Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids

22.2.21

Milt

Die milt is ’n orgaan wat hoofsaaklik dien as ’n bloedfilter. Dit is geleë aan die linkersy langs die maag.

Hoewel dit naby die maag lê, speel dit nie ’n rol in die spysverteringsproses nie. Die milt is deel van die limfstelsel en wel betrokke by die bloedsomloop. Dit is 'n belangrike orgaan vir die produsering en vernietiging van bloedselle en help ons beskerm deur vreemde stowwe, wat in die bloed aanwesig is, te vernietig of onskadelik te maak.

Die milt is nie ’n lewensnoodsaaklike orgaan nie. As die milt verwyder word, kan ander organe van die liggaam die funksies oorneem. Die belangrikste funksies van die milt by die mens is om ou en verslete rooibloedselle te vernietig. Tydens die vernietigingsproses word die yster uit die rooi selle se hemoglobien verwyder en word dit in die milt opgeberg. Die hoeveelheid yster wat nie as reserwe in die milt geberg word nie word na die beenmurg vervoer vir die produsering van nuwe rooibloedselle. Die berging van yster in die milt is noodsaaklik, aangesien ’n normale dieet relatief min yster bevat.

Tydens noodtoestande soos ernstige bloeding of uitputtende fisieke inspanning, trek die gladdespier van die milt saam en die bloed word in die algemene sirkulasie ingedwing. Hierdeur word die sirkulerende bloedvolume se suurstofdraende vermoë aangevul. Hoewel hierdie funksie ook by die mens voorkom, is dit van veel minder belang. Die akute steekpyn in die sy (sogenaamde miltsteek) wat dikwels tydens inspannende oefening soos draf ondervind word, word nie aan die sametrekking van die milt toegeskryf nie, maar is waarskynlik te wyte aan gasse wat in die boog van die kolon vergader. Ware miltsteek kom gewoonlik voor by kinders wat baie hardloop.

Tydens siektetoestande soos onder meer longontsteking, tifuskoors en difterie, kan die milt ontsteek raak. Verskeie toestande laat die milt vergroot, onder meer geelsug, infeksie, malaria, hemolitiese anemie en sekere lewersiektes, wat die druk in die aartjies van die milt verhoog. Die vergroting van die milt kan egter ook ’n aangebore afwyking wees.

Ongeag die oorsaak kan ’n vergrote milt aanleiding gee tot ʼn oormatige funksionering. Die gevolge van hierdie toestand is die oormatige afbreek van bloedselle, wat aanleiding gee tot bloedarmoede; 'n tekort aan wi bloedselle, wat die vatbaarheid vir infeksies verhoog, en dit kan bloeding bevorder weens ʼn tekort aan bloedplaatjies.

No comments :

Post a Comment