Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



20.2.18

Velkanker

Suid-Afrika het naas Australië die hoogste voorkoms van velkanker.

Hierdie soort kanker begin in die boonste laag van die vel. Behalwe om die vel teen die son te beskerm, moet jy ook gereeld vir ’n ondersoek gaan indien jy ’n geskiedenis van velkanker in jou familie het. Selfs die gevaarlikste velkanker (melanoom) is geneesbaar indien dit betyds gediagnoseer word.

Melanome lyk soos moesies en is gewoonlik donker van kleur, maar kan ook ’n verskeidenheid ander kleure wees. As jy ’n moesie sien wat enigsins vreemd lyk moet jy dit laat ondersoek.

13.2.18

Wegneemetes verbind aan hartsiektes en diabetes by kinders

Kinders wat gereeld wegneemetes eet se risiko om hartsiektes of diabetes op te doen, is baie hoog.

Hierdie kinders is ook geneig om oor die algemeen meer kalorieë in te neem en kry minder vitamiene en minerale in as kinders wat tuisgemaakte kos eet.

Tegnologiese toepassings wat wegneemetes en aflewering dryf maak dit al hoe makliker om ongesond te eet. By volwassenes is die bewyse alreeds ’n geruime tyd daar dat hierdie maaltye geassosieer kan word met ’n swak gesondheid, meer liggaamsvet en 'n hoër risiko vir tipe 2-diabetes en hartsiektes. Nou is daar ook bewyse dat dit soortgelyke probleme by kinders veroorsaak.

Die mees verdoemende gevolgtrekking in die studie is dat die hoër cholesterol en LDL cholesterol-konsentrasies waargeneem in kinders wat gereeld wegneemetes eet genoeg is om die langtermyn risiko vir koronêre hartsiektes met ongeveer 10% te verhoog.

Verder dui die navorsing op negatiewe gevolge vir openbare gesondheidsorg as gevolg hiervan. Die navorsers voel dat die gebruik van wegneemetes ontmoedig moet word.

Amper 2 000 kinders is betrek in die navorsing wat gepubliseer is in Archives of Disease in Childhood.

5.2.18

Dislokasie / Ontwrigting van bene

Hierdie verwys na die verplasing van een of meer bene by ’n gewrig. Dit gebeur gewoonlik weens ’n stamp of verdraaiing, maar kan ook gebeur as gevolg van ’n spiersametrekking.

Dit gebeur veral met die skouer, elmboog, duim, vinger en kakebeen. Dit kan moeilik wees om te onderskei tussen ’n ontwrigting en ’n fraktuur. Behandel altyd soos ’n fraktuur indien daar twyfel is.

Simptome en tekens
• Geweldige pyn in of naby die gewrig.
• Die beseerde gewrig kan nie beweeg word nie. Dit voel “gesluit”.
• Die gewrig lyk misvormend.
• Swelsel en latere kneusing kom voor by die area.

Behandeling
1. Ondersteun die beseerde deel in ’n posisie wat vir die beseerde die gemaklikste is.
2. Neem die persoon na ’n hospitaal.

MOET NIE probeer om die bene in die normale posisie terug te plaas nie.

30.1.18

Beenkanker

Beenkanker verwys na die oorsprong van hierdie tipe kanker, gewoonlik in die bene. Dit kan in enige been in die liggaam ontstaan, maar is meer algemeen in die lang ledemate. Die tipe kanker kom self nie algemeen voor nie.

Die simptome kan insluit:
• Beenpyn – aanvanklik kom dit in die nag voor of wanneer jy aktief is, maar raak meer algemeen soos die tumor groei. Dit kan ’n dowwe, diep been in die been wees of ook in die area om die been.
• Frakture – die kanker kan veroorsaak dat die been swak en broos is en dit veroorsaak dat frakture maklik voorkom.
• Swelling: daar kan swelling wees by die plek waar die pyn ontstaan. Daar kan selfs ’n knop wees op die plek.
• Gewigsverlies en moegheid kan ook voorkom.

19.1.18

Rugby verander jou brein

Een seisoen van rugby speel verander jou brein. Die veranderinge is soortgelyk aan harsingskudding, net minder ernstig.

Dit is die bevinding van navorsers aan die Western University in Kanada. Hulle het gesofistikeerde magnetiese spektroskopie gebruik om die breine van jong vroulike rugbyspelers te bestudeer; voor en na ’n seisoen.

’n Gevolg van harsingskudding is ’n afname in jou vlakke van glutamien. Die navorsers het bevind alle rugbyspelers verloor glutamien is een of ander mate. Glutamien is ’n interessante metaboliet wat betrokke is by verskillende prosesse in die brein.

Die studie is gepubliseer in die Januarie-uitgawe van die joernaal Human Brain Mapping.

17.1.18

Verrekking van ’n spier

’n Verrekking kom voor wanneer ’n spier of spiergroep met geweld en skielike beweging te vêr gerek en moontlik geskeur word.

Simptome en tekens
• Skielike skerp pyn op die plek van die besering. Die pyn kan uitwaarts versprei en kan deur styfheid of ’n kramp gevolg word.
• Daar is normaalweg swelling op die plek van die besering.

Behandeling
1. Maak die persoon gemaklik.
2. Lig die beseerde ledemaat op en hou dit stil.
3. Hou ’n kou kompres daarop indien dit pas verrek is.
4. Neem die persoon na ’n hospitaal.

10.1.18

Longkanker

Longkanker word gekenmerk deur ongebreidelde selgroei in die weefsels van die longe. Hierdie selgroei word gewoonlik beskryf as ’n kwaadaardige tumor, tumor of karsinoom. Sonder behandeling kan dit versprei, ’n proses wat metastase genoem word – die kankerselle versprei buite die longe na nabygeleë weefsels of ander liggaamsdele. Die meeste vorme van kanker wat in die longe begin, sogenaamde primêre longkanker, is karsinome wat ontstaan in epiteelselle.

Die mees algemene simptome is hoes, gewigsverlies en kortasem.

Longkanker word gewoonlik veroorsaak deur rook. Die langdurig blootgestelling van die longe aan tabakrook veroorsaak 80-90% van alle longkanker. Nie-rokers maak 10-15% uit van longkankerpasiënte. Die diagnose word bevestig met ’n biopsie wat gewoonlik met behulp van ’n brongoskopie of onder CT-leiding uitgevoer word. Die behandeling hang af van die tipe kanker, die stadium (mate van verspreiding) en die algemene gesondheid van die pasiënt. Tipiese behandelings sluit in chirurgie, chemoterapie en radioterapie.

85% van van mense wat gediagnoseer word met longkanker sterf binne vyf jaar. Wêreldwyd is longkanker die mees algemene oorsaak van dood deur kanker by mans sowel as vroue en is die siekte sedert 2008 verantwoordelik vir 1,38 miljoen sterftes per jaar.