lê, speel dit nie ’n rol in die spysverteringsproses nie. Die milt is deel van die limfstelsel en wel betrokke by die bloedsomloop. Dit is 'n belangrike orgaan vir die produsering en vernietiging van bloedselle en help ons beskerm deur vreemde stowwe, wat in die bloed aanwesig is, te vernietig of onskadelik te maak.

Die milt is nie ’n lewensnoodsaaklike orgaan nie. As die milt verwyder word, kan ander organe van die liggaam die funksies oorneem. Die belangrikste funksies van die milt by die mens is om ou en verslete rooibloedselle te vernietig. Tydens die vernietigingsproses word die yster uit die rooi selle se hemoglobien verwyder en word dit in die milt opgeberg. Die hoeveelheid yster wat nie as reserwe in die milt geberg word nie word na die beenmurg vervoer vir die produsering van nuwe rooibloedselle. Die berging van yster in die milt is noodsaaklik, aangesien ’n normale dieet relatief min yster bevat.

Tydens noodtoestande soos ernstige bloeding of uitputtende fisieke inspanning, trek die gladdespier van die milt saam en die bloed word in die algemene sirkulasie ingedwing. Hierdeur word die sirkulerende bloedvolume se suurstofdraende vermoë aangevul. Hoewel hierdie funksie ook by die mens voorkom, is dit van veel minder belang. Die akute steekpyn in die sy (sogenaamde miltsteek) wat dikwels tydens inspannende oefening soos draf ondervind word, word nie aan die sametrekking van die milt toegeskryf nie, maar is waarskynlik te wyte aan gasse wat in die boog van die kolon vergader. Ware miltsteek kom gewoonlik voor by kinders wat baie hardloop.

Tydens siektetoestande soos onder meer longontsteking, tifuskoors en difterie, kan die milt ontsteek raak. Verskeie toestande laat die milt vergroot, onder meer geelsug, infeksie, malaria, hemolitiese anemie en sekere lewersiektes, wat die druk in die aartjies van die milt verhoog. Die vergroting van die milt kan egter ook ’n aangebore afwyking wees.

Ongeag die oorsaak kan ’n vergrote milt aanleiding gee tot ʼn oormatige funksionering. Die gevolge van hierdie toestand is die oormatige afbreek van bloedselle, wat aanleiding gee tot bloedarmoede; 'n tekort aan wi bloedselle, wat die vatbaarheid vir infeksies verhoog, en dit kan bloeding bevorder weens ʼn tekort aan bloedplaatjies.

15.2.21

Cholera

Daar is gereelde uitbrake van cholera in Suider-Afrika. In Suid-Afrika was daar in Augustus 2000 ’n cholera-epidemie in KwaZulu-Natal.

’n Mens kry cholera wanneer jy water drink of vis, skulpvis of ander kos eet wat besmet is met die fekalieë van ’n cholera-pasiënt. Die siekte versprei vinnig in gebiede met swak sanitasie en onbehandelde fekale afvalprodukte, byvoorbeeld wanneer rou riool gestort word in riviere of in seewater. Cholera word nie direk van een persoon na 'n ander oorgedra nie.

Cholera-infeksie veroorsaak dikwels baie ligte simptome of hoegenaamd geen simptome nie, maar ongeveer een uit elke twintig pasiënte ontwikkel ’n ernstige infeksie wat gekenmerk word deur aanhoudende waterige diarree, braking, dors en krampe. Dit kan lei tot ontwatering en skok. Sonder behandeling kan die persoon binne ure sterf.

Cholera kan eenvoudig en doeltreffend behandel word met rehidrasie-mengsels. Hierdie mengsels bevat die regte hoeveelhede natrium, kalium, chloried, bikarbonaat en glukose. Dit word met water gemeng en gedrink. In ernstige gevalle word die rehidrasie-middels binne-aars toegedien. Antibiotika kan die lengte en erns van die siekte verminder, maar dit is nie voldoende om lewensbedreigende ontwatering te voorkom nie.

8.2.21

Iets sit vas in my neus

Jong kinders is veral geneig om allerhande voorwerpe in hul neuse te druk. Moenie probeer om self die voorwerp te verwyder nie. Neem die persoon na die hospitaal.

Simptome en tekens
• Die persoon sukkel om deur die neus asem te haal.
• Die neus kan geswel wees.
• Daar kom dikwels bloed uit een of albei neusgate.

Behandeling
Kry die persoon sodra moontlik by ’n hospitaal.

4.2.21

Kruie vir kwale - Liddorings

Sny ’n stukkie suurlemoenskil en plaas dit in ’n koppie. Gooi ’n halwe koppie asyn by en laat dit trek vir 2 dae. Sit dan die skil op die liddoring en bind vas. Herhaal elke dag met ’n ander stukkie skil.

♦♦♦

Meng ’n teelepel sout met ’n bietjie asyn. Smeer elke oggend en elke aand aan liddorings.


Medisinale gebruike van kruie

Kruiegids

1.2.21

Nuwe oefen-riglyne vir mense met kanker

’n Dekade-oue aanbeveling vir mense met kanker om baie stadig met oefening te begin is onlangs vervang met nuwe riglyne wat ’n pasgemaakte individuele oefenprogram aanbeveel, insluitend hoë-intensiteit.

Volgens navorsers behoort oefenprogramme volgens kankerlyers se persoonlike vermoëns saamgestel word.

Meer inligting hieroor is gepubliseer in die Journal of Science and Medicine in Sport.