Soek op hierdie werf

Gebruik die alfabetiese gids om te soek vir mediese inligting of tradisionele boererate.

A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W Z Medisinale gebruike van kruie Kruiegids



24.10.17

Plant-gebaseerde vegetariese dieet geassosieer met laer cholesterol

’n Oorsig van 49 navorsingsprojekte oor diëte het bevind dat ’n plant-gebaseerde, vegetariese dieet, veral veganistiese diëte, geassosieer word met laer vlakke van cholesterol, indien dit vergelyk word met enige dieet van omnivore.

Die navorsers is van mening dat die sterk korrelasie tussen vegetariese diëte en laer cholesterolvlakke bestaan as gevolg van ’n laer liggaamsgewig van persone wat ’n plantgebaseerde dieet volg, asook ’n verminderde inname van versadigde vet en ’n verhoogde inname van plantvoedsel soos groente, vrugte, peulgewasse, neute en volgraan, wat natuurlik ryk is aan komponente soos oplosbare vesel, proteïen en plantsterole.

Die studie is gepubliseer in die joernaal Nutrition Reviews.


(foto: Steve Shapiro)

18.10.17

Bekkenfrakture

’n Bekkenfraktuur word gewoonlik veroorsaak deur vergruising of onregstreekse geweld, soos byvoorbeeld tydens ’n motorongeluk. Beserings aan die bekken kan gekompliseer word deur beserings van die blaas en urienkanale.

Simptome en tekens
• Pyn en teerheid in die omgewing van die heupe en lies. Dit word vererger deur beweging.
• Die persoon kan nie loop of staan nie, terwyl die bene oënskynlik niks makeer nie.
• Indien die blaas of urienkanale beseer is, sal die persoon ’n groot behoefte hê om te urineer. Indien die persoon wel urineer sal dit bloederig wees.
• Die persoon kan ook simptome en tekens van skok toon.

Maak die persoon gemaklik en reël vervoer na ’n hospitaal. Laat die persoon lê met die bene reguit of effens geknak, wat ook al gemakliker is. Indien die knieë geknak word, plaas ’n opgerolde kombers onder hulle.

Raai die persoon af om te urineer. Urien kan in die weefsels ingaan.

Bedek die persoon met ’n kombers indien julle vir vervoer wag. Behandel vir skok.

16.10.17

Los slapende honde ... in die slaapkamer

Die meeste mense neem aan dat honde in die slaapkamer ’n ontwrigting is, of ongesond. ’n Studie deur die bekende Amerikaanse Mayo Kliniek het egter nou bevind dat dit goed is vir jou om met jou hond in dieselfde vertrek te slaap.

Volgens die navorsers bied troeteldiere emosionele gerusstelling en ’n gevoel van veiligheid aan hul eienaars. Laasgenoemde is waarskynlik nog meer so in lande met ’n hoë misdaadsyfer.

Dis egter nie altyd ’n goeie idee om hulle op die bed te laat lê nie, want sommige honde kan jou slaap versteur deur te veel rond te beweeg – of jy kan hulle slaap versteur.

So maak jou skaaphond gerus ’n slaaphond, maak net seker jy word nie in die nag aangejaag nie.

11.10.17

Lewerkanker

Meeste gevalle van lewerkanker is as gevolg van ’n hepatitis B infeksie op ’n vroeë ouderdom. Dit word aangehelp deur metaboliese afwykings. Dit wil voorkom of inentings teen die virus baie suksesvol is in die voorkoming hiervan.

Nog ’n oorsaak is lewersirrose, of dit nou weens alkohol of ’n virus is. Nou en dan speel sekere chemiese middels ook ’n rol in lewerkanker. Dit word veral gevind onder jong mans wat anaboliese steroïede gebruik. Blootstelling aan aflatoksien, ’n giftige stof wat vervaardig word in die spore van ’n fungus wat op grondbone voorkom, kan ook kanker veroorsaak.

Sekere oorgeërfde lewersiektes soos hemochromatose (’n siekte wat veroorsaak dat die lewer te veel yster stoor) en Wilson-siekte kan ook lei tot lewerkanker.

Simptome en tekens
• Gewigsverlies
• Swak eetlus
• Swakheid
• Naarheid
• Diarree

27.9.17

Frakture van die hand en vingers

Simptome en tekens
• Die persoon kan nie die vingers gebruik nie.
• Die plek van die besering is geswel en gekneus.

Behandeling
1. Bring enige bloeding onder beheer.
2. Beskerm die beseerde hand deur dit in ’n sagte kussing toe te vou.
3. Die hand moet dan met ’n opligverband ondersteun word.
4. Bind die arm ook aan die bors vas.
5. Kry die persoon by ’n hospitaal.

19.9.17

Senior burgers moet meer proteïene eet

Die verlies van spiermassa is een van die groot probleme waarmee ouer mense sukkel. Hierdie verlies veroorsaak dat jy swak is en maklik beserings opdoen. Deur proteïen te eet is een manier om die verlies teen te werk. Dit wil lyk asof dit beter is om hierdie proteïen te versprei oor drie maaltye per dag.

Ons spiere word gebou deur proteïene wat bestaan uit aminosure. Wanneer die inname van proteïene afneem word die sintese van aminosure versteur met ’n gevolglike verlies aan spiermassa.

Baie van ons eet ons proteïene met middag- en aandete. Navorsing toon egter dat diegene wat soggens ook proteïen inneem se spiere baie sterker is. Hulle het ook bevind dat senior burgers behoort meer proteïene te eet.

Navorsers aan die McGill University, Université de Sherbrooke en Université de Montréal, in Kanada, het 1 800 senior burgers betrek by die studie oor drie jaar. Die studie is gepubliseer in die American Journal of Clinical Nutrition.


Dr. Stéphanie Chevalier van die McGill University, wat die studie gelei het.

13.9.17

Armfrakture

Frakture is die wat voorkom op enige plek op die boarmbeen of die twee voorarmbene. Die elmboog kan ook betrokke wees. Die bene wat egter die meeste gebreek word, is die by die polsgewrig.

Kinders is meer geneig om hul elmbooggewrigte te breek. Hierdie tipe fraktuur moet sodra moontlik professionele mediese sorg kry, want dit kan ook skade aan die omliggende bloedvate en senuwees veroorsaak.

Simptome en tekens
• Pyn op die plek van die fraktuur – dit word vererger deur beweging
• Die persoon kan nie die arm gebruik nie
• Die elmboog kan nie gebuig word nie.

Sorg dat die persoon by ’n hospitaal kom.